SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.14 issue6 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

PER: Potchefstroomse Elektroniese Regsblad

Print version ISSN 1727-3781

PER vol.14 n.6 Potchefstroom Jan. 2011

 

Deliktuele aanspreeklikheid van die afrigter in skolesport - 'n sekuriteitsaangeleentheid

 

Delictual liability of the school sports coach a security matter

 

 

JP RossouwI; W KeetII

IMede-professor, Skool vir Opvoedkunde, Fakulteit Opvoedingswetenskappe, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). E-pos: jp.rossouw@nwu.ac.za
IIAttorney, Notary & Conveyancer, Pratt Luyt & De Lange, Polokwane. E-pos: wilna@prattluyt.co.za

 

 


SUMMARY

Sports law can be regarded as one of the latest developments in law. As applied to the school setting, and with special reference to sport coaching, this article deals with the five fundamental elements of the law of delict that influence and inform the execution of the duty of care of the educator-coach. This article pays special attention to the legal aspects related to the security, on the one hand, of the learners as participants, but also the educator-coach in his or her respective roles as coach, organiser of sport events, referee and sport official on the other.
The basic research question is: To what extent can educator-coaches increase their own security by ensuring safer participation of learners? How can these educators prevent or minimise the occurrence of serious injuries during practices (as coaches) and during meetings, contests or matches (as officials, such as being referees)? A certain amount of risk is typical of and inherent to most types of sports, especially those that involve physical contact or in which potentially dangerous implements are used. In contrast, many learners are coached by educators that do not necessarily have enough experience, skills or knowledge regarding the more advanced techniques of the specific sports code. This contrast between the inherent risks and the lack of expertise of many educator-coaches creates an amount of insecurity for both the participants and the coaches.
This article includes a discussion of the application of the five fundamental elements of the South African law of delict to school sports coaching. To illustrate the ways in which courts consider sports law issues, examples from court cases related to different types of sports are analysed, and, where applicable, cases from other countries and from outside the sphere of education are also included. This discussion is followed by an overview of those legal provisions that impact on sports participation at school.
The legal duty of care of all educators stems from the special relationship between an educator and a learner. Not acting to ensure the safety of a participant constitutes wrongfulness on the side of the educator-coach, which may lead to being held liable for damage to the participant. This article specifically considers the higher standard of care expected from the educator-coach, as compared to the normal reasonable person, based on the former's specific training in working with learners. The acts or omissions of higher qualified and more experienced educator-coaches will also be measured against a higher standard.
This article concludes with the recommendation that educator-coaches should not be overly reassured by section 60 of the South African Schools Act. Ensuring the safety and security of learners should still be the main priority for all educators. Educator-coaches should remember that, true to their calling as educators, and consistent with section 28(2) of the Constitution, a child's best interests are of paramount importance in every matter concerning the child.

Keywords: Delictual liability; school sports coach; education law; educator liability


 

 

1 Inleiding

Gail Ross, bestuurder van die Chris Burger/Petro Jackson-fonds het 2006 verklaar as 'n slegte jaar vir skolerugby:

Two young players are dead and four others have been confined to life in a wheelchair as South African rugby counts the cost of on-field injuries for this season1.

Een van die rolspelers wat sentraal staan in hierdie scenario is die afrigter. Die vraag wat gestel word, is naamlik: In watter mate kan en behoort onderwyser-afrigters, wat dikwels ook in wedstryde as skeidsregters optree, 'n voorkomende rol speel om beserings te voorkom?

In Lubbe v Jacobs2 word gerapporteer oor 'n graad 7-leerling wat ernstige gesigbeserings weens 'n opslaghokkiebal opgedoen het. Die leerder se ouers het aangevoer dat die afrigter aanspreeklik gehou moet word, aangesien sy nie die leerder genoegsaam ingelig het oor die risiko's wat aan die spesifieke spel verbonde is nie, wat ook 'n risiko vir die toeskouers rondom die veld insluit. Die hof het in die guns van die skool en opvoeder beslis op grond van die feit dat die leerder oud genoeg was om bewus te wees van die risiko wat verbonde is aan beserings wat uit die betrokke spelfaset kan voortvloei.3

Veral weens die inherente eienskappe van veral kontaksportsoorte, sluit sportdeelname op skool hoë risikovlakke in en kan dit beskou word as 'n sekuriteitsaangeleentheid vir 'n verskeidenheid rolspelers. Leerders word soms deur onderwysers afgerig wat nie noodwendig opgelei of ervare is nie. 'n Vraag wat gestel behoort te word, is of onderwyser-afrigters genoegsaam ingelig word oor die moontlikheid dat hulle aanspreeklikheid kan opdoen in die geval van beserings aan leerders tydens die beoefening van skoolsport. Daar rus sekere verantwoordelikhede op onderwyser-afrigters wat ontstaan uit die blote feit dat hulle afrig en sodoende in 'n gesags-en verantwoordelikheidsposisie teenoor leerlinge staan.

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996,4 en in besonder die Handves van Regte, het duidelike implikasies ten opsigte van die verantwoordelikhede van onderwyser-afrigters. Sekere gemeenregtelike regte5 is verskans in die Handves van Regte. Die beskerming van die leerder se fundamentele regte ingevolge artikel 28(2)6 en artikel 127 plaas verpligtinge op persone wat by die afrigting van skoolsport of sportdeelnemers in skole betrokke is om sportbeserings redelikerwys te voorsien en te voorkom. In die ontwikkeling van die nuwe menseregte-kultuur is mense tans meer geneig om regstappe in te stel teen 'n persoon wat na bewering inbreuk maak op hul fundamentele regte. As gevolg van die feit dat mense nou meer bewus is van hulle regte en die toenemende neiging om te dagvaar8 moet daar meer aandag geskenk word aan die aanspreeklikheid van die onderwyser-afrigter in die vervulling van sy verskillende rolle, naamlik sy rol as afrigter, organiseerder, skeidsregter en beampte.9

Uit die voorafgaande bespreking word dit duidelik dat onderwyser-afrigters die verantwoordelikheid dra om redelikerwys te verseker dat die leerders onder hulle toesig hulle spesifieke sportsoort in veilige omstandighede kan beoefen. Die vraag is nou egter in watter mate die onderwyser-afrigter aanspreeklik gehou kan word vir die beserings van leerders in die geval waar hulle wel beserings tydens die beoefening van skoolsport opdoen. Hierdie potensiële aanspreeklikheid het beslis sekuriteitsimplikasies vir die afrigter. Vervolgens sal daar dus eerstens 'n deeglike bespreking volg aangaande die beginsels wat ingevolge die gemenereg op afrigteraanspreeklikheid van toepassing is. Daarna sal ondersoek ingestel word na die bepalings van toepaslike wetgewing wat die aanspreeklikheid van onderwyserafrigters reguleer en laastens sal daar oorgegaan word tot die formulering van 'n gevolgtrekking en aanbevelings.

Sportreg10 kan internasionaal beskou word as een van die mees onlangse ontwikkelings in die reg 11 en as gevolg hiervan sal dit nodig wees om ook na buitelandse reg te verwys12 .

Dit is nie 'n regsvergelykende studie hierdie nie, maar juis as gevolg van die feit dat sportreg 'n veld is wat nog in 'n ontwikkelingstadium verkeer, veral in Suid-Afrika, sal daar na presedente uit ander regstelsels verwys word waar daar nie duidelike riglyne in die Suid-Afrikaanse reg bestaan nie. Dit hou veral verband met die toepassing van "tort law" in die Verenigde Koninkryk13 en die VSA.

 

2 Gemeenregtelike delikselemente

Die basiese uitgangspunt in die reg is dat skade (nadeel) rus waar dit val. Met ander woorde 'n persoon wat skade ly, moet die las daarvan self dra.14 Daar bestaan sekere regserkende gronde waar een persoon se skadelas na 'n ander verskuif kan word sodat laasgenoemde verplig word om eersgenoemde se skade te dra of dit te vergoed.15 Hierdie uitgangspunt is juis die basis van die deliktereg wat voorsiening maak vir die moontlikheid dat een persoon aanspreeklik gehou kan word vir die skade van 'n ander indien daar aan al die delikselemente voldoen word. 'n Delik is 'n onregmatige daad van 'n persoon wat met opset of weens nalatigheid skade aan 'n derde veroorsaak.16 Hierdie elemente sal vervolgens elk afsonderlik bespreek word.

2.1 Handeling: 'n Daad of 'n late

Die eerste delikselement wat normaalweg teenwoordig moet wees voordat aanspreeklikheid opgedoen kan word, is die handelingselement. 'n Handeling word gedefinieer as 'n willekeurige menslike doen of late.17 Willekeurigheid vereis dat die betrokke persoon oor die geestelike vermoë moet beskik om sy liggaamsbewegings te beheer, en dit word bevestig in Molefe v Mahaeng18 dat 'n onwillekeurige handeling nie aanleiding kan gee tot deliktuele aanspreeklikheid nie.

Aanspreeklikheid weens 'n late is in die algemeen meer beperk as aanspreeklikheid weens 'n positiewe optrede. Afrigters wat nalaat om hul spelers voldoende in te lig oor die risiko's verbonde aan die beoefening van die betrokke sportsoort, of nalaat om hulle ten opsigte van die regte tegniese uitvoering af te rig, wat die risiko van beserings sou kon beperk, kan aanspreeklikheid opdoen. Insgelyks mag aanspreeklikheid opgedoen word as gevolg van die late van die onderwyser-afrigter om op te tree waar daar 'n regsplig op die onderwyser-afrigter gerus het om positief op te tree en so skade vir 'n deelnemer of toeskouer te voorkom, maar die reg sal nie so maklik bevind dat daar 'n regsplig op iemand rus om positief op te tree en so skade vir 'n ander te voorkom nie.19 Die onregmatigheidsaspek, wat insluit die vraag na die bestaan van 'n regsplig, sal hierna volledig onder die soeklig kom.20

2.2 Onregmatigheid

'n Handeling wat nadeel veroorsaak, moet ten minste ook op 'n onregmatige wyse veroorsaak word, met ander woorde op 'n regtens ongeoorloofde of onredelike wyse, voordat aanspreeklikheid kan volg. Normoortreding moet dus aanwesig wees. 21 Neethling stel voor dat die basiese toets vir onregmatigheid die regsopvatting van die gemeenskap (boni mores) is.22 Die hof beslis in Universiteit van Pretoria v Tommie Meyer Films23 dat "deur die maatstaf van die regsoortuiging van die gemeenskap toe te pas, verkry die regstelsel die voordeel van die wisselwerking tussen die etos en geregtelike voorbeeld, en 'n soepelheid wat by meer presedentgebonde stelsels ontbreek". In hierdie saak het die hof beslis dat dit in stryd is met die gemeenskapsopvatting indien daar van 'n skeppende kunstenaar verwag word om eers toestemming te moet kry om die gemeenskap se geestesgoed in sy verhaal uit te beeld of aan te haal.24

'n Alternatiewe toets vir onregmatigheid wat in hierdie artikel van belang is, is of daar 'n verbreking van 'n regsplig was. 25 Aanspreeklikheid sal ingevolge hierdie toets slegs volg indien 'n regsplig op die persoon in die spesifieke geval gerus het om positief op te tree om skade te voorkom. Deliktuele aanspreeklikheid spruit voort uit die versuim om 'n regsplig na te kom en sodanige plig is gerig aan persone in die algemeen.26 'n Regsplig in die onderwyser-afrigter se betrokkenheid by leerders behels die bestaan van 'n versorgingsplig tydens die beoefening van skoolsport. Die nienakoming van hierdie regsplig kan onregmatigheid meebring.

Nalatigheid stel nie outomaties onregmatigheid daar nie, en hierdie twee elemente van die delik moet nie met mekaar verwar word nie - 'n denkfout wat kan ontstaan weens die invloed van die Engelsregtelike "tort of negligence".27 In Telematrix (Pty) Ltd t/a Matrix Vehicle Tracking v Advertising Standards Authority28 het Harms JA vir die eerste keer die toepassing van die beginsel van res perit domino volledig uiteengesit. Skade is berokken weens die verkeerdelike bevel om advertensies terug te trek. Die hof het dit gestel dat daar 'n uitsondering op die uitgangspunt in ons reg is, naamlik dat 'n persoon aanspreeklikheid sal opdoen vir die skade van 'n ander persoon indien voormelde persoon se daad of late onregmatig en nalatig was en skade vir laasgenoemde veroorsaak het. Die uitspraak geld spesifiek dispuutberegters, in die geval van Telematrix, die Advertising Standards Authority of SA (ASA). Partye se regte sal altyd deur hulle besluite geraak word, en daar sal altyd 'n party wees wat teleurgestel word. Hierdie amptenare kry ingevolge hierdie saak immuniteit teen eise vir nalatigheid, tensy mala fide bewys kan word. Hulle handelinge of lates word dus nie as onregmatig beskou nie, al kan nalatigheid bewys word, en hulle kan hulle besluite dus neem, sonder vrees vir eise.29

In sommige gevalle kan 'n besondere verhouding tussen partye 'n aanduiding daarvan wees dat die een party 'n regsplig teenoor die ander gehad het om skade te voorkom.30 Karns31 verwoord die verantwoordelikheid tussen twee partye, waar een party gesag oor 'n ander party uitoefen (byvoorbeeld in die geval van 'n onderwyser wat leerders in die beoefening van skoolsport afrig), soos volg:

The common law recognized that someone may owe a duty to control the conduct of another person based on the relationship between the two parties. This affirmative obligation to control was initially limited to certain relationships. Supporting this limited application was the argument that in some relationships, one of the parties is in a unique position to control the other party, and therefore owes a duty to exercise his special skill or judgment in an effort to protect third parties.

Die bestaan van 'n besondere verhouding tussen die onderwyser en die leerder vorm die basis vir die bestaan van 'n regsplig. In die geval van die onderwyser is die regsplig 'n versorgingsplig, en sal daar altyd 'n versorgingsplig op die onderwyser rus in die geval waar die onderwyser beheer uitoefen oor die leerders. Hamman32 stel voor dat die gemeenregtelike versorgingsplig, wat betrokke is by die deelname aan sport, die noodsaaklikheid is om voorsienbare fisiese beserings te vermy.

Uit bogenoemde is dit dus duidelik dat die eerste element wat 'n benadeelde party moet bewys, is dít dat daar 'n versorgingsplig tussen die betrokke partye bestaan het.33 Daar moet dus bewys word dat daar 'n spesiale verhouding tussen die onderwyser en leerling bestaan het en dat daar 'n versorgingsplig uit sodanige verhouding voortgevloei het. Tweedens moet die beseerde (eiser) bewys dat die onderwyser, in die uitoefening van sy versorgingsplig, nie die vereiste standaard van versorging toegepas het nie.34 Basson en Loubser35 is van mening dat die onderwyser-afrigters in loco parentis optree teenoor kinders wat aan sport deelneem en bewus moet wees van beserings wat kan voortspruit uit kinders se impulsiewe en soms irrasionele optredes asook uit hul gebrek aan vaardighede en verstandigheid, en dit dan voorkom. In vroeëre sake het die howe die standpunt ingeneem dat 'n onderwyser in loco parentis teenoor die leerder by die skool staan; gevolglik moes die onderwyser soveel sorg teenoor die leerder aan die dag lê as wat 'n redelike ouer in soortgelyke omstandighede sou. 36 Meer onlangse beslissings van die Australiese howe het wegbeweeg van sodanige opvatting, naamlik met die siening dat 'n onderwyser in loco parentis nie oor die volle omvang van die verantwoordelikheid, en dus die versorgingsplig, van die ouer beskik nie.37 Dit strek in baie opsigte verder as die verantwoordelikhede van 'n ouer. 'n Skool moet nie gelykgestel word aan 'n huis nie, want daar bestaan talle gevare by die huis wat onredelik sou wees indien dit by die skool sou ontstaan.38

In Geyer v Downs39 het die hof sekere faktore oorweeg om vas te stel of die onderwyser sy versorgingsplig nagekom het, naamlik die leerder se persoonlike eienskappe (byvoorbeeld ouderdom, intellektuele en fisiese vermoëns, vaardigheidsvlak en die onvoorspelbare optrede van jong persone), en die graad van erns van besering wat waarskynlik opgedoen sal word in dergelike omstandighede.40

Om te illustreer hoe ouderdom en die onvoorspelbare optrede van jong persone 'n effek kan hê op die versorgingsplig van 'n onderwyser, kan daar gekyk word na die beslissing in Peter Wynkwart v Minister of Education, Highlands Primary School,41 waar die applikant se seun ernstige beserings op die skoolterrein opgedoen het terwyl hy op pad was huis toe. Op hierdie dag het hy besluit om deur hek 4 die skool te verlaat, 'n uitgang wat nie in gebruik was nie en gevolglik gesluit was. In sy poging om oor die hek te klim het hy gegly en op sy kop geval. Hy het sy werwelkolom ernstig beseer en het as gevolg hiervan onmiddellik die gebruik van sy ledemate geheel en al verloor. Die hof het a quo beslis dat die skool aanspreeklik gehou moet word aangesien daar by die skool 'n plig op die onderwyser gerus het "to escort his or her students to safety". So 'n plig is toepaslik waar daar met jong kinders, wie se gedrag as impulsief getipeer kan word, gewerk word; soveel te meer by die spesifieke skool wat langs 'n gevaarlike pad geleë is.42 Oosthuizen en De Waal43 voer aan dat die hof 'n te swaar las plaas op die onderwyser, aangesien dit nie vir 'n onderwyser moontlik is om elke oomblik van die dag toesig oor elke leerder te hou nie.

Op appèl word die beslissing van die Wynkwart-saak44 omvergewerp. Die regsvraag in die betrokke geval het gehandel oor welke stappe deur die appellante gedoen moes word wat in die betrokke omstandighede redelik sou wees. Die hof beslis dat waar die leerders nie onder konstante toesig van die onderwyser is nie, dit nie op sigself neerkom op die nienakoming van sy versorgingsplig nie. Die noodsaaklikheid van toesighouding hang af van die risiko waaraan die leerders blootgestel word. Die hof beslis dat dit nie redelik is om van die skool te verwag om elke individuele kind onder konstante toesig te hou nie en gevolglik het die onderwyser (en insgelyks die skool) nie versuim om sy versorgingsplig na te kom nie en kan hy nie aanspreeklik gehou word nie. Indien hierdie beginsel in sportverband toegepas word, waar onderwyser-afrigters hul versorgingsplig in die sportarena moet nakom, kan daar opgemerk word dat die hof ondersoek sal instel daarna of die onderwyser-afrigter redelike stappe gedoen het om die sportdeelnemers onder sy toesig te weerhou van beserings. Dit behels egter nie, in die lig van die Wynkwart-uitspraak, dat die onderwyser-afrigter konstant die leerders teen elke risiko tydens die beoefening van die sportsoort moet beskerm nie. Die onderwyser kom sy versorgingsplig voldoende na indien hy die deelnemers behoorlik inlig oor gevare, en ook groepe en apparate so bestuur dat die risiko beperk of uitgeskakel word.45 Soortgelyk is daar ook 'n versorgingsplig wat op skeidsregters, spelers (ten opsigte van opponente en toeskouers) en 'n verskeidenheid ander rolspelers rus.46

Waar jong kinders betrokke is, rus daar 'n hoër standaard van sorg op 'n onderwyser.47 Dit impliseer dat, wanneer 'n persoon met jong kinders te make het, hy bewus moet wees van hul beperkte vermoë, sowel as hul impulsiewe en onbesonne optrede.48 Slegs redelike toesighouding en sorg word verwag aangesien 'n onderwyser-afrigter nie aanspreeklik gehou kan word indien 'n besering steeds sou plaasvind ten spyte van die feit dat die onderwyser-afrigter teenwoordig was en redelik opgetree het nie. Die rede hiervoor is dat die optrede van kinders nie altyd voorspel kan word nie.49

By die deelname aan sport kan daar normaalweg aanvaar word dat die deelnemers die inherente risiko's verbonde aan die sport aanvaar het (volenti non fit iniuria), met ander woorde toestemming verleen het. Een van die vereistes vir regsgeldige toestemming is dat die toestemmende persoon wilsbevoeg moet wees.50 Daar moet in gedagte gehou word dat by die deelname aan skoolsport minderjarige kinders betrokke is. Wilsbevoegdheid veronderstel die vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei en die handeling dienooreenkomstig te rig. 51 Die vraag sal dus ontstaan ten opsigte van in watter mate 'n minderjarige hierdie onderskeid kan tref en hierdie leerstuk kan moontlik net in 'n beperkte mate toepassing vind.52 Hierdie leerstuk sal ook nie die versorgingsplig tussen die betrokke partye uitskakel nie, soos beslis deur die Australiese hof in Rootes v Shelton:53

Whether or not such duty arises and if it does, its extent, must necessarily depend in each case upon its own circumstances. In this connection, the rules of the sport or game may constitute one of those circumstances. They are neither definitive of the existence nor of the extent of the duty; nor does their breach or non-observance necessarily constitute a breach of any duty found to exist.

Met betrekking tot die onderwyser-afrigter moet gekwalifiseerde en ervare afrigters beter kennis dra van die gevare van spesifieke sportverwante situasies as die sogenaamde "persoon op straat", omdat daar regtens 'n hoër mate van sorg verwag word van sodanige afrigters.54 Die standaard van sorg is dit wat van die redelike afrigter verwag word, met inagneming van die spesifieke afrigter se kennis en ervaring. Daarvolgens sal die mate van sorg wat redelikerwys van hom verwag word, vasgestel word. Afrigtingsaktiwiteite wat waarskynlik binne die versorgingsplig val, sluit in55 :

1) behoorlike toesighouding om beskerming teen ongelukke en beserings te verseker;

2) behoorlike voorligting met betrekking tot spelreëls en potensiële gevare;

3) die doen van gepaste stappe na die besering van 'n deelnemer; en

4) versekering dat omgewingsoorwegings nie 'n bedreiging van besering vir die deelnemers inhou nie.

Die nakoming van spelreëls moet ook in ag geneem word by die bepaling of aanspreeklikheid opgedoen is of nie. Ernstige en opsetlike oortredings van die reëls van 'n spel, wat aanleiding gee tot 'n besering, sal as onregmatig beskou word.56 As sodanig, kan die aard van 'n speler se besering nie deliktuele aanspreeklikheid vestig nie, byvoorbeeld in strydsportsoorte soos rugby waarby ernstige beserings gereeld opgedoen word, selfs waar geen spelreël oortree is nie of waar daar slegs sprake van geringe of ligte reëloortreding was. 'n Geringe reëloortreding het dus nie 'n skending van 'n sorgsaamheidsplig tot gevolg nie.57

In die Engelse saak van Condon v Blasi58 het 'n voetbalspeler skadevergoeding geëis van 'n opponent vir beserings wat in 'n wedstryd opgedoen is as gevolg van 'n laat duikslag wat deur die opponent uitgevoer is. Die hof het beslis dat daar 'n duidelike nienakoming van die verweerder se versorgingsplig teenoor die eiser was. Die verweerder was skuldig aan ernstige en gevaarlike vuilspel. Die verweerder se optrede het gevolglik nie voldoen aan die standaarde wat redelikerwys van enige speler van die betrokke spel verwag kon word nie. By die bepaling van onregmatigheid sal die hof dus die reëls en gebruike van die spesifieke sport en die spesifieke omstandighede van elke geval in ag neem.

By gholf rus daar 'n plig op 'n speler om sorg te dra dat, wanneer hy die bal speel, ander persone nie binne trefwydte daarvan is nie.59 Onregmatigheid word bepaal deur die vraag of die verweerder met redelikheid opgetree het al dan nie. In die gholf-verwante saak van Clark and Another v Welsh60 het die hof die redelikheid van die verweerder geoordeel aan die hand van die reëls en konvensies van die sport, die verwagte sorgstandaard, die vaardigheid wat van 'n spesifieke speler verwag kan word, en die omstandighede van die insident wat aanleiding gegee het tot die besering.61

'n Sportbeampte, aan die ander kant, is gemoeid met die verantwoordelikheid om te verseker dat die spel volgens die spelreëls gespeel word en "consequently owes an obligation to all participants to control on-the-field conduct appropriately".62 Die skeidsregter moet behoorlik toesig hou en dus hou sy versorgingsplig in dat hy behoorlike beheer oor die spel moet behou. Die mate waarin die versorgingsplig 'n sekuriteitsaangeleentheid vir 'n sportbeampte kan wees, is gedemonstreer in Smoldon v Whitworth,63 waar die skeidsregter van 'n rugbywedstryd in Engeland aanspreeklik gehou is vir die ernstige beserings van 'n speler64 omdat die skeidsregter versuim het om behoorlik beheer oor die spel uit te oefen. 'n Soortgelyke uitspraak is gelewer in die Walliese saak van Vowles v Evans and Others,65 waar 'n skeidsregter van 'n senior rugbywedstryd aanspreeklik gehou is na 'n ernstige besering aan 'n voorryspeler66 .

Skole kan ook aanspreeklik gehou word vir die nalatige optrede van onderwyserafrigters, maar kan ook direk aanspreeklik gehou word vir sekere funksies binne die sportprogram:67

Provision for adequate and timely medical services, and selection of competent coaches are among the responsibilities assumed by the school administration. Assumption of these duties gives rise to a duty of care owed to athletes and creates the possibility of a negligence lawsuit.

Artikel 60 van die Suid-Afrikaanse Skolewet68 bepaal dat die Staat aanspreeklik is vir enige skade of verlies wat voortspruit uit enige optrede of late in verband met enige skoolaktiwiteit wat deur 'n openbare skool uitgevoer is en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het indien artikel 60 nie in werking was nie. Bogenoemde pligte en verantwoordelikhede (genoem in die aanhaling) sal dus dié van die staat wees. Indien die staat gevolglik nie hierdie pligte en verantwoordelikhede nakom nie, sal dit neerkom op die nienakoming van die versorgingsplig en sal die staat deliktueel aanspreeklik gehou kan word.

2.3 Skuld

Skuld is die verwytbare gesindheid of gedrag van iemand wat onregmatig opgetree het, met die twee verskyningsvorme opset (dolus) en nalatigheid (culpa). Opset bestaan op sy beurt uit twee elemente, naamlik wilsgerigtheid en onregmatigheidsbewussyn. Ten aansien van wilsgerigtheid tydens skuld, beslis die hof in S v Goosen69 dat opset in die geval van 'n misdaad (en dus ook 'n delik) waarvoor opset vereis word, gerig moet wees daarop om die gevolg te veroorsaak op wesenlik dieselfde wyse as waarop sodanige gevolg in werklikheid gematerialiseer het.70

By nalatigheid word 'n persoon verwyt vir sy onagsaamheid, onsorgvuldigheid of onversigtigheid omdat hy, deur onvoldoende ag te slaan op dit wat hy doen, nie voldoen aan die standaard van versigtigheid wat regtens van hom verlang word nie. Oosthuizen71 voer aan dat 'n persoon nalatig is indien sy optrede nie aan die standaard van sorg wat regtens van hom verwag word, voldoen nie.

Die algemene maatstaf wat in die Suid-Afrikaanse deliktereg gebruik word om nalatigheid te bepaal, is die objektiewe standaard van die redelike persoon.72 In die spesifieke omstandighede van onderwyser-afrigters is dit egter eerder gepas om die toets van die redelike deskundige73 as standaard te gebruik, aangesien die proses van afrigting as 'n deskundige aktiwiteit beskou word. Daar behoort wel steeds 'n element van redelikheid te bestaan, en die standaard behoort dus nie dié van die hoogste mate van kundigheid in die betrokke rol as afrigter te wees nie. Daar word dus nie verwag dat die onderwyser-afrigter oor dieselfde kundigheid behoort te beskik as wat van 'n professionele afrigter op provinsiale of nasionale vlak verwag kan word nie. Labuschagne74 vermeld in dié verband dat by beserings wat reeds plaasgevind het, daar nie aan 'n onderwyser-afrigter dieselfde eise as aan 'n mediese dokter gestel kan word nie, maar hy moet wel veral op rug-en nekbeserings bedag wees en daarvolgens met omsigtigheid optree.

Volgens Labuschagne75 word daar hoë eise aan afrigters gestel as gevolg van die hoë beseringsrisiko wat veral by gevorderde oefeninge in gimnastiek bestaan; dus sal die blote aanvaarding van die funksies en verpligtinge van 'n afrigter, sonder die nodige kundigheid en vaardighede, alreeds nalatigheid daar kon stel. Die stelreël waarna hier verwys word, is dié van imperitia culpae adnumerator - onkundigheid of onbekwaamheid word op sigself as nalatigheid beskou. Neethling en Potgieter76 wys egter daarop dat hierdie stelreël misleidend is, aangesien die Suid-Afrikaanse reg blote onkunde nie gelyk stel aan nalatigheid nie. In skolesportafrigting sal die imperitia-reël wel toegepas kan word wanneer 'n onderwyser-afrigter hom of haar begeef op 'n terrein waar sekere spesifieke deskundigheid vereis word, wel wetende dat hy of sy nie oor genoegsame kennis, vaardigheid of ervaring beskik nie of waar daar redelikerwys van hom of haar verwag kan word om bewus te wees daarvan dat hy of sy nie oor die nodige kennis, vaardigheid of ervaring beskik nie. Hierdie beginsel word in Minister of Safety and Security v Rudman77 soos volg beskryf:

[I]t is negligent to engage voluntarily in any potentially dangerous activity unless one has the skill and knowledge usually associated with the proper discharge of the duties connected with such activity.78

Die hof beslis dat hierdie beginsel slegs geld indien die persoon wat die handeling verrig, weet of redelikerwys veronderstel is om te weet dat hy nie oor die nodige deskundige kennis of vaardigheid beskik nie, wat die gevolg het dat die daad op sigself onregmatig is.

Dit kan byvoorbeeld gebeur dat 'n onderwyser afrigting onderneem in sportsoorte met hoë vlakke van risiko, byvoorbeeld gevorderde gimnastiek, duik, trampolien-of paalspring, waar hoë vlakke van tegniese kennis nodig is om die korrekte uitvoering van die deelnemer te verseker. Normaalweg kan hierdie tipe afrigting gekoppel word aan 'n lang, goed beplande opbou-en kondisioneringsproses, waartydens basiese vaardighede eers deur 'n deelnemer bemeester moet word voor oorgegaan kan word tot meer gevorderde bewegings. 'n Minder kundige afrigter kan onbewus wees hiervan.

In die skoolkonteks is groot omsigtigheid dus nodig by die skoolhoof en sportbestuurders in die toedeling van take in sportafrigting. Onervare, swakker gekwalifiseerde en minder kundige opvoeders mag nie in die posisie geplaas word waar hulle, volgens opdrag, bo hulle vermoëns moet afrig nie.

Die toets of die onderwyser sy versorgingsplig voldoende nagekom het, was in Geyer v Downs79 ter sprake. Die hof beslis dat daar vasgestel moet word of die onderwyser in die huidige geval opgetree het soos 'n redelike onderwyser sou optree in daardie omstandighede. Die hof het in sy beslissing sekere faktore opgeweeg wat onder andere die voorsienbaarheid van die risiko met betrekking tot die aktiwiteit en die koste om die risiko te voorkom, insluit.

Die Oberlandesgericht80 wys daarop dat aanspreeklikheid vir 'n besering opgedoen word indien die skuldige skending van 'n spelreël aanleiding gegee het tot die besering, maar dat nalatige reëlskending uit oorywer, opgewondenheid, onbevredigende speltegniek, ontbrekende liggaamsbeweging of soortgelyke gronde nie aanspreeklikheid vestig nie.81

Soos aangedui in die bespreking rakende onregmatigheid, stel die blote skending van 'n spelreël in Suid-Afrika nie wederregtelikheid daar nie. Hierdie beginsel is ook op skuld van toepassing. Slegs grof nalatige en opsetlike spelreëlskending wat 'n besering van 'n ander deelnemer aan sodanige sportsoort tot gevolg het, kan lei tot aanspreeklikheid.82 Die Duitse howe is van mening dat die tempo waarteen 'n sport gespeel word, ook by bepaling van nalatigheid in berekening gebring moet word. In sekere sportsoorte, soos gholf, het deelnemers genoeg tyd om elke handeling met sy moontlike konsekwensies behoorlik te oorweeg, 83 maar by strydsportsoorte (kontaksport), byvoorbeeld rugby of sokker, moet spelers dikwels in 'n breukdeel van 'n sekonde beslissings vel. Hier kan foute gevolglik begaan word, ook in die sin van reëlstrydighede, maar reëlskendings is nie as sodanig nalatig nie.84

Soos reeds bespreek onder onregmatigheid, rus daar 'n versorgingsplig op die onderwyser-afrigter, wat insluit die neerlê van die nodige veiligheidsmaatreëls. By ongevalle wat plaasvind omdat daar nie genoeg voorsiening gemaak is nie, mag daar ook sprake wees van 'n fout of onoplettendheid van die slagoffer self. Die moontlikheid van medewerkende of bydraende skuld85 lei tot die vraag of die besering of skade86 in sy geheel aan die gebrek aan behoorlike toesig of voorsorgmaatreëls toegeskryf behoort te word en of dit gedeeltelik aan die nalatigheid van die slagoffer toegeskryf behoort te word.

Indien 'n afrigter 'n deelnemer aan sport opsetlik beseer, kan hy daarvoor strafregtelik sowel as deliktueel aanspreeklik gehou word, mits daar aan al die ander elemente voldoen word. 'n Afrigter wat die moontlikheid voorsien het dat 'n leerder beseer of gedood kan word en onverskillig daarteenoor staan, maak hom skuldig aan dolus eventualis.87 Hierdie moontlikheid wat die afrigter moes voorsien het, moes nie slegs as 'n reële moontlikheid nie, maar ook as 'n konkrete moontlikheid voorsien gewees het.88

2.4 Kousaliteit

Vir die vestiging van aanspreeklikheid moet daar voorts bewys word dat die dader die skade veroorsaak het.89 Die bestaan van sowel feitelike kousaliteit as juridiese kousaliteit moet bewys word. By die vasstelling of die handeling 'n feitelike oorsaak was van die nadelige gevolg of skade, moet al die feite en omstandighede ondersoek word en moet daar op grond van kennis en ervaring besluit word of die skade uit die handeling wat deur die dader verrig is, sou gevolg het.90

Feitelike kousaliteit word vasgestel aan die hand van die conditio sine qua non-toets:

Hiervolgens is 'n handeling oorsaak van 'n gevolg indien die handeling nie weggedink kan word sonder dat die gevolg tegelyk verdwyn nie. Die handeling moet met ander woorde conditio sine qua non vir die gevolg wees.91

In Minister of Police v Skosana92 was een van die vrae wat die hof moes beantwoord, naamlik of die nalatige optrede van die polisie die oorsaak van Skosana se dood was.93 Die hof wend hier die conditio sine qua non-toets aan deur te vra of die skade (die dood van Skosana) sou ingetree het as dit nie was vir die optrede of late van die polisiebeamptes nie.94 Die hof beslis dat die optrede van die polisiebeamptes die oorsaak van Skosana se dood was. 95 Die sukses van die conditio sine qua non-teorie by veroorsaking deur 'n late kan verklaar word aan die hand van die feit dat elke persoon weet dat hy sekere gevolge kan voorkom deur by die kousale verloop van gebeure in te gryp.96

Toegepas op afrigting in skole kan dit gestel word dat die onderwyser-afrigter aanspreeklik gehou kan word vir 'n versuim om positief op te tree waar daar van die onderwyser-afrigter verwag kan word om die besering van 'n leerder te voorkom deur by die kousale verloop van gebeure in te gryp. Die nie-beskikbaarstelling in hoërisikosportsoorte van beskikbare beskermende toerusting of veiligheidsmatte wat ernstige beserings kan verhoed, is 'n voorbeeld hiervan. Die onderwyser-afrigter sal aanspreeklikheid kan opdoen indien daar bewys kan word dat die nadeel vir die leerder nie sou ingetree het nie indien die onderwyser positief opgetree het. Dit geld ook vir gevalle waar hy na regte hom daarvan moes weerhou het om 'n leerder met opset of weens nalatigheid te beseer. Enige vorm van lyfstraf kan dien as voorbeeld van laasgenoemde.

Die blote feit dat die optrede of late die feitelike oorsaak was vir skade, is nie voldoende vir die aanname dat daar 'n oorsaaklike verband tussen die handeling en die nadeel is nie.97 Dit sal onbillik wees om onbeperkte gevolgsaanspreeklikheid te moet aanvaar; dus moet daar volgens die beginsel van juridiese kousaliteit vasgestel word presies watter skadelike gevolge wat uit 'n handeling voortspruit, aan 'n dader toegeskryf moet word.98 Daar kan gevolglik nie aangevoer word dat 'n onderwyserafrigter die besering van 'n kind veroorsaak het bloot omdat hy tussenbeide kon getree het om die nadeel te voorkom nie. Dit moet ook regtens billik wees om die onderwyser-afrigter vir die betrokke besering of nadeel aanspreeklik te hou. Juridiese kousaliteit voorkom die moontlikheid dat 'n persoon in 'n ketting van gebeure wat almal skadelik is, vir alle skade aanspreeklik gehou kan word. Waar 'n handeling en die gevolglike skade te ver van mekaar verwyderd raak, word die dader ingevolge die beginsel van juridiese kousaliteit beskerm99 .

In die skoolsport-milieu mag dit gebeur dat 'n opvoeder wat 'n rugbyspan afrig, versuim om voor 'n wedstryd beskermende sponsblokke om die rugbypale aan te bring. 'n Speler word direk as gevolg van hierdie late ernstig beseer wanneer hy in die paal vas duik. Ingevolge juridiese kousaliteit kan die onderwysowerheid wel vir die aanvanklike skade - mediese koste, pyn en lyding - aanspreeklik gehou word. Sou 'n verdere terugslag, soos 'n valslag in die hospitaal 'n week later, die besering drasties vererger en veroorsaak dat die speler 'n maand langer in die hospitaal moet deurbring, kan die onderwysowerheid nie verdere aanspreeklikheid daarvoor opdoen nie.

2.5 Skade

Skade is die nadelige inwerking op enige vermoëns100of persoonlikheidsbelang101 wat die reg as beskermingswaardig ag. 102Hierdie element van skade is fundamenteel vir die deliktuele vergoedingsaksie, wat impliseer dat daar die een of ander nadeel moet wees waarvoor die reg vergoeding beskikbaar stel.103 Skadevergoeding is die geldelike waarde van skade wat aan 'n persoon gegee word met die oogmerk om sy skade wat reeds gely is, sowel as vir die toekoms, so volledig as moontlik te kanselleer.104

Die tipe skadevergoeding wat in die geval van beserings tydens skoolsport geëis sal word, kan onderverdeel word in vermoë-en nie-vermoënskade. In die geval van ernstige beserings sal vermoënskade mediese uitgawes asook verlies aan inkomste en verlies aan verdienvermoë insluit.105 In die geval van nie-vermoënskade kan eise met die oog op kompensasie ingestel word vir pyn en lyding, misvorming, verlies aan algemene gesondheid, verlies aan lewensgenietinge, verkorte lewensverwagting en emosionele skok deur gebruik te maak van die aksie weens pyn en lyding.106

In 'n geval waar die skade veroorsaak is deur beide die onregmatige en nalatige of opsetlike optrede van die onderwyser-afrigter en die bydraende skuld van die leerder, sal die howe die skade kan verdeel tussen die betrokke partye107 ooreenkomstig die bepalings van die Wet op die Verdeling van Skadevergoeding.108

The test that is applied is to what extent the respective parties' conduct deviated from that of the standard of the reasonable person. If it is established that the learners contributed to their damages, they will have to bear a portion and the educator (or the school) the balance of the damage.109

Ingevolge artikel 1 van die Wet op Verdeling van Skadevergoeding110 sal 'n persoon wat medewerkend nalatig was ten aansien van sy eie beserings, se eis dienooreenkomstig verminder word.

Naas die delikteregtelike bepalings, soos hierbo uiteengesit is, is daar 'n aantal statutêre bepalings wat ook 'n rol speel by die kwessie van die aanspreeklikheid van die onderwyser-afrigter. Hierdie bepalings word vervolgens kortliks bespreek.

 

3 Statutêre bepalings

Daar is verskeie stukke wetgewing wat die deelname aan sport reguleer. Die eerste wat genoem kan word, is die Wet op Sport en Rekreasie.111 Hierdie wet reël onder andere die bevordering en ontwikkeling van sport, asook die voorsiening van hulpbronne vir die beoefening van sport en die opleiding van sportafrigters. Daar is egter geen bepaling in die wet wat handel oor die moontlike aanspreeklikheid van die partye wat by die deelname aan sport betrokke is nie. Verder is daar ook die Wet op die Suid-Afrikaanse Sportkommissie112 waar die lang titel van die wet die doel daarvan weergee: dit is eerstens vir die stigting van die Suid-Afrikaanse Sportkommissie; tweedens om voorsiening te maak vir die Kommissie se magte ten opsigte van sportadministrasie en -ontwikkeling, asook die bevordering van rekreasie; en laastens om sake in verband hiermee te reël. Hier is dus ook geen regulering van die aanspreeklikheid van persone wat by die deelname aan sport betrokke is nie.

Die SACE Code of Professional Ethics, wat as bylae dien tot die Wet op die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders,113 bevat bepalings wat van toepassing is op hierdie betrokke artikel. Item 3.2 van die Kode bepaal dat 'n onderwyser die uniekheid, individualiteit en spesifieke behoeftes van elke leerder moet erken en daarvolgens leiding aan die leerder moet gee en hom/haar moet aanmoedig om sy of haar potensiaal te verwesenlik. Gevolglik moet die onderwyser-afrigter ook by die afrigting van sport bogenoemde verpligting in gedagte hou en verseker dat die leerder nie gedwing word om op hoër vlakke te presteer as wat sy vermoë hom toelaat nie, as gevolg waarvan hy of sy beserings kan opdoen. Item 3.5 bepaal verder dat die onderwyser 'n leerder nie fisies of psigologies moet mishandel nie. Indien 'n onderwyser-afrigter nie sy pligte en verantwoordelikhede nakom nie of indien hy onregmatig optree, en die leerder word as gevolg daarvan beseer, kan daar aangevoer word dat die onderwyser-afrigter die leerder fisies mishandel het. Die belangrikste bepaling wat hier van toepassing is, is die verantwoordelikheid van die onderwyser om redelike stappe te doen om die veiligheid van die leerder te verseker.114 Hier kom die gemeenregtelike versorgingsplig van die onderwyserafrigter, soos vroeër bespreek is, weer ter sprake: die plig om die leerder se veiligheid tydens sy deelname aan skoolsport te verseker deur die leerder byvoorbeeld in te lig oor die risiko's wat verbonde is aan die deelname aan 'n spesifieke sportsoort, en die verantwoordelikheid van die onderwyser-afrigter om te verseker dat die sportbeoefening in 'n veilige omgewing plaasvind.

Daar moet voorts gelet word op die rol wat die skool se beheerliggaam in die hele kwessie van aanspreeklikheid tydens sportdeelname van leerders speel. Kragtens artikel 15 van die Skolewet is 'n openbare skool 'n regspersoon wat beskik oor die regsbevoegdheid om sy funksies te verrig. Artikel 16 bepaal dat die funksionaris van sodanige openbare skool die beheerliggaam is wat hul funksies en verpligtinge ingevolge die Skolewet moet uitoefen. Artikel 20 bepaal die basiese funksies van die beheerliggaam van 'n skool, wat behels die instandhoudings-, ondersteunings-en verbeteringsfunksie van die beheerliggaam. Artikel 21 behels bykomstige funksies van 'n beheerliggaam wat slegs van toepassing is op die openbare skole wat aansoek gedoen het daarvoor. Hierdie funksies sluit in die instandhouding van die skoolgeboue en -eiendom asook die bepaling van welke sportaktiwiteite by die skool aangebied sal word. Die beheerliggaam het gevolglik 'n mate van aanspreeklikheid wat opgedoen kan word indien 'n leerder beseer word as gevolg van die versuim van die beheerliggaam om hul funksies en verpligtinge na te kom.

Artikel 60 van die Skolewet is waarskynlik die belangrikste artikel wanneer aanspreeklikheid vir leerders se beserings ter sprake kom. Soos vroeër genoem, bepaal artikel 60 dat die Staat aanspreeklik is vir enige skade of verlies wat voortspruit uit enige optrede of late in verband met enige skoolaktiwiteit deur 'n openbare skool uitgevoer is en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het indien artikel 60 nie in werking was nie. Hierdie bepaling is toegepas in die saak van MEC for Education and Culture, Free State v Louw.115 Die basiese vraag voor die hof was of die Staat aanspreeklik gehou kan word vir skade wat deur die nalatige optrede van 'n werknemer van die skool veroorsaak is; dus 'n persoon wat nie in diens van die Staat was nie116. Volgens die beginsels van middellike aanspreeklikheid is die werkgewer - in hierdie geval die skool - normaalweg aanspreeklik vir skade wat deur die nalatige optrede van 'n werknemer gedurende die uitvoering van sy pligte veroorsaak is. Die Hoogste Hof van Appèl het die appèl van die LUR verwerp deur te bepaal dat die feit dat dit 'n werknemer van die skool was, nie die Staat se aanspreeklikheid wegneem nie. Die aanspreeklikheid het nie primêr te make met kontraktuele verpligtinge van die skool kragtens art. 20(4) en (5) van die Skolewet117 nie, maar eerder met die feit dat die insident tydens 'n skoolaktiwiteit plaasgevind het.

