SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.85 issue1An exploration of psychological contract violation and calling experienced by religious ministersTeachers' Views on Support by Environmental Non-Governmental Organisations in Selected Alexandra Township Primary Schools author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Koers

    On-line version ISSN 2304-8557Print version ISSN 0023-270X

    Koers (Online) vol.85 n.1 Pretoria  2020

    https://doi.org/10.19108/KOERS.85.1.2485 

    ORIGINAL RESEARCH

     

    Kerkorde en Leer en Aktuele Sake: NG Kerkorde Artikel 56 in Perspektief

     

    Church order, doctrine and current affairs: a perspective on the church order article 56 of the Dutch Reformed Church

     

     

    Piet Strauss

    Historical and Constructive Theology, Faculty of Theology and Religion, University of the Free State, South Africa. https://orcid.org/0000-0002-5324-8363

    Correspondence

     

     


    ABSTRACT

    In 1982 at the General Synod of the Dutch Reformed Church of that year, a new article 56 was added to its church order This article stipulated that the church, through its assemblies and other work, strives to stimulate views in church and society that depart from Scripture. The Dutch Reformed Church wants to see such an approach in doctrinal, current and ethical affairs. The Dutch Reformed Church is part of the South and Southern African society and wants to influence these affairs to be handled according to the Bible. The same Synod referred to the Bible as a God-given document which sheds light on life as a whole and has an in-principle influence on the whole of society and the total existence of every believer. In approaching this calling and task, the Dutch Reformed Church opted to do it in an ecclesiastical way It believes that creation as a whole is a unity in which everything can have an effect on any other thing. Every matter in society and creation can develop an ecclesiastical aspect for the church to act on in an ecclesiastical way. This article shows examples of this in the Dutch Reformed Church.


     

     

    1. Inleidend

    In die eerste Kerkorde van die Ned Geref Kerk in algemene sinodale verband, die Ned Geref Kerkorde van 1962 (in verwysings NGKO 1964 omdat hierdie Kerkorde eers in 1964 in druk verskyn), handel hoofstuk 4 oor die arbeid van die kerk. Hy verdeel dit onder agt onderafdelings: die openbare erediens, sakramente, kategese, herderlike sorg, evangelisasie, sending, barmhartigheid en stoflike kwessies. Kerkordelik gesproke dui hierdie temas die inhoud en omvang van die werksaamhede van die Ned Geref Kerk in gemeente- en kerkverband, in die algemene sinodale verband van 1962, aan (NGKO 1964:10-12).

    Anders as 'n kerklike belydenis wat kernwaarhede van die geloof bevat wat die toets van die tyd moet kan deurstaan, moet 'n kerkorde kanale daarstel wat die funksionering van die volle kerklike lewe in as Skriftuurlik én eietyds "beveilig" (Nauta, 1971:8-9) . 'n Kerkorde moet Woordgebonde kanale verskaf wat die kerklike lewe in die huidige situasie dien. 'n Gereformeerde kerkorde moet niks meer wees as eietydse ordelike kanale waardeur die Woord deur hele kerklike lewe van die eie tyd vloei nie (Strauss, 2010:15).

    NGKO 1962 wou in sy tyd die totale arbeidsterrein van die kerk dek met sy orde of kanale vir die arbeid van die Ned Geref Kerk.

    Juis met die oogmerk om eietyds te bly, kan 'n kerkorde by elke vergadering van die kerklike liggaam wat daarvoor verantwoordelik is, gewysig word. Ten einde die primaat en deurwerking van die Woord in die kerklike lewe te stimuleer en nie te strem nie, moet 'n kerkorde konsentreer op rigtinggewende, duursame en kernagtige Woordgebonde artikels wat verhoed dat "mensgemaakte besluite" die kerk oorneem. Ten spyte van hierdie aard van sy artikels, moet 'n kerkorde ook eietydse apparaat of kanale verskaf wat dit vir die kerk moontlik maak om sy roeping in hierdie tyd Woordgetrou uit te voer (Strauss, 2010:20).

    NGKO se hoofstuk 4 oor die arbeid van die Ned Geref Kerk het deur die jare byvoegings ondergaan. In 1974 word die agt terreine van die arbeid van die Ned Geref Kerk sedert 1962 uitgebrei met die dienswerk van die gelowiges as die agtste van nege terreine. Die kern van hierdie dienswerk wat op sy beurt onder vier punte tuisgebring word, is dat dit as 'n onvervreembare reg deur die kerk self georganiseer moet word. Hierdie organisasie moet "geskied met toepaslike verantwoording aan die kerkraad, ring en sinode" - of die betrokke regeervergadering van die kerk (NGKO 1964:5; NGKO 1974: 12-13). Hiermee reageer NGKO 1974 teen buitekerklike organisasies wat lidmate van Ned Geref Gemeentes betrek en 'n gereformeerde aanpak vervang met 'n inter- en middelkerklike, ekumeniese benadering. 'n Tendens wat sedert die 19e eeu in die Ned Geref Kerk sigbaar is (Van der Watt, 1980:15-27).

    By die Algemene Sinode van 1982 kom daar 'n nuwe NGKO artikel 56 oor "Leer en Aktuele Sake" by (Kleynhans, 1988:131; NGKO, 1986:13,15). Hierin word bepaal dat die Ned Geref Kerk "hom" - dit word ongeveer drie dekades later "haar" (NGKO 2013:15) - beywer vir "Skrifgefundeerde beskouinge..." in "...aktuele, leerstellige en etiese aangeleenthede en die bevordering van 'n sedelik gesonde openbare lewe". Die breë begrip "Ned Geref Kerk" toon dat dit die Ned Geref Kerk in al sy verbande insluit. NGKO 1982 en sy opvolgende NGKO's sou ook nou 'n rol in die Ned Geref Kerk se benadering van leer en aktuele sake speel (vgl NGKO 1990:14; NGKO 1994:13; NGKO 1998:19; NGKO 2002:22; NGKO 2004:23; NGKO 2007:24; NGKO 2011:17; NGKO 2013:15; NGKO 2015:16). In 1986 word die NGKO verder uitgebrei met artikel 50 oor die jeugbediening as 'n "geïntegreerde deel van die omvattende gemeentelike bediening" (NGK 1986:194; NGKO 1986:13-14).

    Die vraag wat ontstaan is: hoe gee die Ned Geref Kerk - ons konsentreer op die algemene sinodale verband na 1982 - uitvoering aan hierdie artikel? Watter invloed het NGKO artikel 56 op hierdie proses?

     

    2. NGKO artikel 56 in kerklike en kerkordelike verband

    Dit is die Nederlander Braam van de Beek wat in 1988 aantoon dat 'n kerkordemaatreël aan die hand van hermeneutiese beginsels vir 'n kerkorde uitgelê moet word. 'n Bepaalde kerkordemaatreël moet met erkende taalkundige en kerkregtelike beginsels vir die verstaan van so 'n reëling, gebruik word. 'n Kerkordebepaling funksioneer binne die verband of kerklik-teologiese konteks van so 'n bepaling. As NGKO 2015 artikel 56 bepaal dat die Ned Geref Kerk hom beywer vir Skrifgebaseerde beskouinge oor aktuele, leerstellige en etiese sake en die bevordering van 'n "sedelik gesonde openbare lewe", moet hierdie bepalings teen die geloofs- en kerkregtelike en agtergrond van NGKO 2015 verstaan word (Van de Beek, 1988:59-60). Dit beteken dat NGKO artikel 56 taalkundig, in die raamwerk van die kerklik-teologiese aanpak van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk as die sogenaamde sistematiese beginsel, in verhouding met die res van NGKO wat nie innerlik-teenstrydige bepalings moet bevat nie1 as die strukturele beginsel én vanuit die historiese verstaan en funksionering van die bepaling gelees moet word. Daarby is daar 'n element van rasionaliteit of 'n redelike verstaan van dit wat by die optrede van die kerk pas, wat in berekening gebring moet word (Van de Beek, 1988:63-68; Du Toit, 1991:46-59).

