SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Abstract

VAN DER WALT, B.J.. Aristotelies-filosofiese invloede by die Sinode van Dordt (1618-1619) en die bevrydende perspektief van 'n Reformatoriese filosofie op goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid. Tydskr. geesteswet. [online]. 2012, vol.52, n.2, pp. 174-195. ISSN 0041-4751.

Alreeds in die vorige eeu het Gereformeerde teoloë die aandag daarop gevestig dat die Dordtse Leerreëls, opgestel deur die Sinode van Dordt (1618-1619), se visie op die verhouding tussen God en mens (toegespits op die probleem van verkiesing en verwerping) sterk op die Aristoteliese oorsakeleer gesteun het. (Vergelyk ook die vorige artikel van die skrywer, Van der Walt 2011.) In die onderhawige artikel word geargumenteer dat nie slegs Aristoteles se logika of oorsakeleer nie, maar sy hele filosofie 'n belangrike rol by Dordt gespeel het. Daarom word in die eerste hoofdeel sy ontologie, godsidee, oorsakeleer en sillogistiese logika ondersoek. Dit blyk onder andere dat (afgesien van hulle Christelike oriëntasie) twee belangrike standpunte by Dordt (dié van F. Gomarus en J. Arminius) dieselfde filosofiese standpunte gehuldig het as twee van die Stagiriet se filosofiese konsepsies gedurende sy latere lewe. Volgens die skrywer het die Gereformeerd-Skolastieke teoloë by die Sinode se sintese met Aristoteles se filosofie egter verhoed dat 'n suiwer Bybelse standpunt ingeneem is. Daarom handel die tweede hoofdeel van hierdie ondersoek oor 'n latere Christelike filosoof, D.H.Th. Vollenhoven, se meer Reformatoriese alternatief vir die verhouding tussen God en mens. As vertrekpunt word geneem sy omskrywing van religie as die verhouding van die mensheid tot die God van die verbond in gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan sy fundamentele liefdesgebod. Vollenhoven beskou, in lyn met die Skrif, religie nie as iets misties of bonatuurlik nie, maar as 'n inherente deel van menswees wat elke aspek van die lewe insluit. Ter afsluiting word genoem dat die Dordtse Leerreëls oorspronklik slegs as 'n oordeel oor die Remonstrantisme bedoel was en nie as 'n konfessie nie. Verskillende standpunte oor die huidige gesag van die Leerreëls word genoem. Die outeur se eie standpunt ten opsigte van hierdie 17de-eeuse belydenisskrif is nie dat dit verwerp of opgedateer behoort te word nie. Daar moet eerder besin word oor nuwe, eietyds-relevante, inspirerende belydenisse, wat Christene se verantwoordelikheid in God se allesomvattende koninkryk op alle lewensterreine uitspel. Op dié wyse sal dit reg laat geskied aan 'n integraal-Bybelse visie op religie.

Keywords : Aristoteles (384-322v.C.); Aristoteles se ontwikkelingsgang; ontologie; dualistiese filosofie; godsidee; oorsakeleer; sillogistiese logika; Sinode van Dordt (1618-1619); Gomarus (1563-1641); Arminius (1560-1609); D.H.Th. Vollenhoven (1892-1978); religie; verbond; belydenis; determinisme; ewige goddelike dekreet; predestinasie; uitverkiesing; verwerping; menslike verantwoordelikheid.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · pdf in Afrikaans