SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.40 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Literator (Potchefstroom. Online)

    On-line version ISSN 2219-8237Print version ISSN 0258-2279

    Literator vol.40 n.1 Mafikeng  2019

    https://doi.org/10.4102/lit.v40i1.1584 

    BOOK REVIEW

     

    Debuut van 'n ervare skrywer

     

     

    Martina Vitackova

    Department of Afrikaans, University of Pretoria, South Africa

    Correspondence

     

     

    Book Title: Die goeie vrou en ander mites

    Author: Corlia Fourie

    ISBN: 978-1-4853-0956-7

    Publisher: Protea Boekhuis, 2018, Prys R175*

    *Book price at time of review

     

     

    Die goeie vrou en ander mites is die eerste digbundel van ervare joernalis, fiksie- en dramaskrywer Corlia Fourie. Sy staan bekend vir haar vertolking van die vroulike perspektief en leefwêreld. Al vyf onderdele van die bundel werk op 'n ander manier met hierdie tematiek. Terwyl die eerste deel, 'Die goeie vrou', portrette van 'n hele versameling vroue in al hul verskeidenheid bied, is die res van die bundel meer subjektief. 'Tuis en uit' is 'n studie van die digter se huis, die huislike ruimte en die omliggende omgewing. 'Die wye wêreld in' is 'n versameling reisverse. 'Bloeityd' praat oor die digter se grootwordjare, haar familie en ook haar siekte. 'Kierang en ander hebbelikhede' bevat sketse en die digter se kommentaar op die samelewing en die Afrikanergemeenskap. Die hele digbundel deur hoor 'n mens 'n duidelike vroulike poëtiese stem wat beskou, voel, analiseer, treur en lag.

    In die eerste deel vind 'n mens Helen Martins naas Medusa, Miriam Makeba naas James Barry. Fourie skryf kragtig oor Frida Kahlo en is sarkasties oor Cleopatra:

    As jou lewe

    nie so 'n fokken cliché was nie

    kon ek 'n lang gedig oor jou gepleeg het. (bl. 17)

    Daar is egter ook ruimte vir onbekende, onsigbare en 'onbelangrike' vroue soos die naamlose vrou wat verkrag word en in die sloot gegooi is (bl. 22), of die slagoffer van huislike geweld (bl. 21). Ook die kleinburgerlike vrou wat jare lank die goeie huisvrou gespeel het (bl. 7) en die oujongnooi-tante (bl. 23) kry hulle plek en stem in hierdie gedeelte.

    Veral in 'Bloeityd', waar Fourie analiseer hoe en waarom sy is wat en wie sy is, kom die figuur van haar vader, die skrywer Mikro, prominent na vore. Fourie skilder die verhouding met haar pa in al sy kompleksiteit. Sy klink soms amper pateties soos in 'Dankie' (bl. 58), maar tog ook trots, liefdevol en krities.

    Ek is trots

    op my pa.

    Trots omdat hy

    mense vir so lank

    soveel plesier kon skenk. ('Spoelklip', bl. 49)

    My pa bly nie in ons huis nie.

    Hy bly by die stories in sy kop,

    al sit hy lang bene oorkruis,

    lyf toegevou in sy stoel. ('Huis, paleis 1', bl. 55)

    In hierdie deel praat ook die ouer vrou wat so bly is dat sy nie meer jonk is nie (bl. 61), en die siek vrou wat oor die see droom tydens haar bestraling (bl. 64) en aan die Klein-Karoo van haar kinderdae dink tydens chemoterapie (bl. 66). Hier word die outeur se stem die duidelikste gehoor.

    Die bundel is 'n studie van die proses en die verskillende aspekte wat Fourie as digter gevorm het. Die verdeling is duidelik, maar aan die ander kant staan dit in die weg van die 'vloei' van die gedigte, wat die bundel partykeer geforseerd laat voel. In Die goeie vrou en ander mites staan die ervare joernalis, wat duidelike kennis het van die literêre veld en haar plek hierin gevind het, teenoor die debuterende digter wat nog haar digterlike stem soek. Hierdie kombinasie bring interessante perspektiewe wat die bundel die moeite werd maak.

     

     

    Correspondence:
    Martina Vitackova
    m.vitackova@gmail.com