SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 issue3New and old treasures: The 2020 Afrikaans translation of the Bible as a retranslationThe Hebrew base text and the 2020 translation of the Bible in Afrikaans author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 n.3 Pretoria Sep. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n3a3 

    RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    "It just hits home": 'n Analise van respondente se ervaring van variëteite van Afrikaans in gewone-taaldokumente

     

    "It just hits home": An analysis of respondents' experience of varieties of Afrikaans in plain-language documents

     

     

    Annie Burger

    Nadoktorale Navorsingsgenoot, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: annieburger@sun.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    Gewonetaaldokumente poog om toeganklik vir alle lesers te wees. Tóg reken Burger (2023) dat daar verskeie faktore rakende lesers se taalgebruik is wat hul ervaring van gewonetaaldokumente beïnvloed. Hierdie studie ondersoek die invloed wat die gebruik van verskillende variëteite van Afrikaans in gewonetaaldokumente op lesers se ervaring van daardie dokumente het. Onderhoude is met tien huistaalsprekers van Kaapse en/of Namakwalandse Afrikaans gevoer waartydens respondente gevra is om drie weergawes van 'n gewonetaalteks te lees: een in Standaardafrikaans, een in Kaapse Afrikaans en een in Namakwalandse Afrikaans. Daarna is hul ervarings met die dokumente deur middel van verskeie vrae ondersoek. Die resultate dui aan dat respondente oor die algemeen meer positiewe ervarings met die weergawe in Standaardafrikaans gehad het, veral as hulle gereeld daarmee in geskrewe vorm of in hul omgewing in aanraking kom. Nietemin het sommige respondente hierdie weergawe as minder verstaanbaar ervaar, wat tot 'n negatiewe leeservaring gelei het. Huistaalsprekers van Kaapse of Namakwalandse Afrikaans het oorwegend positiewe ervarings gehad met die dokumente wat in hul variëteite geskryf is. Die studie toon verder dat daar 'n noue verband is tussen 'n positiewe leeservaring en verstaanbaarheid. Nietemin het sommige respondente gevoel dat die gebruik van variëteite in geskrewe formaat nie altyd gepas is nie. Respondente wat nie 'n spesifieke variëteit magtig is nie, het ook gesukkel om die teks in daardie variëteit te verstaan. Hierdie studie toon dus dat die gebruik van variëteite in gewonetaaldokumente beide voordele en nadele inhou.

    Trefwoorde: gewone taal, variëteite, Standaardafrikaans, Kaapse Afrikaans, Namak-walandse Afrikaans, ervaring, positiewe ervaring, negatiewe ervaring


    ABSTRACT

    This study examines how the use of language varieties influences the experiences of individuals with plain-language documents. Since plain-language documents are written in the general variety of Afrikaans, it can be assumed that speakers of varieties of Afrikaans that are similar to standard or general Afrikaans1 have better experiences with plain-language documents than those of other varieties. This raised the question of whether home language speakers of other varieties of Afrikaans would have more negative experiences with plain-language documents and whether incorporating multiple varieties into plain-language documents could lead to more positive experiences.
    Sociolinguistic studies indicate that language varieties influence interpretation and reception of written documents (Pienaar, 2002:15). This study investigated whether adapting plain-language documents to include multiple Afrikaans varieties would result in a more positive user experience.
    Qualitative interviews were conducted with ten respondents. Respondents were selected through convenience sampling, with a specific focus on the representation of diverse Afrikaans varieties. Six participants spoke Kaapse Afrikaans, two spoke Namakwalandse Afrikaans, and two had transitioned from Namakwalandse Afrikaans to Kaapse Afrikaans. Respondents reviewed three versions of a few paragraphs from an informative document explaining how to support a new mother; "Ondersteuning vir moeders [sic] ondersteuning vir jou". One version was written in standard Afrikaans, one in Kaapse Afrikaans, and one in Namakwalandse Afrikaans. Expert writers intralingually translated these versions in the respective varieties. Respondents were interviewed about their experiences with the texts. Interviews were recorded and transcribed, and the data were analysed manually to identify positive, negative and neutral responses.
    The results of the study produced several key findings regarding the impact of different Afrikaans varieties on the experience of plain-language documents. Overall, respondents had positive experiences with the standard Afrikaans plain-language version, largely because they were familiar with this variety in written form. This also enhanced understandability. However, some respondents were neutral, as they were accustomed to this variety and did not find it unusual. Despite the use of plain language in the text, some complex words, such as "geboortemetgeselle" (birth companions), were regarded as challenging to understand.
    Regarding the Kaapse Afrikaans version, home language speakers of Kaapse Afrikaans generally responded positively, as they felt the version aligned with their personal circumstances and flowed more naturally. However, some had concerns about spelling and word choices, reflecting the lack of standardisation in Kaapse Afrikaans. Additionally, some respondents who used Namakwalandse Afrikaans viewed Kaapse Afrikaans as inappropriate or carrying negative connotations. Others, especially those unfamiliar with it, found the use of Kaapse Afrikaans confusing and more difficult to understand.
    Most respondents with home language Kaapse Afrikaans had a positive experience with the Namakwalandse Afrikaans text. They recognised elements of the language due to their interactions with Namakwalandse Afrikaans home language speakers. They particularly enjoyed the pronunciation and metaphors, which enriched their reading experience. However, some Kaapse Afrikaans respondents struggled to understand the text due to unfamiliar words and phrases, which required more effort to read. Other respondents found the language too complex as it contained advanced or uncommon words. Respondents struggled with the Namakwalandse Afrikaans version because they were not frequently exposed to it. Even home language Namakwalandse Afrikaans respondents noted that some words were becoming obsolete, and while the language could seem amusing, it was not suitable for written communication.
    These findings highlight the complexities of incorporating language varieties into plain-language documents. While there are clear benefits to using different varieties, challenges, such as reduced understanding and unfamiliarity, must be carefully managed. Plain-language writers must work closely with speakers of these varieties and clearly define the variety of the target audience. Standardising these varieties could also facilitate their use in written formats.

    Keywords: plain language, varieties, standard Afrikaans, Kaapse Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans, experience, positive experience, negative experience


     

     

    1. Inleiding

    Volgens die International Plain Language Federation (2025) vind kommunikasie in gewone taal plaas wanneer die teikengehoor die inligting wat hulle nodig het, maklik kan kry, verstaan en gebruik. Vindbaarheid, verstaanbaarheid en bruikbaarheid is dus belangrike eienskappe van gewone taal. Burger (2024:309) bevind egter dat ervaring net so 'n belangrike eienskap van gewone taal is en dat daar 'n positiewe verhouding is tussen verstaanbaarheid en ervaring - hoewel die korrelatiewe verhouding tussen hierdie twee veranderlikes nie bepaal is nie. Positiewe ervaring is dus belangrik om verstaanbaarheid van gewonetaaltekste te bevorder, en verstaanbaarheid is belangrik om positiewe ervaring te bevorder.

    In hierdie studie word daar ondersoek ingestel na die invloed van die variëteit van Afrikaans wat in 'n gewonetaaldokument gebruik word op die ervaring van die dokument. Aangesien gewonetaaldokumente in Standaardafrikaans2 geskryf word, kan afgelei word dat huistaalgebruikers van variëteite wat baie ooreenstem met Standaardafrikaans, dit as meer toeganklik ervaar. Daarteenoor kan verwag word dat sprekers van variëteite wat minder ooreenstem met Standaardafrikaans, moontlik negatiewer ervarings met sulke dokumente sal hê.

    Volgens Spolsky (1998:3) moet die sosiale faktore wat met taal verband hou, bestudeer word om die interaksie tussen kommunikerende partye en hul magsverhoudings te verstaan. In sosiolinguistiese studies word daar byvoorbeeld dikwels op die verskillende variëteite van 'n taal gefokus. Navorsing (byvoorbeeld Pienaar, 2002) toon dat taalvariëteite 'n invloed het op die interpretasie daarvan. Pienaar se studie ondersoek spesifiek die uitwerking van Engels se variëteite in Suid-Afrikaanse politieke toesprake. Die spesifieke variëteit wat in 'n toespraak gebruik word, bepaal of die ontvanger dit suksesvol interpreteer en die oorredingsdoel van die toespraak begryp (Pienaar, 2002:15).

