SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.40 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Journal of Literary Studies

    On-line version ISSN 1753-5387Print version ISSN 0256-4718

    JLS vol.40 n.1 Pretoria  2024

    https://doi.org/10.25159/1753-5387/17058 

    BOOK REVIEW BOEKRESENSIE

     

    Ina Rousseau: Digter van die kwiksilwerige woord, deur Daniel Hugo (redakteur)

     

     

    Geresenseer deur Neil Cochrane

    Universiteit van Suid-Afrika, Suid-Afrika cochrn1@unisa.ac.za https://orcid.org/0000-0001-7630-0585

     

     

    SA Akademie vir Wetenskap en Kuns/Naledi. pp. 337. ISBN: 978-1-991256-44-7

     

    Veelkantige perspektief op die werk van 'n formidabele digter

    Ina Rousseau (1926-2005) word in die Afrikaanse poësielandskap gereken as 'n formidabele digter. In haar digtersloopbaan publiseer sy ses outonome digbundels, naamlik Die verlate tuin (1954), Taxa (1970), Kwiksilwersirkel (1978), Heuningsteen (1980), Grotwater (1989) en 'n Onbekende jaartal (1995). In 2003 verskyn Die stil middelpunt: 'n keur, met nuwe gedigte wat deur Daniel Hugo saamgestel is. Rousseau publiseer ook 'n kortverhaalbundel, Soutsjokolade (1979).

    Dit is verblydend dat Rousseau gehuldig word in die veertiende huldigingspublikasie in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks aan Hertzogpryswenners. Rousseau se laaste bundel, 'n Onbekende jaartal is uiteindelik in 1996 bekroon met die Hertzogprys vir Poësie.

    Die Rousseau-huldigingsbundel bestaan uit die volgende komponente: sewe akademiese bydraes, 'n nuttige profiel deur Erika Terblanche, Rousseau se Engelse vertalings van haar gedigte, vier Afrikaanse vertalings van Italiaanse gedigte en 'n bibliografie van primêre en sekondêre bronne. Die pragtige fotoalbum in die middel van die boek funksioneer as 'n visuele bestekopname van Rousseau se lewe en werk. Die opname van die Engelse vertalings van haar gedigte is besonders en uit Daniel Hugo se verantwoording besef die leser weereens hoe ernstig Rousseau haar digterstaak opgeneem het. Sy het die Engelse vertalings tussen 17 April en 10 Desember 2004 voltooi. Sy is agt maande later op 13 Augustus 2005 aan pankreaskanker oorlede.

    In sy bydrae lewer Fanie Olivier verslag oor die resepsiegeskiedenis van Rousseau se debuutbundel, Die verlate tuin (1954) en bied interessante verklarings vir die uitsluiting van "Gebonde"-die enigste van haar Standpunte-gedigte wat nie opgeneem is in haar debuut nie. Olivier se besinnende vrae hieroor bied stof tot nadenke oor die digter se moontlike beweegredes vir die uitsluiting van dié "verlöre vers".

    Hein Viljoen analiseer in sy artikel op 'n noukeurige wyse poëtiese middele, transformasieprosesse en metaforiese prosesse in kerngedigte uit 'n Onbekende jaartal. Viljoen toon aan hoe 'n suiwer teksgerigte benadering steeds bruikbaar en relevant is om verwikkelde betekenisse in gedigte te ontsluit. 'n Goeie voorbeeld is sy stipleesontleding van funksionele klankpatrone in "Jan" (uit 'n Onbekende jaartal) as 'n betekenisdraende element. Dié gedig is trouens ook een van my gunstelinge en illustreer van die belangrikste wesenstrekke van haar digkuns-bedrieglike eenvoud, suggestie, woordpresiesheid en funksionele woord-en klankherhaling.

    Tania Colyn ondersoek die romantiese verhouding tussen Ina Rousseau en Peter Blum binne die genderteorie en die intertekstuele wisselwerking in hulle digkuns. Colyn se ongenuanseerde en betwisbare stellings doen afbreuk aan haar bydrae. Die volgende opmerking is 'n voorbeeld hiervan:

    Die feit dat Rousseau meer as Blum gepubliseer het, kan dalk ook verduidelik word in die vrouedigter se konstante soeke na aanvaarding binne die mansgedomineerde literêre omgewing. Hambidge (2000:22) meen ook dat die vrouedigter se werk altyd "in proses" is. ...

