SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue4The profile of the adult male as a mentor for adolescent boys from the West coast author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

VAN OORT, Ronel  and  CARSTENS, Wannie. Die onderrig van Afrikaanse woordeskat en variëteite vanuit 'n inklusiewe taalgeskiedkundige perspektief. Tydskr. geesteswet. [online]. 2014, vol.54, n.4, pp.693-707. ISSN 2224-7912.

Hierdie artikel fokus op die onderrig van die (geleende) woordeskat van Afrikaans (Intermediêre Fase) en die streeksvariëteite van Afrikaans (Senior Fase) aan die hand van 'n inklusiewe taalhistoriese perspektief. In breë trekke behels die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans roetes van verskillende groepe mense oor oseane en kontinente heen wat aan die suidpunt van Afrika ontmoet het. Danksy dié (onwaarskynlike) samekoms van Europese setlaars, inheemse Khoi en slawe uit onder andere Asië ontwikkel 'n taal in Afrika met 'n penwortel in Wes-Europa, maar met duide-like wortels in Asië en Afrika (Hugo 2009; Raidt 1991). Pogings van die gekoloniseerde Khoi en ingevoerde slawe om Nederlands (taal van die koloniseerders) aan die vroeë Kaap te praat, het aanleiding gegee tot die ontstaan van die historiese Westelike en Suidelike Afrikaanse aanleerdersvariëteite van die Khoi en van die slawe. Hierdie aanleerdersvariëteite het belangrike kulturele en taalbydraes tot die ontwikkeling van die Afrikaanse woordeskat gelewer wat sterk in moderne Afrikaans na vore kom. Kennis van en insig in hierdie "ryk en sterk erfenis" moet volgens Boesak (2007) "ontdek, erken en omarm" word, aangesien die miskenning van "gekleurde" bydraes in die ontwikkeling van Afrikaans tot in die onlangse verlede persepsies verstewig het dat Afrikaans slegs 'n "wit" herkoms het (Carstens 2013). Om verhoudings tussen Afrikaanssprekendes én ander Suid-Afrikaners te verbeter, behoort die eksklusiewe weergawe van die Afrikaanse taalgeskiedenis met die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans (wat die bydraes van groepe uit Wes-Europa, Afrika en Asië in die ontstaan van Afrikaans insluit) vervang te word. Die aangewese vertrekpunt daarvoor is die skoolgaande jeug van Suid-Afrika.

Keywords : Afrikaans; woordeskat; variëteite; eksklusief; inklusief; sewentiende-eeuse Kaap; volgehoue taalkontak en interaksie; ontwikkelingsgeskiedenis; kulturele en sosiopolitieke milieu; taalinvloede; erkenning; onderrig.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License