 

4 Gevolgtrekking en aanbevelings

Landswyd is duisende skoolkinders weekliks betrokke by die beoefening van skoolsport. Dit beteken dat daar 'n groot aantal onderwysers betrokke is by die afrigting sowel as organisering van hierdie tipe buitemuurse aktiwiteite, wat almal in 'n mindere of meerdere mate 'n risiko vir die deelnemers inhou. Die sekuriteit van sowel deelnemers (op grond van hul deelname) as afrigters (op grond van hul regsaanspreeklikheid) kom dus in die gedrang. In sommige gevalle is die onderwyser-afrigter nie noodwendig opgelei of ervare in die spesifieke sportsoort nie. Die feit dat 'n onderwyser-afrigter verpligtinge aanvaar sonder dat hy oor die nodige kundigheid en vaardigheid beskik, stel alreeds potensiële nalatigheid daar ingevolge die imperitia culpae adnumerator-stelreël. Normaalweg is die onderwyserafrigter hoogs kundig rakende afrigtingstegnieke en die gepaardgaande opvoedkundige benadering, maar daar bestaan waarskynlik by baie 'n gebrek aan regskundigheid wat daartoe lei dat onderwyser-afrigters nie die implikasies van hulle handelinge besef nie. Dit is dus nodig om onderwyser-afrigters in te lig oor die verantwoordelikhede wat op hulle rus en oor die moontlikheid dat hulle aanspreeklikheid kan opdoen indien 'n leerder tydens die beoefening van skoolsport onder die toesig van sodanige onderwyser-afrigter beseer word. Die onderwyser moet bewus gemaak word van die verpligtinge of verantwoordelikhede wat hulle opgelê word deur sowel artikel 12 (vryheid en sekerheid van persoon) as artikel 28 (die kind se beste belang) van die 1996 Grondwet, soos vroeër bespreek.118

Die verantwoordelikheid van die onderwyser hou in dat die leerders onder hulle toesig hulle spesifieke sportsoort in veilige omstandighede moet kan beoefen. Hierdie verantwoordelikheid ontstaan vanuit die versorgingsplig van die onderwyserafrigter teenoor die leerder. Die onderwyser is in 'n besondere posisie om beheer uit te oefen oor die leerder en gevolglik rus daar 'n versorgingsplig op die onderwyser om sy gespesialiseerde vermoë en professionele oordeel te gebruik om die leerder binne redelike perke te beskerm. Hieruit is dit duidelik dat dit belangrik is dat die onderwyser-afrigter oor genoegsame kennis en vaardighede moet beskik om die leerders veilig aan die betrokke skoolsport te laat deelneem.

Die nakoming van die versorgingsplig moet getoets word deur vas te stel of die redelike deskundige, in die posisie van die onderwyser-afrigter, die skade sou voorsien, en indien wel, redelike stappe sou gedoen het om die skade te voorkom. Die onvoorspelbare optrede van jong persone hou egter implikasies in vir die versorgingsplig van 'n onderwyser-afrigter. Soos in Wynkwart119 bepaal, behels die versorgingsplig egter nie dat die onderwyser-afrigter konstant volle beheer moet uitoefen oor die leerders nie, maar dat die onderwyser-afrigter bewus moet wees van kinders se beperkte vermoë en soms impulsiewe en onbesonne optrede. Dit behels met ander woorde dat die standaard van sorg wat van die onderwyser-afrigter verwag word, slegs redelike toesighouding en sorg behels. Die onderwyser-afrigter kom sy versorgingsplig voldoende na indien hy die deelnemers behoorlik inlig oor gevare, en ook deelnemende groepe en apparaat so bestuur dat die risiko beperk of uitgeskakel word.

Daar moet verder telkemale vasgestel word of die onderwyser-afrigter se beweerde nalatige versuim om sy versorgingsplig na te kom die oorsaak van die leerder se besering was, aangesien die onderwyser-afrigter nie aanspreeklikheid kan opdoen indien die besering steeds sou plaasgevind het ten spyte van die feit dat die onderwyser-afrigter teenwoordig was en redelik opgetree het nie.

Soos dit uit die voorafgaande bespreking blyk, maak die gemenereg, en in besonder die deliktereg, voldoende voorsiening vir die regulering van aanspreeklikheid in sportverband. Daar kan egter aangevoer word dat daar 'n gebrek aan riglyndokumente vir onderwysers is om hulle oor die toepaslike regsaspekte in te lig. Regsaanspreeklikheid is nie beperk tot die sportaktiwiteite waarop die klem in hierdie artikel geval het nie, maar het te make met alle fasette van die opvoeder-kindverhouding, ook in die klaskamer. Aanvanklike voorgraadse opleiding behoort dus 'n onderwysregtelike komponent in te sluit om alle student-onderwysers voldoende vir hulle professionele taak te bemagtig. Die feit dat die Staat ingevolge artikel 60 van die Skolewet die aanspreeklikheid dra vir beserings aan leerders tydens skoolaktiwiteite behoort nie 'n valse gerustheid by onderwyser-afrigters te skep nie. In die lig van hulle roeping as opvoeders moet hulle steeds alles in hulle vermoë doen om die veiligheid van elke deelnemer te verseker.

Die volgende aanbevelings word aan die hand gedoen:

a) Alle onderwyser-afrigters moet opgelei word in die afrigting van die korrekte speltegnieke in die beoefening van 'n betrokke sportsoort;

b) Alle onderwyser-afrigters moet basiese kwalifikasies in noodhulp bekom sodat hulle bedag kan wees op ernstige beserings en in staat sal wees om korrek te kan optree;

c) Onderwyser-afrigters moet behoorlik toesig hou om beserings te voorkom, en moet gepaste stappe doen nadat 'n deelnemer beseer is;

d) Onderwyser-afrigters moet leerders behoorlik voorlig met betrekking tot spelreëls en risiko's;

e) Onderwyser-afrigters moet verseker dat omgewingsoorwegings nie 'n bedreiging ten opsigte van besering vir deelnemers inhou nie.

Vir die bestuur van 'n skool, wat hoofsaaklik in die skoolhoof gesetel is, is daar die belangrike aanbeveling dat geen afrigtingsverpligting bo sy vlak van afrigterskwalifikasie of ervaring aan enige onderwyser opgedra behoort te word nie, veral nie waar deskundigheid ten opsigte van korrekte tegniek vereis word nie. Rossouw120 beveel ook aan, ter wille van verhoogde veiligheid en sekuriteit van alle rolspelers, dat

• There should always be a gradual build-up of skills from less complex to more complex and demanding.

• Participants should be well conditioned and the necessary strength or suppleness should be reached before more advanced movements can be attempted.

• Proper rehabilitation of injuries should be completed, and gradual match fitness in lower leagues be gained before players are chosen to play on the level where he or she sustained the injury.

Ten slotte word weer daarop gewys dat artikel 28 van die 1996 Grondwet, en in besonder artikel 28(2), bepaal dat die kind se belange in elke aangeleentheid wat hom/haar raak, van deurslaggewende belang is. Rossouw121 maak die stelling dat hierdie klousule die basiese riglyn en mikpunt moet wees tydens die afrigting van leerders. Dit is dus belangrik dat die onderwyser-afrigter altyd die belange van die kind eerste moet stel in die nakom van sy verantwoordelikhede as opvoeder, afrigter, organiseerder en sportbeampte.

