Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Koers
On-line version ISSN 2304-8557Print version ISSN 0023-270X
Koers (Online) vol.90 n.1 Pretoria 2025
https://doi.org/10.19108/koers.90.1.2596
ORIGINAL RESEARCH
Die Volkeregtelike Status van die Afgevaardigdes dan die Boererepublieke by die Vrede van 31 Mei 1902
The status of the Boer delegates according to the law of nations at the peace talks in May 1902 after the Anglo-Boer War
Piet J. Strauss
Navorsingsgenoot, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. straussp@ufs.ac.za; https://orcid.org/0000-0002-5324-8363
OPSOMMING
Die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 met sy kern Boer teen Brit betree teen middel 1900, met die Britse anneksering van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat, 'n tyd van guerrilla-oorlogvoering deur die Boere. Hierdie oorlog eindig met vredesluiting op 31 Mei 1902.
Die "nagenoeg" 20 779 Boere (vgl. Pretorius, 2001:21) wat in hierdie fase aan Boerekant geveg het, dra die naam Bittereinders. Hierdie Boere wat tot die einde van die oorlog - hulle het onder mekaar gepraat van die bittereinde - met verset teen die Britse imperialisme sou volhard, sou daarna 'n aantoonbare invloed op die historiese verloop van staatkundige sake in Suid-Afrika hê. In oorleg met lord Kitchener, opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika, het die Boere 'n beraad van 60 vegtende Boere of Bittereinders vir die laaste twee weke van Mei 1902 op Vereeniging gereël wat oor 'n vrede onder omstandighede vir die Boere moes besluit. Die verteenwoordigers op hierdie Boereberaad is deur die vegtende burgers as stemvolk aangewys.
Aan die begin van die beraad het die 60 Boere aanvaar dat hulle uit 'n volkeregtelike hoek die status van gevolmagtigde verteenwoordigers van die burgers "te velde" gehad het wat namens die twee republieke oor vrede met Brittanje moes besluit. Dit het beteken dat hulle die gees onder hulle genote moes verreken, maar ook eie insig kon gebruik in die hantering van dit wat hulle by medeafgevaardigdes, kommando's en ander mense in die oorlog gehoor het. Hulle was gevolmagtigde gesante wat op 'n sinvolle vrede vir die Boere in die omstandighede moes besluit. Sekere faktore sou hierdie status bevestig.
Die beraad moes finaal oor die moontlikheid van vrede vir die Boere besluit. π Kommissie van 10 uit die 60 wat die regerings van die twee republieke verteenwoordig het, het die Vrede van Vereeniging soos deur die beraad aanvaar, geteken. Daardeur het die vredesverdrag wat op die Britse voorstelle gebaseer was, 'n bindende ooreenkoms vir Boer en Brit geword: π ooreenkoms wat die republieke deur die beraad van 60 aanvaar het en hulle deur handtekening en erewoord gebind het.
Die aard van die vredesverdrag was betekenisvol. Milner het die ooreenkoms soos aanvaar deur die Britse regering in Londen vir die tien Boere wat sou teken as π "Act of surrender" aangebied. Generaal Jan Smuts het hierdie opskrif by onlangs gesien en onmiddellik gewysig na "Act of peace". Kitchener en Milner het nie hierteen beswaar gemaak nie. Die republieke het selfstandig oor die vrede besluit en was daarvoor nie van Brittanje se goedkeuring afhanklik nie. As gevolmagtigde verteenwoordigers was die 60 Boere as 'n wettige en verkose liggaam instrumenteel in die republieke se aanvaarding van die ooreenkoms.
Die Vrede van Vereeniging is aanvaar deur die 60 Bittereinderboere wat dit met π meerderheid van 54 - 6 goedgekeur het. Die Britse anneksasie van die Republiek van die Oranje-Vrystaat op 24 Mei 1900 en die Zuid-Afrikaansche Republiek op 1 September 1900, het geen rol op konferensie gespeel nie. Die Bittereinderboere het selfstandig besluit oor - op hulle voorwaardes - die einde van die bittereinde.
Kernbegrippe: Anglo-Boereoorlog 1899-1902; bekende oortuigings van Bittereinders; bittere einde; Boere moet vergewe; volkeregtelike status van Boereverteenwoordigers in Mei 1902; ZAR en die Rep. OVS verteenwoordig deur Bittereinders; Suid-Afrikaanse Oorlog
ABSTRACT
Peace talks after in the Anglo-Boer War (1899-1902) between Great Britain, the South African Republic (ZAR) and the Republic of the Orange Free State (Rep. OVS), took place in the final two weeks of May 1902. At that stage, the Anglo-Boer War had been lasting for about two years and eight months. The British High Commissioner in South Africa, sir Alfred Milner, who is on record for precipitating the war, anticipated that the Anglo-Boer War would last only three months and end in a British victory. The war started on 11 October 1899 after Britain had refused an ultimatum of the ZAR, which felt threatened by the movement of British troops to its borders. The war ended, however, nearly three years later, on 31 May 1902.
In the middle of 1900, after Britain successfully invaded the republics, the Boers took to guerilla warfare. They used this until May 1902, whereafter the peace treaty was signed in Pretoria on 31 May 1902. During the period of guerilla warfare, the Boers were represented by the so-called Bittereinders or die-hard Boers. They believed that an imperialistic Britain threatened to terminate the independence of the republics and was committing a grave injustice to the Boers by doing so. The Bittereinders were convinced that the republics, by defending their cause in taking up arms as their final option, acted according to God's will, which gives states the right to defend their independence when necessary. God, they believed, gave them this right in His providence. The President of the Orange Free State, M.T. Steyn, who was named the "Bittereinder van die Bittereinders" (die-hard of the die-hards), promoted this view and added that the republics might lose the military side of the war, but win the fight for spiritual values. He propagated the defence of oneself and of independent states in situations of need as a holy God-given right and visualised the spiritual superiority of Boer women and children in British concentration camps.
When peace talks between Britain and the republics became a reality, it was clear that the "Bittereinders" - at that stage their fighting group - would be delegated by the republics to the peace conference. Lord Kitchener, the officer in command of the British soldiers in South Africa, accepted a proposal from the republics that the Boers hold a conference with 30 delegates from each of the ZAR and the Rep. OVS to participate in the peace talks on behalf of the Boers. They would be chosen by the fighting Boers who were Bittereinders. The British cabinet appointed Kitchener and Milner to represent them in the peace talks and report back to the British government for the final decision. Britain annexed the ZAR and the Rep. OVS in 1900 after an invasion and the establishment of a military government in both. These military governments meant to replace the republican governments. This arrangement, however, played no role in the peace talks of 1902. The two sides, Britain and the republics, met as equals. Decisions in these talks were not taken by a majority of individuals, but by an agreement between the parties. Kitchener and Milner followed the talks to reach a proposal, which they sent to London for a final decision to act on. In the end the Boers accepted the British proposals, but after the consent of the conference of 60 Boer delegates, who fully represented their states in this situation. In fact, at the beginning of the meeting of 60 at Vereeniging, the delegates accepted that they could decide according to their own convictions in the negotiations on behalf of the two countries they represented.
At the end of the talks, Milner presented the Boers with the final British proposal under the heading of an "Act of surrender". However, upon receiving it, the Boer Bittereinder general J.C. Smuts, replaced this heading with a more appropriate wording according to the Boers, namely an "Act of peace", that is an act of equal parties. Kitchener and Milner let this change pass in silence. Kitchener was eager to reach an agreement that would end the war and differences of minor importance could damage it. The influence of the Bittereinders could also be seen in South Africa after 1902. An important example was the establishment of the Republic of South Africa in 1961: an ideal of the Bittereinders. Another example was the implementation of the policy of apartheid, which ended finally and formally with the general election in 1994.
