SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 issue2Motion verbs in Van Wyk Louw's poetryNP van Wyk Louw's animals and figures: An ecocritical reading author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 n.2 Pretoria Jun. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n2a9 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    'n Eerste beraming van Orania se bruto geografiese produk

     

    A first estimate of Orania's gross geographical product

     

     

    Jawik Rossouw

    Besoekende professor: Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: jannie.rossouw@wits.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    Orania is 'n dorp met 'n bevolking van sowat 3 000 mense op die suidelike oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaapprovinsie van Suid-Afrika. Die dorp is sowat 160 kilometer suid van Kimberley, die Noord-Kaap se hoofstad, geleë.
    Die Afrikanergemeenskap van Orania se doelwit is groeiende selfbeskikking. 'n Eerste opvallende kenmerk is dat Afrikaans die enigste taal is wat op die dorp gebruik word, gegewe die bevolkingsamestelling. Die bevolkingsamestelling, naamlik 'n Afrikanergemeenskap, word onder meer behou deur 'n stelsel van verblyfreg toe te pas. Verblyfreg is 'n voorreg wat aan 'n aansoekproses onderworpe is.
    Daarbenewens beoefen die dorp selfwerksaamheid, wat in die praktyk beteken dat voorkeur gegee word aan die indiensneming van Orania se eie inwoners, naamlik diegene met verblyfreg. Persone van buite die dorp kan slegs met vooraf verkreë toestemming vir tydperke van langer as twee dae in Orania werk. Derdens is 'n koepon (die ora, of
    φ) in Orania in omloop. Die ora word uitgereik teen 'n koers van φ1,00 = R1,00. Aangesien die inwoners van Orania die woord ora verkies wanneer bedrae ter sprake is, word dieselfde konvensie (waar toepaslik) in hierdie artikel gebruik.
    Hierdie artikel brei vorige navorsing oor ekonomiese aangeleenthede van Orania uit. Beskikbare literatuur fokus hoofsaaklik op Orania se doelwit van groeiende selfbeskikking en ander aspekte van die gemeenskap. Hierteenoor is daar in die literatuur slegs 'n beperkte fokus op Orania se ekonomie en die vlakke van ekonomiese bedrywigheid. Hierdie artikel dra daartoe by om hierdie leemte in die literatuur te vul.
    Omvattende sensusse van die bevolking en sakebedrywighede is in Desember 2021 en vroeg in 2022 in Orania opgeneem. Hierdie sensusse het die dorp se bevolking, huishoudelike en persoonlike inkomste, en besigheidsinkomste gerapporteer. Op grond van hierdie data is die totale persoonlike jaarlikse inkomste van Orania se inwoners op
    Φ295 672 222 beraam, terwyl die jaarlikse huishoudelike inkomste op φ190 331 179 beraam is. Jaarlikse besigheidsomset vir 2021 is op Φ281 950 000 beraam. Ná die inkomsteberamings is 'n volgende stap die beraming van ekonomiese bedrywigheid in Orania. Dit behels die beraming van die bruto geografiese produk (BGP). In hierdie navorsing is die inkomstemetode gebruik om Orania se BGP te beraam.
    Die BGP vir 2021 is op
    φ344,7 miljoen beraam, terwyl die beraming vir 2023 Φ462,0 miljoen beloop. Hierdie syfers verskaf 'n vertrekpunt vir verdere navorsing oor Orania se vlak van ekonomiese bedrywigheid en jaarlikse reële ekonomiese groei.

    Trefwoorde: Afrikaans; Afrikaner; bruto geografiese produk; ekonomiese bedrywigheid; Orania


    ABSTRACT

    Orania is a village with a population of about 3 000people on the southern bank of the Orange River in the Northern Cape Province of South Africa. The town is situated about 160 kilometres south of Kimberley, the Northern Cape's capital city.
    As an Afrikaner community, Orania's objective is growing self-determination. Given its nature as an Afrikaner community, all inhabitants speak Afrikaans. In addition, the town applies a policy called 'selfwerksaamheid ' (loosely meaning 'to work with our own for our own'), i.e., preference is given to the employment of people from Orania itself. Prospective inhabitants have to apply for approval before they may settle in Orania and these people are employed in terms of this policy of 'selfwerksaamheid'. Employment ofpeople from outside the town for a period exceeding two days is allowed only with prior approval. Furthermore, a coupon (the ora, or
    φ) is in circulation in the town. The ora is issued at a rate of ¢1,00 = R1,00. As the inhabitants of Orania prefer the use of ora when referring to amounts, that convention is used in this paper.
    While there is literature on Orania's objective of growing self-determination and developing other aspects of the community, reporting economic activity in the town receives scant attention in the literature. This paper contributes to filling this void.
    Comprehensive population and business censuses were undertaken in Orania in December 2021 and early in 2022. These censuses reported the town'spopulation, household and personal income, and business income. Based on these data, the total personal annual income of the town was estimated at ¢295 672 222, while the annual household income was estimated at
    Φ190 331 179. Business turnover was estimated at Φ281 950 000.
    A next step in researching economic activity in Orania is estimating the gross geographical product (GGP). Estimates of gross domestic product (GDP) are made for countries, but similar estimates for subregions, provinces, towns and the like are known as GGPs. GDP and GGP figures are best estimates and notfirm orfinal calculations. Thesefigures are subject to periodic revision for up to a decade after they were first published.
    This paper expands previous research by reporting the first estimate of Orania's GGP. The income method (GGP = income + taxes + profit + depreciation) is used to estimate GGP. The nominal GGP for 2021 is estimated at
    Φ344,7 million. For 2023, the nominal GGP is estimated at Φ462,0 million. These figures set a first base line for Orania's level of economic activity, which can be used as a reference for future estimates of a similar nature. Likewise, these figures serve as a base line for the future calculation of Orania's real GGP, which can then be used to calculate annual real economic growth.