    Die dominante struktuurdraers vir die betekenis of bepaling van NGKO artikel 56 is: "Skrifgefundeerde beskouinge", "aktuele, leerstellige en etiese" sake en 'n "sedelik gesonde openbare lewe".

    Skrifgefundeerde beskouinge saamgelees met wat die Algemene Sinode van 1986 oor Skrifgesag en Skrifgebruik sê, wil aantoon dat die Bybel norme bied wat van toepassing is op die totale menslike lewe en "dat dit daarom moontlik is om al ons beslissings in die lig van die Skrif te neem"(NGK 1986:58, 612). Hierdie besluit oor Skrifgebruik geskied dus deur dieselfde Algemene Sinode as die een wat besluit oor die "Skrifgefundeerde beskouinge" van NGKO 1986 artikel 56. Die waarhede wat hiermee geïmpliseer word, is dat die Bybel 'n tendensboek is wat ons in sy kern oproep tot geloof in God Drieënig én in die driedeling van die Heidelbergse Kategismus naamlik die Bybelse weergawe van sonde, verlossing en dankbaarheid - die drie dinge wat ons moet weet ten einde getroos te lewe en te sterwe. Ons moet die Here God én die waarde van hierdie driedeling ken, aanvaar en daarin glo. Glo met 'n lewende geloof waardeur ons in hierdie tydelike bedeling die ewige redding van God ontvang. Daardie geestelike reddding en vernuwing wat ons uitdryf tot diens aan God met ons hele hart en op alle terreine. 'n Dankbaarheid wat ons lei tot gehoorsaamheid aan God en in ons die begeerte plant om al ons besluite "in die lig van die Skrif te neem". Onder dankbaarheid behandel die Heidelbergse Kategismus die tien gebooie as die lewensomvattende verbondswet van God en die Onse Vader. Dit is: wet en gebed as die dele van 'n dankbaarheids- en gehoorsame lewe (NGK 1986:58; NGK 2002:622; NGK Uitgewers 1983:65-72; Strauss, 2013:66).

    Binne sy gereformeerd-kerkregtelike aanpak is die Ned Geref Kerk volgens NGKO artikel 21 (NGKO 2017:7) oortuig dat die kerk as instelling 'n eie invalshoek het van waaruit hy alles benader en dat elke saak onder die son 'n kerklike aspek kan ontwikkel. Deur so 'n ontwikkeling kom die betrokke saak in die visier van kerklike uitsprake. Juis omdat God-Drieënig die Skepper en Onderhouer van alles is en die kerk vanuit die Woord op die verhouding van die Here met die hele geskape werklikheid gerig is, het elke saak die moontlikheid om 'n kerklike aspek te ontwikkel (Nauta, 1971:127). Die vasstelling van kerklike sake of so 'n kerklike aspek kom nie deur 'n ruimtelike en stagnante afgrensing daarvan nie, maar 'n voortdurende geïntegreerde proses. In die skepping hang alles met alles saam sodat enige aksie tegelykertyd in alle aspekte van die werklikheid funksioneer, hoewel die aksie deur 'n eie, unieke bestemmingsfunksie gestempel of bepaal word - 'n funksie wat uit die unieke eie aard van die betrokke aspek as 'n gegewe in Gods skepping spruit en nie vanuit 'n ander aspek of bestemmingsfunksie herlei of afgelei kan word nie (Kock, 1975:47,142144; Fowler, 1988:28-38). Bestemmingsfunksies wat die strukture van die samelewing lei in die verwesentliking van hulle eie aard. So stempel of bepaal geloof in God-Drieënig die geloofsgemeenskap of kerk, maar vra dit ook onderlinge liefde (die liefdesaspek of kerklike broederliefde), die regte begrip van die Bybelse Boodskap en regte hantering van mekaar as gelowiges in Christus (die regsaspek), geloofskoinonia of geloofsgemeenskap (sosiale aspek) wat geloofsgroei (biotiese aspek) stimuleer (Efesiërs 4:15), geloofsbelydenisse in geloofstaal (linguïstiese aspek) en dankoffers vir die instandhouding van kerk en erediens (ekonomiese aspek). In samehang met elkeen van hierdie aspekte stempel die Christelike geloof as die bestemmingsfunksie van die kerk die funksionering daarvan terwyl die kern van elke ander aspek in die proses as 'n norm vir die kerklike en lewe in diens geneem en daarmee geïntegreer word. Nauta wys op 'n betroubare hantering van geldsake wat 'n onderdeel van kerklike finansies word, bouwerk wat doelmatige kerke en pastorieë skep en die etiese of lewensbeskoulike kante van sosio-politieke kwessies waarop die kerk profeties fokus (Nauta, 1971: 127). Behalwe dat die samehang van alles met alles die kerklik-teologiese of sistematiese konteks van NGKO artikel 56 op die tafel plaas, impliseer dit die strukturele kant by die uitleg van 'n kerkorde naamlik om kerkorde met kerkorde te vergelyk. NGKO artikel 56 se aanpak van aktuele, leerstellige en etiese sake moet ook met NGKO artikel 21 se vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord en op kerklike wyse geskied. Dwarsdeur sy geskiedenis as 'n gereformeerde kerk het die Ned Geref Kerk - bewustelik of onbewustelik - getrag om hom as 'n kerk vanuit 'n kerklike hoek op 'n kerklike manier aan die hand van die Woord tot die leer- en aktuele kwessies te rig. Beide NGKO artikel 21 en 56 is 'n bevestiging van hierdie invalshoek. Daarmee plaas hierdie waarneming ook die historiese beginsel ten opsigte van die hermeneutiek van 'n kerkorde op die tafel. Hoe is NGKO artikel 56 deur die loop van die geskiedenis deur die Ned Geref Kerk verstaan en hoe het dit gefunksioneer?

    Teen hierdie agtergrond moet NGKO artikel 56 - in die lig van ondermeer artikel 21 - so verstaan word dat sy aktuele, leerstellige en etiese kwessies alleen op 'n kerklike agenda kan beland as dit die Skrif in sy boodskap of sy verstaan daarvan deur die Ned Geref Kerk, kruis. Vanuit 'n reformatoriese hoek is dit 'n onderlinge verstandhouding op vergaderings van die Ned Geref Kerk dat die sake van 'n intern-kerklike òf 'n nie-kerklike aard wat hulle aansny, in die visier van die Skrif onder die etiese soeklig van die Bybel moet kom. Die sake waaroor die kerk praat, moet hulle daartoe leen om vanuit 'n kerklike hoek benader te kan word of dit moet 'n kerklike aspek ontwikkel. Daarom omskryf NGKO artikel 21 hierdie sake as "... vanuit 'n kerklike perspektief in die lig van die Woord van God..." Die tipering van die sake wat die kerk hanteer, lê nie in 'n ruimtelike afgrensing daarvan teenoor die sake van ander samelewingskringe nie, maar in die "subjektief" Skriftuurlike en geloofsetiese invalshoek van alle dinge wat as sulks kerklike optrede moet bepaal. Die kerk moet prinsipieel na die hele wêreld kyk en dit deur sy geloofs- en etiese bril, die Bybel, lees. In die lig van die strukturele voorwaarde vir die uitleg van 'n kerkorde, saamgelees met die sistematiese, is NGKO artikel 21 se "in die lig van die Woord van God" en NGKO artikel 56 se "Skrifgebaseerde beskouinge" sinonieme of twee maniere om dieselfde begrip te verwoord (Strauss, 2010:59-60).