Keywords: Anglo Boer War 1899-1902; Boers as Christians should forgive; known convictions of 'Bittereinders'; republics represented by 'Bittereinders'; status of Boer representatives according to law of nations in May 1902; the bitter end; South African War
1. INLEIDING
In sy "biografie" oor die Afrikaner sê Giliomee dat weerstand onder Afrikaners in die voormalige Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR - Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (Rep. OVS - Vrystaat) ná die Anglo-Boereoorlog (ABO - 1899-1902) teen die verengelsingsbeleid van die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, Alfred Milner, wyer as die predikante en onderwysers onder "Afrikaner-intelligentsia" gestrek het. Hy koppel hierdie verset aan die Calvinisme wat volgens hom aandring op "remaking this world according to distinct principles derived from or read into the Bible"1 (Giliomee, 2003:264, 269); 'n Christelik-Calvinistiese lewensbeskouing wat by talle Boere en presidente Paul Kruger en M.T. Steyn, in hulle regverdiging van 'n defensiewe oorlog van die twee republieke teen die Britte in die ABO, aanwesig was (Strauss, 1994:28-34; 1998:54-64).
Hierdie Christelike visie was ook merkbaar by die 60 Bittereinderboere wat deur die ZAR en Rep. OVS gestuur is vir die beëindiging van die ABO deur die Vrede van Vereeniging en die ondertekening van die vredesooreenkoms op 31 Mei 1902 in Pretoria. Vir Bittereinders was dié visie deel van hulle lewenshouding en 'n uitgemaakte saak: Hulle moes hulle betrokkenheid aan Boerekant in die ABO én met die vrede van 1902 teenoor die Here verantwoord. Hulle groot vraag in die ABO was nie of God aan hulle kant was nie, maar of hulle met hulle oorlogspoging vir God aanvaarbaar was. Was hulle in die ABO - volgens die eis van die Bybels-Calvinistiese "met alles in die lewe" - aan God se kant? 'n Dekade later op 16 Desember 1913 word die Vrouemonument in Bloemfontein onthul met die veelseggende samevattende uitdrukking: "Uw wil geschiede". Hierdie optrede stem ooreen met die opvattings van M.T. Steyn oor die voorsienigheid van God (Strauss 2014:59-62). Meer nog, op die beraad van die 60 Boere het die Bittereindergeneraal Koos de la Rey -volgens notule - met sy kort insetsels 'n beslissende rol gespeel om die afgevaardigdes te oortuig dat hulle die vredesvoorstelle van Brittanje moet aanvaar. Vir hom was die Boere op hierdie stadium by die veelbesproke einde van die bittereinde. Die aanvaarding van die Britse voorstelle kon volgens hom nog 'n eervolle einde van die ABO aan die republieke bied. Dit het vir hom oor "Laat u wil geskied" gegaan en nie "my wil om oorwinnaar te wees nie" (Kestell & Van Velden, 1982:136).
Teen hierdie agtergrond kyk hierdie artikel na die erkende volkeregtelike of tussenstaatlike status van die 60 Boere-afgevaardigdes na die Vereenigingsberaad uit wie die 10 Boere-ondertekenaars van die twee republieke van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 sou kom. Die vrede wat die einde van die ABO aangekondig het (Kestell & Van Velden, 1982:170171).
2. Bittereinders tot die Bittere Einde
In sy skets van die houding van die Boerebittereinders wat die ABO van middel 1900 tot Mei 1902 teen Brittanje gevoer het2 (Gronum, 1974; Van Schoor, 1997; Van Schoor, 2005), neig Giliomee tot veralgemenings wat gekwalifiseer moet word. Volgens hom het die Bittereinders besluit om te veg solank dit moontlik was. Hulle was Boere met 'n hoop op die toekoms van die twee republieke en die Afrikaner en 'n "vaste" geloof in die Here God wat die weë van nasies en volke bepaal, sondaars straf en gehoorsames beloon. Giliomee voer aan dat die redes van Brittanje vir hulle inisiëring van die ABO vir die Bittereinders so 'n onreg was dat die Here volgens hulle nie aan Brittanje die oorwinning sou gee nie (Giliomee, 2003:253).
Tog was 'n "vaste" geloof in 'n oorwinning nie by alle Bittereinders teenwoordig nie. Hiervoor enkele sleutelvoorbeelde.
In 'n getemperde optimisme gee die Vrystaatse president, M.T. Steyn, kort voor die uitbreek van die ABO op 11 Oktober 1899, blyke dat hy nie oortuig is dat die Vrystaat die ABO aanpak met die sekerheid van 'n Godgewilde oorwinning nie. Vir hom is 'n oorlog van die twee swakke republieke teen die magtigste ryk ter wêreld, Brittanje, nie 'n "ligvaardige" saak nie (Strauss, 2000:98). In sy rede in die Volksraad vir die deelname van die Rep. OVS aan die ABO soos geïnisieer uit imperialistiese Brittanje3 pleit hy vir die trou van die Vrystaat aan sy belofte van steun aan die ZAR indien hierdie staat bedreig sou word. Steyn se houding spruit onder meer uit die politieke verbond van 1889 en 1897 tussen die twee republieke:
Gaat gij ontrou zijn aan uw gegeven eerewoord? Of gaat gij aan de wereld zeggen dat deze Staat hoewel klein en zwak, sterk genoeg is om trouw te zijn aan zijn eerewoord? (Rep. OVS, 1899:16-24; Van der Merwe, 1921a:250-256).
Op 27 September 1899 motiveer Steyn in die Vrystaatse Volksraad 'n stryd van die republieke tot die bittereinde. Ter wille van die selfrespek van die Afrikaner en die eerbied van ander vir hom, moet hy volhou met sy verset teen die oorlogsugtige Britse imperialisme. Volharding sal 'n morele oorwinning gee omdat hy 'n eties-regverdige saak het (Rep. OVS, 1899:145-146; Strauss, 2023:1). Die Boere kan die oorlog verloor, maar die vrede wen. Daarom moet hulle die oorlog nie in 'n gees van minderwaardigheid nie, maar van morele meerderwaardigheid aanpak (Oberholster & Van Schoor, s.a.:14-15). Later verwys Steyn na die "triomferende martelaarskap" van die Afrikanervrou en -kind in hulle volharding in Britse konsentrasiekampe (Strauss, s.a.:8; Anon, 2014:3).
Volgens sy president grond die Rep. OVS sy hulp aan die ZAR op die besef dat hy as 'n Christelike staat sy woord gestand moet doen en nie op sy militêre vermoë nie. Steyn se besluit kom nadat hy deur "... dae van nadenke en nagte van gebed ... " geworstel het (Oberholster & Van Schoor, s.a.:81). Die keerpunt was sy innerlike stryd op Sondag 8 Oktober 1899 in die veld op sy plaas Onze Rust naby Bloemfontein. Sy vrou Tibbie glo dat hy merendeels in gebed was en daarna met die oortuiging huis toe gekom het dat hy moet veg vir reg en geregtigheid. Die ABO sou op 11 Oktober uitbreek (Meintjes, 1969:104, 210). Volgens Steyn3 moes die ZAR en die Rep. OVS uit 'n etiese en Christelik-volkeregtelike hoek die wapen opneem teen die gedugte Britse imperialisme.
Nog 'n sleutelvoorbeeld in die saak is die veldprediker by die Bittereinders, ds. J.D. Kestell. Kestell sou sy begrip van die wil van God aanpas nadat Marthinus Prinsloo met sowat 4 000 man op 29 Julie 1900 in die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat aan die Britte oorgegee het. Tot op daardie stadium was Kestell oortuig dat die Boere vir 'n oorwinning in die ABO op God kon vertrou omdat hulle saak reg was. Uit selfverdediging as die Christelike reg van mense - aldus Steyn4 - moes en kon die ZAR en die Rep. OVS die wapen opneem teen die Britse imperialisme. Kestell was dit hiermee eens. Vir hom was die komende ABO, van die kant die republieke gesien, 'n "heilige" oorlog.
Die datum 29 Julie 1900 word egter vir Kestell "de treurigste dag" in die ABO. Vlugtende kommando's, mismoedige offisiere en die sprekende stilswye van die burgers maak hom emosioneel wanhopig. Toe hy besef dat mens God nie kan manipuleer nie, was hy skaam oor sy gemoedstoestand. Hy het ander dan vroeër uit die Woord bemoedig en aan die president geskryf dat hy saam met hom die stryd tot aan die bittereinde sal voer. Van Giliomee se idee van 'n vaste geloof by die Bittereinders dat hulle in die ABO op die wenpad is, is daar by Kestell as 'n geloofsleier nie sprake nie (Kestell, s.a.:75-76, 285; Van Schoor, 1992: 112, 114, 130).