    'n Sleutelvraag in die hedendaagse debat oor taalvariëteite is die verhouding tussen die standaardvariëteit en ander variëteite. So word daar oor die algemeen aanvaar dat verskillende variëteite van 'n taal gelykstaande is aan die standaardvariëteit, ook in Afrikaans. Tóg word Standaardafrikaans steeds hoofsaaklik in akademiese tekste, regstaal en onderrigmateriaal gebruik (Le Cordeur, 2011:763). Hierdie neiging om die standaardvariëteit van 'n taal in meer formele en wye kommunikasiekontekste te gebruik, is nie uniek aan Afrikaans nie (Holmes, 2001:79). Tog stel Gouws (2019) voor dat ander variëteite van Afrikaans gebruik behoort te word in domeine waar Standaardafrikaans tans die norm is om sodoende die status van hierdie ander variëteite te verhoog. In studies uitgevoer deur Saal en Blignaut (2011) en Saal (2012) word daar geëksperimenteer met die gebruik van tienertaal in gedrukte advertensies en MIV-voorkomingsboodskappe. Die resultate van hierdie studies dui aan dat daar 'n gunstige persepsie is oor die gebruik van hierdie variëteit in oorredingsboodskappe (Saal & Blignaut, 2011), maar dat dit ook as onvanpas in geskrewe formaat gesien kan word (Saal, 2012:91). In die huidige studie word daar bepaal of gewonetaaldokumente, waar Standaardafrikaans hoofsaaklik gebruik word, 'n domein is waar verskillende variëteite geïnkorporeer kan word.

     

    2. Probleemstelling

    Die navorsingsvraag wat in hierdie studie gevra word, is: Hoe ervaar respondente met verskillende variëteite van Afrikaans as huistaal, gewonetaaldokumente wat in verskillende variëteite van Afrikaans geskryf is?

    Die ondersoeker vra dus of die gebruik van verskillende variëteite van Afrikaans in 'n domein waar tradisioneel Standaardafrikaans gebruik word - naamlik gewonetaaldokumente - moontlik en nodig is.

    Hierdie navorsing volg op navorsing wat deur Burger (2024) onderneem is. In daardie studie is kwantitatiewe data ingesamel oor die verhouding tussen eienskappe van respondente en hulle omgang met gewonetaaltekste. Die studie het aangetoon dat daar nie 'n statisties beduidende verhouding bestaan tussen respondente se ervaring van gewonetaaldokumente en hulle huistaalvariëteit nie. Tog is daar bevind dat respondente met Standaardafrikaans as huistaalvariëteit gewonetaaltekste beter verstaan het as respondente met ander huistaalvariëteite (Burger, 2024:310). Soos reeds genoem, is daar ook bevind dat daar 'n positiewe verhouding bestaan tussen verstaanbaarheid en ervaring van gewonetaaldokumente (Burger, 2024:309). Die verhouding tussen gewonetaaltekste en variëteite van Afrikaans is dus nie eenvoudig nie. Kwalitatiewe data word benodig om die verhouding in meer diepte te ondersoek.

     

    3. Navorsingsontwerp

    Om hierdie navorsingsvraag te beantwoord, is kwalitatiewe onderhoude gevoer om data in te samel. Terwyl Burger (2024) se kwantitatiewe data dui op 'n verband tussen die huistaalvarië-teite van Afrikaans van respondente en hul interaksie met gewonetaaldokumente, bied die huidige data verdere insig in hierdie verhouding.

    3.1 Respondente

    Onderhoude is met tien respondente gevoer. Hennink en Kaiser (2022:1) meen dat tien onderhoude binne die perke van dataversadiging val vir kwalitatiewe studies soos die huidige een. Om te bepaal hoe die gebruik van verskillende variëteite van Afrikaans in gewone-taaldokumente mense met uiteenlopende taalagtergronde beïnvloed, moes die respondente in hierdie studie verskillende huistaalvariëteite van Afrikaans hê. Dit het insig verskaf in hoe die taalvariasies wat in gewonetaaldokumente voorkom, mense met dieselfde, sowel as ander, huistaal-Afrikaansvariëteite raak. Respondente is deur middel van 'n gerieflikheidsproefneming geïdentifiseer.

    In die onderhoude is respondente se huistaalvariëteit van Afrikaans geïdentifiseer. Eerstens is hulle gevra of hulle weet wat hulle huistaalvariëteit van Afrikaans is. Indien hulle onseker was, moes hulle verskeie bykomende vrae beantwoord om die variëteit te help bepaal. Hierdie vrae het gefokus op waar respondente skoolgegaan en grootgeword het, hoe hulle taalgebruik verskil of ooreenstem met die taalgebruik van hulle gemeenskap en familie, en of hulle verskillende variëteite in verskillende situasies aanwend. Volgens Monka, Quist en Skovse (2020:173) word mense se taalvariëteite sterk beïnvloed deur hulle geografiese en sosiale omgewing. Hierdie vrae het dus gehelp om respondente se huistaalvariëteite van Afrikaans te identifiseer.

    Volgens Otto (2017) bestaan daar drie hoofvariëteite van Afrikaans, naamlik Wes-Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans, en Afrikaans van Gauteng en omliggende provinsies. Hierdie hoofvariëteite het ook verskeie subvariëteite. Meyer, Saal en Norton (2020) beskryf die verhouding tussen hoofvariëteite en subvariëteite van Afrikaans soos volg: "... Oranjerivierafrikaans (deesdae na verwys as Gariepafrikaans) [sluit] onder andere die subvariëteite Griekwa-Afrikaans, Richterveldse Afrikaans en Namakwalandse Afrikaans in. Dieselfde geld Kaapse Afrikaans met subvariëteite soos Kaapse Moesliemafrikaans, Swartlandse Afrikaans, Bolandse Afrikaans en Weskusafrikaans (om maar 'n paar te noem)."

    In die huidige studie het twee respondente aangedui dat hulle huistaal Bolandse Afrikaans is. Aangesien Bolandse Afrikaans 'n subvariëteit van Kaapse Afrikaans is (Meyer et al., 2020), is hierdie twee respondente in die Kaapse Afrikaans-groep, Groep 1, geplaas, wat uit ses respondente bestaan het. Twee respondente het aangedui dat hulle huistaal Namakwalandse Afrikaans, 'n subvariëteit van Gariepafrikaans (Groep 2), is, terwyl nog twee aangedui het dat hulle huistaal vroeër Namakwalandse Afrikaans was, maar dat dit tans Kaapse Afrikaans is (Groep 3).

    Nadat die respondente se huistaalvariëteite vasgestel is, is verskillende weergawes van dieselfde teks aan elkeen gewys.

    3.2 Dokumente

    Wat gewonetaaltoepassing en variëteite betref, is dieselfde teks in verskillende variëteite van Afrikaans geskryf. Die eerste weergawe is in gewone taal in Standaardafrikaans geskryf, die tweede weergawe is in gewone taal in Kaapse Afrikaans geskryf, en die derde weergawe is in gewone taal in Namakwalandse Afrikaans geskryf.

    Die teks wat geïdentifiseer is, kom uit die "Ondersteuning vir moeders [sic] ondersteuning vir jou"-inligtingstuk van die Wes-Kaapse Regering. Hierdie dokument is een van die tekste wat deur Burger (2023; 2024) vir gewone taal getoets is. Daar kan dus bevestig word dat hierdie dokument in gewone taal geskryf is (Burger, 2023:140)

     

     

    Hierdie dokument is spesifiek gekies omdat dit 'n wye gehoor het, aangesien dit gemik is op moeders, sowel as hulle ondersteuners. Die paragraaf wat geïdentifiseer is, handel oor die ma se regte en die ondersteuner van die ma word daarin aangespreek.

    Kaapse Afrikaans en Namakwalandse Afrikaans is as variëteite vir hierdie navorsing gekies omdat dit in geskrewe formaat voorkom (Le Cordeur, 2020; Van Heerden & Boezak, 2017), alhoewel nie naastenby sveel soos Standaardafrikaans nie. Hoewel die variëteite genoeg van mekaar verskil, is hulle steeds in so 'n mate herkenbaar in geskrewe formaat dat die respondente die verskillende variëteite kon uitken. Die Kaapse Afrikaans-weergawe van die teks is geskryf deur Gaireyah Fredericks, 'n bekende skrywer wat in Kaapse Afrikaans skryf, asook tekste in Kaapse Afrikaans vertaal (Gaireyah Fredericks, 2024). Die Kaapse Afrikaans-weergawe van die teks is in Figuur 2 aangedui

     

     

    Die Namakwalandse Afrikaans-teks is geskryf deur Sisca Julius, 'n skrywer van die Noord-Kaap wat ook in Namakwalandse Afrikaans skryf (Sisca Julius, 2021). Die Namakwalandse Afrikaans-weergawe is in Figuur 3 aangedui

     

     

    Aangesien beide tekste vertalings is van die gewonetaalweergawe van die teks, kan daar gestel word dat die twee vertaalde tekste ook in gewone taal geskryf is. Beide tekste maak gebruik van die volgende gewonetaaltegnieke, soos bespreek in Burger (2023:144-147): 1) gebruik voorbeelde om moeilike inligting eenvoudiger te maak; 2) vermy sinne met meer as 40 woorde; 3) verdeel inhoud in kort afdelings; 4) gebruik duidelike opskrifte; en 5) gebruik kolpunte of genommerde lyste om komplekse inligting in hanteerbare gedeeltes te verdeel.

