SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Abstract

WALT, B.J.Van Der. Die gereformeerd-Skolastieke visie op die verhouding tussen god en mens by F. Gomarus (1563-1641) en J. Arminius (1560-1609): 'n histories-filosofiese ondersoek. Tydskr. geesteswet. [online]. 2011, vol.51, n.3, pp. 269-288. ISSN 0041-4751.

Hierdie artikel ondersoek die filosofiese voorveronderstellings wat die grondslag vorm van die Dordtse Leerreëls, wat in 1619 deur die Sinode van Dordt (1618-1619) aanvaar is as antwoord op die leer van Arminius en sy Remonstrante navolgers. (Dit bou voort op ander navorsing van die skrywer in ander tydskrifte, waar die Dordtse Leerreëls reeds in besonderhede geanaliseer is.) Die artikel fokus op die probleem van goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid as 'n kernprobleem by hierdie Sinode (waar dit veral oor goddelike uitverkiesing en verwerping gegaan het). Ter inleiding bied dit 'n karakteristiek van die Gereformeerde-skolastieke sintesedenke van destyds as filosofiese stroming en ook die tipe filosofie wat dit behels het. Wat laasgenoemde betref, het dit 'n hele kompleks van idees ingesluit: 'n besondere wetsidee, suiwer kosmologiese denke, vertikale gedeeltelike universalisme, 'n dualistiese ontologie en 'n digotomistiese antropologie. Hierna volg 'n analise van die denke van twee belangrike figure by Dordt, naamlik F. Gomarus en J. Arminius. Hoewel hulle as verteenwoordigers van die twee opponerende standpunte by Dordt beskou word, blyk dit dat hulle tot 'n groot mate dieselfde skolastiese filosofie gehuldig het. Die enigste verskil kom eers op antropologiese vlak na vore: Gomarus was 'n semi-mistieke denker en Arminius 'n Platoniese empiris. Hierdie filosofiese verskil het egter groot teologiese implikasies gehad. Net so verrassend is die feit dat hierdie twee Christendenkers se filosofie presies dieselfde was as die filosofiese konsepsies wat die voor-Christelike denker, Aristoteles, gedurende twee van die laaste fases van sy ontwikkelingsgang gehuldig het. Hierdie "filosofiese mynveër" van die onbybelse "landmyne" onder die teologiese oppervlakte van Dordt lewer dus die volgende gevolgtrekking: Die botsing by Dordt was nie primêr tussen die Bybelse visie (van die Gereformeerdes) en 'n onbybelse dwaalleer (van die Remonstrante) nie. Dit was ten diepste 'n stryd tussen twee verskillende Aristoteliese filosofieë, wat in die Skrif ingelees en só as Bybels gesanksioneer is.

Keywords : Sinode van Dordt (1618-1619); Dordtse Leerreëls (1619); Gereformeerde Skolastiek; F. Gomarus (1563-1641); J. Arminius (1560-1609); verhouding God-mens; Aristoteliese filosofie; sintesefilosofie; eisegese-eksegese; suiwer kosmologiese denke; ontologiese dualisme; vertikale gedeeltelike universa lisme; antropologiese dualisme; semi-mistiek; empirisme; Pelagianisme; Platoniese filosofie; intellektualisme.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · pdf in Afrikaans