SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.41 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Journal of Literary Studies

    On-line version ISSN 1753-5387Print version ISSN 0256-4718

    JLS vol.41 n.1 Pretoria  2025

    https://doi.org/10.25159/1753-5387/19345 

    BOOK REVIEW/BOEKRESENSIE

     

    Wilma Stockenström: Met my wysvingertop. 'n Huldiging, deur Ronel Foster (redakteur)

     

    Gerda Taljaard-Gilson

    Onafhanklike navorser, Suid-Afrika. gerdagilson@gmail.com. https://orcid.org/0000-0003-4911-1150

     

     

    2024. SA Akademie vir Wetenskap en Kuns/Protea Boekhuis. 334 p. ISBN: 978-1-4853-1602-2

    Toe 'n koerant my onlangs vra wat ek as die dertig beste Afrikaanse romans beskou wat oor die afgelope eeu verskyn het, het ek nie gehuiwer nie om drie van Wilma Stockenström se boeke te noem. Derhalwe was dit vir my 'n voorreg om hierdie huldigingsbundel te resenseer.

    Met my wysvingertop is die sewentiende huldiging wat onder die affiliasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ter ere van Hertzogpryswenners saamgestel is. Hierdie bundel is onder redaksie van Ronel Foster byeengebring en word weer deur Protea Boekhuis uitgegee, wat ook die gekose uitgewer was van sommige van die vorige bundels in dié reeks.

    In Met my wysvingertop word Wilma Stockenström op uiteenlopende wyse vereer: deur middel van vakwetenskaplike artikels oor haar skryfwerk; commendatio's by die verskeie pryse wat sy verower het; 'n LitNet-skrywersprofiel; 'n essay oor Stockenström en haar man, Ants Kirsipuu; 'n aantal gedigte wat aan hulle albei opgedra is; 'n fotoalbum; Engelse vertalings van Stockenström se gedigte; sowel as 'n uitgebreide bibliografie wat verwysings na resensies, artikels, proefskrifte, onderhoude, ensomeer insluit.

    Dié huldiging se titel is geneem uit die slotgedig in Van vergetelheid en van glans (1976), die digbundel waarvoor Stockenström vir die eerste keer die Hertzogprys ontvang het. Hierin spreek die liriese subjek haar wens uit om met haar wysvingertop "die buitelyne van 'n mens" te teken: dus 'n versugting om te skep, om 'n skepper (van poësie) te wees. Hier kry ons met ander woorde 'n besinning oor digterskap, oor haar posisie as "digterwordend[e]" mens op 'n ongenaakbare, afsydige vasteland. Hierdie begeerte word weerspieël in 'n onderhoud met Francois Smith in Die Burger (2003), soos vermeld in Erika Terblanche se skrywersprofiel, waarin Stockenström erken dat sy "uit frustrasie poësie begin skryf [het]," omdat sy as dramaturg nie die geleentheid gehad het om haar kreatiwiteit op die verhoog uit te leef nie (229).

    Elders in Terblanche se bydrae noem Stockenström dat sy "as 'n grap" (231) begin dig het, waarskynlik ook omdat net een van haar dramas, Laaste middagmaal (1978), wat Frederick Botha in sy artikel as 'n "miskende" (198) versetdrama beskou, deur 'n gevestigde uitgewer (Taurus) in boekvorm gepubliseer is. Ook die verskyning van haar eerste digbundel, Vir die bysiende leser (1970), het feitlik ongesiens verbygegaan, totdat 'n paar gedigte daaruit in Groot verseboek opgeneem is.

    Haar derde roman, Die kremetartekspedisie (1981), word in nie minder nie as tien tale vertaal. In Italië wen sy ook die gesogte Grinzane Cavourprys daarvoor, maar in Suid-Afrika ontvang sy geen toekennings nie. Of dit was oor die swart hoofkarakter daarin, of oor die skrywer se beskeie geaardheid en outsiderskap, of oor 'n soort geografiese diskriminasie (sy was op daardie stadium in Pretoria woonagtig en nie in die Kaap nie), of omdat sy haar as vroueskrywer in 'n patriargale literêre sisteem bevind het, kan maar net bespiegel word. Tien jaar later, in 1992, ontvang sy wel die Hertzogprys vir haar roman, Abjater wat so lag (1991).

    Stockenström het nie altyd die eer gekry wat haar toekom nie, daarom die noodsaaklikheid van hierdie huldigingsbundel wat gelukkig nog in haar leeftyd gepubliseer word.

    In die eerste artikel wat in dié bundel opgeneem is, skryf Hein Viljoen met insig oor hoe Stockenström die tradisie van die Simbolisme op eiesoortige wyse voortsit in Van vergetelheid en van glans deur 'n mistieke ervaring agter die werklikheid van dinge te suggereer. In plaas daarvan om van Europese simbole gebruik te maak, skep sy egter haar eie Afrika-simboliek.