    3.3 Onderhoudsvrae

    Respondente is gevra om deur al drie tekste te lees. Daarna moes hulle verskeie vrae beantwoord sodat die navorser hulle ervaring van die drie tekste kon bepaal. Die vrae is die volgende:

    1. Hoe voel jy oor die algemeen oor hierdie drie tekste?

    2. Plaas asseblief die drie tekste in volgorde van die een waarvan jy die meeste hou tot die een waarvan jy die minste hou.

    3. Brei asseblief uit op die volgorde waarin jy die tekste geplaas het.

    4. Waarvan hou jy die meeste van teks 1? Brei uit.

    5. Waarvan hou jy die minste van teks 1? Brei uit.

    6. Waarvan hou jy die meeste van teks 2? Brei uit.

    7. Waarvan hou jy die minste van teks 2? Brei uit.

    8. Waarvan hou jy die meeste van teks 3? Brei uit.

    9. Waarvan hou jy die minste van teks 3? Brei uit.

    10. Sou jy hierdie inligting eerder in geskrewe of gesproke formaat wou hê? Brei uit.

    Agt van die tien onderhoude is gevoer waar die navorser en die respondente saam was, terwyl twee op Teams gevoer is. Al die onderhoude is opgeneem en getranskribeer, waarna hulle geanaliseer is.

    3.4 Etiese oorwegings

    Aangesien die navorsing van respondente gebruik moes maak, is sekere etiese oorwegings in ag geneem. Gevolglik is die navorsing deur die Universiteit Stellenbosch se Sosiale, Gedrags-en Opvoedkunde Navorsingsetiekkomitee (NEK: SGO) (projeknommer 29720) op die 21ste Mei 2024 goedgekeur. Tydens die navorsing is respondente ingelig oor die navorsing en gevra om 'n toestemmingsvorm te voltooi voordat hulle aan die navorsing kon deelneem. Respondente is geanonimiseer en hulle terugvoer is slegs deur middel van nommers geassosieer.

     

    4. Data-analise

    Data is geanaliseer deur middel van handgedrewe sentiment-analise. Sentiment-analise is die proses waartydens sentiment wat in 'n teks uitgedruk word, geïdentifiseer word (Hacking, Verbeek, Hamers & Aarts, 2023:4). Volgens Hacking et al. (2023:4) kan "It's a good day" as positief, en "It's a bad day" as negatief geïdentifiseer word. Terwyl Hacking et al. (2023:4) sinne soos "Today I went for a walk" as neutraal identifiseer omdat dit 'n feit weerspieël, is Heath (2023) van mening dat woorde soos "ok", "alright" en "fine" eerder as neutrale sentiment geklassifiseer kan word.

    In die huidige studie is positiewe ervarings geïdentifiseer met positiewe bewoording soos "ek hou van "dit is lekker", ensovoorts. Negatiewe ervarings is herken met bewoording soos "ek hou nie van "dit is sleg", ensovoorts. Neutraliteit is geïdentifiseer in bewoording wat nie positiwiteit of negatiwiteit aandui nie, byvoorbeeld "dit is normaal", "dit is gewoon", ensovoorts. Hoewel baie studies algoritmes gebruik om sentiment te identifiseer, is Becker en Sasse (2016:4) van mening dat handgedrewe annotasies die mees suksesvolle manier is om sentiment te identifiseer. Om moontlike vooroordeel te verminder, word daar voorgestel dat annotasies deur 'n tweede persoon nagegaan moet word. In die huidige studie is die annotasies deur die navorser uitgevoer en deur 'n tweede persoon oorsigtelik nagegaan. Verder bevat die bespreking van die resultate die aanhalings waaruit die sentiment onttrek is om deursigtigheid te bevorder en vooroordeel te verminder.

     

    5. Navorsingsbevindings en bespreking

    In hierdie afdeling word die bevindings van die navorsing uiteengesit. Die afdeling is gestruktureer rondom die drie variëteitsgroepe, naamlik Groep 1, Groep 2 en Groep 3. Elkeen van die drie groepe is ten opsigte van hulle ervaring van die drie weergawes van die tekste geanaliseer, naamlik die Standaardafrikaans-weergawe, die Kaapse Afrikaans-weergawe en die Namakwalandse Afrikaans-weergawe.

    5.1 Groep 1

    Eerstens word respondente in Groep 1, dit wil sê respondente wat aangedui het dat hulle huistaal Kaapse Afrikaans is, se ervaring van die drie tekste bespreek.

    5.1.1 Ervaring van die Standaardafrikaans-weergawe

    Meer positiewe ervaring

    Die respondente in Groep 1 was oor die algemeen positief oor die Standaardafrikaans-weergawe van die teks. Respondente het genoem dat hulle Standaardafrikaans in sekere situasies moet gebruik en dat hulle dus gewoond geraak het daaraan: "[E]k vind dit soms moeilik om te transition van werk Afrikaans na huis Afrikaans toe. Soos somtyds bring ek my werk Afrikaans huis toe ... So ek neig meer na the so-called Standaardafrikaans toe" (Onderhoud 10, paragraaf 26). Hoofsaaklik is hierdie verskuiwing van variëteite om verstaanbaarheid te bevorder:

    Dit was vir hulle moeilik om te verstaan wat ek sê soms. In graad 10 en graad 11 het ek aangeleer hoe om Standaardafrikaans te lees, te skryf, en te interpreteer. So in graad 12, of toe ek in graad 12 kom toe praat ek al soos, soos hulle gesê het, ek praat soos 'n boer. Dit is maar net iets wat ek aangeleer het laat dit makliker vir mense is om my te verstaan (Onderhoud 5, paragraaf 22).

    Verder het respondente aangedui dat hulle van die Standaardafrlkaanse weergawe gehou het omdat hulle dit herken het uit hulle omgang met geskrewe tekste: "Maar die eerste teks vir my was nog die maklikste om te lees want dis gewone Afrikaans soos wat ons gelees het in meeste van die boeke, meeste artikels" (Onderhoud 9, paragraaf 26). Spesifiek het respondente in Groep 1 aangedui dat hulle die inligting wat in gewone Standaardafrikaans geskryf is, kon vertrou: "En dis soos iets wat ek, okay, die manier wat dit geskryf is, ek kan dit vertrou. Dis inligting wat soortvan waardevol is" (Onderhoud 10, paragraaf 22).

    Respondente in Groep 1 het ook aangedui dat hulle geneig is om Afrikaans soos die Standaardafrikaanse weergawe te skryf:

    Ek dink dis net die sinkonstruksie en hoe dit lees. Ek hou net daarvan want ek is 'n persoon wat ek wil daarby uitkom. Ek wil daai sinkonstruksie, dit moet vir my so gemaklik as moontlik kan kom. So ek hou bietjie meer van daai, so hoe meer ek daai kan sien hoe beter vir my weer (Onderhoud 10, paragraaf 32).

    Van hierdie respondente het ook aangedui dat die Standaardafrikaanse weergawe die "korrekte" manier was om te skryf: "Ek dink die woorde is baie meer reg gespel. Die spelling van die woorde is lekker" (Onderhoud 2, paragraaf 27).

    Sommige respondente het aangedui dat hulle dit maklik gevind het om die Standaard-afrikaanse weergawe van die teks te verstaan as gevolg van die eenvoudige woordkeuses en uiteensetting:

    [E]k hou van hoe dit mooi uiteengesit is. Soos daar is spasies vir enige, soos by die voorbeelde, is alles mooi netjies vir die metgesel om nou te vra soos vrae as hy enige vrae het. Dan is dit nou mooi uiteengesit. Ek het daarvan gehou. En ek het gehou van die, dit maak gebruik van eenvoudige woorde. Dis nie ingewikkelde woorde nie. So dis maklik vir 'n persoon om te volg of te verstaan die instruksies (Onderhoud 9, paragraaf 32).

    In hierdie geval is dit duidelik dat die respondent die eienskappe van gewone taal raakgesien en waardeer het.

    Neutrale ervaring

    Alhoewel sommige respondente in Groep 1 meer positiewe ervarings van die Standaardafri-kaanse weergawe gehad het, was daar verskeie respondente wat neutraal daaroor gevoel het: "Ek sou nie sê dit laat my voel op 'n spesifieke manier nie" (Onderhoud 2, paragraaf 17).

    Respondente het aangedui dat hulle gewoond is aan hierdie tipe tekste, wat dit dus nie laat uitstaan op enige manier nie:

    Ek sal nie sê daar is iets wat vir my uitstaan nie, want dis soos heeltemal normaal. Ek sien net heeltyd, there's nothing special to it. Daar is nie ander woorde in of wat nie, dis maar wat ons ken. So ek sal nie sê daar is iets special van dit nie, of iets wat uitstaan nie (Onderhoud 8, paragraaf 42).

