SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue3Liplappen and Nonna's: Presentation of a comparative study to be conductedDutch language speakers' contributions to the maintenance and recognition of Afrikaans 1870-1920 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912

Abstract

VAN COLLER, H.P. Die skryf van 'n Nederlandse literatuurgeskiedenis: generiese kenmerke as wetmatighede?. Tydskr. geesteswet. [online]. 2014, vol.54, n.3, pp. 409-424. ISSN 2224-7912.

Die skryf van geskiedenis as 'n vorm van historiese representasie het nog altyd baie teoretiese besinning ontlok en die besef het posgevat dat weens die narratiewe aard daarvan 'n sogenaamde "objektiewe" weergawe van die verlede onmoontlik is. In die literatuurwetenskap het die literêre geskiedskrywing benaderings tot die letterkunde op die voet gevolg. Veral die teorieë van Pierre Bourdieu (1993) wat die konsep die "literêre veld" postuleer, gee in die afgelope jare aanleiding tot literatuurgeskiedenisse wat die klem plaas op die institusionele aard van die letterkunde en veel meer die klem plaas op "institusies" soos uitgewers, biblioteke, tydskrifte en die institusionele "inbinding" van tekste en outeurs. Die ontvangs van literatuurgeskiedenisse gaan gewoonlik gepaard met 'n verwoording van die eie (metodologiese) uitgangspunte of (literatuur)opvattings van resensente of kommentators. Daarom is die selfstandige skryf van 'n literatuurgeskiedenis geen geringe taak nie. Nie net noodsaak dit diepgaande teoretiese besinning op grond van, maar ook kennis van, voorafgaande literatuurgeskiedenisse en hul samestellers/skrywers se uitgangspunte.Uit navorsing vir die skryf van 'n tweedelige Nederlandse literatuurgeskiedenis in Afrikaans blyk dit duidelik dat in literêr historiese oorsigte van die Nederlandse letterkunde daar nie net 'n "stabilisering" van feite, indelings (soos periodes) en selfs interpretasies sigbaar is nie; ook waarde-oordele is dikwels 'n eggo van voriges. Evaluerings van 'n bepaalde skrywer of teks in 'n literatuurgeskiedenis verskil weinig van dié in die heel eerste resensies en kensketsings van bepaalde skrywers reflekteer weer dikwels poëtikale uitsprake van die betrokke skrywer self. Hierdie soeke na konsensus binne die literêre veld geskied nie net vanweë die feit dat daar dikwels 'n gedeelde wetenskaplike paradigma en literatuuropvatting bestaan nie, maar ook uit strategiese oorwegings. Wat toenemend gebeur in historiese representasies is dat die fokus in die literêre geskiedskrywing nie meer is op die eie tyd en die heersende literatuuropvattings en -oordele van nou nie, maar van tóé. Die verlede word in hierdie proses noulettend morfologies gerekonstrueer. Uiteraard is dit 'n relativistiese; selfs historisistiese metode wat die begrip letterkunde (maar ook begrippe soos "goed", "sleg" en "groots") afhanklik maak van 'n bepaalde tyd en ruimte. Wat dus opval uit die bestudering van die Nederlandse letterkunde is dat daar bepaalde raakvlakke bestaan met die Afrikaanse letterkunde én dat daar (op bykans neo-positivistiese wyse) bepaalde "wetmatighede" óf generiese kenmerke in enige literêre sisteem of literêre veld aanwesig is: • Die evolusie van die Afrikaanse letterkunde vertoon ooreenkomste wat die fases daarvan betref met die Nederlandse letterkunde; • Die literêre sisteem is 'n oop sisteem; • Dit is weerstandig, onafhanklik en relatief selfgenoegsaam; • Institusies soos uitgewerye en biblioteke is van die grootste belang in die literêre veld; • Letterkunde is 'n verbuikersitem en dus 'n ekonomiese entiteit wat onderhewig is aan ekonomiese wette; • Literêre sisteme (en literêre kanons) beskerm hul kerne op dieselfde wyse as wetenskap-like paradigmas (kyk Lakatos 1970). Dit verg daarom dikwels dieselfde strategieë van skrywers(groeperinge) om deur die beskermende lae binne te dring; • Nuwe skrywersgroepe (soos die Nederlandse tagtigers en die Afrikaanse dertigers) institusionaliseer mettertyd hul eie poëtikale opvattings; • Spilfigure is van die grootste belang in die evolusie van literatuur; • Die evolusie van letterkunde hou verband met die literêre tradisie al is dit as reaksie daarteen; • Literêre evolusie is dikwels 'n pendulum-beweging tussen die pole van maatskaplike betrokkenheid en fiksasie op die eie medium; • Literêre waarde-oordele stem dikwels ooreen binne bepaalde tydperke, maar ook in die Westerse Literêre Kanon. Dit is ook die gevolg van die sinjalering van inherente eienskappe van die objek. Dit wil voorkom asof nie alle literêre produkte dieselfde potensiaal het om (in verskillende tydperke) dieselfde estetiese waardering/reaksie te ontlok nie. Either there were aesthetic values, or there are only the over-determination of race, class, and gender. You must choose, for if you believe that all value ascribed to poems or plays or novels and stories is only a mystification in the service of the ruling class, then why should you read at all rather than go forth to serve the desperate needs of the exploited classes? (Harold Bloom 1994:522).

Keywords : Nederlandse literatuurgeskiedenis; literêre sisteem; literêre veld; literêre kritiek; kanon; kanonisering; intrinsieke waarde; evaluering; historisisme; relativisme.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License