SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue4-1What does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament posesTranslators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 Maccabees author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

COOK, Johann. Vertaalprobleme wat die Deuterokanonieke Boeke oplewer: Jesus ben Sira as voorbeeld. Tydskr. geesteswet. [online]. 2020, vol.60, n.4-1, pp.983-993. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a8.

Volgens Wright (2007:715) het hierdie boek drie titels. In die Hebreeus staan dit bekend as die Wysheid van Joshua ben Sira. In die Vulgaat word dit Ekklesiastikus (die kerk se boek) en in die Joods-Hellenistiese geskrifte Sirag genoem. Ben Sirag (BS) beslaan 51 hoofstukke en wat inhoud en vorm betref, ressorteer dit onder die Ou Nabye Oosterse wysheidsliteratuur. Skehan en Di Lella (1987:4) sien dit as 'n soort handboek vir morele optrede wat 'n Jood in die tweede eeu VHJ moes nastreef. Ben Sirag se oupa, Sirag, het in Palestina 'n wysheidsgeskrif in Hebreeus die lig laat sien, skynbaar voor die revolusie wat met Antiogus Epifanes in Palestina geassosieer word (Cook 2020). Dié Seleukied het onder andere probeer om Jerusalem in 'n Griekse polis (stad) te verander (Tcherikover 1959). Joodse gebruike is verwerp en Hellenistiese kulturele waardes in die plek daarvan ingevoer. BS verwys geensins na hierdie gebeure nie, wat 'n aanduiding is dat die wysheidsgeskrif voor die Antiogeense revolusie tot stand gekom het. Die Griekse gimnasium het 'n rol begin speel in die Joodse gemeenskap, tot groot ontsteltenis van die konserwatiewe Jode (liberale Jode het onder andere die gimnasium naak besoek!). Hierdie Hebreeuse weergawes van BS is fragmentaries en plek-plek disjunk. Dit gee aanleiding tot uitsonderlike probleme vir die vertalers. Gelukkig is verskeie Hebreeuse fragmente later ontdek. Gedeeltes van hoofstukke 39-44 is by Masada gevind wat uit die eerste eeu VHJ dateer. Ms. 2Q18 bevat etlike reëls en 11QPsa bewaar dele van hoofstuk 51. Uit die Kairo-Geniza is daar ses fragmente beskikbaar. Opvallend is dat die Hebreeuse tekste, wat ongeveer twee derdes van die boek beslaan, nie by die Hebreeuse kanon ingesluit is nie. Hierdie tekste is nietemin baie belangrik vir die verstaan van die Griekse teks. Hier word dus behoorlike tekskritiese navorsing vereis, 'n probleem van enorme omvang. Die Griekse teks is deur die kleinseun van Sirag geskep toe hy tussen 132 en 117 VHJ, gedurende die heerskappy van Ptolemeus VII Euergetes II in Alexandrië sy oupa se geskrif uit die Hebreeus vertaal het. Hyself skryf in die proloog dat hy in die 38ste jaar van die heerskappy van koning Euergetes in Egipte aangekom het en dat hy baie slaaplose ure aan die vertaling spandeer het. Die omstandighede het grootliks van dié in Palestina verskil. Dit was 'n Hellenistiese wêreld, wat egter nie oorbeklemtoon moet word nie. Martin Hengel het daarop gewys dat alle vorme van die Judaïsme vanaf die tweede eeu VHJ as Hellenistiese Judaïsme beskou moet word. Skehan en Di Lella (1984) oordeel dat die Ptolemeërs die Persiese administratiewe sisteem oorgeneem het waarvolgens die Joodse hoëpriester nie net die geestelike leier van die volk was nie, maar ook 'n soort van sekulêre prins wat belasting moes insamel vir die Ptolemeïese ryk. Die vertaling bestaan uit verskeie latere byvoegings/spreuke, getipeer as GKII (Grieks II). GKI verwys na die oudste Griekse teks en word hoofsaaklik gevind in die unsiale manuskripte A, B, C en S, asook hul kursiewe manuskripte. Die tekspublikasie van Ziegler (Septuaginta Graecum Auctoritate Academiae Litteratum Goetingensis editum XII Sapientia Jesu Filii Sirach, 1965) word gebruik as basis vir die vertaling en interpretasie. Die deuterokanonieke literatuur - ook bekend as die apokriewe geskrifte - word as deel van die Septuagint beskou, wat tegelykertyd die tweede probleem is waarmee die moderne vertaler gekonfronteer word. Die Septuagint bestaan uit die Oudgriekse teks (OG), daardie tekste wat uit die oorspronklike Hebreeus en Aramees vertaal is, sowel as die sogenaamde de novo-komposisies, soos die Wysheid van Jesus ben Sira, of, nog beter, die Wysheid van Salomo. Oor Ben Sira heers daar onsekerheid, aangesien dit uit 'n Semitiese grondteks vertaal is.

Keywords : Septuagint LXX; wysheid; Ben Sira; kleinseun; oupa; Egipte; Palestina; fragmente; GI; GII; unsiale kursiewe.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License