SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue1Male 'Somaliness' in diasporic contexts: Somali authors' evaluative evocationsPerceiving precarity and extremism in Nuruddin Farah's North of Dawn author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Letterkunde

    On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.62 n.1 Pretoria  2025

    https://doi.org/10.17159/tl.v62i1.138677 

    BOOK REVIEWS

     

    Die onsigbare

     

     

    Susan Meyer

    Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. ORCID: https://orcid.org/0000-0002-7211-1530; Meyer.susan@nwu.ac.za

     

     

    P.J. O.Jonker.
    Kaapstad: Tafelberg, 2024. 351 pp. ISBN 9780624095422.

    Op die voorplat van P. J. O. Jonker se debuutroman, Die onsigbare, word die foto-afdruk van 'n vrouerug, weerloos naak met 'n sliert weggeveegde hare in die nek, visueel gekombineer met die silhoeet van 'n dier uit 'n wildekatfamilie. In hoofstuk 1 blyk reeds vir onkundiges oor wildekatspesies dat dit 'n rooikat is.

    Die visuele prominensie van die rooikat op 'n tak en afgeets teen die ondergaande son, asof getatoeeer op die vrouerug met rooibruin hare, vestig die vermoede van 'n verband tussen 'n vrou en 'n wildekat in die roman. Die kleurbeskrywing van die rooikat, verskaf deur die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut, versterk hierdie vermoede: Die rooikat is 'n groot, rooibruin kat met punterige swart ore, 'n romerige kleur onderbuik met vaag oranje koUe op die maag (Ndovu en Le Roux). Die leser wat nuuskierig genoeg is om op die internet iets oor die aard van die rooikat te wete te probeer kom, sou vind dat dié kat 'n geheimsinnige en alleenlopende dier is wat verkies om snags te beweeg. So 'n leser spring weg met as 'bonus' daardie net-net waarneembare tintel van opwinding om die voshaarvrou in die verhaal te ontmoet.

    Draai jy die boek om, tref die woorde op die agter-plat jou as gevolg van die intensiteit van verskeie gegewe saamgepers in 'n enkele sin: "Wanneer spraakstramme skaapboer Jada Olivier op sy Karooplaas Erfdeel met die bewustelose, gebroke liggaam van 'n vreemdeling aankom, sluit hy die ketting van die plaashek en raak 'n gevangene van sy besluit." In dié sin word die interseksie gevind van drie tematiese sirkels, geassosieer met drie goed uitgewerkte verhaallyne. Elkeen hiervan is gelaai met worsteling: Jada as alleenloper-gelowige. Jada as boer met 'n vrees vir hoogtes en vir val, en sy liefde vir 'n vrou wat 'n bestaan uit prostitusie gemaak het.

    Hierdie is pynlike en eerlike storielyne. Daar is gebeure en tonele wat dieper as in die leser se klere gaan sit. Die onsigbare ontroer én ontstem, maar die verhaal is ontdaan van die soort sentimentaliteit wat bedoel is om op die leser se hartsnare te tokkel. Sonder enige sogenaamde 'kerksousie' vloei die eerste gebeurelyn vanaf Jada se bekering as 'n seun tot by die onthutsende besluit om die vrou vir wie se leefwyse hy gru se stukkende liggaam plaas toe te bring, in gehoorsaamheid aan die bevel van God om haar lief te hê "totdat sy mooi is" (167). In die tweede verhaallyn word boerdery van alle idille ges troop; die lewe op Erfdeel behels moeilike verhoudings met werkers, stof, hitte en 'n genadelose werklas (182, 277). In die subtiel romantiese derde verhaallyn projekteer die meisie wat Jada plaas toe bring om vir haar genesing te bied haar woede op hom, "gereed om [...] diep vanuit haar onsekerhede haar wapens te lanseer. Aanklag. Belediging. Vloek." (173).

    Die onsigbare vind staanplek tussen 'n hele aantal romans waarin hegte vrou-natuur-verbande op tematiese vlak uitgehef word. Hieronder tel Toorbos van Dalene Matthee (2005), Die swye van Mario Salviati van Etienne van Heerden (2006), Stiltetyd deur Marita van der Vyver (2006), Chinchilla uit die pen van Nanette van Heerden (2007), Sabbatsreis (Annelie Botes) wat in dieselfde jaar vers kyn, Marié Heese se Vuurklip (2013) en Ingrid Winterbach se Die troebel tyd (2018). Die roman vorm natuurlik ook deel van 'n bewonderenswaardige plaasromanskat in Afrikaans. Hoe Jonker se debuut in die tradisie van die plaasroman gewortel is en terselfdertyd ook daarvan wegbreek, is 'n bevestiging van die koppige oorlewingsvermoe van die Afrikaanse plaasroman-in wisselende vorms, vir byna 'n eeu al. Só word gemotiveer deur resensente wat Jonker se roman reeds in die hand gehad het (Joan Hambidge, Louise Viljoen, Chris van der Merwe).

    Erfdeel word baie onverwags Jada se verant-woordelikheid toe hy, die vierde Jan-Dawid Olivier wat op dié grond gebore is (52), sy ouers onverwags in 'nmotorongeluk verloor. Die volgende groot draaipunt kom wanneer Jada as Jongboer van die Jaar 'n konferensie in Kaapstad bywoon en die meisie met die besonderse stem en die mooi mond ontmoet. Dae later, uit 'n totaal onverwagte sameloop van omstandighede, koers hy met die "erg vernielde" Lydia/ Lida/ Lea (131, 143, 144) in sy bakkie terug plaas toe. Anys, wat jare al 'n moederrol in Jada se lewe vervul, neem haar versorging oor. Hiervoor kies Jada 'n veepos op 'n weggesteekte deel van die plaas wat só bergagtig en moeilik toeganklik is dat 'n donkie voorrade soontoe moet neem. Die meisie is egter nie van plan om te bly nie en al wat Jada van haar oorhou, is 'n raaiselagtige briefie waarin sy haar ware naam agterlaat: Katryn. Saam met 'n leegheid in Jada, 'n "afwesigheid" só "skreiend" dat sy keel rou is daarvan (321).

    Een van die mees prominente aspekte wat in vorige besprekings van Die onsighare uitgelig is, is die rykheid aan literêr intertekstuele verbande met, onder andere, werke van Etienne Leroux (Viljoen 14), Jung (Hambidge), en die Bybel (Hambidge, Van der Merwe). Die bril waardeur ek kies om die boek te takseer, bied my 'n benaderingshoek wat nog nie benut is nie; ek konsentreer op die rol wat intertekstualiteit op nieliterêre vlak in die roman speel. Hier wil ek verwys na veel meer as slegs die nieliterêre interteks van die politieke en sosiale werklikhede van Suid-Afrika, in die oorgangstyd vóór die 1994'Verkiesing, wat die tydraam vir die romangebeure bied. Jada boer met skape in die Karoo, aan die voet van die Swartberge. Die nieliterêre buitetekste wat in 'n groter mate boei, is dié van boerdery as 'n wetenskap eweveel as 'n fyn ontwikkelde kuns, van die veld as kennisbron, en van die natuur as 'n hartstog wat Jada se waarneming en menswees met sensitiwiteit en eerbied kleur.

    Dit is meestal in outobiografiese besonderhede wat nieliterêre intertekstualiteit neerslag vind in Die onsighare. Uit 'n onderhoud wat Trisa Hugo met die skrywer voer blyk dat hy, benewens wynmaker by Bonnievale te wees, ook 'n Karooboer is wat 'n spesiale holte vir sy voet vind op sy plaas buite Koffiefontein. "Die onsighare is so goed soos 'n ware verhaal vir my", vertel Jonker. "Daar is nie navorsing wat hierin gegaan het nie, liewer belewing en inlewing. Ek weet hoe ruik skaapwol, hoe dit voel as 'n skaap jou kaal voet raaktrap."

    Uit sy eie boerderybelewenis kom treffende woordelikse demonstrasies van die hoe omtrent die "uitmekaar haal" van 'ngeslagte wildsbok ('"n mens sny nie 'n hok op nie" (290)), van die soort aanvoeling en noukeurigheid wat by die "klas" van wolgehalte nodig is (78), en van die metodiese aanpak van 'n taak soos skaapskeer: "Knip-knip begin die hande die lemme stuur. Die wol op die skaap se regterskouer en voorbeen. Bors. Regterrib en maag. Linkerskouer en voorbeen. Linkerrib. Om die uier. [...] Al ruglangs van die nek af tot by die boude. Die vag val soos 'n jas van die skaap af weg" (79).

    Die taalgevoelige wyse waarop die gespesialiseerde kennis van die kundige skaapboer as metateks deel van die leeservaring gemaak word, voeg waarde toe aan die opteken van oorgelewerde metodes op hierdie gebied wat Jada se pa as kenniserfenis aan hom nalaat. Selfs Vakspesialiste' uit die vroeëre werklikheid van skaapboerdery, byvoorbeeld die nomadiese spanne skaapskeerders, duik in helder besonderhede voor die leser se geestesoog op aan die hand van die trefseker en genuanseerde beskrywing: "[HuUe is] geplooi en songebak. Skraal en goedig. Tande rond en bont in die mond. Dalk 'n kroes stuk grysbaard onder die ken [...]. 'n Velthoed. Vaal broek. Sy brandstof is Boxer-twak en Kloof'koffie. Sy skaapskêr sy trots" (82).

    Die onsigbare verteenwoordig verhaalkuns waar die gesprek met die nieliterêre intertekstuele gegewe van die plaas' en veldwêreld soms grens aan natuurpoesie. 'n Sopie brandewyn in Jada se glas, teen die lig gehou, het "die kleur van rooigrond. Rooikatpels. Vuur. Rooigras. Die kleur van haar hare" (330). Daar word verwys na die "lip van die krans" (301); na 'n lam wat uit sy geboortesak losskeur en wankelrig regopkom, eufories, as "beskonke van die lewe" (328).