    Keywords: Afrikaans; Afrikaner; economic activity; gross geographical product; Orania


     

     

    1. Inleiding

    Orania is 'n Afrikanergemeenskap van sowat 3 000 mense op die suidelike oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaapprovinsie van Suid-Afrika. Die dorp is sowat 160 kilometer suid van Kimberley, die Noord-Kaap se hoofstad, geleë.

    Orania se ontstaan kan teruggevoer word tot 1963, toe die aanleg daarvan as 'n dorp vir personeel van die destydse Departement van Waterwese as deel van die Oranjerivier-waterskema 'n aanvang geneem het, soos Senekal (2021) verduidelik. Stallebras (1963) bespreek sekere aspekte van die Oranjerivier-waterskema en noem dat Orania as een van ses "Waterwese-dorpe" binne die Skema deur die (destydse) Departement van Waterwese ontwikkel is. Die aard van Orania het egter in 1991 verander nadat die dorp onder leiding van die Afrikanervryheidstigting (Avstig) aangekoop is met die oog op die vestiging van 'n Afrikaner-gemeenskap (Boshoff, 2012:384-389).

    Sedert 1991 is Orania se doelwit groeiende selfbeskikking. 'n Eerste opvallende kenmerk is dat Afrikaans die enigste taal is wat op die dorp gebruik word, gegewe die bevolkingsamestelling. Die bevolkingsamestelling, naamlik 'n Afrikanergemeenskap, word onder meer behou deur die toepassing van 'n stelsel van verblyfreg. Verblyfreg is 'n voorreg wat eers ná 'n aan-soekproses verwerf kan word.

    Tweedens beoefen Orania selfwerksaamheid, wat in die praktyk beteken dat voorkeur gegee word aan die indiensneming van plaaslike inwoners met verblyfreg. Persone van buite (sonder verblyfreg) kan slegs met spesiale vooraf verkreë toestemming vir tydperke van langer as twee dae in Orania werk.

    Derdens het Orania 'n "privaat geldeenheid", naamlik die ora, met die simbool φ, wat vryelik in omloop is. Die ora word uitgereik teen 'n koers van φ1,00 = R1,00, maar word net in Orania verhandel. Aangesien die inwoners van Orania die gebruik van ora verkies wanneer bedrae genoem word, word dieselfde konvensie (waar toepaslik) in hierdie artikel gebruik.

    Die gebruik van die naam "Orania" is vatbaar vir verskillende interpretasies. Enersyds is daar 'n dorp (met verskillende woonbuurte) wat as Orania bekend is. Die dorp bestaan uit verskeie woonbuurte, byvoorbeeld Kleingeluk, Orania-Oos en Orania-Wes. Dit is een betekenis van die woord "Orania". Andersyds is daar egter landbougrond rondom die dorp (in die eng sin van die woord) wat ook as "Orania" (in die breër sin van die woord) beskou word. Sekere dele van hierdie landbougrond (byvoorbeeld landbouhoewes) maak vir behuising voorsiening, terwyl dit ook landboubedrywighede insluit. Orania en omliggende landbougrond word in Tabel 1 toegelig.

     

     

    Hierdie artikel brei vorige navorsing oor ekonomiese aspekte van Orania uit deur te fokus op die bruto geografiese produk (BGP). Die artikel is soos volg gestruktureer: Afdeling 2 fokus op literatuur oor Orania. Afdeling 3 bespreek die berekening van Orania se huishoudelike, persoonlike en sake-inkomste. Afdeling 4 bespreek die metodologie van die beraming van die bruto binnelandse produk (BBP) van lande en die BGP van gebiede binne lande, byvoorbeeld Orania. Afdeling 5 bespreek die beramingsmetodologie van die BGP van Orania, wat op dieselfde wyse as die BBP beraam word. Die gevolgtrekkings volg in Afdeling 6.

     

    2. Literatuuroorsig

    'n Oorsig van beskikbare literatuur toon dat navorsers slegs beperkte aandag aan Orania se ekonomie gee. Vir doeleindes van hierdie navorsing kan die beskikbare literatuur in ses verskillende "groeperings" gekategoriseer word. Eerstens is daar literatuur wat handel oor die geskiedenis van Orania voor 1991 en die ontwikkeling van die dorp nadat dit in 1991 onder Avstig se leiding aangekoop is vir die vestiging van as 'n Afrikanergemeenskap (Boshoff 2012:384-389; Boshoff, 2020; Cavanagh 2013; Rossouw 2024b; Visser & Visser 2022). Senekal (2021) maak ook sekere opmerkings oor Orania toe die bestuur van die dorp tussen 1963 en 1991 deur die (destydse) Departement van Waterwese behartig is, maar sy werklike bydrae tot die literatuur is 'n analise van beriggewing oor Orania in meer as 200 mediabronne sedert 1991.