    Daar lê dus geen beperking in NGKO artikel 56 se aktuele, leerstellige en etiese sake nie. Hierdie sake kan alles onder die son insluit, maar moet benader word vanuit 'n Bybelse en geloofsetiese hoek. In hierdie invalshoek lê daar wel 'n beperking, maar om die optrede te stempel as 'n tipiese kerklike aanpak van sake. Dit beteken dat die kerk 'n draer en bewaker van die Christelike geloof en die etiese konsekwensies daarvan is of dat kerklike belang by alle sake die etiese of geloofskant daarvan in die lig van die Skrif, moet wees. Die kundigheid van die kerk lê in sy toepassing van die Bybel as die Woord van God op die geloofsetiese kante van aktuele sake en nie in die interne detail van die ekonomie, die arbeidswêreld, die politiek, die sportwereld of watter ander faset van die skepping ookal nie. 'n Kerk wat vervlak tot 'n issue-gedrewe drukgroep skend sy geloofwaardigheid as 'n draer van die Christelike geloof. Om 'n uitdrukking van Heyns te gebruik: vanuit die Bybel kan die kerk wel iets oor alles sê, maar nie alles oor alles nie (Strauss, 2010:60; Strauss, 2018).

    Dit bring ons by die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk self se aanpak van NGKO artikel 56 se aktuele, leerstellige en etiese kwessies. Waaruit bestaan dit en wat is die inhoud daarvan? Watter lede van die betrokke Sinode sou hierin die voortou geneem? Gesien in die lig van die bestaan van NGKO artikel 56 sedert die Algemene Sinode van 1982, beperk ons die ondersoek na die handelinge van die Algemene Sinodes van 1982 en later. Handelinge wat meesal op voorstel van die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake (AKLAS) plaasgevind het (NGK 1986:90vv; 600-613;696-697). Hierdie AKLAS sou in die 21ste eeu 'n ATLAS (Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake wat etiese rigting aandui) word (NGK 2011H:8).

     

    3. Kerk en Samelewing - 1986 en 1990

    'n Saak wat op die oog af of "uit die aard van die saak" op die terrein van AKLAS lê, was die hersiening van die beleidstuk Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif (RVN-74) van die Algemene Sinode van 1974. Vir hierdie hersiening was daar twee redes. Die eerste is die gebruik van die Ned Geref Kerk dat so 'n stuk oor 'n tema voortdurend hersien kan word as dit nie afgehandel is nie. Die tweede was dat die reaksie van indiwidue en kerke wêreldwyd getoon het dat RVN-74 nie in alle opsigte kerklik aanvaarbaar is nie.

    Ten opsigte van die inhoud van RVN-74 het hierdie dokument die klem op die ontwikkeling van die voorgestelde swart gebiede - die sogenaamde tuislande of nasionale state - en die volvoering van afsonderlike ontwikkeling in Suid-Afrika geplaas en aan die lewensomvattende vrae van permanente swartes in blanke gebiede en van die toekoms van die bruinmense en Asiërs verbygegaan. Teenstrydig met die tema "RVN..." is alle bevolkingsprobleme en -verhoudinge in Suid-Afrika nie vanuit 'n kerklike perspektief of in die lig van die Skrif aangespreek nie. Terwyl apartheid of afsonderlike ontwikkeling in sy uitvoering tot stilstand begin knars het, was RVN die laaste stuiptrekkings van die Ned Geref Kerk in sy steun aan apartheid. Die begronding van apartheid in RVN was meer aarselend as voorheen. In plaas van aangehaalde Bybeltekste wat die saak begrond, het RVN vaagweg getuig dat "eiesoortige ontwikkeling"... "in die lig van die Skrif" prinsipieel verantwoord kan word (RVN, 1975:72). Breedweg is bepaal dat die Nuwe Testament die volkereverskeidenheid "aanvaar en handhaaf"(RVN, 1975:30). Waarvan RVN as 'n kerklik-etiese stuk ook blyke gegee het, is dat die situasie 'n deeglike en grondige ontleding vra en die beginsels van naasteliefde en maatskaplike geregtigheid in menseverhoudinge veronderstel (RVN, 1975:31-32). RVN-74 was ten dele werklikheidsvreemd en het met sy inhoud by implikasie erken dat daar na nuwe weë vir onopgeloste probleme gesoek moet word.

    RVN-74 was 'n kerklike voorbeeld: apartheid is op pad uit (Strauss, 1991:442-443).

    Dat die tema van die teologiese en morele of prinsipiële begronding van apartheid teen Oktober 1982 met die Algemene Sinode van daardie jaar, 'n belangrike kwessie vir die Ned Geref Kerk is, sou uit die omstandighede rondom die besluit oor die hersiening van RVN blyk. Hierdie kwessie sou nie aan die nuutgebore AKLAS opgedra word nie, maar aan die kerklike en teologiese grofgeskut van die Ned Geref Kerk: die dagbestuur van die Breë Moderatuur en tien lede uit verskillende teologiese en ander vakgebiede (NGK, 1982:1204; NGK, 1986:87).

    Behalwe dat RVN-74 na inhoud nie meer bevredig het nie, is die Ned Geref Kerk in Augustus 1982 by Ottawa in Kanada deur die Algemene Vergadering van die Wereldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) as lidkerk geskors. Die kritiek op RVN-74 en die Ned Geref Kerk se houding oor apartheid deur kerke wêreldwyd is tot op sy uiterste kerklike vlak gevoer toe die WBGK nie alleen die lidmaatskap van die Ned Geref Kerk gesuspendeer of opgeskort het nie, maar sy afkeur van die teologiese en morele regverdiging van apartheid aan 'n status confessionis (die status van 'n belydenis) verbind het. Volgens die WBGK het hierdie regverdiging die gereformeerde belydenis in gedrang gebring: "it is not possible to differ (with us) without seriously jeopardizing the integrity of our common confession of Reformed Churches" (verbatim in NGK, 1982:1020-1024). 'n Hersiene RVN sou die kerklike gewig van dié status confessionis moes verreken én dien as die antwoord van die Ned Geref Kerk op ondermeer die WBGK.

    Die Algemene Sinode van 1982 sou nie uit die WBGK tree nie, maar sake kon nie so voortgaan nie. Die Ned Geref Kerk het sy swaargewigte getaak ... (NGK, 1982:1069-1087).

    'n Ander saak het die druk op die Algemene Sinode om RVN-74 te hersien, verhoog. Op 5 November 1980 dra Die Kerkbode 'n Hervormingsdaggetuienis van agt Ned Geref-professore van die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch oor apartheid in Suid-Afrika en die kerke, maar veral die Ned Geref Kerk, se onvermoë om as kerke hierin 'n verandering te bewerk. Die bestaande orde moet hervorm word sodat daar aan elke mens die leefruimte gegun word om as beelddraer van God tot sy reg te kom (DK, 5/11/1980: 605). J.A. Heyns, wat 'n groot aandeel aan die Geuienis gehad het, beweer later dat die stuk 'n nuwe verskynsel in die Ned Geref Kerk gestimuleer het naamlik om krities met apartheid om te gaan. Die Getuienis het 'n klimaat vir die dokumente Kerk en Samelewing-1986 en -1990 (KS-1986 en KS-1990) help voorberei om apartheid te kritiseer. Hy noem die Getuienis die eerste saad van 'n grondige beleidsverandering in die Ned Geref Kerk (Heyns, 1989:71,73; Williams, 2006: 169,171,213, 231).

