SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número3Towards an integrated theory of core concepts in educationFoucault and the question concerning enlightenment índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Resumo

SCHOEMAN, Marinus. Moraliteitskritiek en tragiese bewussyn in die werk van Reiner Schürmann. Tydskr. geesteswet. [online]. 2013, vol.53, n.3, pp.305-313. ISSN 2224-7912.

Aan die einde van sy boek Des Hégémonies Brisées uit die jaar 1996 (Eng. vertaling Broken Hegemonies, 2003) kom Reiner Schürmann tot die slotsom dat "ethics and morals" uit die domein van die filosofie verban moet word. Vir Schürmann is dit nodig omdat etiek en moraal naïef bly glo in die norme wat hulle trag om neer te lê. Om meer presies te wees, hulle kom nooit in die reine met die integrerende geweld ("integrative violence") van die wet nie, hulle merk nie hoe die wet van nature (noodsaaklikerwys) berus op 'n ontkenning nie. Etiek en moraal veronderstel, as hulle moontlikheidsvoorwaarde, dat die mens se lewe in laaste instansie normeerbaar is, dat daar een of ander eenduidige wetlike sfeer bestaan wat, in beginsel, dekking of sekuriteit verleen aan die menslike bestaan. Maar, soos wat Schürmann in die loop van sy betoog aantoon, berus etiek en moraal ten diepste op 'n ontkenning van die tragiese kondisie van ons menslike bestaan. Geen etiese of morele sisteem kan dit hanteer nie. Anders gestel: elke etiese stelsel sal, juis as artikulasie van 'n normatiewe orde, die onvermydelikheid van die tragiese dilemma "double bind" ontken deur die een of ander eenduidige domein van regsgeldigheid te poneer. Etiek en moraal glo in die beloftes van die wet, sy fantasmatiese (hersenskimmige) aanspraak dat dit die mens in staat stel om heer en meester te wees van sy situasie. 'n Leitmotiv in die werk van Schürmann is om insig te kry in die moontlikheidsvoorwaardes van die kwaad. Eenduidige wette en morele voorskrifte is, soos reeds genoem, volgens Schürmann gefundeer in 'n ontkenning van die tragiese. Wat hy dan verder byvoeg, is dat hierdie ontkenning juis een van die moontlikheidsvoorwaardes van die kwaad is. Wat Schürmann hier beweer, is iets paradoksaal gesien vanuit die oogpunt van die "natuurlike metafisikus in onsself', naamlik dat die stel van 'n wet as sodanig gereken moet word onder die moontlikheidsvoorwaardes van die kwaad. Om 'n wet of norm neer te lê maak die lewe leefbaar, maar dit skep tegelykertyd ook die voorwaarde vir die kwaad. Nogtans bring dit nie noodwendig die kwaad tot stand nie, en ewemin maak dit die wet sonder meer tot iets kwaad. Weliswaar suggereer dit dat die wet wesentlik feilbaar is, en dat geen gemeenskap wat daarop gegrond is ooit 'n volkome gemeenskap kan wees nie. Soos Hannah Arendt betoog ook Schürmann dat dit nie die afwesigheid van of verlies aan waardes is wat die voorwaardes vir die kwaad skep, soos die moraliste ons keer op keer wil wysmaak nie, maar juis die stortvloed van waardes ("barrage of values"). Waardes, norme, en beginsels bied hulleself aan as die kuur wat die kwaad sal genees, maar vir Schürmann en Arendt verleng hulle juis die siekte wat hulle veronderstel is om te genees. Dit is hierdie insig in die wesentlike feilbaarheid van die wet (en die beloftes van lewe en sekuriteit wat dit aan ons voorhou) waartoe Schürmann ons oproep, eerder as oproepe om norme en waardes. Wat nodig is, is nie etiek en moraal nie, maar om jou oë oop te hou en die tragiese waarheid te erken dat wette en morele voorskrifte hulleself slegs kan handhaaf deur die ontkenning - waar nodig selfs deur die uiterste geweld - van alles wat die wet (en die gemeenskaplike waardestelsels) nie bereid is om te erken nie, naamlik singularisering, sterflikheid, en die nie-normaliseerbare gegewens van ons menslike bestaan.

Palavras-chave : Hannah Arendt; Reiner Schürmann; moraal; wet; die tragiese; tragiese wysheid; tranquilitas ordinis; Oedipus; nataliteit (geboortelikheid); mortaliteit (sterflikheid); die kwaad; singularisering.

        · resumo em Inglês     · texto em Africaner     · Africaner ( pdf )

 

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons