SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue1Older women's subjective experience of loneliness: applying the Mmogo- methodTM author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

WISSING, Daan. Ontronding in Afrikaans. Tydskr. geesteswet. [online]. 2011, vol.51, n.1, pp.01-20. ISSN 2224-7912.

Afrikaans word gekarakteriseer deur 'n besonder ryk vokaalsisteem. Onder die twaalf vokale tel die drie gemerktegeronde nonagtervokale /9, y, 2/, (SAMPA-simbole, wat korrespondeer met die IPA simbole /œ, y, ø/). Hierdie klanke is die geronde teenhangers van die drie ongemerkte non-agter vokale /@, i, e/ (SAMPA), in IPA konvensie getranskribeer as /y, i, e/. Neem in berekening dat hierdie transkripsies 'n kanoniese of fonologiese weergawe van die vokale is; dit neem dus nie fonetiese variansie, soos die wyd-voorkomende breking van /e/ tot /i@/ in ag nie. Die ontrondingsproses, waarvolgens eersgenoemde drie vokale as ongerond uitgespreek word, is een van die heel bekendstes in Afrikaans. Geen besonderhede van foneties-akoestiese of persepsieaard is egter in die literatuur te vinde nie. In hierdie bydrae word gepoog om hierdie leemte te vul, en wel deur gebruik te maak van die sogenaamde gemengde metode (Eng. mixed method). Nie net word 'n verskeidenheid metodes van data-insameling gebruik nie, maar eweneens ook van verskillende analisemetodes. Sowel produksie- as persepsiegegewens word ingespan. Die hoofeksperiment, 'n akoestiese eksperiment, fokus op die spraak van 16 volwasse moedertaalsprekers van Afrikaans. Vier groepe is ondersoek; vier deelnemers, telkens twee elk per geslag, van die ouderdomsgroepe 20-30 jaar, 40-50 jaar, 60-70 jaar, en 80-90 jaar oud. Almal is inwoners van die noordelike gebiede van Suid-Afrika. Hulle uitspraak van die twee stelle vokale is onder verskillende omstandighede versamel en geanaliseer. Dit hou in meer formele spraak (die lees van leeslyste en volsinne) en minder formeles (die sê van bekende frases - soos een uur ... twaalf uur - asook die tel van een tot twintig). 'n Gedetailleerde beskrywing is gedoen deur gebruik te maak van die belangrikste akoestiese aanduider van ronding (die tweede vokaalformant, F2). Die hoofbevinding van die ondersoek dui op 'n sterk teenwoordigheid van die ontrondingsfenomeen in Afrikaans, en in gevalle waar ontronding nie duidelik teenwoordig is nie, is die akoestiese verskille tussen die twee stelle vokale besonder klein vergeleke by dié in ander, aanverwante tale, soos Sweeds en Nederlands. Hier is egter nog nie sprake van 'n volledige neutralisasie van die eienskap Ronding nie. Daar is wel gevind dat daar blyke is van ten minste twee chronolekte, naamlik dié van heel jong en van heel ou sprekers van Afrikaans. Laastens, op 'n metodologiese vlak, is daar nie, soos moontlik die geval kon wees, radikale verskille in terme van ontronding gevind in die verskeie wyses van data-insameling nie. Die duidelikste blyke daarvan is gevind in die leestake, met name dié waar leeslyste gebruik is. Van die bevindinge is ook relevant vir 'n aantal linguistiese en toegepaste linguistiese areas, soos taaltipologie en die sosiolinguistiek van Afrikaans. Die hooffokus van hierdie artikel is egter nie hierop nie, sodat nie verder daarop ingegaan word nie.

Keywords : Gemerkte geronde nonagtervokale; Afrikaans; Chronolek; Ontronding; Afrikaans.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License