SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número1The right to self-determination of religious groups in South Africa índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Resumen

STRAUSS, DFM. Godsdiens en die reg: Enkele historiese en siste-matiese perspektiewe. Tydskr. geesteswet. [online]. 2021, vol.61, n.1, pp.6-24. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a2.

Binne diverse samelewings speel die verhouding tussen godsdiens en reg 'n belangrike rol. Hierdie bydrae beoog om enkele historiese kontoere te omlyn en eventueel in verband te bring met 'n paar relevante sistematiese opmerkings. Tradisionele samelewings is ongedifferensieerd maar het in Griekeland daarin geslaag om die Atheense polis (stad-staat) te ontwikkel. Die grondmotief van materie en vorm het rigting gegee aan die ontwikkeling van die Griekse kultuur wat aanvanklik deur die materiemotief beheers is en later onder leiding van die vorm-motief ontwikkel het. Die natuurgodsdienste is opgevolg deur die natuurreligie van vorm, maat en harmonie waarin die Olimpiese Gode 'n vername rol gespeel het. Gedurende die 5de eeu voor Christus het die nosies van geregtigheid en orde 'n meer beperkte juridiese betekenis verkry, verbandhoudende met wat ons vandag as positiewe reg waardeer. Weliswaar het Protagoras die hunkering na die onverganklike gerelativeer. Ten spyte van sy nominalisties-individualistiese benadering het Protagoras nogtans gemeen dat die polis 'n kulturele vorm aan individue verskaf. Die kulturele omraming wat langs dié weg verkry is, word gekonstitueer deur gehoorsaamheid aan die juridiese wette van die polis. Antieke Griekeland en die Middeleeue het afstand geneem van die nominalisties-individualistiese erfenis deur aansluiting te vind by die holistiese of universalistiese siening van godsdiens, reg en samelewing. Die aanvanklike betekenis van die terme logos (begrip) en nomos (wet) is gegee in die betekenis van reg in 'n juridiese sin, hoewel die kosmiese reikwydte van die term logos die juridiese betekenis daarvan by verre oorskry. Ontwikkelinge binne die Romeinse reg het die vierde eeu radikaal gewysig in 'n tweevoudige sin. Die uitbreiding van die Romeinse Ryk het gelei tot die ontstaan van die ius gentium om regsvoorsiening vir die nie-Romeine in die Romeinse Ryk te maak. Die toenemende groei van die Christendom het gelei tot die daaropvolgende stryd tussen kerk en staat. Die kulminasiepunt van die stryd tussen kerk en staat is bereik met die uitreiking van die befaamde Pouslike Dekreet, die Unam Sanctam in 1302, waarvolgens daar geen saligheid buite die Roomse Pontiff is nie. Die daaropvolende differensiëring van kerk en staat teen die einde van die Middeleeue en die Renaissance het daartoe gelei dat die staat die oorhand verwerf het. Desnietemin het nóg teoretiese weergawes nóg praktiese staatkundige ontwikkelinge effektief daarin geslaag om owerheidsgesag in te perk en godsdiensvryheid te verseker. Die Eerste Amendement van die Amerikaanse Grondwet betrek godsdiensvryheid maar het in publieke skole gefaal waar Darwin nie gekritiseer mag word en Christelike oortuigings uitgeban is. Die betekenis van die onderskeiding tussen die regsaspek en geloofsaspek van die werklikheid beklee 'n sleutelposisie in die laaste gedeelte van hierdie bydrae. Na 'n bespreking van die juridiese funksie van kerk en staat word rekenskap gegee van persoonlike geloofsvryheid sowel as van kollektiewe godsdiensvryheid wat afhanklik is van die struktuurverskil tussen die volgende regsfere: die domein van die publieke reg, die burgerlike privaatreg en die nieburgerlike privaatreg. Laasgenoemde betref die interne bevoegdheidsfere van die niestaatlike samelewingsvorme. Hierdie ontleding is deurslaggewend afhanklik van die modale soewereiniteit in eie kring van die regs- en geloofsaspekte van die werklikheid, wat as waarborg dien vir die wedersyde samehang en onherleibaarheid van hierdie aspekte. Hierdie aspekte dien ook as waarborg vir die interne kompetensiesfere van geloofs-verbande en staatsverbande deur die kwalifiserende rolle in elk te vervul - die kwalifiserende geloofsaspek in die geval van godsdienstige groeperinge en die kwalifiserende juridiese aspek in die geval van die staat as regsverband.

Palabras clave : reg; geloof; godsdiens; individualisme; universalisme; modale aspekte; persoonlike geloofsvryheid; kollektiewe godsdiensvryheid; juridiese funksie van kerk en staat; soewereiniteit in eie kring; regsfere.

        · resumen en Inglés     · texto en Africano     · Africano ( pdf )

 

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons