Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.20267
RESENSIES REVIEWS
Ilse de Korte
Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark, Suid-Afrika, Ilse.dekorte@nwu.ac.za ORCID: https://orcid.org/0000-0002-9643-3390
Diana se dag.
Helene de Kock.
Kaapstad: Human & Rousseau, 2023. 288 pp. ISBN 9780798183857.
By die Stellenbosch Woordfees in 2023 praat Helene de Kock en Anchien Troskie met Susan Booyens oor hoe skryf terapie kan wees en hoe dit ons kan help om trauma te hanteer. Helene de Kock is nie net 'n bekende in die Afrikaanse literêre kringe nie (met 'n wye oeuvre wat vanaf 1979 strek), maar is ook vertroud met trauma nadat sy haar oudste seun in 2004 in 'n motorongeluk verloor.
In haar nuutste roman, Diana se dag (Diana uitgespreek soos die Prinses van Wallis se naam), kom temas van vooroordeel en buitestaanderskap sterk na vore. Alhoewel die boek as romantiese ontspanningsfiksie tipeer kan word, is die verhaal verweef met die onderliggende trauma van gebeure uit Diana se jeug, waaraan sy geen toedoen gehad het nie. Dit is letterlik 'n geval van 'die sondes van die vaders' wat vir jare 'n effek op haar lewe het, waar sy die las van skande erf waaraan sy geen skuld dra nie.
Die roman sentreer rondom die karakter, Diana, wat die leser ontmoet as 'n jong, maar belowende wynmaker op 'n spogplaas in Stellenbosch. Gou word dit egter duidelik dat Diana se agtergrond en grootwordjare alles behalwe idillies was. Met etlike direkte verwysings daarna in die teks self, word Diana Ferrus se idee van ons 'komvandaan', soos dit neerslag vind in haar 2006 digbundel, Ons komvandaan, geaktiveer. Vir Ferrus is jou identiteit en menswees geskoei op waar jy vandaan kom. Jou toekomstige interaksie en verhouding met die mense om jou, maar ook met jouself, word onlosmaaklik beïnvloed deur die gebeure in jou verlede.
In die roman word Diana se pa gedurende haar hoërskooljare van bedrog of onregmatige besigheids-transaksies aangekla en beland in die tronk. Van hul eens welgestelde lewe in 'n gegoede buurt in Bloemfontein, moet Diana, haar ma en haar broer in 'n krotbuurt buite die stad gaan bly nadat hulle alles verloor. Gou kom Diana agter dat iets so eenvoudig soos toiletpapier en gloeilampe onontbeerlik, maar onbekostigbaar is.
Met gevoelens van skaamte en verleentheid, gaan kruip Diana pouses in die fietsloods weg sodat sy nie ander kinders in die oë hoef te kyk nie. Dit is hier waar sy vir Lutz Weilandt ontmoet en 'n hegte vriendskap van wedersydse begrip en empatie ontstaan tussen hulle.
Navorsing oor trauma en die letterkunde dui daarop dat mense kan leer uit hierdie soort traumanarratiewe en oor die jare het 'n letterkundige stroom ontwikkel rondom hierdie temas. 'n Literêre teks kan trauma ontbloot, maar ook verskuil laat agter fiksionele karakters en situasies. Dit kan vir beide : skrywer en leser moontlikhede bied van heling, uitkoms en terapie, alhoewel de Kock en Troskie dit eens is dat trauma nie bloot weg- of uitgeskryf kan word nie. De Kock sê self in haar reeds genoemde onderhoud met : Booyens, "die onderliggende seer is altyd in jou boeke L teenwoordig, meestal sonder opset".
Vroeg in die roman lees ons hoe Diana met herinneringe van trauma gekonfronteer word: "Dis L 'n wind wat ou herinneringe uit haar losskeur. Haar , dwing om daarna te kyk; dit te probeer verteer" ι (18). Haar lewe verander skielik handomkeer en sy, : haar ma en haar broer trek dan "[v]an die spoghuis in 'n stadslandgoed na 'n lamlendige kasarmpie in die plattelandse armmansbuurt vlak langs die . plakkerskamp" (18). Hierdie herinneringe volg haar ' soos 'n skaduwee en dié deel van haar verlede, tesame met die feit dat eers haar pa en toe haar broer tronk toe is, bly by haar spook. Sy vrees deurentyd dat die vernedering van haar verlede sal uitkom en haar nuwe, suksesvolle loopbaan in Stellenbosch omver sal werp.
Diana se verlede word byna versinnebeeld in die figuur van Lutz Weilandt. Al was hy haar vriend, kom hy uit die buurt waar sy en haar ma in armoede gebly het. Wanneer sy hom jare later weer in Stellenbosch raakloop, is dit hy wat "alles weer ontsluit, al was niks daarvan sy skuld nie" (22).
Die verlede het 'n onuitwisbare impak op hierdie twee sterk karakters gelaat. Diana leef in vrees dat iemand gaan uitvind van haar verlede en op sy beurt is dit asof Lutz nie emosioneel by iemand anders betrokke kan raak nie. Hy beskryf sy verlede en die feit dat hy sonder 'n pa grootgeword het as 'n wond wat nie meer bloei nie, maar 'n letsel wat steeds daar is (243). Verder beskryf hy homself ook as, "[m]y hele samestelling is [...] soms vir myself onontsyferbaar" (244). Saam moet hulle dan die verlede konfronteer. Diana moet leer om kop omhoog die toekoms in te gaan en vir Lutz "die deure na sy eie binneste moet help oopmaak" (244).
Diana en Lutz kry op die ou end albei hul dag. Dit is 'n deernisvolle storie wat handel oor die skaamte en skuld wat mense dikwels saamdra ten spyte van die feit dat hulle geen aandeel in die oorsaak daarvan gehad het nie. Dit bewys dat mense nie net alles in 'n oogwink kan verloor nie, maar ook kan uitstyg bo hul omstandighede en verlede. Die roman is tipies van die genre en alhoewel dit 'n ligte, lekkerleeservaring bied, is daar tog 'n dieper boodskap wat die leser aan die dink sal sit.