    Ina Rousseau se werk was in 'n mate altyd in die proses van wording - sy het konstant haar werk hersien en dit kan as 'n demonstrasie van hierdie konstante proses gesien word. (126)

    Colyn se argumentering is nie oortuigend nie. Die feit dat Rousseau meer as Blum gepubliseer het, beteken gewoon dat sy meer produktief was en verskeie faktore kon hiertoe bydra. Wat het Rousseau se publikasiekwota met 'n "konstante soeke na aanvaarding" te doen? Die konstante hersiening van haar gedigte het veel meer met haar punteneurige geaardheid te make. Ek kan ook argumenteer dat alle digters (vroulike én manlike digters) 'n behoefte aan aanvaarding en erkenning het en dat die meeste digters (manlik of vroulik) aan hulle gedigte skaaf, sommiges meer obsessief as ander. Digterskap impliseer immers 'n kreatiewe proses wat op alle digters van toepassing is.

    Verder beweer Colyn die volgende:

    Die manlike omgewing waarin Rousseau geskryf het, kan ook duidelik gesien word as daar na die resensies van haar digwerk gekyk word. Dit is hoofsaaklik manlike skrywers wat resensies oor haar werk skryf. Al die resensies is baie positief oor Rousseau se werk en maak melding van die feit dat sy 'n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde is. Dit is egter belangrik om in ag te neem dat dit manlike skrywers is wat hierdie uitsprake maak en dat dit hul rol was om haar plek binne die Afrikaanse letterkunde te bepaal. Hier word die stryd van die vroueskrywer gedemonstreer - sy moet haarself as skrywer in die mansgesentreerde omgewing vestig, maar die manlike skrywer moet eers haar werk keur voordat sy die terrein kan betree. (126-127)

    Ek sukkel weereens om Colyn se argumentasie te begryp. Rousseau se werk is dikwels deur vroulike resensente geresenseer (M. Nienaber Luitingh, Anita Lindenberg, Ia van Zyl, Dorothea van Zyl, Joan Hambidge, Helize van Vuuren ens.). Ek begryp ook nie hoe manlike resensente aan Rousseau 'n mindere plek toeken en watter "stryd" sy dan moes stry as al die resensies oor haar werk dan so positief is nie. Waarom is dit enigsins problematies as manlike resensente positief reageer op Rousseau se werk? Alle skrywers moet hulself in literêre sisteme vestig en resensies is uiteraard evaluerend ongeag of die resensent en/of skrywer manlik of vroulik is. Dit is tog die doel van 'n resensie. Verder vorm keurprosesse nog altyd deel van gesonde uitgewerspraktyke. Watter verskil sou dit gemaak het indien vroulike skrywers (keurders) Rousseau se werk sou keur? Na my mening het Rousseau haar redelik goed in die literêre sisteem gevestig. Colyn behoort versigtiger te wees om 'n reeks generiese en simplistiese uitsprake op 'n ongenuanseerde wyse op Rousseau van toepassing te maak.

    Waar is die klinkklare bewyse dat manlike rolspelers ooit Rousseau uit die publikasiesisteem wou hou? Dit is inderwaarheid wat Colyn met haar uitsprake suggereer, maar terselfdertyd verklaar sy ook dat Rousseau in vergelyking met Blum "die suksesvolste skrywer was en dat haar werk 'n baie belangrike bydrae tot die Afrikaanse kanon gelewer het" (125). Ek weet nie hoe bepaal 'n mens grade van literêre sukses nie. Veral nie as dié grade ook nog ingereken word by 'n kortstondige romantiese verhouding wat slegs 'n paar maande geduur het.

    Daar is ongelukkig nog bykomende voorbeelde van vae formulerings en ondeurdagte uitsprake in Colyn se bydrae. Op 'n plek beweer sy "dat Rousseau as die meer 'skeppende' skrywer uit die verhouding" (125) met Blum getree het. Wat word bedoel met "skeppende"? Was Blum dan minder "skeppend" omdat hy minder gepubliseer het? Wat is die verskil tussen 'n skeppende en 'n (on)skeppende digter? Wat maak dit saak wie minder of meer gepubliseer of dan "geskep" het?