    Meer negatiewe ervaring

    Daar was egter ook respondente wat die Standaardafrikaanse weergawe negatief ervaar het. Ten spyte daarvan dat sekere respondente juis die gewonetaaltegnieke wat in die dokument gebruik is, uitgewys het as 'n positiewe aspek van die dokument, het nie al die respondente in Groep 1 die Standaardafrikaanse weergawe as eenvoudig beskou nie. Respondente het aangedui dat "die groot woorde" (Onderhoud 7, paragraaf 50), met spesifieke verwysing na "geboortemetgeselle" (Onderhoud 10, paragraaf 22), vir hulle 'n negatiewe ervaring bewerkstellig het.

    Hoewel dit 'n eienskap van gewone taal is om korter sinne eerder as langer sinne te gebruik, het sommige respondente in Groep 1 juis nie van die korter sinne gehou nie: "En dis weird van sommige van die sinne lees ook baie staccato. Soos ek voel daar moet nog iets bykom of iets" (Onderhoud 10, paragraaf 34). Dus, ten spyte daarvan dat hierdie teks in gewone taal geskryf is, dui hierdie besprekingspunte aan dat die teks nie noodwendig verstaanbaar is omdat dit van gewone taal gebruik maak nie. 'n Respondent het spesifiek uitgelig dat as lesers nie gewoond is aan die Standaardafrikaanse weergawe se tipe taal nie, dit moeilik gaan wees om te verstaan: "Ek dink die language barrier, as jy nie blootgestel is aan dit as jy jonger is op een of ander manier nie, dan gaan dit moeiliker wees om dit te lees in my opinie" (Onderhoud 2, paragraaf 55).

    5.1.2 Ervaring van die Kaapse Afrikaans-weergawe

    Meer positiewe ervaring

    Wat die Kaapse Afrikaans-teks betref, was respondente in Groep 1 se reaksie oorweldigend positief. Respondente het veral positief gevoel oor die Kaapse Afrikaans-weergawe as gevolg van die herkenbaarheid daarvan in hulle persoonlike omstandighede:

    Die tweede een het my bietjie laat lag want somtyds in my agterkop was dit soos, ah, die mense by die huis praat so. ... ek sal meer sê seker die gevoel van huis. Soos ek daar gesê het, soos wat ek gelees het, was ek soos, oh, ek kan my mense hoor by die huis so praat. Of ek kan sekere mense, net as jy dit lees, dit lees net soos, okay, jy weet watter variëteit dit is sonder om eers dit daar bo te skryf, jy weet wat dit is (Onderhoud 10, paragraaf 40).

    Ander respondente het aangedui dat hulle self so praat: "Daai is weer die taal wat ek praat met my mense, wat ek gemaklik is. [...] En dis ook die taal waarin ek gemaklik is en die beste vir my express" (Onderhoud 5, paragraaf 24).

    Wat die Kaapse Afrikaans-weergawe betref, het respondente spesifiek aangedui dat hulle van die gebruik van Engelse woorde in die Afrikaanse teks gehou het:

    Al waarvan ek hou is die Engels gemeng met die Afrikaans. Dit vat my baie terug huis toe. Dis hoe almal praat by die huis. [...] Somtyds raak die Engelse bundle op en 'n mens kan nie meer Engels praat nie. Of mens kan nie meer Engels translate Afrikaans toe nie. So, dan ek gooi maar net die Engelse woorde in. So ek hou baie daarvan, dat die Engelse woorde saam met die Afrikaanse woorde in 'n sense gekoppel is en 'n woord gemaak is (Onderhoud 5, paragraaf 38; 40).

    Respondente in Groep 1 het ook van die spelling in die Kaapse Afrikaans-weergawe gehou:

    Wat ek nog van hou is hoe plat die woorde is. Soos dit is soms moeilik vir iemand wat in die Kaapse Vlakte grootgeraak het om te onthou ek moet die 'r' rol. Somtyds, die 'r' kom net nie in nie. So dit is vir my baie nice om te sien daar is nie, byvoorbeeld 'mee'. Dis nie 'meer' nie, dis 'mee'. [...] Soos ek gesê het, dit vloei as ek dit lees, dan vloei dit. Dit vat my terug na hoe ek by die huis praat. Ek hou baie daarvan (Onderhoud 5, paragraaf 40).

    'n Ander respondent het aangedui dat hulle van die samesmelting van woorde hou: "Ek het gehou van toe ek nou sien hoe dit loop, ek het gehou van die 'nie' weghaal. Of hulle haal die letter weg en dan maak hulle dit een woord. 'Virrie' of ..." (Onderhoud 9, paragraaf 38).

    Hoewel respondente nie eksplisiet gevra is oor hoe verstaanbaar hulle die tekste gevind het nie, het verskillende respondente in Groep 1 aangedui dat daar 'n noue verband tussen ervaring en verstaanbaarheid is:

    Ek hou eintlik van die hele teks, want dit lees baie maklik. En ek hou van die title onmiddellik. Dit het my onmiddellik gesê waaroor die teks gaan. 'Birthing partners'. Toe verstaan ek onmiddellik. Dis wat die hele teks gemaklik gemaak het om te lees in Afrikaans, want toe onmiddellik weet ek, okay 'birthing partners' (Onderhoud 7, paragraaf 54).

    Neutrale ervaring

    Anders as by die Standaardafrikaanse weergawe van die teks, het geen van die respondente in Groep 1 aangedui dat hulle 'n neutrale ervaring met die Kaapse Afrikaans-weergawe gehad het nie.

    Meer negatiewe ervaring

    Ten spyte van die positiewe kommentaar wat respondente in Groep 1 oor die Kaapse Afrikaans-weergawe van die teks gelewer het, was daar ook kommentaar wat op 'n negatiewe ervaring gedui het.

    Aangesien Kaapse Afrikaans nie gestandaardiseer is nie, is die spelling van woorde ook nie gestandaardiseer nie. In die vyfde kolpunt in die Kaapse Afrikaans-weergawe word die sinsnede "vrarie riede virrit" gebruik, wat "vra die rede daarvoor" sou wees in Standaardafrikaans. Respondente was onseker oor die betekenis van hierdie sinsnede: "'Vrarie riede virrit'. Daai was vir my 'n bietjie die eerste keer wat ek dit gelees het, gedink okay wat is die nou maar 'Vra die rede hiervoor' of so iets, ja. Daai was vir my so bietjie van, ek was 'n bietjie deurmekaar met daai" (Onderhoud 9, paragraaf 42).

    Nog 'n aspek wat toegeskryf kan word daaraan dat Kaapse Afrikaans nie gestandaardiseer is nie, is dat respondente aangedui het dat sekere woorde nie ooreenstem met wat hulle as Kaapse Afrikaans beskou nie:

    ... [D]aar is sommige woorde wat ek voel is nie soos Kaapse mense sal praat nie. Daar is nog steeds 'n paar woorde wat ek voel dit is te standaard vir iemand wat Kaapse Afrikaans praat. As ek 'n voorbeeld kan maak. Byvoorbeeld 'pynverligting'. Ek dink dis baie weinig dat iemand wat Kaapse Afrikaans sal hoor 'pynverligting'. Het mens pynpille nodig? Daai sal meer die woorde wees wat hulle gebruik. So ek dink daar is sekere woorde wat, dis baie weinig dat 'n mens sal hoor en wat Kaapse Afrikaans praat (Onderhoud 5, paragraaf 42).

    Soos genoem, bestaan daar verskillende subvariëteite van Kaapse Afrikaans. Een respondent het uitgewys dat die vorm van Kaapse Afrikaans in die voorbeeldteks nie ooreenstem met Bolandse Afrikaans, 'n subvariëteit van Kaapse Afrikaans, nie:

    Ek het ook nie baie gehou van die Engels wat ingesit is nie. Want dit word wel gebruik, baie Engels, maar ek voel hulle kan in die teks die Afrikaanse woorde gebruik. Daar word baie Engels in Kaaps gebruik en so, maar ek is seker van die Bolandse Afrikaans maar ons gebruik nie so baie Engels nie. Plek-plek as ons nou nie 'n woord verstaan of so dan sal ons Engels, maar nie so gereeld soos wat in die teks voorkom nie, sal ek sê (Onderhoud 9, paragraaf 46).

    Verder het respondente aangedui dat die gebruik van Kaapse Afrikaans in geskrewe formaat vir hulle onprofessioneel voorgekom het:

    Is nie baie professioneel geskryf nie, en dis maar al. En ek dink ek is in die middel van hoe professioneel is dit nou eintlik as jy nou so iets sal submit. Want ek is gewoond aan ons skryf nie so nie. Ons praat so, maar ons skryf nie so nie. Daars 'n manier hoe jy moet skryf en hoe jy praat (Onderhoud 2, paragraaf 37).

    Ander respondente het aangedui dat dit ongemanierd voorkom: "Ek praat met daai mense Kaapse Afrikaans en soms selfs as ek nou net praat en sê 'djy', dit klink aggressief en dit klink ongeskik" (Onderhoud 5, paragraaf 22).