    Tweedens is daar akademiese studies op honneurs-, magister- en PhD-vlak wat handel oor Orania se ontwikkeling ná 1991 (Hagen, 2013; Pienaar, 2007; Seldon, 2014; Van der Burgt, 2016). Hierdie akademiese studies fokus op dorpsontwikkeling, die politieke aard van Orania en die strewe na groeiende selfbeskikking. Dié navorsers het nie ekonomiese aspekte van Orania oorweeg nie.

    Derdens is daar ewe-eens akademiese literatuur wat oor dorpsontwikkeling en die strewe na groeiende selfbeskikking handel (De Beer 2006; Delvecki & Greiner, 2014; Kotze et al. 2019; Majavu, 2022; Veracini, 2011). De Beer (2006:109) se bevinding is dat " ... a strong feature of the identity of the majority of the people of Orania is the premium they place on their freedom and self-determination in an own volkstaat." Majavu (2022:12) staan baie krities teenoor hierdie strewe van Orania en kritiseer Orania se stelsel van verblyfregaansoeke sowel as die beleid van volkseie arbeid en selfwerksaamheid, omdat dit na sy mening tot die gebruik van "kultuur" lei as 'n poging om apartheid voort te sit.

    Vierdens is daar literatuur wat op verskeie belangrike, maar onderling onverwante, aspekte van Orania fokus. Kotzé en Senekal (2018) ontleed byvoorbeeld die openbare diskoers oor Orania ná 'n analise van die Twitter-platform. Hul bevinding was dat Orania hoofsaaklik negatief uitgebeeld word. Senekal (2019) ontleed netwerkverbindings by wyse van die rol wat persone by verskillende instansies speel. Soos dikwels in 'n klein gemeenskap die geval is, word verskeie oorvleuelende netwerkverbindings geïdentifiseer. Netwerkverbindings sal natuurlik mettertyd weens 'n groeiende bevolking verander, want meer rolspelers sal tot die gemeenskap toetree.

    In die vyfde plek fokus die literatuur op die toekomstige aard van Orania te midde van 'n groeiende bevolking. Dit moet gesien word teen die agtergrond van Orania se strewe na groeiende selfbeskikking. Orania se bevolking groei jaarliks met tussen 9 en 10 persent, hoofsaaklik omdat Afrikaners van elders in Suid-Afrika hulle daar vestig. As hierdie groeitempo voortduur, sal Orania se bevolking binne sowat sewe jaar verdubbel tot ongeveer 5 750 mense. Orania se groeitrajek (wat sowel bevolking as infrastruktuur- en behuisingsontwikkeling betref) is die tema van De Klerk (2014) se navorsing. De Klerk (2014:72) verklaar oor Orania se toekoms dat "(v)ir Afrikaners die reg om self oor hul eie toekoms te kan beslis in alle politieke handelings deurslaggewend (was) en vryheid altyd die einddoel (was) waarop optrede gerig was. Vryheid is dus die voorwaarde vir 'n voorspoedige toekoms."

    In hierdie verband waarsku Van der Burgt (2016:186) egter soos volg:

    But with demographic and economic growth also come changes to the social cohesion and cultural make-up of a community. Based on my fieldwork I sense that there might come a significant challenge to the preservation of what can be regarded as Orania's core values. Deeply ingrained as they are to what makes Orania, their communitarian nature nonetheless positions them at odds with a growing community that attracts a relatively mixed group of immigrants from all over South Africa.

    Hoe Orania in die toekoms daar sal uitsien en verdere ontleding van literatuur oor hierdie onderwerp val egter buite die bestek van hierdie navorsing. Dit word aangestip as 'n veld wat navorsers in komende jare besig kan hou.

    Laastens is daar beperkte literatuur wat handel oor die ekonomie van Orania, die OSK Koöperatiewe Bank en die ora as ruilmiddel binne die plaaslike ekonomie. Boshoff (2012:424) maak kortliks melding van ora-koepons wat in Orania sirkuleer. Van groter belang vir navorsing oor Orania se ekonomie is egter die sakemislukkings in Orania wat Boshoff (2012) bespreek. Boshoff (2012) beskryf onder meer 'n mislukte poging om 'n suiwelonderneming in Orania te vestig, asook 'n mislukte diamantduikonderneming, wat aanvanklik opgerig is in 'n poging om ontwikkelingskapitaal vir Orania te bekom. Die mislukking van die suiwelonderneming het tot 'n besonder groot kapitaalverlies gelei. Volgens Boshoff (2012:391, 392) het die belegging in die suiwelonderneming (Orania Suiwelonderneming Edms. Bpk.) R9 miljoen beloop (sowat R30 miljoen in huidige reële geldwaarde).

    Joubert et al. (2022) bespreek die OSK Koöperatiewe Bank as 'n plaaslike bank binne Orania en kom tot die gevolgtrekking dat die bank 'n groot rol in die ekonomiese ontwikkeling en spesifiek in eiendomsontwikkeling in Orania speel. Joubert et al. (2022:825) toon aan dat die OSK Koöperatiewe Bank teen 2019 eiendomslenings op sowat 55 persent van die eiendomme in Orania gehou het. Die bank verskaf dus likiditeit vir eiendomsverhandeling op Orania. Joubert et al. (2022:827) verklaar voorts dat verdere navorsing oor Orania se BGP nodig is; dit is wat in hierdie artikel behandel word.