3. Status van Boereverteenwoordigers Ondersoek
Teen hierdie lewensbeskoulike agtergrond ondersoek hierdie studie die volkeregtelike en verwante juridies-etiese kante van die status van die 60 Boere-afgevaardigdes by die, soos dit bekend sou staan, Vrede van Vereeniging in Mei 1902. Die voorbeelde van leiers soos Paul Kruger, Koos de la Rey, C.F. Beyers, M.T. Steyn en J.D. Kestell, asook Steyn se pleidooi in die Vrystaatse Volksraad vir 'n volharding tot die bittereinde, toon 'n erkende Christelik-volkeregtelike benadering by die Bittereinders in die ABO.
Hierdie flitse oor die Bittereinders wat die Boererepublieke van ongeveer middel 1900 tot 31 Mei 1902 met vredesluiting teen Brittanje in die ABO verteenwoordig (Pretorius, 2012:241242), toon dat die status van die verteenwoordigers van die republieke by die Vrede van Vereeniging in 1902 uit 'n Christelike oogpunt ter sake is. As Bittereinders wat die ABO vir die ZAR en die Rep. OVS as 'n Christelik-verantwoorde oorlogspoging tot die bittere einde wou voortsit, was hulle posisie prinsipieel én ook strategies belangrik. In praktyk was die Vrede van Vereeniging 'n vrede tussen die bevelvoerder van die Britse magte in die ABO, lord Kitchener, en sy Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, lord Milner, aan die een kant, en die regerings van die ZAR en die Rep. OVS aan die ander kant (Kestell & Van Velden, 1982:116117). Hierdie partye het die staatsmagte verteenwoordig wat sedert 11 Oktober 1899 volke-of staatsregtelik in 'n oorlog gewikkel was (Kestell & Van Velden, 1982:117). Omdat die einde van die ABO as 'n oorlog tussen state met hulle swaardmag - Romeine 13 se swaardmag - om hierdie twee groepe gedraai het, het hulle optrede die onmiddellike politieke toekoms van diegene in Suid-Afrika wat aan hulle verwant was, bepaal. Die staatkundige opset in Suid-Afrika na 1902 sou deurslaggewend wees vir Suid-Afrika na uniewording in 1910. Die besluite van Boer en Brit op 31 Mei 1902 sou teen 1910 die toon aangee by die samestelling van die bevolking van die Unie van Suid-Afrika: nie net ten opsigte van Boer en Brit nie, maar ook die totale Suid-Afrikaanse bevolking5.
Vir die ZAR en die Rep. OVS was 31 Mei 1902 die einde van die ABO én 'n bittere einde (Kestell, s.a.:273).6 Hierdie datum kondig die einde van die bestaan van die twee Boererepublieke aan. Tog sluit dié datum nie die einde van die invloed van die Afrikaner op alle terreine in Suid-Afrika af nie (Van Schoor, 1992:78). In sy boek oor sy aanwesigheid by die Boerekommando's in die ABO, sê J.D. Kestell:
... hoewel wij nu onder het Britsche rijk bestaan, en ons als onderdanen van dat rijk, stil zullen gedragen, onze eigene nationaliteit ons steeds iets groots en heiligs zal zijn, en dat wij het ons voor de grootste er zullen rekenen steeds als Afrikaners bekend te staan! Zo heeft God ons gebed gehoord!" (Kestell, s.a.:280).
Terselfdertyd sê die waarnemende president van die ZAR, S.W. Burger:
... ons staan by die graf van albei Republieke; maar nie by die graf van ons volk nie ... nou moet ons 'n ander stryd ingaan ... dit sal ons plig wees om deur kraginspanning en opoffering te werk aan die weeroprigting van ons volk ... (Kestell & Van Velden, 1982:11).
Kestell was ná die ABO oortuig dat die verlies van sy staatkundige onafhanklikheid nie die einde van die Afrikaner of sy invloed beteken nie. Sy ontstaan as 'n gemeenskap spruit uit 'n vrywillige assosiasie van Afrikaners met mekaar in hulle kultuureie en nie uit wetgewing van 'n staatsowerheid of 'n dwingende regeringsopdrag nie (Kestell, s.a.:94-95).
Die status van die Boereverteenwoordigers by Vereeniging in Mei 1902 tot aan die einde van die vredesproses op 31 Mei 1902 in Pretoria hou hiermee verband. Van Schoor (2005:245) verwys na hierdie vrede as die bittereindervrede; 'n vrede wat vir die Boereverteenwoordigers by die Vereenigingsberaad teen 'n bittere einde gekom het en - soos genoem - deur hulle met 54 - 6 aanvaar is.7 Hier word gekonsentreer op 'n moreel-geestelike tipering van die Bittereinders wat die weerstand in die ABO teen imperiale Brittanje deur die ZAR en die Rep. OVS vir byna twee jaar gedryf het, die Vredesberaad in Mei 1902 op Vereeniging wat aan die verteenwoordigers van die Bittereinders 'n sekere status en impak verleen het én die optrede van hierdie Bittereinders ná die ABO. Hierdie impak van die Bittereinders hou ook verband met die status en erkenning wat hulle by die Vereenigingsberaad teenoor Kitchener en Milner geniet het. Ten opsigte van hulle eie oordeel in besluitneming is dit op 15 Mei 1902 aan die begin van die beraad - na aanleiding van "regter" Hertzog en generaal Smuts se juridiese insette - deur die 60 afgevaardigde Boere aanvaar dat die beraad
... nie bloot as agent of mondstuk van sy kiesers beskou kan word nie, maar ... in sake van 'n openbare aard 'n gevolmagtigde is. Die afgevaardigdes kan dus hul menings vorm volgens wat hulle hier verneem, mits hulle vashou aan wat die volksgees [is] en ... oortuig is deur die feite wat aan hulle voorgele is dat, as die feite aan die volk bekend was, die volk hulle sou opgedra het om te stem soos hulle wel stem (Kestell & Van Velden, 1982:56).
Anders gestel, die 60 Boere op die Vredesberaad was gevolmagtigdes wat moes oordeel wat in belang van die ZAR en die Rep. OVS was. Intussen sou sake rondom vredesluiting daartoe ontwikkel dat die 60 Boere - met die twee regerings tussen hulle in 'n gesamentlike kommissie - vir die ZAR en die Rep. OVS besluit en dat Kitchener en Milner met die goedkeuring van die Britse regering of kabinet besluit. Besluite oor die begin, verloop en einde van die ABO vanaf 1899 tot 1902 sou dus deur die regerings van Brittanje, die ZAR en die Rep. OVS (die AB van die O) geneem word.
Giliomee wys op die toetrede van M.T. Steyn tot die debat oor gelykheid tussen Hollands en Engels op die Nasionale Konvensie in 1909, 'n konvensie wat Uniewording in Suid-Afrika voorafgegaan het. Steyn se toetrede was 'n beslissende oomblik. Giliomee oordeel dat president Steyn groot aansien by afgevaardigdes na die Konvensie geniet het omdat hy in die ABO, ten spyte van sy swak gesondheid, tot die bittere einde saam met die Bittereinders in die veld was. Steyn het dit teen die "duiwel van rassehaat" (tussen Boer en Brit) gehad wat uitgewis moes word deur die twee tale "op 'n volkome gelyke voet te plaas" - 'n punt wat aanvaar is. F.S. Malan sê dat Steyn se betoog hom tot trane gebring het (Giliomee,
2012:280). In 1913 telegrafeer Steyn aan 'n taalfees vir Afrikaanse studente die volgende veelseggende woorde: "De taal van de veroveraar is in de mond van de veroverde de taal van slaven" (Giliomee, 2012:281). Die invloed van die Bittereinders is ná 1902 dus ook op die taalstryd in die Suid-Afrikaanse gemeenskap gevoel.
In hierdie klimaat ontstaan die Nasionale Party in 1914 uit Bittereinderkringe onder J.B.M. Hertzog. Dié party word 'n politieke party wat, soms omstrede, diep spore in die 1900's in Suid-Afrika trap. Met die koms van die Republiek van Suid-Afrika in 1961 op inisiatief van die Nasionale Party, word 'n republiek as 'n Bittereinderdroom ná die vernietiging van die ZAR en die Rep. OVS op 31 Mei 1902, bewaarheid (Giliomee, 2012:282; Strauss, 2023:2)8.