     

    4. KS-1986 en KS-1990: apartheid in praktyk afgewys

    Vir Heyns was KS-1986 en KS-1990 die laaste kans wat die Ned Geref Kerk sou kry om 'n worstelende, stuiptrekkende apartheid profeties-krities te begelei (Williams, 2006:196-198, 4045-406; Strauss, 2011:518).

    KS-1986 het 'n gekwalifiseerde mislukte apartheid afgewys as 'n beleid wat tot 'n onaanvaarbare praktyk en ongeregtigheid gelei het: "die hantering van apartheid as 'n politieke en maatskaplike sisteem wat mense veronreg en een groep onregmatig bo 'n ander bevoordeel". Volgens KS-1986 was hierdie soort apartheid in stryd met die Bybelse beginsels van liefde, geregtigheid en menswaardigheid. KS-1986 het apartheid in sy toepassing afgewys. Omdat die staatkundige idee van afsonderlik maar gelyk nie deurgevoer is nie, het dit volgens KS-1986 tot diskriminasie en onreg gelei (KS-1986:52).

    KS-1990 praat dieselfde taal:

    ... apartheid as 'n politieke sisteem in praktyk... wat op so 'n wyse begin funksioneer het dat die grootste deel van die landsbevolking dit ervaar het as 'n onderdrukkende sisteem wat deur gedwonge skeiding... een groep onregmatig bo 'n ander bevoordeel. So het dit die menswaardigheid van die medemens aangetas en in stryd gekom met die beginsels van liefde en geregtigheid (KS-1990:39-40).

    KS-1990 praat verder van die volkereverskeidenheid wat omvorm is tot 'n politieke ideologie en van apartheid deur gedwonge skeiding 'n prakties-onderdrukkende stelsel gemaak het. Apartheid as 'n sisteem is sondig en in stryd met die Bybel. Die kerklik-etiese regverdiging daarvan is 'n dwaling. Soos KS-1986 sê KS-1990 dat apartheid die beginsels van liefde, geregtigheid en menswaardigheid aantas. Apartheid wat tot ongelykheid en 'n ongelyke bevoordeling van mense van verskillende rasse of op rassegronde gelei het. Soos die latere Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 huldig KS-1986 en KS-1990 gelykheid as 'n Christelik etiese beginsel (KS-1990:40).

    Vir Heyns wat daarvan oortuig was dat die Ned Geref Kerk op 'n kerklike wyse deur KS-1986 en KS-1990 praat, was die inhoud van hierdie dokumente "hervormingstappe" wat aan die visie van die Getuienis van 1980 gestalte gee. Hervormingstappe wat voorkom dat die Ned Geref Kerk 'n prakties politieke drukgroep word en die etiese of prinsipeel-verantwoorde weg aantoon waarlangs die politiek moet beweeg (Heyns, 1989:71; Williams, 2006:229,231,232,282). Hy kon hom dus vereenselwig met KS-1986 en KS-1990 wat beide aanvoer dat die kerk die "hele lewe met al sy aspekte" krities onder die normatiewe lig van die Woord van God moet plaas (KS-1986:9; KS-1990:5). Wat aan Heyns se vertolking van die KS-dokumente gesag gee, is die feit dat hy 'n groot aandeel aan veral KS-1986 gehad het - 40 paragrawe van hierdie dokument is direk na hom terug te voer - en dat KS-1990 sy voorganger telkens herhaal. Daarby was Heyns in die voorsitterstoel by die Algemene Sinode van 1986 en het sy onvermoeide verdediging van die KS-dokumente in die buiteland aan hom die bynaam "Meneer NG Kerk" besorg (Williams, 2006:196-198,405-406). Boonop sluit KS-1986 en KS-1990 se "hele lewe met al sy aspekte" in betekenis aan by NGKO artikel 56. Beide KS-stukke het dus - waarskynlik onbewustelik omdat hulle geen verwysing daarna bevat nie - die hoofsaak van NGKO artikel 56 ernstig geneem. Artikel 56 het die gebruik van die Algemene Sinode raakgevat en verwoord.

    Ongeveer 'n dekade na die aanvaarding van die dokumente KS-1986 en KS-1990, sou die WBGK die skorsing van die Ned Geref Kerk ophef. Die feit dat beide KS-dokumente 'n gekwalifiseerde apartheid of apartheid in praktyk veroordeel (Gaum, 1997:72-73), was nie vir die Uitvoerende Komitee van die WBGK in sy begrip van die status confessionis-besluit van Ottawa-1982, aanvaarbaar nie. Die Ned Geref Kerk moes die beleid in sy geheel en sonder enige reserwe afwys (WRK-Argief Ref 215/10.1/33).

    Die oplossing kom toe die Algemene Vergadering van die WBGK by Debrecen in 1997 'n sogenaamde "joint resolution" neem wat in werking tree as die Algemene Sinode van 1998 dit ook aanvaar. Volgens die WBGK verwerp hy die teologiese en morele regverdiging van apartheid omdat dit 'n bespotting van die Evangelie en kettery is. Apartheid is verkeerd en sondig, nie alleen in sy praktiese gevolge nie, maar ook sy "fundamental nature". In 'n verduidelikende brief aan die Ned Geref Kerk sê die WBGK

    ...the very nature of forced separation of people of different races denies the fundamental biblical teaching that all humanity is equally created in the image of God, a teaching so central to the Christian faith that it cannot be denied by Christians (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/10).

    As die Ned GerefKerk hierdie omskrywing van apartheid in sy verwerping van die beleid steun, sal sy skorsing - sonder verdere stappe - opgehef wees. In die kern gaan dit vir die WBGK in sy verwerping van apartheid om die elemente van gedwonge skeiding en die fundamentele ongelykheid van mense op grond van ras. Twee sake wat wel, soos die Algemene Sinode dit verstaan, deur KS-1990 afgewys word. Op 13 Oktober 1998 aanvaar die Algemene Sinode van 1998 die "joint resolution". Apartheid as die oplossing van die sosiale vraagstukke in Suid-Afrika was 'n verkeerde aanpak, het misluk en tot onreg gelei. Hierteenoor bepleit die Ned Geref Kerk in die huidige situasie liefde, regverdigheid en die menswaardigheid van alle mense, afgesien van ras. Dieselfde behandeling kom buitelanders in Suid-Afrika toe. Met hierdie formulering wat op Bybelse beginsels vir sosiale verhoudinge konsentreer, was die Ned Geref Kerk terug by die WBGK en het hy die kerklike boeke van apartheid, wat homself betref, toegemaak. Die saak is kennelik vanuit 'n kerklike perspektief en op 'n kerklike wyse hanteer, hoewel NGKO 1994 artikel 56 weer nie letterlik in die gebeure gefigureer het nie (NGK 1998:412-413).

     

    5. Die Ned Geref Kerk en die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika

    Oor die Ned Geref Kerk en die nuwe situasie in Suid-Afrika na 1994 lewer AKLAS by die Algemene Sinode van 1998 twee verslae: die Ned Geref Kerk en die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika én kerk en staat in die nuwe grondwetlike bedeling (NK, 1998:519).