    Respondente het verder gevoel dat die Kaapse Afrikaans-weergawe te informeel en kinderlik voorgekom het:

    Maar, hoe kan ek sê, wat ek nie van teks 2 van hou nie is like, dit voel net soos informal. Dit voel soos 'n kind dit geskryf het. 'n Kind wat op graad ses of sewe is wat dit net vinnig geskryf het. Want daars baie meer Engelse woorde hier gebruik (Onderhoud 7, paragraaf 62).

    Laastens het van die respondente in Groep 1 aangedui dat hulle gesukkel het om die Kaapse Afrikaans-teks te lees omdat hulle nie gewoond daaraan is om dit in geskrewe formaat te sien nie: "[Dis] net soos super weird om dit so te sien. Want gewoonlik skryf jy nie so nie. Jy is nie veronderstel om so te skryf nie. Maar dis okay om so te praat" (Onderhoud 10, paragraaf 44). Een van die respondente het aangedui dat dit moeiliker is om geskrewe Kaapse Afrikaans te verstaan weens 'n tekort aan formele skoolopleiding in Kaapse Afrikaans: "Soos ek altyd sê, Kaaps is vir my baie moeiliker as algemene Afrikaans om dit te kan lees veral. En om dit te kan spel. En om dit te kan skryf. Want ek dink ons is nie ... in skole was ons nie geleer om in dit te doen in Kaaps of so [nie]" (Onderhoud 8, paragraaf 34).

    5.1.3 Ervaring van die Namakwalandse Afrikaans-weergawe

    Meer positiewe ervaring

    Die respondente in Groep 1 het verskeie opmerkings gemaak wat dui op 'n positiewe ervaring met die Namakwalandse Afrikaans-weergawe. Eerstens het een respondent aangedui dat hulle die tipe taalgebruik herken het as gevolg van hulle aanraking met mense wat die Namakwa-landse Afrikaans-variëteit gebruik: "Dis baie meer verskillend, maar wat dit, soos ek sê, wat dit gemaklik gemaak het is, I recognised it from somewhere" (Onderhoud 7, paragraaf 66).

    Verskeie respondente in Groep 1 het ook aangedui dat hulle die uitspraak van die teks kon verbeel uit die manier waarop dit geskryf is:

    Waarvan ek hou is ek kon die aksent, terwyl ek dit lees kon ek die aksent hoor en sekere maniere hoe hulle die woorde skryf is hoe ek dit uitspreek en dan sien ek sommer die aksent hoe dit gesê word. Wat ek ook van hou, is die plat van dit (Onderhoud 5, paragraaf 46).

    Respondente het veral gehou van die manier waarop "kjeent" geskryf is: "Veral soos 'kjeent', you know. So die spelwyse, definitief, van Namakwalands oor die algemeen staan altyd vir my uit as ek daaraan dink" (Onderhoud 8, paragraaf 50).

    Respondente in Groep 1 het ook aangedui dat hulle van die vergelykings en metafore in die Namakwalandse Afrikaans-weergawe hou: "En dan die woorde en hoe hulle baie metafories praat. Daai het vir my uitgestaan" (Onderhoud 10, paragraaf 48). Al hierdie faktore het bygedra tot 'n positiewe ervaring: "[D]it lees baie lekker en ek het baie gelag en geglimlag terwyl ek dit gelees het. So dit was 'n nice een om ook te lees en te sien hoe hulle sal praat of hoe hulle praat" (Onderhoud 10, paragraaf 22).

    Neutrale ervaring

    Geen van die respondente in Groep 1 het neutrale opmerkings oor die Namakwalandse Afrikaans-weergawe gemaak nie.

    Meer negatiewe ervaring

    Ten spyte daarvan dat van die respondente in Groep 1 positiewe kommentaar oor die Namakwalandse Afrikaans-weergawe gelewer het, het hulle ook verskeie negatiewe opmerkings gemaak.

    Die meeste negatiewe opmerkings is gemaak weens 'n tekort aan verstaanbaarheid: "Die feit dat soos ek gesê het, daar woorde is wat ek nie verstaan nie. En as ek nie verstaan nie, gaan ek mos nie weet wat dit eintlik beteken nie in die konteks van die sinne of die situasie nie" (Onderhoud 2, paragraaf 43). 'n Tekort aan verstaanbaarheid het ook veroorsaak dat respondente langer geneem het om die Namakwalandse Afrikaans-weergawe te lees: "En as dit kom by die taalgebruik, obviously die Namakwaland was vir my die moeilikste om te lees. Ek het die langste tyd spandeer om dit te lees" (Onderhoud 8, paragraaf 32).

    Respondente het verskeie redes gegee waarom hulle met die Namakwalandse Afrikaans-weergawe gesukkel het. Twee respondente het aangedui dat die eerste woord in die teks reeds vir hulle onverstaanbaar was: "Sommer met die 'kjeentkry-saamloper' is ek soos, okay, ek weet nie wat daai is nie" (Onderhoud 10, paragraaf 22).

    Verder het respondente aangedui dat die Namakwalandse Afrikaans-weergawe verskeie frases ingebring het wat dit moeilik gemaak het om die teks te verstaan:

    Dit loop nie soos wat die gestandaardiseerde Afrikaans loop nie. Dit sit 'n paar woorde vooraan of idees agteraan. Of hulle voeg by uitdrukkings wat hulle byvoeg. Dit maak vir my bietjie, daai het vir my bietjie deurmekaar gemaak. Dit voel of hulle maak dit langer die teks. Hulle kom nie tot by die punt van wat gesê word nie (Onderhoud 9, paragraaf 50).

    Ander respondente het verwys na die tipe woorde wat in die teks gebruik word:

    Daar is sekere woorde wat ek voel, okay, dis baie hoog. Maar die mense van Namakwaland, hulle gebruik die woorde. Dis soos, hier was 'n woord wat ek gelees het wat ek nie verstaan het wat dit beteken nie. 'Gordyne toemaak', waar is daai een nou? Ag man. 'Katels'. Ek weet nie wat 'n katel is nie (Onderhoud 5, paragraaf 48).

    Van die respondente het gesukkel met die woord "!xhamthoe": "Ja, plek-plek was dit vir my 'n bietjie soos, wat is !xhamthoe. Ek weet nie is dit !xhamthoe nie. Ek dink dit is. En dan wat beteken !xhamthoe rol? Toe het ek al weer vergeet want dis 'n hele ander variëteit" (Onderhoud 8, paragraaf 40).

    Die respondente in Groep 1 het hoofsaaklik aangedui dat hulle met die Namakwalandse Afrikaans-weergawe gesukkel het omdat hulle te min kontak met hierdie variëteit het: "Die bewoording van die Namakwalands het my bietjie uitgegooi. Ek dink omdat ek nie gewoond is dit sien nie" (Onderhoud 8, paragraaf 40).

    5.2 Groep 2

    In hierdie afdeling word na die ervaring van die drie tekste gekyk van respondente in Groep 2, dit wil sê respondente met Namakwalandse Afrikaans as huistaal.

    5.2.1 Ervaring van die Standaardafrikaanse weergawe

    Meer positiewe ervaring

    Respondente in Groep 2 het aangedui dat hulle 'n positiewe ervaring met die Standaardafrikaanse weergawe gehad het as gevolg van die teks se herkenbaarheid in hulle omgang met geskrewe tekste: "Hierdie een [teks 1] is meer vir my soos iets wat ek gaan lees. Teks 1 is meer iets wat ek nou gaan lees in 'n boek of 'n ding" (Onderhoud 6, paragraaf 44). Hierdie respondente het voorts aangedui dat die Standaardafrikaanse weergawe "slim" (Onderhoud 6, paragraaf 40) en "beskaafd" (Onderhoud 3, paragraaf 40) klink. Hulle het verder aangedui dat die Standaardafrikaanse weergawe klink soos wat hulle in sekere omstandighede praat:

    "Dit voel soos hierdie enetjie sal ek praat met die Universiteit, die eerste een" (Onderhoud 6, paragraaf 32).

    Neutrale ervaring

    Soos die geval is met die respondente met Kaapse Afrikaans as huistaal, was die respondente in Groep 2 ook neutraal wat die Standaardafrikaanse weergawe betref: "Ek het geniunely nie 'n probleem nie, shame" (Onderhoud 6, paragraaf 58).

    Meer negatiewe ervaring

    Daar was slegs een negatiewe kommentaar van hierdie respondente af wat die Standaardafrikaanse weergawe betref: "Die woord 'geboortemetgesel', dis vir my net nogal 'n lang woord en dis nie vir my so beskrywend soos, sê maar 'n 'vroedvrou' sal wees nie" (Onderhoud 3, paragraaf 42).

    5.2.2 Ervaring van die Kaapse Afrikaans-weergawe

    Meer positiewe ervaring

    Wat die Kaapse Afrikaans-weergawe betref, het respondente in Groep 2 aangedui dat hulle die persoonlikheid in die Kaapse Afrikaans-weergawe raakgelees het: "Ek dink ek kan hierdie persoon se persoonlikheid sien. Deur dit, deur dit skyn hy [...]. Jy voel nie so formeel soos met die eerste enetjie nie. Hierdie een voel net soos iemand het net 'n conversation met my" (Onderhoud 6, paragraaf 44).