    De Klerk (2014) bespreek die aard, samestelling en ontwikkeling van Orania se ekonomie en verklaar in hierdie verband dat "Orania se ontwikkelingsteorie en -praktyke egter (sal) moet groei soos wat die dorp groei" (2014:58).

    Kotze et al. (2019) fokus op onder meer landbou-ontwikkeling in Orania en op die omliggende grond. Hierdie navorsers is van mening dat landbou-ontwikkeling tot bestendige groei in bevolking bygedra het. Dit bevestig die belanglike rol van landbou in hierdie gemeenskap. Orania lê in 'n waterarm streek (die Bo-Karoo) en is afhanklik van waterkwotas uit die Oranjerivier. Meer intensiewe waterbenutting vir optimale landbou is gevolglik nodig om 'n bydrae tot verdere ontwikkeling te verseker.

    Mears (2009) bespreek die ora as 'n instrument om plaaslike ekonomiese groei op Orania te stimuleer. Mears (2009:19) se gevolgtrekking is die volgende:

    Orania improves and develops its local independence through the development of its own institutions on its own property and with its own labour. Moreover, this responsible and caring community has taken the decision to live and practise sustainable development and to preserve the environment. The ora as a working example of a functional local currency, strengthens the argument to use similar solutions to address poverty and unemployment elsewhere in South Africa.

    Mears (2009:20) kom ook tot die gevolgtrekking is dat ander ontwikkelingsgemeenskappe kan leer uit die voorbeeld van Orania: "Developing communities can obtain similar benefits from local currencies and banking institutions as received from their local banking by developed communities, if their banking institution is started first." Mears (2009) ondersteun dus die gevolgtrekking van Joubert et al. (2022) oor die belangrike rol van die OSK Koöperatiewe Bank in Orania.

    Die navorsing van Rossouw (2023) fokus op die huishoudelike, persoonlike en sake-inkomste van Orania. Die bevindings word in 'n volgende afdeling van hierdie navorsing binne die konteks van die beraming van Orania se BGP bespreek. Rossouw (2023) steun die bevinding van Joubert et al. (2022) dat Orania se BGP beraam moet word.

    Rossouw (2024a) bespreek die geskiedenis van die ora en die voor- en nadele van die stelsel. Die ora voldoen aan die verwagtinge wat in die vooruitsig gestel is en in die volgende paragraaf uiteengesit word, maar het ook sekere nadele, wat nie elders in die literatuur toegelig word nie. Orania kan sonder die ora funksioneer, maar dat die ora kan nie sonder Orania funksioneer nie. Dit is trouens internasionaal die geval met alle "plaaslike geldeenhede" soos die ora.

    Volgens Senekal (2021:536, 537) is die voordele van die ora onder meer (a) geldnote in rand wat in Orania in omloop is, word deur ora-koepons vervang; (b) die rande wat vir die ora-koepons ingewissel is, verdien rente; (c) die ora-koepons hou koopkrag binne Orania; (d) plaaslike sake-ondernemings word ondersteun; en (e) oras is veiliger as note in rand omdat die ora slegs in Orania gebruik kan word. Wirz (2008:6) lig dieselfde voordele as Senekal (2021:536,537) uit, maar dui voorts aan dat ora-koepons ook versamelaarstatus het.

    Die literatuurstudie bevestig 'n beperkte navorsingsfokus op Orania se ekonomie. Voorts beveel Joubert et al. (2022) en Rossouw (2023) aan dat Orania se BGP beraam moet word. Hierdie navorsing vul daardie gaping in die literatuur.

     

    3. Orania se huishoudelike, persoonlike en sake-inkomste

    Rossouw (2023) het verslag gedoen oor 'n eerste poging om Orania se jaarlikse persoonlike inkomste, jaarlikse huishoudelike inkomste en die omset van sake-ondernemings te bereken. Vir doeleindes van die berekening is data in die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) en die Orania Besigheidsopname (2022) gebruik.

    Sekere datafoute het uit die opnamedata geblyk en sekere aanpassings is gemaak om daardie probleme uit te skakel. Ná hierdie aanpassings is die persoonlike jaarlikse inkomste van Orania se inwoners vir 2021 op Φ295 672 222 beraam. Hierteenoor is die jaarlikse huishoudelike inkomste op Φ190 331 179 beraam. Die gevolgtrekking is dat die inkomste van huishoudings inOrania in 2021 tussen Φ200 miljoen en Φ300 miljoen beloop het.

    Voorts het Rossouw (2023) die omset van sakeondernemings in Orania in 2021 op sowat Φ281,9 miljoen (Φ281 950 000) bereken. Daardie navorsing het gelei tot onder meer die gevolgtrekking dat Orania se BGP beraam moet word.

     

    4. Beramingsmetodologie van die BGP

    Soos voorheen gemeld, word totale ekonomiese bedrywighede in 'n land gebaseer op 'n beraming van die BBP, terwyl die BBP van 'n bepaalde gebied of streek binne 'n land deur middel van die BGP beraam word. In die konteks van die BBP en die BGP word die term "beraming" doelbewus gebruik, want die bepaling van die BBP en die BGP is nie 'n akkurate wetenskap nie.