    Aan die einde van haar artikel verwys Colyn na 'n onderhoud wat Johann de Lange met Rousseau in 2005 voer. In dié onderhoud maak Rousseau die volgende opmerking: "Jy weet, die laaste keer wat ek teen Tafelberg uit is, met die kabelkar, was in 1950, saam met Peter Blum." Op basis van dié opmerking, maak Colyn die gevolgtrekking "dat Peter Blum steeds 'n belangrike figuur in haar lewe was" (131). Dit is aanmatigend en onoortuigend om só 'n gewigtige gevolgtrekking te maak op basis van 'n enkele verwysing na 'n minnaar van meer as vyftig jaar gelede. Die periferale stukkie bewyslewering wat Colyn aanbied is nie net yl nie, maar ook irrelevant.

    'n Uitsonderlike bydrae is Shané Kleyn se "Variante in die poësie van Ina Rousseau" waarin sy op 'n verantwoordbare en noukeurige wyse argivale bronne betrek. Kleyn toon op 'n boeiende wyse aan hoe punteneurig Rousseau haar digterlike praktyk bedryf het en selde tevrede was met haar verse. Sy het deurlopend wysigings aangebring met die gevolg dat verskeie variante van gedigte bestaan. Dikwels was haar veranderinge redelik ingrypend soos blyk uit die drukvariante van "Force majeure".

    In sy bydrae fokus Daniel Hugo op die digterlike gesprekvoering tussen Johann de Lange en Ina Rousseau. Rousseau kan tereg as een van De Lange se literêre moeders beskou word. Hugo toon aan die hand van 'n paar sleutelgedigte aan hoe digterlike gesprekvoering verskeie vorme kan aanneem en hoe Rousseau se digkuns 'n wesenlike invloed op De Lange se verse uitoefen.

    Francois Smith se oorsig van Rousseau se kortverhale is knap. Hy toon op 'n deeglike en insiggewende wyse die ooreenkomste tussen haar poësie en prosa aan. Verder dui hy oortuigend aan hoe verskillende permutasies van die offerandemotief in Rousseau se kortverhale neerslag vind.

    Rousseau se werk as literêre vertaler kom in Bernard Odendaal se oorsig aan die bod. Hy situeer dié nagelate aspek van haar literêre bedrywighede in tersaaklike literêr-historiese kontekste. Hy wys ook uit hoe Rousseau se vertalings van jeugboeke aansluit by onderstrominge in die veld van kinder- en jeugliteratuur.

    Die bundel bied 'n veelkantige perspektief op Rousseau se werk, aangesien die aksent óók val op haar bydrae as literêre vertaler, kortverhaalskrywer en perfeksionistiese herskrywer. Ek sou meer bydraes wou sien wat uitsluitlik op haar poësie fokus, want dit is tog die genre wat sterker verband hou met haar literêre nalatenskap. Aspekte van haar digkuns wat nie verreken is nie sluit onder meer die volgende in: die beoefening van spesieverse, representasies van die natuurwetenskap (veral die geologie), kunstenaarsfigure en die prominente aanwesigheid van voëls en musiek in haar werk. Ek mis ook 'n vergelykende bydrae waarin haar poëtiese werkswyse binne die groter oeuvre verreken word.

    Ina Rousseau: Digter van die kwiksilwerwoord is 'n handige inligtingsbron vir akademici en poësieliefhebbers. Dit dien ook as 'n wegspringplek om opnuut die Rousseau-oeuvre te verken en bied moontlikhede aan ander navorsers om voort te bou op bestaande navorsingsinsigte in die bundel. Die grootste eerbetoning aan Rousseau sal 'n resente versamelbundel wees waarin die somtotaal van haar gedigte opgeneem is. Tans is die outonome bundels en twee versamelings van haar werk uit druk en moeilik verkrygbaar.

     

    Verwysings

    Rousseau, Ina. 1954. Die verlate tuin. Kaapstad: A.A. Balkema.         [ Links ]

    Rousseau, Ina. 1970. Taxa. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Rousseau, Ina. 1978. Kwiksilwersirkel. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Rousseau, Ina. 1979. Soutsjokolade. Kaapstad: Human & Rousseau. https://doi.org/10.1007/978-1-349-16075-4_7        [ Links ]

    Rousseau, Ina. 1980. Heuningsteen. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Rousseau, Ina. 1989. Grotwater. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Rousseau, Ina. 1995. 'n Onbekende jaartal. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

    Rousseau, Ina. 2003. Die stil middelpunt: 'n keur, met nuwe gedigte. Saamgestel en ingelei deur Daniel Hugo. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]