    Eventueel besluit die Algemene Sinode van 1998 om die dokument oor die oorgang na die nuwe Suid-Afrika 'n gespreksdokument in die gemeentes te maak. Tog neem die Sinode hierby ook besluite van 'n rigtinggewende aard. Die Ned Geref Kerk sal na 1994 voortgaan om "omvattende koninkryksdiens in die gemeenskap te lewer sonder aansien van die persoon". Die Ned Geref Kerk erken die noodsaak van 'n uitreik deur kerklike diens na alle mense en nie net Afrikaners nie. Hy is lankal reeds met hierdie diens besig. Omdat die gelowiges hulle roeping moet vervul waar hulle geplaas word, moet die lidmate van Ned Geref-gemeentes 'n konstruktiewe rol in die opbou van die Suid-Afrikaanse samelewing speel, met volharding vir die owerheid bid en hulle beywer vir "Christelike waardes in die samelewing". Deur sy Algemene Kommissie vir Gemeentebediening wil die Ned Geref Kerk riglyne ontwikkel om lidmate by te staan wat "ontwikkelinge in die huidige samelewing negatief ervaar". Lidmate moet help met "diensleweringsaksies wat afgestem is op die breëgemeenskap"en die Algemene Sinodale Kommissie moet metodes vind waardeur die Ned Geref Kerk "effektiewe openbare getuienis" in die situasie kan lewer (NGK, 1998:518). Die Kommissie vir Gemeentebediening lewer by die Algemene Sinode van 2002 'n verslag vir gebruik in gemeentes (NGK, 2002:149150).

    Suid-Afrika na 1994 was 'n selferkende nie-rassige, liberale demokrasie. Daar was aksies om die "onreg van die verlede regtestel"deur verpligte "regstellendeaksie"by indiensneming - in die openbare en privaatsektor, grondhervorming en die Waarheids- en versoeningskommissie. Die morele krisis het verdiep en geweldsmisdaad, korrupsie, moord, verkragtings, gewapende roof en skakings het toegeneem. Na 1994 het die Ned Geref Kerk boonop 'n verlies aan identiteit, openbare invloed en in sy finansiële vermoë ervaar. Die vraag was: hoe moes die Algemene Sinode in 1998 hieroor rigting aan Ned Geref-lidmate gee?

    Die besluite oor die Ned Geref Kerk en die oorgang na hierdie nuwe situasie was die gevolg van 'n spoedeisende minimum by die Algemene Sinode van 1998 wat 'n verslag voor hom gehad het waarin die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika meestal tot die negatiewe houding van Ned Geref-lidmate daaroor beperk is en daar aan die nuwe samelewing met 'n nuwe grondwet en waardes én die Ned Geref Kerk se rol daarin, nouliks aandag gegee is. KS-1986 en KS-1990 se ontleding van die geestelike dryfvere agter die situasie in Suid-Afrika is in die situasie na 1994 nie herhaal nie. Die AKLAS-verslag het nie sy eintlike opdrag uitgevoer nie.

    Van 'n krities-solidêre houding a la J.A. Heyns, in lewe 'n lid van AKLAS, wat in November 1994 deur 'n onbekende sluipskutter vermoor is, was daar in hierdie houding van die Ned Geref Kerk oor die oorgang van 1994 in Suid-Afrika nie sprake nie. 'n Krities-solidêre houding wat sy besluite hieroor vergesél en 'n groeiende agterdog in gemeentes teenoor die geloofwaardigheid van die Algemene Sinode kon teenwerk. Daarby het hierdie dokument wat op die oog af moes voortgaan waar KS-1990 opgehou het, nie die impak van KS-1986 en KS-1990 gehad nie. Die eventuele besluite was wel situasie-geskik en kerklik-profeties, maar het min aandag in Suid-Afrika en daarbuite getrek. Die hantering van die saak as, eventueel, 'n spoedeisende minimum het daarvan 'n verleentheid in plaas van 'n sterk en duidelike kerklik-profetiese stem gemaak.

    Twee redes het tot hierdie verleentheid gelei.

    In die eerste plek was daar die eensydige inhoud van die stuk: die konsentrasie op die negatiewe houding van Ned Geref-lidmate oor die oorgang en die vermyding van 'n krities-solidêre ontleding van die situasie. In die tweede plek het dit die stuk se fisiese ontstaansgeskiedenis geheel en al ontbreek aan 'n swaargewig-dokument. Die besluit tot die studie oor die houding van die Ned Geref Kerk teenoor die oorgang in Suid-Afrika is by die Algemene Sinode van 1994 as 'n opdrag aan AKLAS wat met "dringende spoed" - in 1994 - vir leiding aan gemeentes uitgevoer moet word, geneem. Lidmate moes 'n beter insig kry in die ingrypende, ingewikkelde proses en gemotiveer word om deel te neem aan die "vernuwings-, versoenings- en heropbouproses van ons land"(NGK, 1994:98-101,501). Soos KS-1986 en KS-1990 lidmate moes begelei in die swanesang van apartheid, so moes hierdie dokument hulle lei om 'n waardige kerklike rol - nou - in die oorgang van 1994 te speel. Die prinsipiële gewig van die twee soort dokumente het gebalanseer. Die ontstaansgeskiedenis van die oorgangsdokument dui egter in 'n ander rigting. Op die inhoud daarvan is reeds gewys. In 1999 verskyn die verslag as 'n artikel van D.E. de Villiers in 'n akademiese tydskrif (De Villiers, 1999:15-38; vgl. NGK, 1998:68-78). De Villiers was vir die inhoud verantwoordelik wat nie 'n gesamentlike produk uit AKLAS was nie, maar 'n produk van 'n indiwidu waarop die Kommissie ingekoop het. Die lae profiel waarmee AKLAS die saak hanteer, die beperkte klem van die verslag op die houding van Ned Geref-lidmate teenoor die oorgang én die "nie-dringende spoed" wat daarvan eers teen 1998 'n besprekingsdokument in gemeentes maak sonder enige aanduiding wat daarvan moet kom, verseker dat die dokument in vergetelheid verval. Die eis vir "dringende spoed" het 'n skadelose muis gebaar.

    Volgens AKLAS het die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) op sy voorlaaste vergadering voor die Algemene Sinode van 1998 ook versoek dat AKLAS aan "kerk en staat in die huidige grondwetlike bedeling" aandag gee en '"n standpunt oor die huidige bedeling" formuleer. Die tyd was egter te min om 'n deeglike studie daarvan te maak. Tog maak AKLAS enkele aanbevelings wat gering gewysig die besluite van die Algemene Sinode word (NGK, 1998:418).

    In sy verslag wys AKLAS daarop dat die konsep van menseregte nie alle politieke probleme oplos of 'n politieke heilsleer is nie. Die Handves vir Regte as hoofstuk 2 van die Grondwet van 1996 (Handves afgedruk in Kleyn en Viljoen, 1998:267-276) stimuleer 'n pluralisme met teenstrydige waardestelsels in Suid-Afrika. Die staatsowerheid duld hierdie verskynsels indien dit nie met die Grondwet bots nie. Met sy hoë misdaad- en korrupsiesyfer in 1998, moet die vraag gevra word of 'n humanistiese indiwidualisme soos gedra deur die Grondwet wenslik is vir Suid-Afrika? Is die gom van 'n begrip en impak van menseregte soos vervat in hoofstuk 2 van die Grondwet sterk genoeg om die gemeenskap te bind? Die Ned Geref Kerk moet sy identiteit in die situasie behou en sy gehoorsaamheid aan Christus nie prysgee nie (NGK, 1998:83-87).

    Die Ned Geref Kerk handhaaf die gereformeerde belydenis (Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 36, NG Kerk-Uitgewers 1982:36-37) dat die staatsowerheid deur God ingestel is om die goeie te bevorder en die kwade te bestry en dat die gelowiges lojale landsburgers moet wees in soverre as wat hulle gehoorsaamheid aan God dit toelaat. Die kerk van Christus is vreemdelinge in die wêreld én burgers van die koninkryk van God. Daarom moet die gelowiges in naastediens uitstyg bo dit wat normaalweg van burgers verwag word. Hiervoor moet hulle seker wees van hulle identiteit in Christus. Lidmate moet tekens van die koninkryk van God in die samelewing oprig. Die huidige situasie is 'n geleentheid van die Here aan sy kerk ter wille van die koms van sy koninkryk (NGK, 1998:418,519).

