Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.61 n.2 Pretoria 2024
https://doi.org/10.17159/tl.v61i2.20105
RESENSIES REVIEWS
Laaste kans (Marita van der Vyver)
Jana Cloete
Onafhanklike resensent Kaapstad, Suid-Afrika Jana.Cloete@capetown.gov.za
Laaste kans.
Marita van der Vyver. Kaapstad: Tafelberg, 2023. 283 pp. ISBN 9780624094043.
Lesers wat Marita van der Vyver se Wegkomkans (1999) geniet het, kon hulle verheug in die vooruitsig om weer op te vang met die geliefde karakters in die opvolgverhaal, Laaste kans, wat in 2023 verskyn. Die vriende van Wegkomkans kom weer bymekaar, vir 'n laaste naweek langs die see, na 25 jaar, net voor die wêreld eindig.
Dis Maart 2020, en Adriaan-kunstenaar, rok-jagter, charmeur, smulpaap-word 70. Almal van die laaste groepfoto, geneem in 1995, is daar, almal wat nog leef. Mila het gekom uit België, Paul uit Kalifornië. Meer nog, want die kinders is nou groot. Die kinders het nou kinders. En hulle is almal óók daar.
Laaste kans begin met 'n groepfoto (soos Wegkomkans ook het), dit is die foto van die laaste keer wat al d die vriende bymekaar was en waarmee Wegkomkans geëindig het. Hiermee word die leser herinner aan s wie en wat die karakters in 1995 was. Die prentjie van e die verlede word geskets, maar ook geplaas teenoor die vertelling van wat die karakters op die foto deur die jare heen met die foto gedoen het. Dit dien as 'n l interessante karakteriseringstegniek, wat vinnig weer
'n familiariteit skep met die karakters. Deur die loop van Adriaan se verjaardagnaweek
word die leser op 'n warrelwindreis deur die onderskeie e karakters se lewens geneem, 'n blik op wat van elkeen geword het en waar hulle opgeëindig het. Laaste kans n bied 'n venster op waar elkeen in die hede is, tydens n hierdie belangrike laaste naweek, voor die wêreldwye grendeltydperk en verwoesting van Covid-19 begin.
Alhoewel die verbande tussen Wegkomkans en Laaste kans beduidend is, staan Laastekans as volwaardige roman op eie bene. Dit is met ander woorde nie noodsaaklik r om eers Wegkomkans te lees nie, maar dit verryk wel die leeservaring. Wegkomkans het die karakters van die oorspronklike groep vriende méns gemaak en dit is juis die meemaak van al die wegkomkansnaweke voor die eeuwending, wat die reünie (bestekopname) in Laaste kans soveel soeter maak. Om aan die einde van 'n lewe te kan staan, en kollektief te kan terugkyk, verbind nie alleen die karakters nie, maar ook die karakters en die lesers oor verskillende generasies heen: "As jy alleen gil, wil Bobby vir haar dogter sê, hoor niemand jou nie. As jy saam met jou beste vriende gil, bly daar dalk 'n eggo oor waarna die volgende geslag kan luister" (223).
Dit is onteenseglik dat Marita van der Vyver vir aanhangers groot leesplesier bring met die laaste bymekaarkom van ou vriende. Nie net vir die gewone heerlikheid van saamkuier, lekker kos, en goeie musiek nie (dit is daar baie van), maar ook vir die dieper dink oor die sin van die lewe. Temas van verganklikheid, ontnugtering met die lewe, en wat miskien die teengif g vir die verlies sou kon wees, word in Laaste kans vernuftig vervleg met die jolyt en plesierige samesyn.
Dit is veral die ouer karakters wat deur verganklikheid agtervolg word. "Hoe het dit skielik so laat geword", lees Yvette vroeër die week uit 'n gedig van Olga Kirsch voor (18). "[O]ns lewe al meer van verlies tot verlies", merk Liane teenoor Mila op (85). "Ons moet al hoe meer geliefdes verloor. Al hoe meer drome en ideale t en illusies", dink Bobby terwyl sy haarself herinner aan 'n gesprek oor oudword wat sy met haar seun gehad het (91). "Op sy leeftyd loop die dood daagliks saam met jou. Jy maak asof jy hom nie raaksien nie, maar hy gooi elke dag 'n langer skaduwee oor jou. Elke dag kry jy 'n bietjie kouer", mymer Ralph (161).
Die dood raak die ouer karakters almal direk, hetsy deur geliefdes wat hulle deur die jare moes afstaan, of die felheid van die dood wat sommiges in die gesig moet staar as gevolg van 'n terminale siekte (die inligting oor wie dié siekte het, word wel van die ander vriende weerhou om nie "die pret van die naweek vir hulle te bederf nie"). Die ouer karakters bly egter deurgaans bewus van die dood: "So kom ons om, so kom ons om. Dis die refrein wat in sy [Ralph se] kop bly draai" (159).
Die ontnugtering wat die ou bekende karakters met die lewe het, is veral treffend in Laaste kans. Liane, wat in Wegkomkans geskets is as besonder optimisties, staan nou ontnugter voor vele drome wat nie bewaarheid is nie. Haar man, Max, dink op 'n stadium dat Liane se grootste trauma die verlies van haar illusies is (99). Sy het geglo sy is spesiaal en toe gebeur die lewe met haar.