    In Alettie van den Heever se artikel beskou sy Stockenström as "donker ekodigter" (38) wat in haar "klipgedigte" die primordiale verbondenheid tussen mens en niemens uitbeeld, waar die mens nie as meerderwaardig teenoor diere gesien word nie, maar as "mededier." Van den Heever stel ook ondersoek in na hoe die landskap as karakter in hierdie gedigte optree, hoe klip in die mens se spirituele tradisies figureer, en hoe die digter se "arche-litiese nuuskierigheid" (67) in haar poësie manifesteer. Hieroor skryf Van den Heever op onderhoudende wyse.

    Marius Crous oorweeg 'n aantal Stockenström-gedigte onder die kader van die tanatologie en kyk spesifiek na die "dood-humor-paradoks" (74) daarin, wat in ooreenstemming met Emily Dickinson se poësie, die mens se grootheidswaan relativeer. Hy is van mening dat Stockenström se paradoksale grap oor die dood die tradisionele siening van die sterwensproses, begrafnisrituele en die rouproses ondermyn. Crous bewerkstellig 'n interessante artikel oor hierdie boeiende onderwerp.

    Deur 'n derde, "niehumoristiese lag" (100) in Abjater wat so lag te identifiseer, lewer Thys Human 'n unieke bydrae tot studies wat tot dusver oor hierdie roman onderneem is. Hy fokus nie net op die titelkarakter se eerste en laaste lag nie, maar ook op die dood se allesoorheersende gelag, op die dood as "'n laggende Abjater" (118).

    Amanda Marais neem ook Abjater wat so lag as onderwerp, maar bekyk die naamlose hoofkarakter se identiteitskonstruksie daarin, hoe sy ontwikkel van 'n gemarginaliseerde figuur tot 'n persoon met betekenis, 'n mens wat 'n volwaardige plek (as sterwensbegeleier) in die samelewing inneem. Marais doen hierdie ondersoek aan die hand van liminaliteit en heterotopie.

    In Bibi Burger se artikel neem sy Die kremetartekspedisie se grensverskuiwende aard onder die loep deur nie alleen ondersoek in te stel na hoe hierdie roman koloniale en Afrikanernasionalistiese narratiewe se struktuur ondermyn nie, maar ook hoe 'n swart vrou as hoofkarakter en verteller na die voorgrond tree. In Die kremetartekspedisie word 'n alternatiewe geskiedenis op vernuwende wyse vertel, aldus Burger.

    Temple Hauptfleisch skryf oor Stockenström se betrokkenheid by die uitvoerende kunste en werp lig op 'n "ingetoë vrou" se "kragtige vertolkings" as veelsydige aktrise wat in films, televisiedramas en verhoogproduksies opgetree het. Hierdie afdeling word deur foto's van haar onderskeie teater- en filmrolle vergesel.

    Ten slotte ondersoek Frederick Botha Stockenström se Laaste middagmaal as 'n betrokke familiedrama waarin sy haar, deur middel van argetipe karakters, teen apartheid uitspreek. Verder bestempel Botha dit as 'n "dubbele probleemdrama" (199) wat die weg gebaan het vir ander betrokke familiedramas.

    Elkeen van bogenoemde artikels is deeglik nagevors en laat reg geskied aan Stockenström se ryk oeuvre. Afgesien van die feit dat dit enersyds 'n sinvolle bydrae tot die navorsing oor haar werk lewer, vul dit anersyds ook interdissiplinêre studievelde aan, ondermeer die ekokritiek, dierestudies, tanatologie, heterotopie, feminisme en geskiedskrywing. Die hele bundel is 'n bruikbare en boonop leesbare dokument wat nie net byval sal vind by akademici nie, maar ook by enigeen wat in Stockenström as digter, romansier, akteur én as mens belangstel, daarvoor sorg Johann Lodewyk Marais se boeiende essay oor die Kirsipuus, asook die fotoalbum.

    Dit is veral Phillip de Vos se foto van Stockenström en een van haar katte wat iets te kenne gee van hierdie enigmatiese mens wat in Joan Hambidge se huldegingsgedig "Vir die bysiende leser" (274) as "meester van ironie" beskryf word.

    Sy is, soos Hambidge haar tereg in hierdie gedig se slotreël noem-"die grootse, eenmalige Wilhelmina Johanna Stockenström."

    Johann de Lange se Engelse vertalings van Stockenström se gedigte laat 'n mens opnuut die trefkrag van dié grootse digter se woorde besef en sorg vir 'n ontroerende slot vir hierdie huldigingsbundel wat 'n waardige verering van die digter en haar werk is:

    with the tip of my index finger how gladly I'd have

    softly drawn the outline of a human,

    tenderly and patiently, because it takes a long time. (290)