    Volgens die Algemene Sinode van 1998 wat die grondoortuigings van die Ned Geref Kerk wil bestendig (Strauss, 2013:32-58), bly die samelwewingsomvattende koninkryksdiens van lidmate hulle roeping in die nuwe situasie. Hoewel die vergadering die nuwe situasie in Suid-Afrika nie profeties-krities ontleed nie, glo hy dat die kerk sy roeping in diens van Gods koninkryk nie verloor het nie. Die lidmate van die Ned Geref Kerk is vreemdelinge in die nuwe land, omdat die Bybel hulle lewensgids is. Die Ned Geref Kerk wil as 'n kerk van die Woord die nuwe situasie in die 21ste eeu betree (Strauss, 2013:58).

    Hierdie kernwaarhede kon 'n groter impak op lidmate gehad het as AKLAS die omvang en intensiteit van die twee verslae verhoog het. Dit gaan hier immers om die kern van die roeping van Ned Geref-gelowiges in die nuwe land. Beide verslae skep die indruk dat hulle onder tydsdruk en sonder diepgang aangepak is. Daar is ook nie getuienis dat hulle veel verder as die agenda van die Algemene Sinode van 1998 gekom het nie.

     

    6. Gesag van Skrif en belydenis

    Van kernwaarde vir die Ned Geref Kerk as 'n gereformeerde kerk is die verslae van AKLAS oor die gesag van die Skrif en die kerk se belydenisskrifte. NGKO 1962 artikel 1 wat sedertdien letterlik onveranderd gebly het (NGKO, 1964:2; NGKO, 2015:1), stel dit prontuit dat die Ned Geref Kerk gegrond staan op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die Bybel is immers die norma normans of norm van die norme in die Ned Geref Kerk. Hieraan ondergeskik as norma normata of "leer wat die Kerk in ooreenstemming met Gods Woord bely", staan die Ned Geref Kerk se belydenisskrifte. Belydenisskrifte wat aan die Skrif ondergeskik is, maar ten opsigte van gesag bo enige ander dokument in die Ned Geref Kerk staan (Strauss, 2008:106).

    Die vraag wat hieruit ontstaan is: waaruit bestaan die onfeilbaarheid van die Bybel? Wat verstaan die Ned Geref Kerk onder die gesag van die Bybel? In rangorde staan NGKO bo die gewone besluite van kerkvergaderings, sodat enige besluit van die Algemene Sinode oor die Skrif NGKO artikel 1 nie moet weerspreek nie. Enige besluit oor Skrifgesag en Skrifgebruik moet rekening hou én harmonieer met NGKO artikel 1 (Strauss, 2008:110).

    Via AKLAS het die Algemene Sinode sedert 1986 die vraag na Skrifgesag en Skrifgebruik telkens onder die loep geneem (vgl NGK, 1986:611-612; NGK, 1990:31; NGK, 2002:549; NGK, 2004:130-131). As dié basisdokument van die Ned Geref Kerk moet daar oor die gesag van die Bybel en die beginsels vir sy vertolking, duidelikheid en, in besluite, verkieslik eenstemmigheid wees.

    'n Oortuiging wat mettertyd oor 'n breë front in die Ned Geref Kerk aanvaar is, is dat die gesag van die Skrif geleë is in die feit dat dit 'n tendensboek is - dat die gesag en betroubaarheid van die Bybel setel in sy bedoeling, die bedoeling om 'n sterk en duidelike boodskap by die mens te kry oor God en sy lewensomvattende verlossing en vernuwing in Christus deur die Heilige Gees. Vernuwing wat bou op die etiese en lewensbeskoulike grondlyne of konstantes wat in die Bybel gegee word. Hierdie doel verhoed dat die Bybel 'n wetenskaplike handboek met 'n antwoord op elke vraag is. Skrywers beweeg op dieselfde lyn as hulle sê dat daar hoogstens van "kerugmatiese geskiedskrywing" ('n wetenskaplike saak) in die Bybel sprake is (Strauss, 2013:111).

    Die Algemene Sinode van 1986 bestempel die Bybel - soos NGKO artikel 1 - as die "objektiewe" Woord van God. Die Bybel besit hierdie eienskap as 'n blywende identeit wat nie eers tot stand kom as mense dit hoor nie (NGK, 1986:56). Die Sinode mik dié punt waarskynlik teen die relasionele waarheidsbegrip van die Generale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Nederland wat die gereformeerde wêreld ingestuur is en in die 1980's tot groot reaksie gelei het (NGK, 1986:132-134).

    Die Algemene Sinode van 2002 bevestig die opvatting van die Bybel as 'n tendensboek as hy sê dat die Bybel nie aan die kerk gegee is as 'n onfeilbare bron van historiese en natuurwetenskaplike inligting nie, maar om die mens die kennis by te bring "wat tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus" - 'n aanhaling van II Timoteus 3:15 (NGK, 2002:548).

    Die Algemene Sinode van 2004 sluit hierby aan. Volgens hierdie vergadering is die Bybel die Woord van God met gesag oor die hele lewe van die mens. Dit is betroubaar in sy openbaring van God-Drieënig, duidelik in sy deurgee van die Evangelie en voldoende om ons alles te leer van geloof in God en sy wil vir die lewe. Die gesag van die Skrif lê in hierdie waarheid en nie daarin om die "volle kennis" van elke aspek van die werklikheid aan ons deur te gee nie (NGK, 2004:130-131).

    In sy verslag aan die Algemene Sinode van 1998 oor die wyse van aanvaarding van die gereformeerde belyenisskrifte, leun AKLAS aan by die Christian Reformed Church in North America. Die Algemene Sinode van 1998 verklaar hierop dat die erkende belydenisskrifte van die Ned Geref Kerk soos aanvaar by die Dordtse Sinode in 1619 'n gesagvolle uitdrukking van die gereformeerde geloofsoortuiging is omdat (quia) hulle met die Skrif ooreenstem. Daarby praat NGKO artikel 1 dieselfde taal met sy "staan uitgedruk in". Volgens die Algemene Sinode van 1998 het die belydenisskrifte gesag in dit wat hulle volgens die Skrif as geloof bely. Die drie gereformeerde en drie ekumeniese belydenisse van die Ned Geref Kerk is feilbare mensewerk, maar totdat die teendeel bewys is, dra hulle gesag in dit wat hulle wil wees: belydenisse van geloof. Soos die Bybel is hierdie geloofsbelydenisse ook geskrifte met 'n tendens: dit is gerig op die formulering van die kernsake van die geloof. Die Algemene Sinode van 1998 aanvaar nie die gesag van elke teksverwysing of "terloopse" opmerking in hierdie skrifte nie, maar glo dat die belydenisskrifte bind deur die geloofswaarhede wat dit oordra. Vir die Sinode gaan dit om die "algemene ongetwyfelde Christelike geloof soos die kerk dit op grond van die Skrif bely". Die Ned Geref Kerk wil in dit wat hy amptelike bely, deel wees van die heilige, algemene Christelike Kerk en nie 'n afsplitsing of skeuring nie (NGK, 1998: 414-415).

