SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Print version ISSN 0041-4751

Abstract

WISSING, Daan. Oor die status van die "oe" in Afrikaans: 'n akoestiese analise. Tydskr. geesteswet. [online]. 2010, vol.50, n.1, pp. 31-49. ISSN 0041-4751.

Die hoofvraag wat in hierdie eksperimentele ondersoek aan die orde is, is of die Afrikaanse /u/vokaal (geskryf "oe") inderdaad 'n hoë agtervokaal (d.i. kardinale vokaal Nommer 8 op die artikulatoriese vokaalkaart) is soos wat dit tradisioneel, en ook in 'n enkele onlangse akoestiese beskrywing van Van der Merwe, Groenewald, Van Aardt, Tesner en Grimbeek (1993) beskryf word. Eie waarneming van 'n sterk ontronding daarvan word hier opgevolg deur uitgebreide akoestiese ondersoeke, aangevul deur persepsietoetse. Die spraak van 19 Afrikaanssprekende jongmense van verskillende dele van die land is ontleed en die resultate is statisties verwerk. Dit blyk dat die tweede vokaalformant, F2, wat primêr 'n aanduider is van die mate van ronding van agtervokale soos /u/, oorweldigend wys op 'n sterk skuif weg van die buiterand van die artikulatoriese vokaalruimte na binne. Die feit dat dit egter nie ook na onder skuif nie (soos blyk uit die stabiele eersteformantwaardes in byna alle metings), dus steeds 'n hoë vokaal bly, en nie /@/-agtig word nie, kan geneem word as argument teen die moontlikheid dat dit hier om gewone akoestiese reduksie gaan. Die genoemde akoestiese resultate word gevind in byna alle omstandighede wat ondersoek is, dit wil sê eksterne en interne kontekste. Dit geld nie net geslag van die deelnemers aan die eksperiment nie (vrouens ontrond beduidend meer as mans), maar ook die mate waarin die vokaal benadruk word (sekondêr benadrukte woorde is meer sensitief vir ontronding), die mate van frekwensie van gebruik van die individuele woorde (ontronding word meer aangetref in woorde wat baie frekwent gebruik word), die tipe stimuli (vokale ontrond meer in sinne), sillabestruktuur (oop sillabes is meer gevoelig vir ontronding). Leestempo is meer ingewikkeld, en toon nie op 'n eenvoudige wyse sodanige verskille nie. Betreffende plek van vorming van die konsonant volgende op die vokaal is die situasie nog meer ingewikkeld. Dit word wel gevind dat hierdie faktor 'n invloed kan hê, byvoorbeeld dat slot-/l/ soms 'n teenwerkende invloed in sommige woorde het op ontronding. Die hoofklasse konsonante in artikulatoriese terme, labiaal, alveolêr en velêr, verskil ook slegs in bepaalde gevalle van mekaar wat betref die uitwerking wat hulle het op die voorafgaande vokaal. Verskeie persepsietoetse toon aan dat Afrikaansluisteraars dikwels groot moeite het met die interpretering van woorde waarvan die vokaal bedoel wat as /u/; dit word in sulke gevalle in gedwonge luistertoetse geïnterpreteer as /i/, wat sterk ondersteunend is vir die resultate van die akoestiese metinge in hierdie ondersoek as sou /u/ nie (meer) 'n (hoë) agtervokaal wees nie. Hoewel moeilik om presies te karakteriseer, lyk dit wel asof dit kan of moet deurgaan as 'n hoë, ontronde agtervokaal. Tyd sal leer of Afrikaanse /u/ permanent van kwaliteit tot die hoë, ongeronde vokaal /U/ sal verander. Daar is vlugtig aandag gegee aan die implikasies wat hierdie studie het vir spraaktegnologiese toepassings, asook in algemeen-taalwetenskaplike opsig vir die aansprake van die dispersieteorie.

Keywords : Afrikaanse vokaalsisteem "oe"-vokaal; ontronding; reduksie; kontekstuele faktore; akoestiese eienskappe.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · pdf in Afrikaans