 

Bibliografie

Basson JAA en Loubser MM Sport and the Law in SA 5de uitg (Butterworths Durban 2000)         [ Links ]

Cornelius S "How final is the final whistle? Review of and liability for decisions taken by officials at sports events" 2002 TSAR 628-649         [ Links ]

Fagan A "Blind Faith: A Response to Professors Neethling and Potgieter" 2007 SALJ 285-295         [ Links ]

Gardiner S ea Sports Law 2de uitg (Cavendish Abingdon 2001)         [ Links ]

Grayson E Sport and the Law (Butterworths London 1988)         [ Links ]

Green J 'Tackling injuries in school and club rugby' The Star 10 July 2006 4         [ Links ]

Hamman DB "Has Cinderella Lost Her Ball? Some Australian Lessons on the Banning of Pregnant Netball Players" (Ongepubliseerde voordrag gelewer by die Sportreg Konferensie 6-7 Februarie 2003 Kaapstad) 33-52        [ Links ]

Karns JE "Negligence and secondary school sports injuries in North Dakota: Who bears the legal liability?" 1986 N D L Rev 455-485        [ Links ]

Labuschagne JMT "Deliktuele aanspreeklikheid van 'n afrigter vir 'n besering deur 'n gimnas opgedoen" 1999 THRHR 132-136        [ Links ]

Labuschagne JMT "Onlangse regspraak" 2000 De Jure 366-368         [ Links ]

Labuschagne JMT "Aanspreeklikheid vir 'n besering in die loop van 'n gholfspel, of -oefening of -vertoning opgedoen" 2001 THRHR 46-63         [ Links ]

Labuschagne JMT "Die effek van die spelaard en -tempo op aanspreeklikheid vir 'n sportbesering" 2001 Tydskrif vir Regswetenskap 77-80         [ Links ]

Murphy J Street on Torts 11de uitg (Butterworths London 2003)         [ Links ]

Neethling J en Potgieter JM "Wrongfulness and negligence in the law of delict: A Babylonian confusion?" 2007 THRHR 120-130         [ Links ]

Neethling J and Potgieter JM Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 6de uitg (LexisNexis Durban 2010)         [ Links ]

Neethling, Potgieter en Scott Vonnisbundel Neethling J, Potgieter JM en Scott TJ Vonnisbundel oor die Deliktereg 4de uitg (Juta Landsowne 2010)         [ Links ]

Oosthuizen Aspects of Education Law Oosthuizen IJ (red) Aspects of Education Law 4de uitg (Van Schaik Pretoria 2009)         [ Links ]

Oosthuizen IJ en De Waal E "South Africa" in Russo CJ (red) The Yearbook of Education Law (Education Law Association Dayton 2003) 328-340         [ Links ]

Rossouw "Emotional and physical abuse of non-sexual nature by educator-coaches in school sport" (Ongepubliseerde voordrag gelewer by die SAELPA Internasionale Konferensie 3-5 September 2006 Oos-Londen) 1-13         [ Links ]

Rossouw JP An Introduction to Sport Law for South African Schools 2de uitg (Festina Lenté Potchefstroom 2006)         [ Links ]

Rossouw JP en Windell L "The educator-coach and safety in South African schools sport: a sport law perspective" (Ongepubliseerde voordrag gelewer by SAELPA Internasionale Konferensie 4-6 September 2005 Bloemfontein) 1-39         [ Links ]

Snyman CR Strafreg 4de uitg (Butterworths Durban 1999)         [ Links ]

Visser PJ en Potgieter JM Skadevergoeding 2de uitg (Juta Kaapstad 2003)         [ Links ]

Williams E "Sport in schools: Some legal liability issues" 1987 Australia Torts Reports 3-8         [ Links ]

Wood E "Liability for sport injuries: local and international perspectives" in Le Roux R en Cornelius S (reds) Sport: The right to participate and other legal issues (Universiteit van Kaapstad Kaapstad 2003)        [ Links ]

Regspraak

Broom v The Administrator, Natal 1966 3 SA 505 (D)

Clark v Welsh 1975 4 SA 469 (W) Condon v Blasi 1985 1 WLR 866 (CA)

Geyer v Downs 1977 138 CLR 91 Lubbe v Jacobs 2003 JOL 11496 (T)

MEC for Education and Culture, Free State v Louw 2006 1 SA 192 (HHA)

Minister of Education v Wynkwart 2004 3 SA 577 (K)

Minister of Police v Skosana 1977 1 SA 31 (A)

Minister of Safety and Security v Rudman 2005 2 SA 16 (HHA)

Molefe v Mahaeng 1999 1 SA 562 (HHA)

Peter Wynkwart v Minister of Education, Highlands Primary School 2002 6 SA 564 (K)

Rootes v Shelton 1968 ALR 33

S v Goosen 1989 4 SA 1013 (A)

Smoldon v Whitworth 1997 ELR 249 (CA)

Telematrix (Pty) Ltd t/a Matrix Vehicle Tracking v Advertising Standards Authority SA 2006 1 SA 461 (HHA)

Universiteit van Pretoria v Tommie Meyer Films (Edms) Bpk 1976 4 SA 376 (T)

Vowles v Evans 2002 EWHC 2612 (QB)

Wetgewing

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996

Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996

Wet op die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders 31 van 2000

Wet op die Suid-Afrikaanse Sportkommissie 109 van 1998

Wet op die Verdeling van Skadevergoeding 34 van 1956

Wet op Sport en Rekreasie 110 van 1998

Persoonlike onderhoude

O'Leary 2006 O'Leary J 2006 Persoonlike onderhoud met JP Rossouw in Chelmsford, 9 Oktober 2006

Osborn en Greenfield 2008 Osborn G en Greenfield S 2008 Persoonlike onderhoud met JP Rossouw by Westminster, Londen 12 Maart 2008

Mawdsley 2008 Mawdsley R 2008 Persoonlike onderhoud met JP Rossouw in Cleveland, Ohio 5 April 2008

Lys van internetbronne

South African Council for Educators www.sace.org.za South African Council for Educators The Code of Professional Ethics www.sace.org.za/Legal_Affairs_and_Ethics/jit_default_21.The_Code_of_Professional_Ethics.html [4 Augustus 2011]

Lys van afkortings

N D L Rev North Dakota Law Review
SALJ South African Law Journal
THRHR Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg
TSAR Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg

 

 