    Neutrale ervaring

    Anders as by die respondente in Groep 1, het een respondent in Groep 2 aangedui hulle voel neutraal oor die Kaapse Afrikaans-weergawe: "Either way is okay, I guess" (Onderhoud 6, paragraaf 58).

    Meer negatiewe ervaring

    Slegs een van hierdie respondente het 'n negatiewe ervaring met die Kaapse Afrikaans-weergawe van die teks ervaar. Die respondent het aangedui dat die Kaapse Afrikaans-weergawe nie van pas was nie:

    Kyk, ons meng mos maar, iewers op 'n kol gooi ons maar 'n Engelse woord in. Maar ek hou nie ... Hoe sal ek sê, daars 'n konnotasie aan hierdie tipe taal. Verstaan jy? 'n Negatiewe konnotasie sal ek sê. Want jy verbind dit altyd met skollies sal ek maar sê (Onderhoud 3, paragraaf 46).

    Volgens hierdie respondent het die Kaapse Afrikaans-weergawe ook tot minder verstaanbaarheid gelei: "[Dit is] verskriklik verwarrend as jy nie gewoond is aan so praat nie. Dan help dit nie eens jy lees dit nie" (Onderhoud 3, paragraaf 60).

    5.2.3 Ervaring van die Namakwalandse Afrikaans-weergawe

    Meer positiewe ervaring

    Wat die Namakwalandse Afrikaans-weergawe betref, het van die respondente in Groep 2 aangedui dat hulle die tipe taal herken in hulle persoonlike omstandighede, wat tot 'n positiewe ervaring gelei het:

    Dis hoe ons by die huis praat. Ek het so snaaks gekry van, wat is die gedeelte nou? Wat van 'n ding is dit dan nou? Because dis geniunely, dit voel as ek huis toe gaan, dit is letterlik hoe ons praat. So ek like dit van teks 3. Dit, it just hits home [...] Familiar, yes. Soos ek voel ek praat met 'n antie wat nou in die straat loop of 'n ding. Ja (Onderhoud 6, paragraaf 54).

    Neutrale ervaring

    Tog was daar ook 'n vorm van neutraliteit wat die Namakwalandse Afrikaans-weergawe betref: "Either way is okay, I guess" (Onderhoud 6, paragraaf 58).

    Meer negatiewe ervaring

    Een van hierdie respondente het aangedui dat hulle nie van die Namakwalandse Afrikaans-weergawe hou nie omdat dit nie die realiteit weerspieël nie. Volgens hulle bevat die teks woorde wat nie meer algemeen in gebruik is nie:

    Laat ek net hier sien. Nee. Kyk, daai 'kjeent', dit is mos nou tipies die Namakwalands, maar dit is ook vir my ... eintlik is dit aan die uitsterf, dink ek. Dis rêrig net die ouer mense wat nog rêrig so praat [...] Maar ek dink nie die mense gebruik meer woorde soos 'katels' en 'kooi' nie (Onderhoud 3, paragraaf 50).

    Die respondent het ook gevoel dat hoewel die Namakwalandse Afrikaans-bewoording as "snaaks" kan voorkom, dit nie van pas is in geskrewe formaat nie: "Dis nou vir hulle snaaks. Maar dis glad nie vir my snaaks nie. Want wat wil jy bereik met Afrikaans?" (Onderhoud 3, paragraaf 62).

    5.3 Groep 3

    Twee respondente het aangedui dat hulle grootgeword het met Namakwalandse Afrikaans, maar dat hulle in hulle kinderdae Kaap toe getrek het en nou Kaapse Afrikaans as hulle huistaal identifiseer. Die bevindings uit hulle onderhoude word hier bespreek.

    5.3.1 Ervaring van die Standaardafrikaanse weergawe

    Meer positiewe ervaring

    Een van die respondente het aangedui dat hulle van die Standaardafrikaanse weergawe gehou het omdat dit die maklikste was om te lees: "[Ek verkies] maar net partykeer miskien as ek nou iets gaan lees waarop ek moet fokus, die gewone taal, algemene taal. Dis hoekom dit vir my lekker was om die teks te lees" (Onderhoud 1, paragraaf 42). Die ander respondent het aangedui dat hulle van die gewone weergawe gehou het omdat daar geen persoonlikheid daaraan gekoppel was nie. Dit het hulle toegelaat om die teks te interpreteer soos wat hulle wou:

    Obviously sal 'n mens despite dit so geskryf is, sommige van ons sal dit different lees want ons, kan ek sê, ons aksente in Afrikaans byvoorbeeld verskillende, ja, net die weergawes wat ons praat. So dis amper soos die original ding, maar mense kan jou eie daarvan af uitmaak. Dis wat ek hou van die normale, soos die algemene weergawe. Want ek kan nog steeds dit in jou eie aksente of so lees (Onderhoud 4, paragraaf 47).

    Neutrale ervaring

    Soos die geval is met die res van die respondente, het hierdie respondente ook aangedui dat hulle neutraal oor die Standaardafrikaanse weergawe gevoel het: "Dit het maar net gevoel soos 'n gewone teks, soos wat ons op skool nou gaan doen" (Onderhoud 4, paragraaf 42).

    Meer negatiewe ervaring

    Hierdie respondente het egter ook kommentaar gelewer wat op 'n negatiewe ervaring van die Standaardafrikaanse weergawe dui. Beide het spesifiek genoem dat die bewoording nie altyd duidelik was nie:

    Soos byvoorbeeld, soos hoe kan ek nou sê? Kom ons kyk. Ek het dit ook genote toe ek lees. Soos 'birthing partner', daai woord. Die eerste keer toe ek lees 'geboortemetgeselle' toes ek 'Wat is dit?'. Toe lees ek nou 'Ondersteun die ma na kraam', toes ek soos okay dit het iets te doen met kraam en die ma. Toe ek verder lees, toe kom kry ek 'n bietjie van 'n clue [...] Maar by die een ek het nie so gou 'n clue gehad nie. Want dis nie woorde wat ek elke dag gebruik nie. Ek meen, 'geboortemetgeselle' en ja, dis nie woorde wat ek altyd gebruik nie. Hiers nog twee of drie ander woorde. Soos, ja, dis van die woordjies wat ek nie in my eie woordeskat gebruik nie (Onderhoud 4, paragraaf 51).

    5.3.2 Ervaring van die Kaapse Afrikaans-weergawe

    Meer positiewe ervaring

    Wat die Kaapse Afrikaans-weergawe betref, het beide respondente kommentaar gelewer wat op 'n positiewe ervaring dui. Een van die respondente het aangedui dat hoewel hulle Kaapse Afrikaans elke dag hoor, dit 'n goeie ervaring was om die teks te lees: "Dit was interessant gewees om dit so te kan lees, want okay, ons kan enige tyd Kaaps êrens kry om te lees, maar dit was vir my lekker om die Kaaps ook vir 'n slag weer te kan lees" (Onderhoud 1, paragraaf 30). Hulle het ook aangedui dat alhoewel Kaapse Afrikaans gereeld in Afrikaanse letterkunde verskyn, dit nie gereeld in ander vorme van geskrewe teks gesien word nie:

    Ek dink net omdat die Kaaps ene was omdat ek nie so oor letterkunde is nie is ek nooit in kontak, as ek dit so kan sê, met Kaapse Afrikaans geskrewe nie. Want ek doen nie letterkunde nie en ek het ook 'n Honneurs het ek net een module letterkunde gedoen en ons het nie Kaaps gedoen daar nie. So dit was lekker om nou weer die Kaaps te kan lees en nie net so te hoor elke dag nie (Onderhoud 1, paragraaf 34).

    Beide respondente het ook aangedui dat hulle van die Kaapse Afrikaans-weergawe gehou het omdat dit hulle aan hul persoonlike omstandighede herinner het:

    Die Kaapse een het ek, ek het opgelet dat as ek lees, ek lees dit meer vloeiend. Dis die manier hoe ek oor die algemeen praat. Dis die tipe weergawe van Afrikaans wat ek praat. Dit voel vir my asof die persoon wat dit geskryf het praat met my. So ek like dat dit vloei as ek dit lees [...] Dit lees, ja, lees baie makliker, ja. Alles maak net meer sin. Soos die Engels ... dit maak ook dinge, dit verstaan meer. Ek dink ook omdat ek ... ek weet nie, ja, maar dit maak net die ... seker omdat ek so praat maak dit dit meer verstaanbaar. Dit lees net makliker. Dit is 'n vloeiende lees, ja (Onderhoud 4, paragraaf 43).