    Met hierdie standpunt het AKLAS die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk gebring by 'n moderne verwoording van 'n ou saak: 'n aanvaarbare formulering van geloofswaarhede wat in onstuimige tye opnuut en seker bely word. Die Algemene Sinode van 2002 bevestig die trant van hierdie verslag met die besluit dat die geloofswaarhede waarom dit in hier gaan, ooreenstem met die boodskap van die Bybel in sy geheel (NGK, 2002:237). So word NGKO artikel 56 met sy "Skrifgefundeerde beskouinge" ten opsigte van aktuele, leerstellige en etiese sake nagekom omdat dit 'n "natuurlike" of 'n gevestigde benadering in die Ned Geref Kerk verwoord (NGKO, 1998:19; NGKO, 2002: 22).

    Die aktualiteite van die dag sou nie by die Ned Geref Kerk as 'n gereformeerde kerk in Suidelike Afrika verbygaan nie. Talle sake kom in die AKLAS-verslag aan die Algemene Sinode vanaf 1986 die volgende meer as drie dekades voor.

    Op die gesag van die Skrif en die gereformeerde belydenis asook die houding van die Ned Geref Kerk in die Suid-Afrika van 1994 en daarna, drie belangrike kwessies in 'n gereformeerde kerk, is gewys. Sedert 1995 sou die kwessie van homoseksualiteit ook opnuut in die Ned Geref Kerk opvlam. Verskeie streeksinodes sou hieraan aandag gee (Strauss, 2013:90). Op hierdie stadium was die staande besluit dié van die Algemene Sinode van 1986. Opgesom het hierdie besluit daarop neergekom dat homoseksualiteit "in die lig van die Skrif 'n afwykende vorm van seksualiteit" is (NGK 1986:672).

     

    7. Homoseksualiteit en 'n gereformeerde identiteit

    Na die opdrag van die Algemene Sinode van 2002 aan AKLAS vir "'n grondige, teologies-etiese studie" oor "homoseksualiteit..." (NGK 2002:254,624) word 'n verslag waarop besluite geneem kan word, eers aan die Algemene Sinode van 2007 voorgelê. AKLAS (nou die Taakspan Leer en Aktuele Sake of ATLAS) was verdeel oor die saak en kon nie tot 'n gesamentlike verslag met een stel aanbevelings aan die Sinode kom nie (Strauss, 2013:114).

    Na 'n deeglike bespreking word die verslae en aanbevelings tydens die aandsessie van die Algemene Sinode op 6 Junie 2007 aan 'n kommissie van 10, die moderators van die verskillende streeksinodes of sinodes, gegee. Hulle moes aan 'n voorstel werk wat op die tweede oggendsessie van 7 Junie 2007 voor die vergadering sou dien (Strauss, 2013:121).

    Die finale besluit van agt punte verskil in beginsel nie van die besluit van 1986 nie, maar is minder op die punt af en meer taktvol en kompromis-georiënteerd geformuleer. Hierdie styl sou tot wanbegrip by die publiek en gemeentes lei. Die vraag het ontstaan: wat het die Algemene Sinode regtig besluit?

    In sy kern kom die besluit van die Algemene Sinode van 2007 daarop neer dat alle mense, afgesien van hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en op grond van "doop en geloof" lidmate word van die kerk. Bybels beskou is die huwelik egter net tussen een man en een vrou. Homoseksuele én heteroseksuele losbandigheid of promiskuïteit moet afgewys word. Homoseksuele persone word slegs tot die amp van predikant toegelaat as hulle in hierdie opsig die selibaat beoefen. Kerkrade moet verskille in die gemeente oor homoseksualiteit met Christelike liefde hanteer (NGK 2007H:110).

    Sedert 2015 skipper die Algemene Sinode rond tussen 'n pro-gay standpunt van een of ander aard en die houding dat die Bybel gekant is teen selfdegeslagverhoudings - soos dit tans genoem word. In die besluit van die Algemene Sinode in 2019 word "burgerlike verbintenisse" ('n begrip oorgeneem van die staat) tussen lede van dieselfde geslag aanvaar en 'n formulier - en daarmee kerklike sanksie - vir die voltrekking van sulke verbintenisse in die vooruitsig gestel. Dit word egter aan predikante en kerkrade self oorgelaat om te besluit of hulle daarteen of daarvoor is (Persverklaring Nico Strydom 09/10/2019, Selfdegeslag Verhoudings).

    Met hierdie standpunt onderstreep 'n verkleinde Algemene Sinode dat 'n kerngroep in die Ned Geref Kerk die effek van die post-modernisme of 'n relativisme huidjie en muidjie gesluk het en nie erns maak met Christusgesag as Woordgesag nie. Punt 2 van hul besluit bevestig dié waarneming. Volgens hierdie punt verbrokkel die eenheid van die Ned Geref Kerk in Christus en in belydenis nie "wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie". Inteendeel, dit "verryk en verdiep". As daar post-modernisties relativerend aanvaar word dat pro- en anti-gay albei ruimte in die kerk as 'n kerk van die Woord het, kan 'n verskil hieroor - dit is ongemotiveerd en word ongelukkig nie verduidelik nie - verryk en verdiep...

    Die enigste verwysing na Skrifberoep in die besluit is dat daar - vaagweg - erns gemaak moet word met die Woord van God, 'n faktor wat nie in die besluit self eksplisiet deurkom nie en wat ook nie daarin aangewend word nie. ATLAS was vir die Ned Geref Kerk baie werd ten opsigte van Skrif en belydenis, maar in die toepassing daarvan het die Algemene Sinode met sy wisseling tussen hierdie twee standpunte oor homoseksualiteit, sy eie geloofwaardigheid en die van die Ned Geref Kerk, geknou.

    'n Ander verslag van ATLAS wat voor die Algemene Sinode van 2007 dien, gaan oor die gereformeerde identiteit van die Ned Geref Kerk. Die verslag spruit uit 'n besluit van die Sinode van 2004 dat daar 'n "ingrypende meningsverskil" in die Ned Geref Kerk bestaan oor die gesag, inhoud en verstaan van die gereformeerde belydenis en spiritualiteit. Om tot sy verslag te kom, konsulteer Leer en Aktueel met teoloë en lidmate buite die Taakspan en met die Taakspan Gemeente-ontwikkeling. Hierdie verslag is 'n belangrike barometer vir die geloofsidentiteit, eenheid en koers van die Ned Geref Kerk.

    Volgens ATLAS het die Ned Geref Kerk die afgelope paar jaar ontdek dat hy diversiteit "as n positiewe werklikheid" moet erken. Ten spyte van 'n "saambindende kern" is die Ned Geref Kerk nie in alles eenvormig of eenstemmig nie.

    Volgens die verslag beteken hierdie kern dat die Ned Geref Kerk as sinodale verband fokus op die vyf solas van die Reformasie naamlik deur die genade, deur die Skrif of Woord, deur Christus en die geloof alleen én alles alleen tot eer van God: die sola gratia, sola scriptura, solus Christus, sola fide en soli Deo Gloria. Die kern van die lewe voor God setel in die kragveld van die Heilige Gees. Die georganiseerde kerk speel 'n belangrike rol in die lewe van gereformeerdes, die ampte is gelykwaardig omdat Christus die enigste Hoof van sy kerk is, die koninkryk van God loop breër as die kerk en die sakramente is tekens en seëls van God se genade aan verlosde sondaars. Die erediens is 'n ontmoeting tussen God en sy gemeente waarin die hoor van die Woord deur die Skriflesing en prediking sentraal staan en kernelemente soos die wet, skuldbelydenis, genadeverkondiging, voorbidding en lofprysing almal plek het (NGK, 2007A:13-17).