    Die waarneming en taalgebruik van die natuurgeorienteerde mens is tegnieke met behulp waarvan die biografíese besonderhede van die skrywer as buiteteks die roman ingedra word. Jonker se persoonlike natuurgerigtheid is duidelik herkenbaar in sy taalgebruik tydens die onderhoud wat Hugo met hom voer. Hy verwys na die onmoontlikheid om die plaasroman "(te) kis en begrawe", en motiveer dit só: "Ná 'n bui reën in die boekewêreld, as ons weer sien, spruit 'n nuwe saailing grasgroen in 'n ander gedaante uit die klam grond." Ook die aard van die plaasroman word vasgevat in Jonker in spontane natuurtaal: "In 'n plaasroman praat die klippe."

    Dieselfde natuurgerigtheid word blootgelê in die waarneming en taalgebruik van Jada. Die skrywer self se natuursensitiwiteit as vorm van metateks vorm die stramien waarop die karakter van die hoof-fíguur geweef word. Jada se menswees is gevorm deur die bergwereld waar hy grootword, waar hy die witkruisarend "opwaarts soos 'n vlieër wat laat los is" die hoogtes in sien sweef op daardie bepalende oomblik toe hy sy pa beloof om Erfdeel nooit te verkoop nie (10). As volwasse man bly dieselfde bergomgewing Jada se plek van eerbied en belofte. Wanneer hy trou aan Katryn sweer, is dit by die bergpoel op daardie hoogste stukkie plato; vanaf die perd se rug lê die Karoo "nat en pas geverf met kleure wat deurmekaar vloei" (322). Natuurgekleurde waarneming bly selfs deel van Jada by die stadskongres waar hy as 'n spreker optree, maar homself ervaar as "'n springhaas verstar in die helder lig van sy eie projeksie" op die seminaarskerm (123). Die verlamming van sy tong in die angstige oomblikke vóór sy aanbieding word beleef as "'n windstilte"; sy oë soek deur die kongresgangers "soos wanneer mens 'n groot kamp skaap bymekaarmaak en in die maling van die kraal 'n spesifíeke een wil uitvang" (129).

    Ook in onbewaakte oomblikke word Jada se ingesteldheid op natuurdinge helder in sy taal verbeeld; die gesprek met die natuur as interteks by wyse waarvan die skrywer se biografíese teenwoordigheid in die roman bevestig en herhaal word, vloei spontaan voort. Só is daar die oomblik toe die waarheid omtrent die plek wat Katryn onvoorsiens in sy bestaan begin uitkerf het. Jada onvoorbereid tref, en: "'Ek het jou lief,' glip dit uit soos 'n lam by 'n maklike geboorte, dié wat so verrassend gladweg kan uitsjloep uit die ooi" (188). Jada is haar egter ewe skielik ook weer kwyt, en in radeloosheid word gegryp na 'n natuurbeeld wat tegelykertyd demonstreer hoe die hoofkarakter onteenseglik die taaljas van die skrywer dra: "Hy wens hy kan soos 'n erdvark 'n miershoop deursoek, groot hompe van die stad met 'n kragtige klou eenkant toe skuif en met [...] 'n erdvarktong die donker gange deursoek" (216).

    Die toemaak van die boek bring die besef dat die roman met hierdie treffende omslagontwerp-die rooikat soos lyfkuns op die rug van die rooihaarvrou ingeets-meer as net die parallelle tussen 'n spesifíeke vroue- en kat-'karakter' wou kommunikeer. Dit gee op 'n ruimer wyse, deur die intertekstuele spel met die natuurwerklikheid as die skrywer se eie, selfgekose en -verklaarde bestaanswerklikheid, gestalte aan die mens-natuur-verbintenis wat op die voorplat reeds visueel so sterk gesuggereer is.

    Die onsigbare is 'n ryk debuut.

     

    Geraadpleegde bronne

    Hambidge, Joan. "Resensie P. J. O. Jonker-Die onsigbare." Woorde wat weeg. 3 Sep. 2024. https://joanhambidge.blogspot.com/2024/09/resensie-pjo-jonker-die-onsigbare.html.         [ Links ]

    Hugo, Trisa. "Die onsigbare: 'n onderhoud met P. J. O. Jonker." LitNet Akademies Skrywersonderhoude 4 Sep. 2024. https://www.litnet.co.za/die-onsigbare-n-onderhoud-met-pjo-jonker/.         [ Links ]

    Ndovu, Michael & Elton le Roux. "Caracal." South African National Biodiversity Institute 14 Jul. 2023. https://www.sanbi.org/animal-of-the-week/caracal/.         [ Links ]

    Van der Merwe, Chris. "Die onsigbare deur P. J. O. Jonker: 'n LitNa Akademies-resensie-essay." LitNa Akademies Resensies. 6 Nov. 2024. https://www.litnet.co.za/die-onsigbare-deur-pjo-jonker-n-litnet-akademies-resensie-essav/.         [ Links ]

    Viljoen, Louise. "Debuut sluit aan by gedugte plaasromans." Rapport, 25 Aug. 2024, p.14.         [ Links ]