4. Die Bittereinders Verbeeld
Op die terrein van die Vrouemonument in Bloemfontein, teen die koppie aan die westekant, word daar op 31 Mei 1994 ('n Bittereinderdatum, PS) 'n standbeeld vir Bittereinders onthul. Hierdie beeld stel die fisiese voorkoms en geesteshouding van 'n Boerebittereinder voor. Van Schoor (1993:26) oordeel dat die fokuspunt van die beeld in sy houding en gesigsuitdrukking lê. Op sy beurt bereken Pretorius (2001:21) dat daar teen die einde van die ABO uit die 20 779 Bittereinders 1 232 Transvalers, 5 822 Vrystaters, 3 574 rebelle uit die res van Suid-Afrika en 140 ander vrywilligers was. Die Bittereinderingesteldheid laat ook ná 31 Mei 1902 sy stem in Suid-Afrika hoor.
Van Schoor vervolg:
Teen die einde van die stryd teen die oormag, rondom 31 Mei 1902, het hy wat onder die oorblywende vegtende burgers tel, die erenaam bittereinder gedra. 'n Uiters ondervoede, maer vulperd - eens 'n pronk stalperd - met sy ruiter is die simbool van wat in die laaste wintermaande van die oorlog verduur moes word. Die burger pas by sy troue rydier aan. Sy klere is verslete; hy is sonder sokkies; oor sy skouer hang 'n sak om hom teen die winterkoue te beskerm; en in sy bandelier is nog net twee sakkies met patrone gevul.
... Ten spyte van sy verwaarloosde voorkoms straal daar uit sy gesigsuitdrukking 'n gees van: ek sal aanhou tot die bittereinde. Ek sal nie ingee nie. As die onvermydelike my dwing om my wapen neer te lê, sal ek in die gees nog volhou om te veg vir wat ek as reg beskou.
... Van alles gestroop - sy woning, sy vee, sy gesaaides en selfs sy vrou en kinders - is dit nog net hyself, sy perd en sy geweer om die stryd voort te sit. (Van Schoor 1993:26)
Die Vrystaatse hoofkommandant, generaal C.R. de Wet, verwoord 'n tipiese bittereindervisie op 16 Mei 1902 by die Vereenigingsberaad as hy sê dat die ABO vir hom van meet af 'n oorlog in die geloof was. Die feite van die oorlog, die twee Boererepublieke teen 'n wêreldmoondheid, moes in die geloof aangepak word. Op hierdie stadium - na ongeveer twee jaar en agt maande - is hy bereid om hierdie geloofsoorlog voort te sit (Kestell & Van Velden, 1982:85). Daarom is Giliomee se opmerking oor die Bittereinders en 'n geloofstryd nader aan die kol as van sy ander stellings: Die vrywillige oorgawe aan Brittanje deur indiwiduele Boere teenoor die amptelike regeringstandpunt van die ZAR en die Rep. OVS spruit volgens Bittereindervolksgenote nie uit verraad nie, maar ongeloof ... (Giliomee, 2003:253). Die opvatting van 'n oorlog in die geloof en getrouheid aan die oorlogspoging het so diep gesny dat Boereverraaiers en -joiners as "verworpelinge" ná die oorlog hul eie
kerk gestig het. Ná 1902 het daar Scout-gemeentetjies onder Afrikaners ontstaan. Teen 1906 was daar ses sulke gemeentetjies in Transvaal. Hulle het egter 'n kortstondige bestaan gehad9 - en teen 1911 van die toneel verdwyn (Van der Watt, 1980:187-193).
Die Bittereinderhouding oor die oorlog is by uitstek versimboliseer deur president M.T. Steyn. Daarom is hy die "bittereinder van die bittereinders" en "siel van die vryheidstryd" genoem (Strauss, 2021:2). Steyn se verantwoording as 'n Christenstaatsman (vgl. Strauss, 2021:670-689) van die deelname van die Rep. OVS aan die ABO vind weerklank by die ander lede van die Vrystaatse Driemanskap, generaal C.R. de Wet en ds. J.D. Kestell. Volgens Kestell het niemand naas die Bybel soveel invloed as M.T. Steyn op sy eie volks- en openbare lewe gehad nie (Van Schoor, 1992:253). Op sy beurt noem De Wet, die jonger M.T. Steyn sy geestelike vader (Van Schoor, s.a.:17., Van Schoor, s.a.:144).
Vir Kestell - daarop is gewys - was die ABO 'n heilige oorlog omdat die Rep. OVS op selfverdediging voor God geregtig was - 'n gedagte wat Steyn verwoord (Van Schoor 1992:88). In die voorwoord van sy De strijd tusschen Boer en Brit noem De Wet die Afrikaner 'n klein volkie wat gestry het vir "vrijheid en recht" (De Wet, 1959:5). Hiermee steun hy Steyn in 'n gedagte wat in 1913, hoewel anders gestel, op inisiatief van die oudpresident op die Nasionale Vrouemonument aangebring word (volledig in Kestell, 1920:187; Strauss, s.a.:6, 20-21): "Voor vrijheid, volk en vaderland". Opgesom beteken dit dat Steyn 'n leiersrol onder die Bittereinders gespeel het en dat leiers soos De Wet en Kestell met oorgawe uit hierdie kring in die ABO opgetree het.
Vir Steyn was die saak van die republieke voor die "driemaal Heilige God" verantwoord (Van Schoor, 1997:176). As onafhanklike state wat hulself handhaaf en op grond van die volkereg daarop geregtig was, was hulle aan die Britse imperialisme blootgestel. Hy wys op onreg van die Britse imperialisme teen die republieke in die laaste helfte van die negentiende eeu. Die republieke het uit 'n Christelik-etiese oogpunt as laaste uitweg hulself verdedig. Hulle inisiatiewe vir arbitrasie of onderhandeling om die probleme van Brittanje oor interne sake in die ZAR op te los, het misluk. Die ZAR en die Rep. OVS kon as internasionaal erkende onafhanklike state dus hulle onafhanklikheid uit noodweer verdedig. In die volkereg mag 'n staat met effektiewe beheer oor die fisiese swaardmag in sy gebied - deur sy polisie en weermag - sy gebiedsintegriteit handhaaf (Rep. OVS, 1899:10; 1899:113; Scholtz, 1998:1117). Steyn kies die strukturele gelykheid van onafhanklike state én 'n maatskapsfiguur vir die verhouding tussen hierdie state, 'n oortuiging wat as 'n Christelike - Giliomee sê Calvinistiese - benadering in die volkereg erken word (Wessels, 1975:63).
5. Bittereinders Verteenwoordig Republieke
Die Bittereinders sou die ZAR en die Rep. OVS op die Vereenigingberaad vanaf 15 Mei 1902 en by die vrede in Melrosehuis, Pretoria, op 31 Mei 1902 verteenwoordig. Die antwoord van die Boere op die finale vredesvoorstelle van Brittanje was 'n handgeskrewe voorstel van kommandant H.P.J. Pretorius gesekondeer deur generaal Chris Botha op die laaste dag van die Vereenigingsberaad op 31 Mei 1902. Hierdie voorstel wat die Britse voorstelle aanvaar het, het tot die vredesooreenkoms in Melrosehuis gelei (Kestell & Van Velden, 1982:169-173). Die vrede is deur verteenwoordigers van die regerings van Brittanje, die ZAR en die Rep. OVS, soos aangewys, onderteken. Om 23:05 die aand van 31 Mei 1902 het waarnemende president S.W. Burger en vyf lede van sy regering namens die regering van die ZAR geteken. Hulle is gevolg deur waarnemende president C.R. de Wet van die Rep. OVS en drie ander Vrystaters. Heel laaste het lord Kitchener, Britse "Commander-in-Chief" in Suid-Afrika, en sir Alfred Milner, Britse Hoë Kommissaris en aangewese goewerneur in die Vrystaat en Transvaal, geteken (Kestell & Van Velden, 1982:117, 174-175, 178).
Die Britse verteenwoordigers het die afgevaardigde Bittereinders stilswyend en sender weerstand as die wettige regerings of "wettige oorlogteenstanders?" van die Rep. OVS en ZAR erken (Van Schoor, 2005:199). Die Britse anneksasie van die republieke bykans twee jaar vantevore (die Rep. OVS op 24 Mei en ZAR op 1 September 1900 (Pretorius, 2012:254)) is nie in die vredesonderhandelinge geopper nie. Al was die Bittereinders in die regering van hulle grondgebied merendeels "te velde" en aan die beweeg, is hulle wettigheid as regeerders van (guerrilla?) republieke nie deur Brittanje ontken nie (vgl. Kestell, s.a.:261 se ontleding). Die reg dat die Vereenigingsberaad van die Boere die besluite van die republieke oor die vrede neem, is deur Brittanje aanvaar en eerbiedig.10 Die finale beraad waar die ooreenkoms deur beide partye geteken is, is gevorm deur die twee oorlogspartye waarin die drie state "amptelik" en fisies verteenwoordig was. Die republieke het vir laas as state deur verteenwoordigers die swaardmag en oorlog internasionaal hanteer. As strydende partye het hulle 'n vredesverdrag beding wat hulself goedkeur. Oor die Vrede van Vereeniging en sy bepalings is sonder die Boere-hensoppers of -joiners besluit deur die Boereberaad met sy een oog op verhoudinge in die latere Suid-Afrika. Die joiners en hensoppers het -in die oë van hulle "oorspronklike" regerings - met hulle onwettige (teenoor die "wettige" of internasionaal erkende bittere einde, PS) onttrekking aan die oorlogspoging van die ZAR en die Rep. OVS, hulle deelname aan besluite oor hulle eie toekoms op staatkundige vlak deur die neerlegging van hulle wapens, self vernietig. Grundlingh meld dat Brittanje tydens die vredesonderhandelinge nie probeer het om die Boereverraaiers of scouts se posisie te bespreek nie. Moontlik het Kitchener gevrees dat so iets die Bittereinders die harnas sou injaag en onderhandelinge kon benadeel - terwyl Brittanje én Kitchener as hulle opperbevelvoerder in Suid-Afrika vrede teen hierdie tyd ernstig begeer het (Grundlingh, 1979:263). Van Schoor toon dat die Britte se aanvanklike vreugde oor die resultaat van Vereeniging algaande verroes het. Milner, 'n Britse imperialis met sy Brits-imperialistiese regering in Suider-Afrika, moes gaandeweg erken: "We won the battles, but lost the war." Hulle kon die Afrikaner nie onderwerp nie (Van Schoor, 2005:7-8).
Kestell sit sy selfstandige pastoraal-teologiese denke ná die oorlog voort. Hy wat as 'n Bittereinder van 'n geloofsoorlog gepraat het, vra ná afloop van die ABO of die geloof van "het volk" vanweë die "bittere uitkomst" van die oorlog tevergeefs was? Was die uitkoms van die ABO 'n teken dat die Here Hom teen die twee republieke en die Afrikaner verklaar het?
Laat niemand dat zeggen!
God heeft het Afrikaansche volk in den grooten strijd gevormd. Het is niet uitgedelgd: zijn taal is niet vernietigd. De macht van de vijand heeft het ... als een machtige golf overstroomd, maar de Afrikaner zin en geest bestaan nog. Geen zwaard kan den wil doen buigen - geen geweld kan den geest onderdrukken. Het Afrikaansche volk blijft een onuitdelgbaar element in het Britsche rijk. (Kestell. s.a.:280)
Dus: Kestell is na 31 Mei 1902 staatkundig gesproke 'n Britse onderdaan maar bly 'n Afrikaner. Soos talle Afrikaners is hy van 'n ander volksherkoms! Wat hom betref, is die einde van die ABO en daarmee die ZAR en die Rep. OVS, nie die einde van die Afrikaner nie. God het die Afrikaner in Suider-Afrika geplaas en sal sy voortbestaan verseker. Vanuit Giliomee se genoemde Calvinisme koppel Kestell sy volksverband ook aan die beskikking van God (Van Schoor, 1992:78).
Giliomee haal vir Olive Schreiner aan wat in 1900, met die Britse inval in die Vrystaat en Transvaal en hulle oorname van die hoofstede, stel dat Brittanje die republieke platgeloop het, maar die feit dat "she (die Empire, PS) has committed suicide in South Africa is a matter of no doubt" (Giliomee, 2003:277). Meer as tagtig jaar later beaam Lee Schreiner se stelling uit 'n ander hoek as hy besluit: "... the Boer War ... guaranteed that Afrikaner nationalism would survive ..." (Lee, 1985:210). Milner se moordgedagtes oor Afrikaners en Afrikanerinstellings (vgl. M.T. Steyn op 26 September 1899 in die Vrystaatse Volksraad (Rep. OVS 1899:113)) is nie in die ABO bewaarheid nie. Inteendeel, Steyn kon ná die ABO sê dat Milner se imperialistiese oorlog 'n besef van eiewaarde en broerskap onder Afrikaners geskep het en sy "wanregering (deur koloniale bestuur in die Vrystaat en Transvaal) daarna ... hierdie besef ... versterk ..." het (Oberholster & Van Schoor, s.a.:145)11. Kestell bevestig Steyn se opmerking as hy sê dat die republieke die Britse vredesvoorwaardes in 1902 aanvaar het om die Afrikaner "nie heeltemal te laat vernietig nie, maar ... die kern (rondom die Bittereinders?) wat ... oorgebly het, te bewaar en daaruit ... weer 'n Suid-Afrikaanse volk te ontwikkel" (Kestell & Van Velden, 1982:10).
Die feit dat die Bittereinders die ZAR en die Rep. OVS as twee selfstandige - of vir sigself sprekende state by die ondertekening van die vrede in Melrosehuis verteenwoordig, word in die eindvoorstelle geïmpliseer. Die voorstelle praat akkommoderend van die republikeinse "Burgermachten in het veld", die waarde van Hollands op skool en in die hof en die strewe na siviele regering as 'n volgende, logiese stap in beide die Vrystaat en Transvaal (Kestell & Van Velden, 1982:104-105). Vir die Bittereinders was die vredesverdrag nie 'n vernederende oorgawe nie, maar 'n Britsgeïnisieerde verdrag waartoe die republieke "selfstandig", maar getemperd-krities ingestem het. 'n Voortsetting van die ABO kon die Afrikaner vernietig, maar 'n volharding tot hulle geïnterpreteerde einde het nie vir hulle die einde van die Afrikanervolk ingehou nie. Dit was 'n bitter einde omdat 'n voortsetting van die oorlog ná 'n intense volharding nie die gewenste resultaat vir die Boere gelewer het nie (vgl. De Wet, 29 Mei 1902, in Kestell en Van Velden (1982:141)). Die einde van die bittere einde word vaag gedefinieer omdat die stryders in die situasie dit eerder logies-emosioneel evalueer én aanvoel (Kestell, sa:276) en deur die beheer van hulle militêre bevelvoerders of staatsowerheid daaroor besluit. Omrede 'n onaanvaarbare maar moontlike vernietiging van die Afrikaner, het die verteenwoordigers van die ZAR en die Rep. OVS in Mei 1902 tot die vredesverdrag ingestem (Kestell & Van Velden, 1982:170-171). Wat hulle betref, is die Afrikaner - Kestell is 'n voorbeeld - nie onderwerp nie (Van Schoor, 2005:199).
Op 27 Mei 1902 keur die Britse kabinet in Londen die voorstelle goed. Die volgende dag hou Milner sy weergawe aan die 10-mankommissie ("acting governments", P.S.) van die twee republieke voor. By die ontvangs daarvan oefen Smuts sy genoemde korreksie op die titel uit.
Pakenham vertolk die ondertekening van die vredesooreenkoms op 31 Mei 1902 as 'n "Act of peace" as 'n neerlaag vir Milner. Volgens hom het die Hoë Kommissaris vrede wat uit onderhandelinge tussen regerings spruit, as afstootlik verwerp. Vredesvoorwaardes was vir Milner 'n kompromis. Soos hy aan vertrouelinge gesê het: "... in Suid-Afrika is daar geen ruimte vir kompromisse nie ... (Kitchener, PS) is 'n sterk man, maar al wat hy doen is om my te verlam" (Pakenham, 1979:573-574). Milner beweer vanuit sy eie situasie "We won the battles, but lost the war Daarmee sou hy vir Steyn gelyk gee, die Boere het die fisiese oorlog verloor, maar die vrede gewen (Strauss, 2021:672).