    BBP- en BGP-beramings word gemaak volgens die System of National Accounts (SNA) (2008), wat gesamentlik deur die Europese Kommissie, die Internasionale Monetêre Fonds, die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO; Organisation for Economic Co-operation and Development [OECD]), die Verenigde Nasies en die Wereldbank opgestel en uitgegee word. Omdat die SNA-riglyne wêreldwyd gestandaardiseerd toegepas word, word verseker dat die BBP-ramings van lande internasionaal en die BGP-beramings van streke of gebiede met mekaar vergelyk kan word (SA Reserwebank 2021).

    Een belangrike aspek van BBP- en BGP-ramings is aanpassing vir inflasie. Nominale BBP en BGP rapporteer huidige waardes, terwyl reële BBP- en BGP-beramings die waardes ná aanpassing vir inflasie rapporteer. Laasgenoemde is oor tyd vergelykbaar en word gebruik om onder meer ekonomiese groeikoerse of die tempo van afname tydens resessies te bereken. Die fokus in hierdie afdeling is op die beramingsmetodologie van die nominale BGP, wat in die volgende afdeling gebruik word om Orania se nominale BGP te beraam. Hierdie eerste beraming van Orania se nominale BGP kan as basis dien vir die toekomstige beraming van die reële BGP van Orania.

    BBP- en BGP-syfers is tot tien jaar ná publikasie nog aan hersiening en aanpassing onderworpe. Die jongste aanpassing van hierdie aard vir Suid-Afrika is in 2021 gepubliseer (Statistics SA, 2021). Anders gestel: BBP- en BGP-syfers is nie akkuraat soos byvoorbeeld geldvoorraad- of staatsfinansiessyfers nie. Om erkenning te gee aan hierdie "onakkurate" aard van BBP- en BGP-syfers en die aanpassings wat daarop volg, is die tempo van verandering tot sowat drie dekades gelede as syfers met breuke (byvoorbeeld 1½% of 2½%) aangegee, eerder as desimale waardes (byvoorbeeld 1,5% of 2,5%), maar dié rapporteringspraktyk is verander om die gebruik van elektroniese toerusting te vergemaklik.

    Een onbedoelde gevolg is egter 'n onnodige fokus op klein veranderinge in die desimale waarde van die koers van verandering in die BBP of BGP oor tyd. As die koers van verandering van 1,5% na 1,4% of 1,6% verander, trek dit tans aandag, wat weer analise en mediakommentaar tot gevolg het. Drie dekades gelede sou geen haan gekraai het oor so 'n verandering nie, want die waarde sou steeds as 'n tempo van verandering van 1½% beraam en gerapporteer word.

    Die gebruik van "bruto" in die konteks van die beraming van die BBP of BGP dui op 'n beraming sonder voorsiening vir depresiasie. As depresiasie van die BBP of die BGP afgetrek word, is die resultaat die netto binnelandse produk (NBP) of netto geografiese produk (NGP). Anders gestel: Depresiasie word by NBP en NGP getel om onderskeidelik BBP en BGP te beraam.

    BBP- en BGP-beramings kan op meer as een wyse gedoen word. Die BBP en die BGP kan volgens die produksie-, die inkome- of die bestedingsmetode beraam word (Mohr 1998, Mohr et al., 1988).

    Die produksiemetode beraam die toegevoegde waarde wat die verskillende sektore bydra tot die BBP of die BGP, na gelang van die geval. Die formule wat gebruik word, is soos volg:

    Die inkomemetode beraam die BBP of die BGP op grond van die inkome wat die verskillende produksiefaktore verdien. Die formule wat in hierdie geval gebruik word, sien soos volg daaruit:

    Die bestedingsmetode beraam die BBP of die BGP op grond van die besteding van die onderskeie sektore in die ekonomie. Die formule wat gebruik word, is soos volg:

    Weens die aard van die data wat beskikbaar is, word die inkomemetode in die volgende afdeling gebruik om Orania se NGP en BGP te beraam.

     

    5. Beraming van Orania se BGP

    Soos in Tabel 1 aangedui word, kan Orania beskou word as 'n dorp of as 'n omgewing wat landboubedrywighede insluit. Die opnamedata wat gebruik word om Orania se NGP en BGP te beraam, sluit die dorp en die omliggende landbougrond in, soos in Tabel 1 aangedui. Die insluiting van die omliggende landbougrond impliseer dat die beraming van depresiasie vir die BGP meer kompleks is as wat die geval sou wees as die beraming slegs die "dorp" ingesluit het. Die kompleksiteit blyk uit die bespreking in afdeling 5.2.

    5.1 Beraming van die NGP van Orania

    In die geval van Orania is inligting beskikbaar om TI (wat NFI insluit) en B te beraam.

    Volgens die databasis van die Orania Dorpsraad wat vir hierdie navorsing gebruik is (Orania Ekonomiese Ontwikkelingsplan, 2024), het 852 inwoners hul jaarlikse inkomste vir 2021 aangedui as altesaam Φ181 036 872 (Φ181,0 miljoen), wat versoenbaar is met die berekenings wat Rossouw (2023) rapporteer. Hierdie inkomste sluit inkomste in wat hierdie inwoners buite Orania verdien. Anders gestel: NFI is hierby ingesluit.

    Ten tyde van die data-opname, is 'n indiensnameprofiel vir Orania se inwoners saamgestel. Op daardie tydstip het 747 inwoners aangedui dat hulle voltyds werk, terwyl 178 inwoners deeltydse werkers en kontrakwerkers was en 236 het hulself as afgetree beskryf het. Gevolglik was daar 1 161 inwoners wat teen Desember 2021 inkomste verdien het.

    Die inkomste wat deur 852 inwoners gerapporteer is, is aangepas vir 1 161 persone, met die aanname dat diegene wie se inkomste nie gerapporteer is nie, dieselfde inkomsteprofiel het as diegene wat inkomste gerapporteer het. Dit bring die persoonlike inkomstevlak tot Φ246 694 611 (Φ246,7 miljoen).

    Die Orania Ekonomiese Ontwikkelingsplan (2024) rapporteer die wins van ondernemings in Orania vir 2021 as Φ17 696 878 (Φ17,7 miljoen). Hierdie wins word as die "inkomste" beskou van die inwoners wat eienaars van sake-ondernemings is. Gevolglik kan die TI van Orania beraam word, wat ook NFI insluit. TI was gevolglik φ264 391 489 (Φ264,4 miljoen) vir 2021.

    Omsetbelasting vir 2021 het volgens die Orania Ekonomiese Ontwikkelingsplan (2024) φ43 732 316 (φ43,7 miljoen) beloop. Orania se NGP vir 2021 word dus beraam op φ308,1 miljoen, naamlik φ264,4 miljoen plus φ43,7 miljoen.

    Die beraming vir 2021 kan na 2023-waardes aangepas word. Orania se inwonertal het van Desember 2021 tot Desember 2023 weens "immigrasie", hoofsaaklik uit ander gebiede in Suid-Afrika, met sowat 21 persent toegeneem, naamlik van 2 377 tot 2 874. Die aanname word gemaak dat die inkomeprofiel van die bykomende inwoners dieselfde is as wat dit was vir diegene wat teen Desember 2021 reeds in Orania gewoon het. Terselfdertyd was Suid-Afrika se inflasiekoers 12,5 persent vanaf Desember 2021 tot Desember 2023. Op grond van hierdie aannames word Orania se nominale netto geografiese produk vir 2023 op Φ419,4 miljoen beraam.

    5.2 Beraming van die BGP van Orania

    Die NGP wat beraam is, moet met die depresiasie van kapitaalbates aangepas word ten einde die BGP van Orania te beraam. Die beraming dek die dorp en die omliggende landbougrond (soos in Tabel 1 aangedui) met die landboubedrywighede, wat die beraming van depresiasie meer kompleks maak, soos in hierdie afdeling bespreek word.

    Die opnamedata weerspieël nie waardevermindering of die waarde van kapitaalbates in Orania nie. Dit het sekere probleme tot gevolg:

    (i) Volgens die SNA word verskillende depresiasiekoerse op verskillende kapitaalbates toegepas vir die doel van BBP- en BGP-beramings. So byvoorbeeld wissel nie-residensiële geboue se afskrywing tussen 30 en 75 jaar, afhangende van aanwending, terwyl plantasies en so meer oor 27 jaar afgeskryf word.

    (ii) Die waarde van kapitaalbates moet beraam word, waarop die depresiasiekoerse dan toegepas word.

    Ná konsultasie met verskeie instansies en persone is die waarde van kapitaalbates van Orania (wat omliggende landbougrond insluit) per bateklas beraam. Die waardes word hier gerapporteer vir doeleindes van die beraming van die BGP van Orania, maar ook vir bespreking ter verbetering van die data wat gebruik is. Beter en vollediger waardasies sal tot 'n meer korrekte beraming van Orania se BGP lei. Die beraamde waardasies, depresiasiekoerse en beraamde BGP-waardes word in Tabel 2 getoon. In Tabel 2 word verskillende eenhede (waar aangedui) soos volg gebruik vir beramingsdoeleindes:

     

     

    Met 'n beraming van Φ36 318 311 (Φ36,3 miljoen) vir jaarlikse depresiasie in 2021 kan die BGP beraam word deur daardie waarde by die beraamde NGP van Φ308,1 miljoen vir dieselfde jaar te tel. Op hierdie grondslag word Orania (dorp) en die omliggende behuising, landbougrond en landboubedrywighede se BGP vir 2021 dus op Φ344,7 miljoen beraam.

    Meer as twee jaar het reeds verloop sedert die insameling van die data in Desember 2021 en Januarie 2022 wat vir die beraming van Orania se BGP in 2021 gebruik is. Sedertdien het die bevolking van Orania gegroei soos vroeër aangedui, terwyl die omvang (volume/ oppervlakte/aantal) van sekere kapitaalbates verander het, soos blyk uit 'n vergelyking van Tabel 2 en Tabel 3. Die eenhede soos voorheen beskryf, word weer gebruik.

     

     

    Die beraamde waarde van kapitaalbates en beraamde depresiasie van hierdie bates vir 2023 word in Tabel 3 getoon. Depresiasie op hierdie kapitaalbates vir 2023 is beraam op Φ42 636 450 (Φ42,6 miljoen). Orania se BGP vir 2023 word dus op Φ462,0 miljoen beraam.

