SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 número4 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Resumo

STRAUSS, Danie. Skakeringe van die begrip kultuur - in historiese en sistematiese perspektief. Tydskr. geesteswet. [online]. 2011, vol.51, n.4, pp.645-665. ISSN 2224-7912.

Na aanleiding van die uiteensetting van Garuba en Raditlbalo oor nuanseringe van die term kultuur is 'n aantal vrae geformuleer wat rigtinggewend kan wees vir die argumentering in hierdie artikel. Die oorkoepelende fokus is om na die onderliggende (onties-gegewe) eenheid te midde van hierdie verskeidenheid te soek. Terwyl die woord "waarde" ons alledaagse taal via die bemiddeling van wysgerige nadenke betree het, besit die woord "kultuur" 'n ryk-geskakeerde betekenis. Een van die betekenisse hou verband met die idee van "waardes". Hierdie proses is deur die neo-Kantiaanse Badense skool bemiddel en wel deur die siening te ontwikkel dat kultuur die resultaat is wanneer die feitlike natuurwerklikheid op waardes betrek word. Vanuit 'n suiwer etimologiese gesigspunt is die term kultuur egter van die Latynse term "cultura" afgelei. Dit het geboorte geskenk aan die idee dat kultuur resulteer wanneer die natuur getransformeer is deur die gebruik van gereedskap. Aangesien diere ook werktuie gebruik, is die verdere kwalifisering toegevoeg, naamlik dat slegs mense werktuie maak. Daardeur kon die uniekheid van die mens weliswaar nie gered word nie, want dit sou blyk dat diere ook werktuie kan maak. Simpson het eventueel die siening verdedig dat slegs die mens gereedskap gebruik om gereedskap mee te maak. Die argeoloog Narr het 'n verdere stap gegee omdat argeoloë besef het dat die vrye menslike vormingsfantasie beantwoord aan drie maatstawwe wat deurslaggewend is vir menslike werktuigvervaardiging. Wanneer mense werktuie maak, mag die vorm, funksie en vervaardigingswyse nie by voorbaat gesuggereer wees nie. Die besondere aard van gereedskap as kultuurobjek is dat dit gemaak is om iets anders mee te maak, wat beteken dat sowel die funderings- as kwalifiseringsfunksie daarvan in die kultuurhistoriese aspek te vind is. Aandag word vlugtig gegee aan die erfenis van die moderne natuurwetenskapsideaal, hoewel die fokus nie gerig is op die natuur wat teenoor kultuur staan nie, maar op die veronderstelde natuurtoestand, wat slegs in die maatskaplike verdrag te bowe gekom kan word. Marx het die aannames onderliggend aan hierdie idee raakgesien in die wyse waarop Darwin by diere en plante sy Engelse samelewing onderken het met die verdeling van arbeid wat daarin aanwesig is asook die mededinging en opening van nuwe markte, "skepping" en die Malthusiaanse "stryd om bestaan". By Darwin figureer die diereryk as burgerlike samelewing. Dit was Rousseau wat skerp sou reageer teen die rasionalistiese intellektuele kultuur van die Verligting. Hy het dit gedoen in sy pleidooi vir die vryheidsgevoel van die mens. Meer as 'n eeu later het die term kultuur in die Westerse samelewing sy verskyning gemaak as deel van die uitdrukking kultuurfilosofie. Die onderskeiding tussen natuurwetenskappe en kultuurwetenskappe het aan die begin van die 20ste eeu verskyn en wel deur aan te leun op die onderskeiding wat Kant getref het tussen die gebiede van is en behoort (natuur en vryheid). Die neo-Kantiaanse verskuiwing het alle waardes, norme, oortuigings en sin binne die mandjie van kultuur geplaas deur tegelyk die sosiale werklikheid tot 'n puur feitlike (a-normatiewe) bestaan te denatureer. Kultuur en beskawing is onderskeidelik getipeer in terme van subjek-objek- en subjeksubjekrelasies. Die kultuur-historiese aspek kan ook vanuit niehistoriese aspekte in die visier gekry word. Dan ontmoet ons saamgestelde uitdrukkings soos regsgeskiedenis, kunsgeskiedenis, ekonomiese geskiedenis, godsdiensgeskiedenis, en so meer. Kultuur kan egter nie as die wortelverbintenis van mens-wees waardeer word nie, eenvoudig omdat mens-wees steeds méér is as enige sosiaal-gedifferensieerde verbintenis of identiteit waarin mense mag staan. Te midde van die verskeidenheid nuanseringe en uiteenlopende kontekste waar die term kultuur aangetref word, bied die (ontiese) struktuur van die kultuur-historiese aspek inderdaad 'n eenheidsperspektief aan ons - 'n perspektief wat nie alleen rekenskap gee van die inherente struktuurelemente van hierdie aspek nie, maar wat ook erkenning verleen aan die gegewe dat alle gebeurtenisse en prosesse in beginsel in alle en derhalwe ook in die kultuur-historiese aspek van die werklikheid funksioneer.

Palavras-chave : kultuur; waardes; kultuurobjekte; kultuur-historiese aspek; kultuur en beskawing; volk; kultuurgemeenskap; mag; amp; identiteit; kompetensie; vormgewing aan beginsels.

        · resumo em Inglês     · texto em Africaner     · Africaner ( pdf )

 

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons