SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 issue2-2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

STRAUSS, Danie. Besinning oor staat en samelewing. Tydskr. geesteswet. [online]. 2017, vol.57, n.2-2, pp.668-679. ISSN 2224-7912.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-2a11.

In die klassieke oudheid en gedurende die middeleeuse era was die politieke lewe in koninkryke en ryke georganiseer waar die heerser (koning of keiser) nog nie gesien is as iemand wat 'n publiekregtelike amp beklee nie. Nogtans is nadenke oor staat en samelewing deurlopend deur twee teoretiese sienings gedomineer, naamlik 'n atomistiese (individualistiese) en 'n holistiese (universalistiese) benadering. Hierdie oriënterings het in die weg gestaan van 'n behoorlike begrip van die verhouding tussen staat en samelewing. In sy bydrae tot die diskussie oor staat en samelewing wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is, verduidelik Goosen (2016a) dat ons nie kan terugkeer tot die Griekse polis (stadstaat) nie maar dat dit ons kan herinner aan die grense van die staat. Die diepste motivering van die Griekse filosofie, gegee in die dialektiese grondmotief van materie en vorm, is kortliks verduidelik met verwysing na die wyse waarop die polis gerig is op die vorming van sy burgers in alle samelewingsfere. Wat vreemd is aan die Griekse kultuur is die erkenning van die soewereiniteit-in-eie-kring van uiteenlopende samelewingsvorme. Eers veel later sou die Calvinistiese regsgeleerde, Johannes Althusius, al was dit nie heeltemal konsewent nie, besef dat samelewingsvorme soos kerke en huwelike nie egte dele van die staat vorm nie, aangesien slegs provinsies en munisipaliteite ware dele van die staat is. Hierdie kwessies word lewendig gehou in die denke van Goosen en Malan. Aandag word aan die bydrae van Goosen tot die diskussie gegee, maar ongelukkig blyk dit dat die besware wat hy geopper het nie steekhoudend is nie. Dit word saaklilk toegelig deur te let op Goosen se opmerkings rakende die invloed van ander denkers op Dooyeweerd, waar dit in werklikheid Dooyeweerd self was wat dit in die kensketsing van die ontwikkelingsgang van sy denke vermeld het, naamlik dat hy "was strongly under the influence first of the Neo- Kantian philosophy, later on of Husserl's phenomenology." Goosen toon geen besef van die feit dat ek waarskynlik die persoon is wat die ernstigste kritiek op sleutel-aspekte van Dooyeweerd se transendentale kritiek, sy epistemologie en sy teorie van die Gegenstand-relasie uitgeoefen het nie. Hy besef ook nie dat Dooyeweerd se kritiese ontleding van die moderne filosofie in die eerste plek as self-kritiek bedoel is nie. Die tekortkominge in Goosen se beroep op die hermeneutiek word vervolgens verduidelik alvorens aandag gegee word aan die relasie tussen Goosen, Dooyeweerd en Thomas Aquinas. Daar word aangetoon dat Goosen nie sy aanspraak kon substansieer dat Dooyeweerd sy (sogenaamde neo-Thomistiese) interpretasie van Thomas se denke tot dié standaardsiening verhef het nie. 'n Resente proefskrif wat by die Radboud (Katolieke) Universiteit in Nijmegen voltooi is, bevestig die waarde van Dooyeweerd se kritiek op die Thomistiese substansiebegrip. Goosen maak hom ook skuldig aan 'n totale misverstaan van insigte wat deur Münch, Rawls en Habermas ontwikkel is en positief deur my waardeer is omdat dit na aan die beginsel van soewereiniteit-in-eie-kring is. Wat Goosen nie in my benadering opgemerk het nie, is dat ek die gelyktydige aanwesigheid van beide atomistiese en holistiese elemente in the denke van Rawls uitgewys het. Hierdie kwessies sal verder ontleed word in onafhanklike navorsingsartikels toegespits op die wysgerige voorveronderstellinge wat in nadenke oor staat en samelewing teenwoordig is.

Keywords : ryk; staat; wysgerige strominge; grondmotiewe; individualisme; universalisme; soewereiniteit-in-eie-kring.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License