    Hierdie terugvoer asook kommentaar wat die respondent later in dieselfde onderhoud gemaak het, dui daarop dat die Kaapse Afrikaans-weergawe meer verstaanbaar vir die respondent was: "Ek weet nie, ja, maar dit maak net die ... seker omdat ek so praat maak dit dit meer verstaanbaar" (Onderhoud 4, paragraaf 43).

    Neutrale ervaring

    Nie een van die twee respondente het enige kommentaar wat dui op neutraliteit oor die Kaapse Afrikaans-weergawe gelewer nie.

    Meer negatiewe ervaring

    Daar was wel eienskappe van die Kaapse Afrikaans-weergawe waarvan die respondente nie gehou het nie. Een respondent het spesifiek aangedui dat die spelling nie noodwendig was soos wat hulle dit sou geskryf het nie: "Hier by die laaste gedeelte, die 'ienage iets', daai gedeelte van 'Is djy offie ma onsieker oo ienage iets'. Ek weet net nie, ek weet nie hoe dit geskryf word in die Kaaps nie, maar miskien sou ek dit anders geskryf het" (Onderhoud 1, paragraaf 48). Hierdie terugvoer beklemtoon die probleme wat ondervind word weens Kaapse Afrikaans wat nie gestandaardiseer is nie. Die ander respondent het aangedui dat die spelling soos spelfoute gelyk het: "En ek dink omdat ek nie gewoond is dat dit so geskryf is nie is dit amper soos soms het ek gedink, ai man, dies 'n spelfout. Maar dans dit okay, maar nee, daai is nie 'n spelfout nie. So tipe ding like het ek hier gesien, ja" (Onderhoud 4, paragraaf 55).

    5.3.3 Ervaring van die Namakwalandse Afrikaans-weergawe

    Meer positiewe ervaring

    Aangesien die spesifieke respondente met Namakwalandse Afrikaans grootgeword het, het hulle positiewe opmerkings ten opsigte van die teks te make met hul persoonlike ervaring van hierdie variëteit:

    Vir my was dit meer interessant want soos ek mos nou gesê het, ek het groot geraak in dié Afrikaans, so dis hoekom ek weet dis 'kjeent' [...] So ek weet nie rêrig wat ek hiervan hou nie, despite daai dat dit bring vir my terug, ek het so gepraat of ek ken mense wat so praat (Onderhoud 4, paragraaf 57).

    Hierdie respondente het ook spesifiek aangedui dat hulle van die gebruik van humor in die teks hou:

    Die was nogals funny vir my, want kyk, die eerste, die gewone een sê 'lewensmaats, mans, moeders en vriende'. Die Kaapse een sê 'lewensmaats, mans, ma's, vrinne'. En dan sê hierdie een 'lewensmaters, manne, vrouens en tjommies en al tien en twintigs'. So daai was vir my bietjie snaaks gewees. So hulle het ook 'n manier wat ek kan sien hoe hulle nou sal praat, byvoorbeeld wat vir my is, okay, dis 'n bietjie snaaks nogals (Onderhoud 4, paragraaf 58).

    Neutrale ervaring

    Soos die geval is met die ander groepe respondente, het ook hierdie respondente nie kommentaar gelewer wat op 'n neutrale ervaring van die Namakwalandse Afrikaans-weergawe dui nie.

    Meer negatiewe ervaring

    Hoewel die respondente met Namakwalandse Afrikaans grootgeword het, het hulle steeds gesukkel met die verstaanbaarheid van die teks:

    Maar die Namakwalandse Afrikaans, ek het gedink ek sal dit beter kan verstaan, maar dit was nogals moeilik vir my gewees. 'n Bietjie moeilik, effens moeilik gewees om sommige woorde te verstaan. Dan moet ek die sin lees om die konteks te kry of so iets (Onderhoud 1, paragraaf 30).

    Een respondent het spesifiek gesukkel om die woord "!xhamthoe" - 'n woord eie aan die Springbok-area wat "lekkef beteken - te verstaan: "Ek weet nie wat is daai woord nie. Wat se rol speel ... ek ken nie daai woord nie" (Onderhoud 1, paragraaf 54). Voorts het die respondente ook met die sinsnedes gesukkel:

    Like ek het baie hier vasgesit. Van die sinne het ek twee keer gelees. Van die woorde is byvoorbeeld goed wat ek nie rêrig gewoond is aan nie. Soos hulle sê byvoorbeeld 'Is die ma dee loop kjeent kry' en wat, soos hulle sal sê. Maar die sin maak nie vir my rêrig sin nie. Soos 'dee loop kjeent kry' in plaas van as die ma like ... So soms het dit nie sin gemaak nie, dan moes ek dit twee keer gelees het. En so. En die het nie meer gevloei nie. Dit was 'n meer hakkerig, dan was ek soos okay, ek het nou iets gelees maar wat sê dit eintlik? Dan lees ek die sin weer oor en weer oor. En soms wanneer dit net glad nie sin gemaak half nie, maar ja (Onderhoud 4, paragraaf 41).

    Beide respondente het aangedui dat hulle Namakwalandse Afrikaans eerder sou wou hoor as om dit in geskrewe formaat te kry:

    Nie te lees nie, om dit te hoor, want soos ek nou gesê het, ek het nou gelees soos byvoorbeeld die Namakwalands. Ek het dit nou gelees en daar is 'n paar woorde wat ek nie verstaan het nie. Maar ek voel as iemand aan my die storie so gaan vertel, dan gaan ek dit verstaan. Ek gaan nog altyd nie 'n woord ken nie, maar ek gaan dit verstaan want dit word deur iemand anders gelees in die konteks of gesê. Maar as ek dit nou self moet lees, dan is dit bietjie moeilik om sommige van die woorde te verstaan (Onderhoud 1, paragraaf 58).

     

    6. Gevolgtrekkings

    Oor die algemeen het al die respondente positiewe ervarings met die Standaardafrikaanse weergawe van die teks gehad as gevolg van hulle ervaring met hierdie tipe taal in geskrewe formaat. Hul ervaring met die teks het ook tot beter verstaanbaarheid gelei. Daar was egter verskeie respondente wat aangedui het dat hulle neutraal oor die Standaardafrikaanse weergawe gevoel het - hoofsaaklik omdat hulle daaraan gewoond was om hierdie variëteit in geskrewe formaat te sien; dit was dus nie ongewoon nie. Ten spyte daarvan dat hierdie weergawe in gewone taal geskryf is, was daar tog aspekte van die dokument wat verstaanbaarheid belemmer het, byvoorbeeld die woord "geboortemetgeselle".

    Wat die Kaapse Afrikaans-weergawe betref, het veral respondente in Groep 1 positief oor hierdie weergawe gevoel. Hulle het daarvan gehou omdat hulle die Kaapse Afrikaans-weergawe van die teks met hulle persoonlike omstandighede kon vereenselwig. Hierdie respondente het ook gevoel dat die Kaapse Afrikaans-weergawe beter vloei. Negatiewe aspekte wat sommige respondente in Groep 1 geopper het, was dat hulle sekere woorde anders sou spel of ander woorde sou gebruik, terwyl sommige kommentaar gelewer het oor watter variëteit van Kaapse Afrikaans dit is, aangesien daar verskeie subvariëteite van Kaapse Afrikaans is. Hierdie resultate spreek tot die feit dat Kaapse Afrikaans nie gestandaardiseer is nie, en dat spelling dus nie "korrek" of "verkeerd" is nie. Een van die respondente in Groep 2 het aangedui dat die Kaapse Afrikaans-weergawe onvanpas is en dat daar 'n negatiewe konnotasie daarmee geassosieer is. Verder het een van die respondente opgemerk dat die taalgebruik verwarrend kan wees vir mense wat nie gewoond daaraan is nie en dit kan die verstaanbaarheid van die teks belemmer.

    Wat die Namakwalandse Afrikaans-weergawe van die teks betref, het die respondente in Groep 1 meestal positief gereageer. Die respondente in Groep 1 het die taalgebruik herken as gevolg van hul interaksies met mense wat die Namakwalandse Afrikaans-variëteit gebruik. So ook het hulle die manier waarop dit geskryf is as gemaklik ervaar. Respondente het veral die uitspraak van die teks geniet, asook die gebruik van metafore en vergelykings, wat die leeservaring versterk het. Van die respondente in Groep 1 het die teks egter ook negatief ervaar, veral as gevolg van 'n gebrek aan verstaanbaarheid, wat daartoe gelei het dat hulle langer geneem het om die teks te lees. Verskeie respondente het gesukkel met onbekende woorde en frases wat die teks se verstaanbaarheid bemoeilik het. Ander het die taalgebruik as te kompleks beskou, met sekere woorde wat te ingewikkeld of onbekend was. Die meeste respondente het aangedui dat hulle met die Namakwalandse Afrikaans-weergawe gesukkel het omdat hulle nie gereeld met hierdie Afrikaanse variëteit in aanraking was nie. Van die respondente in Groep 2 het verder aangedui dat sekere woorde in die teks nie meer algemeen gebruik word nie en besig is om uit te sterf. Hulle het ook aangedui dat hoewel die taal humoristies kan voorkom, dit nie noodwendig gepas is in 'n geskrewe formaat nie.