    Dit is 'n eerste beraming van Orania se BGP. Hierdie BGP-beraming bied vir die dorp 'n basis vir verdere ontwikkelingsbeplanning. Voorts bied dit ook 'n maatstaf waarmee toekomstige BGP-beramings vergelyk kan word. Laastens bied hierdie beraming ook 'n geleentheid vir die verfyning en aanpassing van toekomstige beramings. Soos elders aangedui, is BGP-beramings en nasionale BBP-beramings tot 'n dekade later aan hersiening en aanpassing onderworpe. Dieselfde kan vir hierdie eerste beraming van Orania se BGP en ook vir toekomstige beramings geld.

     

    6. Gevolgtrekkings

    Hierdie artikel bied die eerste beraming van Orania se BGP. Hierdie beraming dien as basis vir verdere ontledings en verfynings van die BGP, wat soos BBP-ramings tot 'n dekade later aan hersiening onderworpe is. Suid-Afrika se laaste hersiening van hierdie aard was in 2021, wat tot 2011 teruggegaan het.

    Orania se nominale BGP vir 2021 is op φ344,7 miljoen beraam. Ná aanpassing vir bevolkingsgroei, inflasie en verandering in kapitaalbates is die nominale BGP vir 2023 op Φ462,0 miljoen beraam. Orania se nominale BGP het dus in hierdie tydperk met sowat 35 persent toegeneem. Oor dieselfde tydperk het Suid-Afrika se nominale BBP met 19,4 persent toegeneem, van R5 836 miljard in 2021 tot R7 001 miljard in 2023. Die verklaring vir vinniger groei in Orania is onder meer dat die bevolking teen 'n baie vinniger tempo as Suid-Afrika se bevolking gegroei het.

    Die volgende stap in hierdie navorsing is die beraming van Orania se jaarlikse reële BGP ten einde die dorp se jaarlikse ekonomiese groei te bepaal. Die beraming van die nominale BGP sal 'n vertrekpunt wees vir die toekomstige beraming van die reële BGP van Orania.

    Bespiegeling oor toekomstige aard van Orania te midde van snelle ekonomiese en bevolkingsgroei val buite die bestek van hierdie navorsing, maar dit word aangestip as 'n verdere navorsingsterrein vir navorsers in komende jare. Besluite wat nou geneem word, sal waarskynlik die toekomstige aard en die ekonomiese omstandighede van Orania bepaal.

     

    References

    Sekundere bronne

    Boshoff, A. 2020. Van ossewa tot in Orania: Een lewe - en meer. Orania: Die Vryheidstigting.         [ Links ]

    Boshoff, CWH (Carel). 2012. Dis nou ek: 'n Outobiografie. Pretoria: Lapa Uitgewers.         [ Links ]

    Cavanagh, E. 2013. The history of dispossession and the politics of land restitution in South Africa. Journal of Southern African Studies, 39(2):391-407.         [ Links ]

    De Beer, FC. 2006. Exercise in futility or dawn of Afrikaner self-determination: An exploratory ethno-historical investigation of Orania. Anthropology Southern Africa, 29(3-4):105-114.         [ Links ]

    De Klerk, F. 2014. Orania - Van dorp tot stad: 'n Nuwe strategie. Orania: Orania Beweging.         [ Links ]

    Delvecki, A & Greiner, A. 2014. Circling of the Wagons?: A look at Orania, South Africa. The American Geographical Society's Focus on Geography, 57(4):164-173.         [ Links ]

    Hagen, L. 2013. "Place of our own": The anthropology of space and place in the Afrikaner Volkstaat of Orania. Ongepubliseerde magisterverhandeling. Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

    Joubert, F, Laäs, A, Laäs, AM, Rossouw, J & Vermeulen, C. 2022. 'n Perspektief op Orania se OSK Koöperatiewe Bank Beperk. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 62(4):812-829.         [ Links ]

    Kotzé, E & Senekal, B. 2018. Employing sentiment analysis for gauging perceptions of minorities in multicultural societies: An analysis of Twitter feeds on the Afrikaner community of Orania in South Africa. The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 14(1):23-33. https://td-sa.net/index.php/td/article/view/564/883#CIT0021_564 [10 July 2024].         [ Links ]

    Kotze, N, Schoeman, R, Carow, S & Schmitz, P. 2019. Orania - 24 Years After Apartheid: The Sociopolitical Reanimation of a Small Rural Town in South Africa. In: Nedkov, S, Zlelezov, G, Illieva, N, Nikolova, M, Koulov, B, Naydenov, K & Dimitrov, S (eds). 2019. Smart Geography: Key Challenges in Geography. Springer, Cham. https://link.springer.com/chapter/10.1007/978-3-030-28191-5_17 [13 July 2024].         [ Links ]

    Majavu, M. 2022. Orania: A white homeland in post-apartheid South Africa. Sociology Compass, Vol 16(7):1-19.         [ Links ]

    Mears, R. 2009. The ora as facilitator of sustainable local economic development in Orania. Voordrag by die kongres van die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika, 2009. http://orania.co.za/wp-content/uploads/2009/07/the-ora-as-facilitator-of-sled-2009.doc [11 July 2024].         [ Links ]

    Mohr, PJ. 1998. Economic indicators. 4e uitgawe. Pretoria: Unisa Press.         [ Links ]

    Mohr, PJ, Van der Merwe, C, Botha, ZC & Inggs, J. 1988. Die praktiese gids tot Suid-Afrikaanse ekonomiese aanwysers. Johannesburg: Lexicon Uitgewers.         [ Links ]

    Orania Besigheidsopname. 2022. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.         [ Links ]

    Orania Sosio-Ekonomiese Opname, 2022. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by die Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy.         [ Links ]

    Orania Ekonomiese Ontwikkelingsplan. 2024. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by Orania Dorpsraad.         [ Links ]

    Pienaar, T. 2007. Die aanloop tot en stigting van Orania as groeipunt vir 'n Afrikaner-volkstaat. Verhandeling vir die graad MA in Geskiedenis, Universiteit van Stellenbosch. https://scholar.sun.ac.za/server/api/core/bitstreams/36e2d88f-dfdc-43fc-a60c-f853763af941/content. [12 Julie 2024].         [ Links ]

    Rossouw, J. 2023. 'n Beraming van die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 63(4):903-920.         [ Links ]

    Rossouw, J. 2024a. Die ora se eerste 20 jaar. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 64(2):219-239.         [ Links ]

    Rossouw, J. 2024b. Die Vluytjeskraal-dorpsgebied: 'n Historíese perspektief op Orania se "wortels". SA Tydskrifvir Kultuurgeskiedenis, 38(1):176-206.         [ Links ]

    SA Reserwebank. 2021. South Africa's national accounts 1946-2021: An overview of sources, methods and outcomes. Supplement to the South African Reserve Bank Quarterly Bulletin December 2021. SA Reserwebank: Pretoria.         [ Links ]

    Seldon, S. 2014. Orania and the reinvention of Afrikanerdom. PhD thesis submitted in Social Anthropology, University of Edinburgh. https://era.ed.ac.uk/bitstream/handle/1842/14194/Seldon2015.pdf?isAllowed=y&sequence=4 [12 July 2024].         [ Links ]

    Senekal. B. 2019. 'n Netwerkontleding van die instellingsnetwerk op Orania. LitNet Akademies (Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) 10 Oktober. https://www.litnet.co.za/n-netwerkontleding-van-die-instellingsnetwerk-op-orania/ [1 Julie 2024].         [ Links ]

    Senekal, B. 2021. Die eerste 40 jaar van Orania. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 61(2):526-551.         [ Links ]

    Stallebras, JL. 1963. The Orange River Project, South African Journal of Science, October:448-454 https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/AJA00382353_2326 [11 July 2024].         [ Links ]

    Statistics SA. 2021. A new and improved GDP is here! 25 August. https://www.statssa.gov.za/?p=14614 [Various dates].         [ Links ]

    System of National Accounts (SNA). 2008. Published by the European Commission, the International Monetary Fund and the Organisation for Economic Co-operation and Development. https://unstats.un.org/unsd/nationalaccount/docs/sna2008.pdf [Various dates in 2023 and 2024].         [ Links ]

    Van der Burgt, H. 2016. The Afrikaner quest for community: A study on communitarianism in Orania. Thesis submitted for a research Master's degree in Social and Cultural Science. https://www.researchgate.net/profile/Henry-Van-Der-Burgt/publication/315664299_The_Afrikaner_Quest_for_Community_A_study_on_Communitarianism_in_Orania/links/596b4d760f7e9b80919888ce/The-Afrikaner-Quest-for-Community-A-study-on-Communitarianism-in-Orania.pdf. [12 July 2024].         [ Links ]

    Veracini, L. 2011. Afterword: Orania as settler self-transfer. Settler Colonial Studies, Vol1(2):190-196.         [ Links ]

    Visser J & Visser, M. 2022. Gariepdam: Toeka tot nou. Privaat uitgegee deur Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edms.) Bpk., Pretoria.         [ Links ]

    Wirz, H. 2008. Dr Heinz Wirz met die Ora Geldstelsel van Orania. Privaat publikasie deur Heinz Wirz. Edenvale.         [ Links ]

    Persoonlike onderhoude, persoonlike dokumentasie en ander persoonlike bronne

    E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. F. de Klerk, besturende direkteur van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy.

    E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. G. Snyman, dorpsbestuurder van Orania.

    E-poskorrespondensie met mnr. C Pretorius, Hoof: Beplanning en Grondgebruik by die Orania Dorpsraad. Persoonlike besoeke aan Orania.

     

     

    Ontvang: 2024-09-30
    Goedgekeur: 2025-02-07
    Gepubliseer: Junie 2025

     

     

     

    Jannie Rossouw is 'n besoekende professor by die Wits Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy het aan die einde van 2020 uitgetree as tussentydse hoof van die Wits Besigheidskool en was voorheen by die SA Reserwebank en by Unisa werksaam. Hy is 'n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Finbond Mutual Bank en dien ook as lid van ander direksies en oudit- en risikokomitees.
    Jannie Rossouw is a visiting professor at the Wits Business School of the University of the Witwatersrand. At the end of 2020 he stepped down as interim head of the Wits Business School. He was previously employed at the SA Reserve Bank and at Unisa. He is an independent non-executive director of Finbond Mutual Bank and serves as a member of other boards and audit and risk committees as well.
    1 Die outeur bedank die urania Dorpsraad, die urania Ontwikkelingsmaatskappy, die urania Sakekamer en die OSK Koöperatiewe Bank vir data en hulp met hierdie navorsing. Enige foute of weglatings bly egter die outeur se verantwoordelijkheid. Hierdie navorsing rapporteer die outeur se mening en weerspieël nie enige ander instansies se mening nie.