Laaste kans laat 'n mens dink dat die voortsit van stories moontlik die enigste beswering van verganklikheid kan bied. Die stories wat oorgedra word van geslag tot geslag (en van roman tot roman) verbind die karakters aan die lewe. Dit is ook nie verniet dat dit Emma-die skrywer in die verhaal-se dogter is wat opmerk "ons kan nie wegkom van ons ma's se stories nie, nè" (170).
Die stories word inderdaad voortgesit, veral in die voortsetting van en uitbreiding op tematiek soos die onderlinge drif, onbeantwoorde liefde, maatskaplike vrae en politiek. Dít word alles oorgedra na die volgende geslag, Ralph dink byvoorbeeld in hierdie sin aan sy kleinkind wat op pad is, "[o]f dalk is hierdie tweede kind tog 'n manier om hulle te help. Te sorg dat hulle storie voortgaan" (151).
Die ouer karakters wys as't ware vir die jonger karakters die pad vorentoe, "[d]ans [...] teen the dying of the light" sê Adriaan (166). Dit is egter opmerklik hoe die jonger geslag meer wantrouig is oor wat vir hulle voorlê in die lewe as wat die vorige geslag in Wegkomkans was. Daar bestaan 'n groter bewustheid van wat alles eintlik verkeerd kan loop. Ben, die jongste van die jonger geslag en nog op hoërskool, dink byvoorbeeld "Wat verkeerd is, wil hy vir sy ma sê, is dat hy nie kan verstaan hoe de fok almal van hulle dit regkry om verder te lewe nie" (91). Dit is besonder funksioneel dat die skrywer juis die jongste karakter kies om dit te dink. Die kontras tussen die huidige siening van die jeug teenoor die siening van die karakters van 25 jaar gelede word op hierdie wyse beklemtoon: Tóé het "hulle [nogtans] aanhou lag, aanhou dans, aanhou beweeg en geraas maak," en ook "[i]n die ou dae het elke naweek saam met hierdie spul die een drama na die ander opgelewer" dink Bobby (223).
Die konteks van Laaste kans is wel anders, die dreigende virus lê op die lippe van die jonger geslag, dis hulle wat daaroor fluister in stil oomblikke in die donker, daaroor boodskappe stuur op WhatsApp. Die oueres besweer die virus deur die noem daarvan bloot te verbied sodat 'n lekker naweek nie daardeur bederf word nie.
Ouerskap figureer deurlopend en is 'n sterk tema in die roman. Dit bring 'n nuwe dimensie wat aan die karakters se storie gegee word sedert Wegkomkans-die verhouding met hulle (meestal volwasse) kinders. Vele besinnings en gewaarwordinge van ouerskap word in die roman meegedeel, soos byvoorbeeld "[o]uerskap is om op 'n strand te staan en te kyk hoe jou kinders se skuit al hoe verder van jou wegdryf. Jy kan nie in daai skuit gaan klim nie, hulle moet dit self stuur. Jy kan maar net hoop die see is hulle genadig" (96-7).
Laaste kans speel af in 'n nuwe wêreld, 'n wêreld wat baie anders lyk as drie dekades gelede. Daar word WhatsApps Frankryk toe gestuur (dié gedagte ondenkbaar in die wêreld van 25 jaar gelede) en musiek word oor Spotify geluister. Ook sosiale media kom onder die loep (Adriaan skop natuurlik viervoet daarteen vas). Adriaan se vrou, Yvette, spreek haar vrese oor die tegnologiese vooruitgang uit: "Een van die dae gaan almal soos hulle avatars op Facebook lyk. [...] Ewig jeugdig. Altyd pragtig. Nêrens 'n plooi in sig nie. Dit maak my bang" (121).
Op die laaste oggend van Laaste kans, is die see-'n motief wat deurgaans 'n belangrike rol speel-einde ten laaste in mis gehul (teenoor die helder uitbundigheid daarvan oor die hele naweek). Die teenwoordigheid van die see is so tasbaar in Laaste kans, soos wat dit ook was in Wegkomkans, dat dit die gestalte van 'n karakter aanneem. Die see word die ander vriend, die een wat nie praat nie, maar wat baie aan die leser kommunikeer deur die wyse waarop elke karakter die see fokaliseer. "Hoewel die mis vanoggend so vas aan die kus kleef dat sy [Yvette] skaars die see kan sien. Dit word 'n ouditiewe eerder as 'n visuele ervaring. Sy maak haar oë toe, konsentreer op die suisende, sussende reëlmaat van die branders, terwyl sy diep asemhaal" (249). Soos met die lewe, die virus, en die ouderdom, sak die mis toe, letterlik maar beslis ook simbolies. Die kleuter Stephan mompel met 'n mond vol Rice Krispies, "Ouma sê die mis gaan nooit weg nie" (255).
Die narratief van Laaste kans berus hoofsaaklik op die geleentheid wat aan die leser gebied word om deur al die karakters ('n goeie twintig) se oë te kyk na die naweek se gebeure. Dit is egter baie invalshoeke, en die gevaar ontstaan dat dit te rumoerig kan raak met al die stemme teenwoordig. Gelukkig is Van der Vyver 'n meesterstorieverteller, en sy ken haar karakters grondig. Gevolglik lei die vele hoeke van fokalisasie nie tot verwarring nie, maar skep 'n gelaagde teks.
Marita van der Vyver bly relevant, en met Laaste kans pak sy die besinning oor die lewe opnuut aan saam met nuwe en ou karakters. Die roman verken die idee om op 'n ander manier die lewe te probeer verstaan, en wat dit beteken om nog 'n kans te kry.