1 Green The Star 4. Een van dié ongevalle van die 2006 rugbyseisoen was Jzaun Dreyer. Hy het in Hoërskool President se eerste span gespeel. In 'n wedstryd teen Hoërskool Brandwag is Dreyer hard geduik – een opponent het hom aan die kraag gegryp en hom afgetrek en 'n ander het hom van onder af opgestoot. Sy nek is in die proses gebreek.
2 Lubbe v Jacobs 2003 JOL 11496 (T).
3 Lubbe v Jacobs 2003 JOL 11496 (T) par 4. Die hokkiewedstryde is dwarsoor die veld gespeel en plastiekkeëls is gebruik as tydelike doele wat gevolglik geen nette gehad het wat sou verhoed dat die bal die toeskouers kon beseer nie. Die leerder, wat op die stadium van die ongeluk 'n toeskouer was, is beseer deur 'n bal wat opgeskiet het vanaf 'n keël en wat, as gevolg van die afwesigheid van nette, haar getref het. Sy het agter die doelarea inbeweeg in opdrag van die onderwyser, wie se baadjie sy in haar sportsak moes gaan plaas.
4 Hierna 1996 Grondwet.
5 Die fundamentele elemente van die deliktereg is gegrond in die gemenereg (Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 3-4).
6 Artikel 28(2) bepaal dat 'n kind se beste belang van deurslaggewende belang is in elke aangeleentheid wat die kind raak.
7 Artikel 12 bepaal dat elkeen die reg het op vryheid en sekerheid van persoon asook die reg op liggaamlike en psigiese integriteit.
8 Sien in hierdie verband Rossouw en Windell "The educator-coach and safety" 3.
9 Hierdie studie sal fokus op die onderwyser-afrigter, maar die leser moet in gedagte hou dat die beginsels wat bespreek gaan word mutatis mutandis van toepassing in die geval waar opgetree word as organiseerder, skeidsregter en beampte.
10 Grayson Sport and the Law 26: daar word deur sommige skrywers na hierdie vakgebied verwys as "the law in sport" en is volgens sommige skrywers bloot die toepassing van bestaande, gevestigde regsbeginsels en dissiplines soos die deliktereg of kontraktereg op aktiwiteite in die arena van sportdeelname. Gardiner ea Sport Law 44: daar is egter toenemende ondersteuning vir die benaming van "sportreg", en dus dat dit besig is om te ontwikkel in 'n aparte dissipline van die reg. Die probleemstelling sal egter in hierdie studie aangespreek word met toepassing van die deliktereg.
11 Rossouw en Windell "The educator-coach and safety" 3.
12 Die Anglia Ruskin-Universiteit in die Verenigde Koninkryk, byvoorbeeld, huisves 'n Sentrum vir Sportreg en bied Sportreg as 'n LLB-module aan (O'Leary 2006), soos ook by die Westminster-Universiteit in Londen (Osborn en Greenfield 2008). In die VSA word 'n kursus in Sportreg by onder meer die Cleveland State University in Cleveland aangebied (Mawdsley 2008).
13 Murphy Street on Torts 6.
14 Oosthuizen Aspects of Education Law 87. Sien ook die bespreking onder 2.2.
15 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 3.
16 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 27; Basson en Loubser Sport and the Law 5-10.
17 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 27.
18 Molefe v Mahaeng 1999 1 SA 562 (HHA) 567I-J.
19 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 32.
20 Sien par 2.2.
21 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 35.
22 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 38-39.
23 Universiteit van Pretoria v Tommie Meyer Films (Edms) Bpk 1976 4 SA 376 (T) 387C-D.
24 Neethling, Potgieter en Scott Vonnisbundel 89.
25 Neethling and Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 57-58.
26 Murphy Street on Torts 3.
27 Neethling, Potgieter en Scott Vonnisbundel 99.
28 SA 2006 1 SA 461 (HHA) 468.
29 Ook van belang rakende nuwe ontwikkelinge in die bepaling van onregmatigheid, en die verband daarvan met nalatigheid, is die onlangse debat tussen Fagan, Neethling en Potgieter. Hierdie debat wentel rondom die kernvraag rakende die redelikheid om 'n verweerder ex post facto aanspreeklik te hou, met ander woorde wanneer die werklike eerder as die waarskynlike gevolge bepalend is vir die daarstel van onregmatigheid. Sien verder Fagan 2007 SALJ 285 en Neethling en Pogieter 2007 THRHR 120.
30 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 73.
31 Karns 1986 N D L Rev 463-464.
32 Hamman "Has Cinderella Lost Her Ball?" 36.
33 Rossouw Introduction to Sport Law 58; Williams 1987 Australia Torts Reports 4.
34 Williams 1987 Australia Torts Reports 7.
35 Basson en Loubser Sport and the Law 5-30.
36 Soos na verwys in Broom v The Administrator, Natal 1966 3 SA 505 (D) 518D-E.
37 Geyer v Downs 1977 138 CLR 91.
38 Williams 1987 Australia Torts Reports 80-94.
39 Geyer v Downs 1977 138 CLR 91.
40 Geyer v Downs 1977 138 CLR 91.
41 Peter Wynkwart v Minister of Education, Highlands Primary School 2002 6 SA 564 (K) 569J 570A.
42 Rossouw Introduction to Sport Law 63.
43 Oosthuizen en De Waal "South Africa" 337.
44 Minister of Education v Wynkwart 2004 3 SA 577 (K) 584A-B.
45 Broom v The Administrator, Natal 1966 3 SA 505 (D) 516E-F.
46 Cornelius 2002 TSAR 646. Die Engelse howe het al telkemale beslis dat daar 'n versorgingsplig rus op die skeidsregter teenoor die spelers, maar lê egter klem daarop dat skeidsregters nie aanspreeklik sal wees vir elke besering wat opgedoen word op die speelveld nie. Wood "Liability for sport injuries" 50: tydens die beoefening van sport bestaan daar 'n versorgingsplig tussen die spelers, skeidsregters, afrigters, toeskouers en organiseerders. Sien ook Karns 1986 N D L Rev 463. Volgens Karns is die versorgingsplig teenoor 'n atleet (in die wye sin van die woord, naamlik enige sportdeelnemer) verskillend vir die organiseerder as vir die afrigter of vir die sportbeampte. Dit is as gevolg van die verskillende rolle wat die verskeie partye speel in die organisering van skolesport.
47 Oosthuizen Aspects of Education Law 95.
48 Oosthuizen Aspects of Education Law 95.
49 Rossouw en Windell "The educator-coach and safety" 6.
50 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 87.
51 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 87 vn 355.
52 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 87 vn 355.
53 Rootes v Shelton 1968 ALR 33.
54 Rossouw en Windell "The educator-coach and safety" 5.
55 Karns 1986 N D L Rev 464-465.
56 Condon v Blasi 1985 1 WLR 866 (CA).
57 Labuschagne 2001 Tydskrif vir Regswetenskap 78.
58 Condon v Blasi 1985 1 WLR 866 (CA).
59 Labuschagne 2001 THRHR 47-49.
60 Clark v Welsh 1975 4 SA 469 (W) 477H.
61 Basson en Loubser Sport and the Law 5-13.
62 Karns 1986 N D L Rev 483.
63 Smoldon v Whitworth 1997 ELR 249 (CA).
64 'n Onder 19-skolerugbyspeler in Engeland het ernstige nekbeserings opgedoen toe 'n skrum ineengestort het. Ondanks waarskuwings deur spelers en grensregters het die skeidsregter toegelaat dat die spel op 'n ruwe manier en op 'n modderige veld voortgaan.
65 Vowles v Evans 2002 EWHC 2612 (QB). 66 In die wedstryd tussen twee spanne in die Walliese tweede liga is 'n flank, wat nie oor die vaardighede van 'n erkende voorryspeler beskik het nie, toegelaat om in die voorry te skrum. Die skeidsregter, Evans, het die besluit rakende ongeopponeerde skrums ("uncontested scrums") aan die kaptein van Llanharan oorgelaat, en dus nie sy eie verantwoordelikheid as wedstrydbeampte nagekom nie. 'n Voorry van die opponente is kwadruplegies gelaat toe hy sy nek gebreek het tydens die sluiting van 'n skrum, weens die gebrekkige vaardigheid van die plaasvervanger.
67 Karns 1986 N D L Rev 465-466.
68 Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (hierna Skolewet).
69 S v Goosen 1989 4 SA 1013 (A).
70 S v Goosen 1989 4 SA 1013 (A) 1026H-I.
71 Oosthuizen Aspects of Education Law 108.
72 Neethling and Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 140-141; Labuschagne 1999 THRHR 135-136.
73 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 148-149.
74 Labuschagne 1999 THRHR 133-134.
75 Labuschagne 1999 THRHR 136.
76 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 150.
77 Minister of Safety and Security v Rudman 2005 2 SA 16 (HHA).
78 Minister of Safety and Security v Rudman 2005 2 SA 16 (HHA) 41G-42A.
79 Geyer v Downs 1977 138 CLR 91.
80 Hierna die OLG. Die Landgericht is die Laer Hof in Duitsland en die OLG is die hof waarna geappelleer word, naamlik die Hoër Hof in Düsseldorf, Duitsland.
81 Labuschagne 2000 De Jure 366.
82 Labuschagne 2000 De Jure 366.
83 Labuschagne 2001 Tydskrif vir Regswetenskap 79.
84 Labuschagne 2001 Tydskrif vir Regswetenskap 78.
85 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 170.
86 Labuschagne 1999 THRHR 134. Skade word vollediger onder Skade bespreek (par 2.5).
87 Labuschagne 1999 THRHR 135. Sien Snyman Strafreg 179: Dolus eventualis of moontlikheidsbewussyn is wanneer die dader sy wil rig op 'n bepaalde gebeurtenis, maar voorsien dat as hy hierdie gebeurtenis wil bereik, daar 'n moontlikheid is dat 'n ander gebeurtenis, wat onregmatig of verbode is, mag intree. Hy laat hom egter nie deur die moontlikheid afskrik nie en gaan voort met sy handeling om eersgenoemde geb eurtenis te laat plaasvind. Indien die onregmatige of verbode gevolg dan intree, het hy opset met betrekking tot daardie gevolg gehad.
88 Labuschagne 1999 THRHR 135.
89 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 185.
90 Snyman Strafreg 76-77.
91 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 188.
92 Minister of Police v Skosana 1977 1 SA 31 (A).
93 Minister of Police v Skosana 1977 1 SA 31 (A) par 33.
94 Minister of Police v Skosana 1977 1 SA 31 (A) par 34.
95 Minister of Police v Skosana 1977 1 SA 31 (A) par 45.
96 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 194.
97 Snyman Strafreg 79.
98 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 185.
99 Rossouw Introduction to Sport Law 48.
100 Vermoënskade is die afname in die nuttigheid van 'n vermoënsbestanddeel as gevolg van 'n skadestigtende gebeurtenis, by die bevrediging van die betrokke vermoënshebbende se regserkende behoeftes. Sien in hierdie verband Visser en Potgieter Skadevergoedingsreg 47; Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 230.
101 Nie-vermoënskade of persoonlikheidsnadeel is die afname in die kwaliteit van die hoogspersoonlike belange van 'n regsubjek, as gevolg van 'n skadestigtende gebeurtenis, by die bevrediging van sy regserkende behoeftes, welke verandering nie sy ekonomiese posisie raak nie. Sien in hierdie verband Visser en Potgieter Skadevergoedingsreg 97; Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 252.
102 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 224.
103 Neethling en Potgieter Neethling-Potgieter-Visser Deliktereg 223.
104 Visser en Potgieter Skadevergoedingsreg 167.
105 Oosthuizen Aspects of Education Law 199.
106 Visser en Potgieter Skadevergoeding 102-105; Oosthuizen Aspects of Education Law 200.
107 Oosthuizen Aspects of Education Law 200.
108 Wet op die Verdeling van Skadevergoeding 34 van 1956.
109 Oosthuizen Aspects of Education Law 200.
110 Wet op die Verdeling van Skadevergoeding 34 van 1956.
111 Wet op Sport en Rekreasie 110 van 1998.
112 Wet op die Suid-Afrikaanse Sportkommissie 109 van 1998.
113 Wet op die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders 31 van 2000; The Code of Professional Ethics (South African Council for Educators www.sace.org.za).
114 Item 3.7 van die Kode.
115 MEC for Education and Culture, Free State v Louw 2006 1 SA 192 (HHA).
116 'n Leerder van die Laerskool Ficksburg het breinskade opgedoen toe hy amper tydens 'n verpligte swemsessie verdrink het. Die sessie was onder die beheer van 'n opvoeder wat in diens was van die Laerskool Ficksburg.
117 Artikel 20(4) en (5) van die Skolewet handel oor die bevoegdheid en funksie van die beheerliggaam met betrekking tot die aanstelling van opvoeders in diens van die skool.
118 Sien par 1.
119 Minister of Education v Wynkwart 2004 3 SA 577 (K) 582I.
120 Rossouw Introduction to Sport Law 94.
121 Rossouw "Emotional and physical abuse" 3.