Volgens Pakenham het Milner na die ABO niks gehad om te vier nie. Hy het die stryd om heerskappy in Suid-Afrika verloor. Wat Milner betref moes hy en sy mede-imperialiste nou alles in die stryd werp om die goudmyne in Transvaal op te bou en lojale Britse setlaars vir die Rand en plase te werf. Hulle moes duisende setlaars werf wat gedra sou word deur lenings van 'n anti-ZAR mynmaatskappy, Wernher-Beit (Pakenham, 1979:592).
6. Die Bittere Einde
'n Uitgesproke Jan Smuts som op die voorlaaste dag by die Boereberaad op Vereeniging, 30 Mei 1902, die heersende gevoel by die Bittereinders op as hy dit het oor die "bittere einde".12Volgens hom moet hulle "soos manne" erken dat die einde nou hier is: "in 'n bitterder vorm" as wat hulle verwag het. Vir hulle sou die dood 'n sagter en soeter einde gewees het as "die stap (vredesluiting, PS) waartoe ons nou ... moet oorgaan". Soos die uitdrukking "Uw wil geschiede" sedert 1913 op die Vrouemonument staan (Van Schoor, 1993:2; vgl. Strauss, s.a.:15-20), sê Smuts in aanloop daartoe in 1902 "... ons buk voor God se wil". Hy vervolg byna profeties:
Niemand sal my ooit oortuig dat die ongeëwenaarde opofferinge wat deur die Afrikaanse volk op die altaar van vryheid gelê is, ydel en tevergeefs sal wees nie. Die vryheidsoorlog van Suid-Afrika is gestry, nie alleen vir die Boere nie, maar vir die ganse volk van Suid-Afrika. Die uitkoms van dié stryd laat ons in Gods hand ... (Kestell & Van Velden, 1982:160).
Smuts is nie deur die Britte in die ABO onderwerp of in sy visie geïsoleer nie. Vanuit sy situasie kyk hy na die toekoms van Suid-Afrika met n breër blik as slegs die toekoms van die Afrikaner. Die effek van die ABO op Afrikaners was steeds relevant, maar kanselleer nie sy besef van 'n breër Suid-Afrikaanse roeping vir Bittereinder-Afrikaners as n gerekende faktor in die land nie. J.H. de la Rey loop Smuts se betoog vooruit as hy op Donderdagaand 29 Mei 1902 tydens die Boereberaad (29-31 Mei 1902) sê "... hierdie byeenkoms (is) die einde van die oorlog". As Bittereinder vra hy: "Wat is geloof?" Sy antwoord is kort: "Heer, laat U wil geskied." Volgens De la Rey moet elkeen van hulle sy eie wil dood en dink en handel soos God hom lei.
"Die voorstel voor ons, die terme wat die Engelse (regering, PS) ... gee, beteken nie veel nie, maar beding tog die een en die ander ... ek kan julle selfs nie 'n klein ligstraal aanwys nie. Deur anders" - as op vrede aan die hand van die Britse voorstel - "te besluit, sal ons hierdie volk wat so trou was, tot hensop drywe, en so sal die oorlog tot 'n oneervolle einde loop. Afgevaardigdes, dink wat julle doen."
Daarmee noem De la Rey twee sake wat die volkeregtelike status van die Boere by Vereeniging opnuut belig: Hy noem hulle "afgevaardigdes", en die Britse vredesvoorstelle "die terme wat die Engelse ... gee". Hierdie terme impliseer dat die Britte die status van die 60 Boere erken om vir die republieke oor die voorstelle te besluit en nie van hulle verwag om dit eenvoudig te sluk nie.
Die Boereberaad op Vereeniging met 30 Transvalers en 30 Vrystaters was 'n voorstel van die twee republieke. Lord Kitchener het die voorstel aanvaar en deur sy aanbod van 'n vergaderplek op Vereeniging 'n wapenstilstand moontlik gemaak (Kestell, s.a.:242).
Die 60 Boere met hul geloofsbriewe en 10-mankommissie van die twee regerings het die regerings van die ZAR en die Rep. OVS as gelyke figure van Kitchener en Milner van Brittanje verteenwoordig. Hierdie geloofsbriewe het, soos by 'n gereformeerde sinode, die geloofwaardigheid van die 60 Boere-afgevaardigdes om 'n aanvaarbare vrede - vir dié wat hulle verteenwoordig - te beding, bevestig (Kestell & Van Velden 1982:104); 'n beraad wat nie deur die tel van die stemme van individue nie, maar die instemming van beide partye sou besluit. In die lig van hierdie agtergrond is Smuts se "Act of peace" 'n meer gepaste naam vir die vredesverdrag as Milner se "Act of surrender".
Die 10 Boereleiers as die regerings van die Republieke sou na 23:05 op 31 Mei 1902 in Melrosehuis, Pretoria, die vredesooreenkoms teken: die ZAR se tydelike president S.W. Burger, staatsekretaris F.W. Reitz, kommandant-generaal L. Botha, generaal J.H. de la Rey, J.C. Krogh en L.J. Meyer; en die Rep. OVS se waarnemende president C.R. de Wet, waarnemende staatsekretaris W.J.C. Brebner, generaal C.H. Olivier en regter J.B.M. Hertzog. Nadat die Boere die ooreenkoms geteken het, sê Kestell en Van Velden se notule: "Lord Kitchener het gevolg, en ... laaste lord Milner" (Kestell & Van Velden, 1982:174).
In die boek oor "Die vredesonderhandelinge" uitgegee in 1982, stel die skrywers J.D. Kestell en D.E. Van Velden dat dit al gesê is dat 'n "amptelike" gedrukte notule van die vredesonderhandelinge van die Boere in Mei 1902 noodsaaklik is. Om die dokument van dié twee notulehouers vir die "gewenste outentisiteit" of goedkeuring op 'n later stadium aan die beraad voor te lê, was egter nie moontlik nie. Gevolglik het Kestell en Van Velden hulle dokument aan leiersfigure voorgele wat dit as 'n "getroue verslag van die onderhandelinge bevind ..." en die saak tot rus gebring het: M.T. Steyn, S.W. Burger, C.F. Beyers (voorsitter van beraad), generaals L. Botha en J.C. Smuts (van Transvaal) en C.R. de Wet en J.B.M. Hertzog (van die Vrystaat) (Kestell en Van Velden, 1982:13-14).
In Mei 1902 was president Paul Kruger van die ZAR as 'n bejaarde staatsman reeds in Europa om "hulp vir die (verwoeste) Boererepublieke te gaan werf". Vise-president S.W. Burger sou in sy plek waarneem (Grobler, 2007:118). In die geval van president M.T. Steyn van die Rep. OVS was dit anders.
Dit is moontlik sy vriend J.D. Kestell wat die volgende oor Steyn se afwesigheid by die vredesluiting op 31 Mei 1902 in Melrosehuis in die notule van gebeure opneem, 'n notule wat die oud-president se leë plek eerstehands verklaar:
President Steyn was nie daar nie. 'n Gevaarlike siekte het die president van die Oranje-Vrystaat verhinder om te doen wat hom die grootste smart in die wêreld sou gegee het. Hy het vroeër gesê: 'My hand op papier sit waarmee ek die onafhanklikheid van my volk prysgee - dit doen ek nooit!' Wrede omstandighede, wat hy toe weldadig noem, het dit so laat gebeur dat hy nie kon doen wat hy nie wou doen nie.
Die dokument was geteken.
Alles was stil in die vertrek waar daar so baie gepraat is ... (Kestell & Van Velden 1982:174)
7. Boere is in Staat om te Vergewe
Pakenham probeer die gees van die Bittereinders met wapenneerlegging na 31 Mei 1902 beskryf: "... hulle hou hulle koppe hoog, soos manne wat 'n morele oorwinning behaal het ..." (Pakenham, 1979:593). 'n Premier van Brittanje, Ramsy Macdonald, skryf ná die ABO dat die Boer nie sy trots in hierdie oorlog verloor het nie. Hy het sy onafhanklikheid verloor, maar 'n ry helde en 'n besielende geskiedenis gewen. Daar het niks in die oorlog gebeur om Majuba uit sy verhaal te vee nie (Gronum ,1974:137).