    Hoewel die Algemene Sinode van 2007 hierdie verslag vir bestudering deur gemeentes met die oog op 'n "oriëntasie van die plaaslike bediening" deurgee, lei dit nie tot hoor- en sigbare resultate nie. Die verslag lok nie veel bespreking op die Algemene Sinode uit nie. Bes moontlik was die inhoud nie omstrede nie en geredelik aanvaarbaar (NGK 2007H:89). Die Ned Geref Kerk kon met die idee van 'n samestellende kern te midde van 'n "diversiteit" werk in nuwe tye. Sonder om eksplisiet daarna te verwys, was die Algemene Sinode met sy selfdegeslagverhoudinge en die gereformeerde identiteit tot 'n mindere of meerdere mate steeds binne NGKO artikel 56.

     

    8. Slot

    Naas hierdie belangrike kwessies sou eers AKLAS en toe ATLAS aan ander belangrike sake - vir die kerk - aandag gee. Ruimte ontbreek om die kwessies van af 1982 tot 2019 almal te noem en te bespreek. Genoeg om te sê dat die Kommissie of Taakspan deurgaans Skrifgetrou wou bly of met die Skrif as bepalende faktor direk of op die agtergrond wou werk. Dat die leerstellige en teologies-etiese tradisie in die Ned Geref Kerk erns maak met die uitgangspunt van sola scriptura of NGKO artikel 56 met sy Skrifgefundeerde beskouinge.

    Deur die jare word daar aan ander kwessies as die wat bespreek is, vanuit die Ned Geref Kerk en ATLAS aandag gegee. Hieronder val die doodstraf, die Apostolicum se "ter helle neergedaal", egskeiding en hertrou, die vrou in die amp (NGK, 1986:91-168), diskriminasie teen vroue, drank, dwelms, ewolusie, Sondagheiliging, verassing (NGK, 1990:83-84), die Belydenis van Belhar, geloofsgenesing, genadedood, menseregte, pornografie, regstellende aksie, satanisme, Skrifgesag (NGK, 1994:62-63), die Waarheids- en Versoeningskommissie, grondhervorming, korrupsie (NGK, 1998: 57), plaasmoorde, rassisme, vigs (NGK, 2002:186187), ekumeniese verhoudinge, misdaad en geweld in Suid-Afrika (NGK, 2007A en H :iv,vi), doop, kerk en wetenskap, huwelik en saamwoon (NGK, 2011H:38-39), aborsie, xenofobie, wetenskap, geloof (NGK, 2015A:250,251,256) en 'n lesersvriendelike vertaling van die belydenisskrifte (NGK, Atlas 2019:4). Sommige van hierdie onderwerpe, soos Skrifgesag, homoseksualiteit, misdaad en geweld en grondhervorming kom oor die tyd tussen 1982 en 2017 versprei, meer as een keer voor.

    Of NGKO artikel 56 in die aanpak van hierdie leerstellige en etiese kwessies aan NGKO artikel 56 getrou gebly het, sal net 'n deeglike en omvattende studie toon. Twee faktore staan egter uit in ons weergawe van enkele voorbeelde: NGKO artikel 56 verwoord 'n houding of 'n tendens by Ned Geref-vergaderings en is daarom sedert sy ontstaan nog nie gewysig nie én hoewel nie eksplisiet nie, funksioneer die artikel implisiet in besluite. Daarby beweeg NGKO artikel ook naby aan NGKO artikel 21 met sy sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van Gods Woord en op kerklike wyse.

     

    Bibliografie

    De Villiers, D.E. 1999, Die NG Kerk en die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika, Skrif en Kerk 20/1, 15-38. https://doi.org/10.4102/ve.v20i1.1163.         [ Links ]

    Die Kerkbode 05/11/1980.         [ Links ]

    Du Toit, P.R. 1991. Die uitleg van 'n kerkorde, Strauss, P.J. (red), Byderwets en gereformeerd. Bloemfontein: NG Sendingpers.         [ Links ]

    Fowler, S. 1988, The state in the light of the scriptures. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ],

    Heyns, J.A. 1989, Teologiese Etiek2/2. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.         [ Links ]

    Gaum, F.M. 1997, Die verhaal van die Ned Geref Kerk se reis met apartheid 1960-1994. Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

    Kleynhans, E.P.J. 1988, Gereformeerde Kerkreg IV. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ].

    Kock, P. de B. 1975, Christelike Wysbegeerte - inleiding. Bloemfontein: Sacum.         [ Links ]

    Nauta, D. 1971, Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) 1982, 1986, 1990, 1994, 1998, 2002, 2004, 2007 A en H (Agenda en Handelinge), 2011 A en H, 2015 A, Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode, sn, sl.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO) 1964, Kerkorde van die Ned Geref Kerk 1962, Pretoria: NG Kerk-Uitgewers,         [ Links ].

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO) 1974, Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO) 1986, Die Kerkorde. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO) 1990, Die Kerkorde. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO) 1994, Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO) 1998, Die Kerkorde Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO) 2002, Die Kerkorde. Wellington: Lux Verbi.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO) 2004. Die Kerkorde. Wellington: Lux Verbi.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO) 2007, 2011, 2013, 2015, 2017, Die Kerkorde. sn, sl.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (RVN) 1975, Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (KS-1986) 1986, Kerk en Samelewing - n getuienis van die Ned Geref Kerk. Bloemfontein: Pro Christo.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk (KS-1990) 1990, Kerk en Samelewing-1990. n Getuienis van die Ned Geref Kerk. Bloemfontein: Pro Christo.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake (ATLAS) 2019, Verslag, sn, sl, Ongepubliseer.         [ Links ]

    NG Kerk-Uitgewers 1982, Ons glo... Die drie Formuliere van Eenheid en die Ekumeniese Belydenisse. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

    Strauss, P.J. 1991, Beginsel of metode? Die Ned Geref Kerk en apartheid na Cottesloe, NG Teologiese Tydskrif (NGTT) 32/3, 436-446.         [ Links ]

    Strauss, P.J. 2008, Die Kerkorde van die Ned Geref Kerk: Uitgangspunte ten opsigte van Skrif, belydenis en kerkorde, Acta Theologica 28/2, 104-117. https://doi.org/10.4314/actat.v28i2.48886.         [ Links ]

    Strauss, P.J. 2010, Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

    Strauss, P.J. 2011, Kerk en samelewing in die dokumente "Kerk en samelewing" na 25 jaar, NG Teologiese Tydskrif (NGTT) 52/3 en 4, 511-520. https://doi.org/10.5952/52-3-60.         [ Links ]

    Strauss, P.J. 2013, Kerkwees in die branding, Acta Theologica Supplementum, 18, 1-156.         [ Links ]

    Strauss, P.J. 2018, Die Ned Geref Kerkorde van 1962: in samehang en voeling met die res van die werklikheid? Koers - Bulletin for Christian Scholarship 83(1). https://doi.org/10.19108/koers.83.L2369.         [ Links ]

    Strydom, Nico 09/10/2019, Persverklaring.         [ Links ]

    Van de Beek, A. 1988, Hermeneutiek van het kerkrecht, Van't Spijker, W. en Van Drimmelen L.C. (reds), Inleiding tot de studie van het kerkrecht. Kampen: Kok,         [ Links ].

    Van der Watt, P.B. 1980, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905 Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

    Williams, H.H. 2006, JA Heyns en die Ned Geref Kerk en apartheid, DTh-proefskrif Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.         [ Links ]

    Wereldraad van Kerke Argief (WRK-Argief) Genève, Lêers 215/10.1/33 en 215/9.2.2.1/10.         [ Links ]

     

     

    Correspondence:
    Prof Piet Strauss
    straussp@ufs.ac.za

    Published: 22 May 2020

     

     

    1 NGKO 2017 artikel 21 bepaal byvoorbeeld "...kerkvergaderinge behandel sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse", NGKO 2017:7.