SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Literator (Potchefstroom. Online)

    On-line version ISSN 2219-8237Print version ISSN 0258-2279

    Literator vol.37 n.1 Mafikeng  2016

    https://doi.org/10.4102/lit.v37i1.1213 

    BOEKRESENSIE

     

    Sirkels op 'n oorbekende werf

     

     

    Willem Anker

    Department of Afrikaans and Dutch, University of Stellenbosch, South Africa

    Correspondence

     

     

     

    Book Title: Skadu oor die sonwyser

    Author: Kobus Lombard

    ISBN: 978-1-4853-0302-2

    Publisher: Protea Boekhuis, 2015, R150*

    Skadu oor die sonwyser is Kobus Lombard se vierde poësiebundel, almal uitgegee deur Protea Boekhuis. Die voriges heet Geknipte naelstring (2001), Tussen wysvinger en duim (2005) en Vlerke vir my houteend(2010).

    Lombard betree hier dieselfde tematiese werf as in sy vorige bundels. In kort vrye verse (net met uitsondering langer as 12 reëls) sirkel hy om die Namibiese landskap, die Christelike geloofslewe, die skryf van poësie, die weeskindverlede, nostalgiese terugblikke, wranger herinneringe aan die weermag, en, soos die titel wil suggereer, die vervlietendheid van tyd en oud word.

    Wanneer die leser ná 'n eerste lees terugkeer na die bundel, val die gedig 'Tregtering' (bl. 19), op:

    word my dae te skraal
    om 'n huis te bou
    tel ek die stene
    in my kamer se muur
    raak my treë te kort
    om die planeet te oorspan
    sirkel ek net nouer
    op my eie werf

    my oë is te moeg
    vir ongeleesde boeke
    dit soek bloot die streling
    van oorbekende woorde

    Hierdie bekentenis deur die spreker is 'n eenvoudige, nostalgiese vers oor oud word, en op vormlike en inhoudelike vlak dus tekenend van die bundelgeheel. Die gedig vra egter ook 'n belangrike vraag oor die bundel self: Alhoewel die spreker se moeë oë nie meer kans sien vir 'ongeleesde boeke' nie, is dít nie miskien juis waarna 'n poësieleser sug wanneer 'n bundel aangeskaf word nie? Is die funksie van poësie nie miskien juis 'n talige wakker skud uit die 'streling/van oorbekende woorde' nie? Vir hierdie leser is dit wel. Gee dit nie juis in afgematte oë 'n hernude glinster wanneer hulle 'n gedig teëkom wat die 'oorbekende' wêreld oombliklik nuut maak nie? Hiermee bedoel ek geensins dat goeie poësie kompleks of 'moeilik' moet wees nie. Daar is niks kompleks of groots aan 'n beiteltjie nie, maar as dit skerp is, en sekuur tref, weet ons almal wat dit kan vermag.

    Die digter is vroeër geprys vir die pretensielose eenvoud van die gedigte, en ook in hierdie nuutste bundel is dít die gedigte se beste eienskap. Die eerste reëls in 'Wag-'n-bietjiebos' (bl. 27) - 'haak-en-steek/word digter/al dieper in' - getuig van wat hierdie digter kan vermag met die eenvoudigste stellings. Ongelukkig interpreteer hy dan sy eie beeld in die twee strofe.

    Buiten bogenoemde voorbeeld, is daar ook ander mooi oomblikke in die bundel, soos waar die 'motors in die grootpad/van afspraak na migraine jaag' (bl. 75) of waar die spreker in 'Digterspel' (bl. 48) 'vergeefs' soek na 'n taal 'wat ruik na vars hopies grond/om ons verliese te begrawe'.

    Talle gedigte, wat soms vondste van onderbeklemtoning kon gewees het, ly egter skipbreuk weens die deurlopende gebruik van clichés. In kort verse wat aanspraak maak op gestroopte, onopgesmukte eenvoud en eerlikheid, struikel die leser oor enige geykte uitdrukking, en in Sonwyser is daar te veel. Frases soos 'ragfyn drade' en 'lense' wat 'verdof', belemmer byvoorbeeld 'n gedig soos 'Kantgordyn' (bl. 17) wat 'n mooi vers kon gewees het oor die veranderende perspektief wat oud word bring. Die 'grys beton' (bl. 23) of 'koue grys' (bl. 79) van stede, 'n vlam wat 'ligvoets [] dans' (bl. 25), wind wat 'huil om die hoeke van my huis' (bl. 28), en die 'vensters van jou oë' (bl. 84) is enkele verdere voorbeelde van hebbelikhede wat gedigte op die rotse laat loop. Gedigte word ontneem van impak wanneer hulle (sonder ironie) afgesluit word met reëls waarin die liggaam 'slegs 'n aardse woning is' (bl. 15), 'die angel van die dood besweer' word (bl. 25), of ''n doodse stilte' neerdaal (bl. 28). Wanneer 'n geykte frase soos 'klink 'n glasie' (bl. 77, 80) voorkom in twee gedigte wat handel oor dieselfde tema - om te eet in restaurante wat bedryf word in polities gelade ruimtes - moet die redakteur met 'n skerp skêr inspring.

    Buiten om die taal te stroop van geykte uitdrukkings, kan Lombard in die toekoms ook meer let op die vormlike aspekte van poësie. Hier word nie veel gedoen met ritme of klank nie. Met 'n bewustheid van die vormlike aspekte bedoel ek ook nie tipografiese truuks nie, soos waar 'n plaat:

    in die rondte

                      draai

                   en draai

    en draai' (20).

    Vir liefhebbers van eenvoudige verse wat bevestigend en herkenbaar op die oor val, sal die bundel welkome leesstof wees, maar die avontuurlustige leser wil vir Lombard aanraai: 'Gaan lees daardie "ongeleesde boeke". Lees ander digters. Lees wyd. Kyk wat die poësie kan doen. Kyk wat reeds gedoen is.'

     

     

    Correspondence:
    Willem Anker
    anker@sun.ac.za

     

     

    *, Book price at time of review