M.T. Steyn het geglo dat die republieke se volharding tot die bittereinde met hulle geregverdigde verset teen 'n oorlogsugtige Britse imperialisme aan hulle die morele oorwinning sal besorg. Hulle kan die oorlog verloor, maar die vrede wen (Oberholster & Van Schoor, s.a.:14-15; Kestell & Van Velden, 1982:83, 135, 141; Strauss, s.a.:9). Steeds op die lyn van morele meerderwaardigheid wys hy op 'n triomferende martelaarskap van Boervroue en -kinders in die konsentrasiekampe (Strauss, 2021:674). Teen hierdie agtergrond doen "that Miss Hobhouse" (vgl. Fischer, 1971) op 16 Desember 1913 by die onthulling van die Vrouemonument 'n oproep op Afrikaners om Brittanje sy vergrype in die Britse kampe te vergewe. Voor 20 000 Afrikaners verklaar sy op "Vrouwendag": "forgive because you can afford it ... so only you can rise to full nobility of character and a broad and noble national life" (volledige toespraak in Van Schoor, 1993:30-34). Met die sinsnede "you can afford it" bevestig sy Steyn se geloof van 'n morele oorwinning en 'n Christelik-godsdienstige inslag by die Boere, hulle vroue en kinders. Die konsekwensie van hulle verklaarde Christelike geloof en benadering van die ABO is dat hulle soos Christus vir sondige mense, in hierdie geval die "Engelse", hulle misdrywe in die ABO kan vergewe.
As daar na die finale Britse vredesvoorstelle gekyk word, die voorstelle wat die ZAR en die Rep. OVS op 31 Mei 1902 op Vereeniging aanvaar het en wat die ABO se "Act of peace" geword het, word J.H. de la Rey se die "een en die ander" wat hy positief daarin sien, verstaanbaar, al was die vrede vir volhardende Bittereinders soos De la Rey die einde van die bittereinde.
Die kern van die vredesooreenkoms was dat vyandelikhede stop en die Boere hulle wapens neerlê. Die Boere moes ook verklaar dat die Britse Edward VII hul wettige koning is. Burgers van die gewese republieke wat hulle buite die grense van die ou ZAR en die Rep. OVS bevind, maar Edward VII as koning aanvaar, sal na hulle huise teruggebring word sodra dit moontlik is. Oorlogsmisdade - siviel of krimineel - sal nié teen burgers wat Edward VII as koning aanvaar, gehou word nie, tensy hierdie Boere in 'n krygshof skuldig bevind word aan dade wat deur die Britse opperbevelhebber gelys is. Nederlands sal in staatskole gebruik word as ouers daarop aandring en, vir die "administratie" van geregtigheid, as die gebruikstaal in howe. Gewere sal toegelaat word as die beskerming van die eienaars daarvan afhang. Verder, belangrik vir die Bittereinders met hulle sin vir staatkundige onafhanklikheid, sal die huidige militêre regerings in die Vrystaat en Transvaal so gou moontlik deur 'n verteenwoordigende regering vervang word wat tot selfregering sal lei. Daarby bewillig Brittanje drie miljoen pond vir die ekonomiese herstel van die gewese republieke13, geld wat deur komitees waarop plaaslike inwoners ook kan dien, toegeken word. Vir die doeleindes van ekonomiese herstel sal die Britse regering nie spesiale eiendomsbelasting in hierdie gebiede hef nie (Kestell & Van Velden, 1982:104-106, 116-120).
Met sy Bittereinderoortuigings verbaas dit nie as selfregering en dit wat daaruit volg -Nederlands in die skole en howe én die erkenning van die besitreg van eiendom - vir J.H. de la Rey deel uitmaak van die "een en die ander" wat hy as positief in die Britse vredesvoorstelle beskou nie. Soos dit later sou blyk, was die verlies van selfregering en staatkundige onafhanklikheid in die Vrystaat en Transvaal toe 'n tydelike saak. Verder, nadat die vier kolonies, te wete Kaapland, die Vrystaat, Natal en Transvaal, in 1910 uit eie vrye wil tot die Unie van Suid-Afrika toegetree het, het J.B.M. Hertzog in 1912 as lid in die Uniekabinet van Louis Botha, hom sterk vir 'n beleid van "Suid-Afrika Eerste" uitgespreek. Die Unie het in 1914 boonop selfstandig tot die Eerste Wereldoorlog toegetree en in 1926 die status van 'n dominium in die Britse Statebond gekry: onafhanklik onder die Britse kroon. Die ideaal van 'n republiek in Suid-Afrika as 'n Bittereinderideaal sou intussen voortleef deur veral die Nasionale Party voor en na 1948. Op 31 Mei 1961 (dit word 'n historiese datum in Suid-Afrika) word die Unie van Suid-Afrika 'n republiek. Giliomee sê: "republicanism ... became increasingly entangled with the defeat of the republics and the trauma of the Anglo-Boer War" (Giliomee, 2003:477). 'n Bittereinderideaal het herleef en die Afrikaner in Suid-Afrika was op die kruin van die golf. 'n Ander faset van die beleid van die Nasionale Party van 1948, nl. apartheid of afsonderlike ontwikkeling, sou in 1994, ná bykans 'n halwe eeu, egter finaal ontspoor.
8. Slotsom
Die status van die Boereverteenwoordigers by die Vrede van Vereeniging in Mei 1902 was die status van "gevolmagtigde" verteenwoordigers van twee Boererepublieke, die ZAR en die Rep. OVS. Hulle kon beraadslaag oor die gang van die ABO tussen die twee republieke en Brittanje, 'n eie opinie daaroor vorm en besluit oor die voortsetting daarvan. Vir die verteenwoordigers van beide kante in hierdie onderhandelinge - van die republieke en lords Kitchener en Milner van Brittanje - was daar egter 'n voorbehoud: Die vrede moet aan die kant van die Boere deur die Vereenigingsberaad van 60 Boere en aan die Britse kant deur die Britse regering soos gesetel in sy kabinet, aanvaar word. Die anneksasie van die twee republieke in 1900 sou geen afbreuk doen aan die volmag vir besinning en besluitneming van die 60 burgers op die beraad nie. Op die terugvoer aan die twee Britse lords oor die besluit van die Britse kabinet kon hulle vir die ZAR en die Rep. OVS oor die vrede besluit en hulle besluit aan die Britte oordra. Aan Britse kant het die regering hulle laat lei deur wat die twee lords aan hulle voorgele het.
Die volkeregtelike status van die Boere by die Vrede van Vereeniging in 1902 was die status van gevolmagtigde verteenwoordigers van gewese soewerein onafhanklike state, afgevaardigdes wat hul beywer vir 'n vredesverdrag met Brittanje waaruit hulle hulself weer kon opbou ná 'n oorlog wat hulle republieke, die ZAR en die Rep. OVS, verwoes gelaat het. Wat opmerklik is, is die Christelike toon in die argumente op die Boereberaad as 'n konsekwensie van hulle openinge in gebed tot die Drie-enige God en die besef dat God se wil die wil van die mens bepaal, die besef dat die Here dit beskik dat 31 Mei 1902 die einde van die bittereinde is (Kestell & Van Velden, 1982:31, 56, 75, 132, 168, 173).
Vanuit hierdie geloofs- en morele vertrekpunt sou die Bittereindertradisie hom uitdruk en ná 31 Mei 1902 in Suid-Afrika laat geld, 'n tradisie wat die volkeregtelike status van die 60 gevolmagtigde verteenwoordigers van die twee Boererepublieke by die Vredesberaad op Vereeniging onderstreep het (Van Schoor, 2007:237-247).
