SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Abstract

GOUDZWAARD, B. Calvyn se etiek van die sosiaal-ekonomiese lewe. Tydskr. geesteswet. [online]. 2009, vol.49, n.3, pp.434-452. ISSN 2224-7912.

Teen die agtergrond van die middeleeuse Rooms-Katolieke devaluering van hande-arbeid en in reaksie tot die statiese stande-gelaagdheid daarvan, het Calvyn 'n pleitrede gevoer vir 'n herwaardering van die koopmansstand en van die plek van die ekonomiese sektor van die samelewing binne 'n koninkryksperspektief daarop. Enersyds was daar talle misstande en bedenklike praktyke in swang in Italie en andersyds het die Roomse kerk nog 'n groot mag gehad oor die samelewing - met betrekking tot die ekonomiese sektor veral deur die instandhouding van die rente-verbod. Nie alleen het Calvyn die hiërargiese samelewingsbeskouing van die middeleeue ondergrawe nie, maar tegelyk ook nuwe moontlikhede geopen vir die opbloei van ekonomiese aktiwiteite met sy pleit vir die opheffing van die rente-verbod. In Genève het hy uit hoofde van sy bediening allerlei praktiese voorstelle gemaak, soos die verlening van gratis doktershulp aan armes; die prysvasstelling van brood, wyn en vleis; die reglementering van arbeidsduur; die verpligting om laerskool onderwys te volg; die geneeskundige behandeling van invalides en siekes; openbare werke en herskoling van werkloses; hulp aan verbygaande vreemdelinge; instituering van die diakonaat; en 'n verbod op bedelary omdat daarvoor in Genève geen rede meer bestaan het nie. Die prysvasstelling van brood, wyn en vleis dui op die noodsaaklike lewensbehoeftes in die tyd wat veroorsaak is deur die voortdurende styging van die pryse wat daartoe gelei het dat die mindergegoedes gebrek begin ly het (Calvyn het dus in 'n tyd van inflasie geleef). Calvyn het die hele lewe op gelyke voet geplaas en elke beroep as 'n roeping gesien. Besondere aandag word gegee aan die beroemde Weber-tese, naamlik dat die kapitalisme 'n vrug van die Calvinisme is. Daar word aangetoon dat dit egter die Engelse puritanisme was wat hierdie faam moet ontvang - gepaardgaande met wat Weber 'n "binne-wêreldse asketisme" genoem het: die werkers het hul hard-verdiende geld gespaar (opgepot) en dus in die wêreld as vreemdelinge geleef. Aan die einde is 'n "Postscript" (2009) bygevoeg waarin 'n aantal ooreenkomste en analogieë tussen Canvyn se tyd en ons huidige situasie belig word, terwyl vasgehou word aan die onderliggende duursame betekenis van Calvyn se nalatenskap ook vir ons situasie van vandag.

Keywords : Calvinisme; billikheid; kapitalisme; Puritanisme; renteverbod; Koninkryk.

        · abstract in English     · text in Afrikaans     · Afrikaans ( pdf )

 

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License