    Soos bespreek aan die begin van hierdie artikel, is verstaanbaarheid 'n belangrike eienskap van gewonetaaldokumente. Burger (2024) dui aan dat daar 'n positiewe verhouding is tussen verstaanbaarheid en ervaring; dit wil sê, hoe meer positief respondente voel oor 'n gewone-taaldokument, hoe meer verstaanbaar vind hulle dit. Dit is dus belangrik vir 'n leser van 'n gewonetaaldokument om 'n positiewe ervaring met die dokument te hê om dit ook verstaanbaar te vind. Burger (2024:309-310) bevind ook dat daar 'n komplekse verhouding bestaan tussen verstaanbaarheid en ervaring van gewonetaaldokumente en respondente se huistaalvariëteit van Afrikaans.

    In hierdie studie is ondersoek ingestel of die gebruik van variëteite van Afrikaans in gewonetaaldokumente, ervaring beïnvloed. Die resultate dui op die kompleksiteit wat gepaardgaan met variëteite van Afrikaans wat in gewonetaaldokumente geïnkorporeer word. Hoewel daar positiewe resultate is wat daarop dui dat variëteite wel in gewonetaaldokumente gebruik kan word, is daar ook verskeie negatiewe resultate om in ag te neem. Ervaring en verstaanbaarheid van 'n teks kan belemmer word as variëteite nie reg gebruik word nie. Indien gewonetaalskrywers taalvariëteite wil inkorporeer in tekste, sal hulle met sprekers van daardie variëteite moet saamwerk aan die hand van duidelike riglyne van die tipe variëteite wat die lesers gebruik. Standaardisering van variëteite sal ook help met die gebruik van variëteite in geskrewe formaat.

    Hoewel die twee vertalers wat die tekste in Kaapse Afrikaans en Namakwalandse Afrikaans vertaal het beide kenners van die onderskeie variëteite is, is 'n tekortkoming van die huidige studie dat slegs hierdie twee vertalers aan die twee tekste gewerk het. Indien meer as een vertaler aan 'n teks gewerk het, sou daar moontlik meer konsensus wees oor die spelling van sekere woorde, die gebruik van sekere frases, ensovoorts, wat die feit dat die variëteite nie gestandaardiseer is nie, moontlik kon teenstaan.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Becker, I & Sasse, A. 2016. Combining qualitative coding and sentiment analysis: Deconstructing perceptions of usable security in organisations. 4th Learningfrom Authoritative Security Experiment Results (LASER) Workshop, 4:1-11.         [ Links ]

    Burger, JM. 2023. Die verband tussen kontekstuele en buitetekstuele faktore en die doeltreffende aanwending van gewone taal. Ongepubliseerde PhD-tesis. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

    Burger, JM. 2024. Verstaanbaar en bruikbaar, maar ook aangenaam? 'n Evaluering van verbruikers se ervaring met gewonetaaltegnieke. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 64(2):281-314.         [ Links ]

    Gaireyah Fredericks. 2024. [Intyds]. Beskikbaar: https://otwpoetry.wixsite.com/off-the-wall/post/gaireyah-fredericks-3#:~:text=Her%20translation%20to%20Kaaps%20of%20Russell%20Kaschula's%20Knife's [2025, Maart 2].

    Gouws, A. 2019. Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite. LitNet. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/herstandaardisering-van-afrikaans-die-tameletjie-en-uitdaging-van-opsies-en-besluite/ [2023, Augustus 10].

    Hacking, C, Verbeek, H, Hamers, JPH & Aarts, S. 2023. Comparing text mining and manual coding methods: Analysing interview data on quality of care in long-term care for older adults. PLOS ONE, 18(11):1-13.         [ Links ]

    Heath, C. 2023. Sentiment analysis: Find out what users think about your brand & product. [Intyds]. Beskikbaar: https://dovetail.com/customer-research/what-is-sentiment-analysis/ [2025, Augustus 22].         [ Links ]

    Hennink, M & Kaiser, BN. 2022. Sample sizes for saturation in qualitative research: A systematic review of empirical tests. Social Science & Medicine, 292:1-10.         [ Links ]

    Holmes, J. 2001. An Introduction to Sociolinguistics. London: Routledge.         [ Links ]

    International Plain Language Federation. 2025. Plain language definitions. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.iplfederation.org/plain-language-definitions/ [2025, Junie 30].         [ Links ]

    Le Cordeur, M. 2011. 'n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum. LitNet. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/n-strategie-vir-die-insluiting-van-kaapse-afrikaans-by-die-formele-skoolkurrikulum/ [2025, Maart 2].         [ Links ]

    Meyer, N, Saal, E & Norton, C. 2020. Afrikaanse dialekte in die klaskamer: Kô lat ôs praat - 'n onderhoud met Elvis Saal. LitNet. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/afrikaanse-dialekte-in-die-klaskamer-ko-lat-os-praat-n-onderhoud-met-elvis-saal/ [2025, Maart 2].         [ Links ]

    Monka, M, Quist, P & Skovse, AR. 2020. Place attachment and linguistic variation: A quantitative analysis of language and local attachment in a rural village and an urban social housing area. Language in Society, 49(2):173-205.         [ Links ]

    Otto, A. 2017. Sosiolinguistiek. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde 2. Pretoria: Van Schaik Uitgewers. [Intyds]. Beskikbaar: https://research-ebsco-com.ez.sun.ac.za/c/2kr3y4/ebook-viewer/epub/thxiiqem6j/section/navPoint-267 [2025. Augustus 24].         [ Links ]

    Pienaar, M. 2002. The use of plain language - not that simple. Journal of Language Teaching, 36(1&2):146-151.         [ Links ]

    Saal, E & Blignaut, J. 2011. "Moetie rai gammattaal gebrykie": Die gebruik en waarde van 'n Tienerkaaps in gedrukte advertensies. Litnet. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/moetie-rai-gammattaal-gebrykie-die-gebruik-en-waarde-van-n-tienerkaaps-in-gedrukte/ [2025, Julie 1].         [ Links ]

    Saal, E. 2012. To use or not to use teenage Afrikaans in HIV prevention messages directed at Afrikaans teenagers in Pretoria. Stellenbosch Papers in Linguistics, 41:91-105. Sisca Julius. 2021. [Intyds]. Beskikbaar: https://en.everybodywiki.com/Sisca_Julius#:~:text=Sisca%20Julius%20won%20the%20inaugural%202019%20K%20and [2025, Maart 2].         [ Links ]

    Spolsky, B. 1998. Sociolinguistics. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

    Van Heerden, M & Kulsen, A. 2017. Oranjerivierafrikaans is nxa!: 'n onderhoud met Anzil Kulsen. LitNet. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/oranjerivierafrikaans-nxa-n-onderhoud-met-anzil-kulsen/ [2025, Maart 2].         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2025-07-10
    Goedgekeur: 2025-08-15
    Gepubliseer: September 2025

     

     

    Annie Burger het in 2014 haar BA-graad aan Stellenbosch Universiteit ontvang en behaal agtereenvolgens daarna ook die volgende kwalifikasies aan dieselfde universiteit: Na-graadse Diploma in Dokumentanalise en -ontwerp (2016), MA in Dokumentanalise en -ontwerp (2018) en PhD in Afrikaans en Nederlands in 2023. Tans is sy 'n nadoktorale navor-singsgenoot in die Departement Afrikaans en Nederlands aan Stellenbosch Universiteit. Dr. Burger fokus in haar navorsing op sosiale en kontekstuele faktore wat gewone taal beïnvloed. Sy het ook ondervinding in leer- en inligtings-ontwerp.
    Annie Burger was awarded a BA degree at Stellenbosch University in 2014. Thereafter, she consecutively obtainted the following degrees and qualifications at the same university: Postgraduate Diploma in Document Analysis and Design (2016), MA in Document Analysis and Design (2018) and, finally, a PhD in Afrikaans and Dutch in 2023. Currently she is a postdoctoral research fellow in the Department of Afrikaans and Dutch at Stellenbosch University. Dr Burger focuses in her research on the social and contextual factors that influence plain language. She also has experience in learning and information design.
    1 Although there is currently debate about the acceptability of a term such as standard Afrikaans, it is still used in this study, since it corresponds with the findings in previous studies regarding respondents' experiences of different varieties. The argument for and against the (continued) use of standard Afrikaans will be discussed in future studies.
    2 Alhoewel daar tans gedebatteer word oor die aanvaarbaarheid, al dan nie van 'n term soos Standaardafrikaans, word dit steeds in hierdie studie gebruik, aangesien dit aansluit by die bevindinge van respondente oor hul ervaringe van verskillende variëteite in vorige studies. Die argumente pro en kontra die (voortgesette) gebruik van Standaardafrikaans sal in volgende studies beredeneer word.