BIBLIOGRAFIE
De Wet, C.R. 1959, Die stryd tussen Boer en Brit (in Afrikaans vertaal deur J.J. Human), Kaapstad, Tafelberg. [ Links ]
Fischer, J. 1971. That Miss Hobhouse. London: Jonathan Cape. [ Links ]
Giliomee, H. 2003. The Afrikaners. Cape Town: Tafelberg. [ Links ]
Giliomee, H. 2012. Afrikanernasionalisme 1902-1924. (In Pretorius, F., red. Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg. pp. 275-292. [ Links ])
Grobler, J.E.H. 2004. The war reporter. Cape Town: Jonathan Ball. [ Links ]
Gronum, M.A. 1974. Die Bittereinders van Junie 1900-Mei 1902. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Kestell, J.D. s.a. Met de Boeren-commando's. Amsterdam en Pretoria: Höveker en Wormser. [ Links ]
Kestell, J.D. & Van Velden, D.E. 1982. Die vredesonderhandelinge. Kaapstad: Human en Rousseau. [ Links ]
Meintjes, J. 1969. President Steyn. Kaapstad: Nasionale Boekhandel. [ Links ]
Lee, E. 1985. To the bitter end. London: Butler and Tanner. [ Links ]
Oberholster, J.J. & Van Schoor, M.C.E. s.a. President Steyn aan die woord. Bloemfontein: Sacum. [ Links ]
Pakenham, T. 1979. The Boer War. Johannesburg: Jonathan Ball. [ Links ]
Pretorius, F. 2001. Die Anglo-Boereoorlog: 'n Oorsig. (In Pretorius, F., red. Verskroeide aarde. Kaapstad: Human en Rousseau. pp. 10-35. [ Links ])
Pretorius, F. 2012. Almal se oorlog: Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). (In Pretorius, F., red. Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg. pp. 235-254. [ Links ])
Rep. OVS. (Republiek van die Oranje-Vrystaat). 1899. Volksraadsnotule 21/09/1899, 22/09/1899, 26/09/1899, 27/09/1899. [ Links ]
Scholtz, G.D. 1998. Die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902. 2de uitg. Menlopark: Protea Boekhuis. [ Links ]
Strauss, P.J. 1994. Geloftedag in die 'nuwe' Suid-Afrika. Bloemfontein: Drufoma. [ Links ]
Strauss, P.J. 1998. NJ van der Merwe: Tipiese Afrikaanse neo-Calvinis van die twintiger- en dertigerjare? Ned Geref. Teologiese Tydskrif, nommer 1 en 2:54-64. [ Links ]
Strauss, P.J. 2000. Volksbande of etiese gronde? Acta Theologica Kaleidoskoop 2000, Supplementum 1:94-116. [ Links ]
Strauss, P.J. 2014, Volksblad 04:01:7, Vrouemonument universele boodskap. [ Links ]
Strauss, P.J. 2021. M.T. Steyn: 'n Moderne Christen-Afrikanerleier? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61/3:670-689. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n3a3 [ Links ]
Strauss, P.J. s.a. Uitdrukkings op die Nasionale Vrouemonument geweeg. Bloemfontein: Druforma. [ Links ]
Van der Watt, P.B. 1980. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905. Pretoria: NG Kerkboekhandel. [ Links ]
Van der Merwe, N.J. 1921a. Marthinus Theunis Steyn I. Bloemfontein: Nasionale Pers. [ Links ]
Van der Merwe, N.J. 1921b. Marthinus Theunis Steyn II. Bloemfontein: Nasionale Pers. [ Links ]
Van Schoor, M.C.E. 1992. John Daniël Kestell 1854-1941: Outobiografies beskryf. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke. [ Links ]
Van Schoor, M.C.E. 1993. Die Nasionale Vrouemonument. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke. [ Links ]
Van Schoor, M.C.E. 1997. 'n Bittereinder aan die woord: Marthinus Theunis Steyn. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke. [ Links ]
Van Schoor, M.C.E. 2005. Die Bittereinde vrede: Vredespogings en onderhandelinge voor en tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Brandfort: Kraal. [ Links ]
Van Schoor, M.C.E. 2009. Marthinus Theunis Steyn: Regsman, staatsman en volksman. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Van Schoor, M.C.E. s.a. De Wet en sy verkenners. Johannesburg: SAUK. [ Links ]
Wessels, F.J.H. 1975. Die struktuur van die tussenstaatlike: 'n Normatiewe analise. (In Wessels, F., red. Op al sy akkers. Bloemfontein: Sacum. pp. 61-65. [ Links ])
Published: 29 August 2025
1 Giliomee se "read into the Bible" is waarskynlik ironies-krities bedoel omdat die Calvinistiese Reformasie met sy "sola scriptura" hom juis teen menslike vertrekpunte buite die Bybel verset. Die Bybel is hiervolgens die norm van die norme en moenie deur die mens se inlees van norme vervang word nie.
2 Die begin- en einddatum van hierdie fase van die ABO word gekoppel aan die afhandeling van die Britse anneksasie van die Rep. OVS en die ZAR op September 1900 en die vredesluiting op 31 Mei 1902.
3 Na die Bloemfonteinkonferensie van Mei 1899 was 'n oorlog tussen Brittanje en die twee Boererepublieke feitlik seker. As Pakenham na die redes vir die ABO verwys, doen hy dit onder die ontblote titel "Milner se oorlog" (Pakenham, 1979:8). Op 6 Junie 1900 laat weet Milner prontuit vir Lord Roberts: "Ek het die krisis wat onvermydelik was, bespoedig voor dit te laat was" (Pakenham, 1979:121).
4 M.T. Steyn verwys na selfverdediging as 'n heilige reg van die mens. Kyk sy antwoord op die "papierbom" van Kitchener op 7 Augustus 1901 dat alle Boere voor 15 September 1901 moet oorgee. So nie, dit was die dreigement, sou hulle volgens hierdie Britse bevelhebber uit Suid-Afrika verban word (Van der Merwe, 1921b:29).
5 Vgl. die vredesooreenkoms op 31 Mei 1902 in Kestell en Van Velden (1982:174-175). Kyk ook vir die jaar 1902 in die afbakening van hoofstukke 12-14 in Pretorius (2012). Hierdie hoofstukke begin of eindig met 1902. Pretorius stel dit so: "Hier word van die standpunt uitgegaan dat die ABO in die eerste plek 'n stryd tussen die Boererepublieke en Groot Brittanje was, maar daar-naas ook 'n oorlog wat Suid-Afrikaners uit alle bevolkingsgroepe betrek het" (Pretorius, 2012:5).
6 Ná die ABO beskryf Kestell die einde soos beleef deur die groot meerderheid Boere in die Vredesberaad op Vereniging. "Men kon eenvoudig niet tegen de stroom meer op. Men zag dat, hoewel wij uit een militair oogpunt niet overwonnen waren, de oorlog ter wille van het volk niet kon voortgaan. De Boeren hadden aangehouden zoo lang als zij konden - ja maanden langer dat zij hadden kunnen - en nu ... het bittere einde was daar!" (Kestell, sa:273).
7 Giliomee (2012:279) wys op Totius se gedig "Vergewe en vergeet". In die ABO word die Afrikaner of doringboompie platgetrap. Daarna het hy stadig herstel. Hierdie boompie sal net sterker word.
8 Die Republiek van Suid-Afrika waarin die Afrikaner met verantwoorde regte opgeneem word en hy tuisvoel (Oberholster & Van Schoor, sa:11,152).
9 Die kerk as geloofsinstelling moet rondom geloofsredes en geloofsbelydenisse vorm en nie nasionaal-politieke en staatkundige redes nie. Nie-geloofsredes vir 'n kerk se ontstaan beteken die dood in die pot by vorming van daardie kerk.
10 Van Schoor toon dat die Britse anneksasie van die ZAR en Rep. OVS by die vredesonderhan-delinge deur die Britse verteenwoordigers as "niebestaande" hanteer is. Brittanje het nie met twee gewese republieke onderhandel nie, maar met die bestaandes waarvan die amptelike name deur albei kante gebruik is. Die nuwe name ná anneksasie was nie in die prentjie nie (Van Schoor, 2005:199; Kestell & Van Velden, 1982:112-113,174).
11 In 1906 haal M.T. Steyn die Britse politikus Campbell-Bannerman oor Milner se optrede in Suid-Afrika aan: "Lord Milner had inflicted the greatest injury on the Empire after the loss of America" (Van Schoor, 2009:319).
12 As notulehouer merk Kestell teen die einde van die Boereberaad op Vereeniging op dat 'n gees van "tegenzin in verdere tegenstand" van die meeste van die 60 afgevaardigdes besit geneem het. Dat hulle hulle tevergeefs hierteen verset, het tot baie afgevaardigdes deurgedring (Kestell s.a.:273).
13 Pakenham is krities oor Brittanje se hantering van die drie miljoen pond. Volgens sy inligting het 'n groot deel hiervan na hensoppers en joiners gegaan. Boonop het die uitlanders en ander Britse lojaliste aan die Rand 10 miljoen pond ontvang (Pakenham 1979:596).












