Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.2 Pretoria Jun. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n2a3
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
Grammatikale kategorisering gebaseer op vorm en funksie: Die bysin in die Afrikaans Huistaal-kurrikulum as gevallestudie
Grammatical categorisation based on form and function: The subordinate clause in the Afrikaans Home Language curriculum as a case study
Suléne PilonI; Adri BreedII; Nadine Fouché-KarsienIII; Roné WierengaIV
IDepartement Afrikaans, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: sulene.pilon@up.ac.za
IISkool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Adri.Breed@nwu.ac.za
IIINoordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: nadine@viva-afrikaans.org
IVUniversiteit Gent, België en Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: rone.wierenga@ugent.be. ORCID: https://orcid.org/0000-0002-7172-7165
ABSTRACT
Fuzzy boundaries between grammatical categories have led to undesirable categorisation systems for subordinate clauses in school grammars over the past 100 years. This is evident from the fact that subordinate clauses introduced by the same type of structures (e.g., words belonging to the same part of speech category), and which should therefore logically be considered the same type, are often assigned to different categories based on their syntactic function. Furthermore, although functional criteria are typically used at school level to distinguish between main types of subordinate clauses, these criteria are frequently accompanied by additional formal, syntactic, or semantic considerations. For example, an adverbial subordinate clause is identified by its function (modifying the predicate), its meaning (answering questions, such as "When?"), and its form (being introduced by conjunctions, such as voordat). This combination of criteria further reflects the poorly defined nature, or fuzzy boundaries, of subordinate clause categories.
In addition, because meaning is used as a criterion, the boundaries between subcategories are often unclear. As a result, the same subordinate clause (e.g., Jason het te veel kersies geëet, [sodat] hy nou maagpyn het) can be classified in multiple ways: in this case either as an adverbial clause of degree (answering "To what extent?") or as an adverbial clause of contingency (answering "What happened then?").
While fuzzy boundaries between categories are not necessarily considered a shortcoming in linguistics, the boundaries of grammatical categories at school level should be clearly defined. The present study therefore aims to streamline the classification of subordinate clauses, which, according to Den Hertog (1904:35), belong to the higher levels of language development. We propose a new classification system based on the word class that introduces the subordinate clause. In other words, subordinate clauses are categorised according to distinguishable and observable morphosyntactic features.
This approach reduces the five types currently taught at school level, namely subject clauses, object clauses, complement clauses, adjective clauses, and adverbial clauses, to three.
They are i) adverbial clauses, introduced by subordinating conjunctions other than dat, of, and om; ii) complement clauses, introduced by dat, of, and om; and iii) relative clauses, introduced by a relative pronoun, relative adverb, or pronominal adverb. This entails that subordinate clauses with the same form are consistently assigned to the same category, regardless of their function within a sentence. A comparison between our proposed classification and the five-category system used in current teaching materials highlights the advantages of our approach.
We argue that identifying the word class introducing a subordinate clause provides a simpler and more objective starting point, from which other features (such as function and meaning) can be inductively derived. Accordingly, we also describe the typical functions of the three proposed subordinate clause types in the exposition. These syntactic functions can be considered a second level of analysis, but are not essential for initial classification. In contrast, starting with syntactic function (e.g., identifying a clause as a subject) in order to determine its type (e.g., a subject clause) is far more complex, even for teachers.
The advantages of our proposed system include objective classification based on observable features, resulting in clear and consistent categorisation. This enables teachers to approach teaching and assessment uniformly and ensures continuity across school phases. Furthermore, our system, unlike the system used in current school grammars, meets all eight requirements of a pedagogical grammar, namely truth, clarity, comprehensibility, process orientation, usefulness, limitation and simplicity, recognisability, and relevance.
Keywords: adjective clause; adverbial clause; Afrikaans Hhome Language; categorisation; complement clause; morphosyntactic criteria; fuzzy boundaries; object clause; pedagogical grammar criteria; relative clause; subject clause; subject complement clause; subordinate clause
OPSOMMING
Wollerige grense tussen grammatikale kategorieë het gelei daartoe dat skoolgrammatikas bysinne oor die afgelope 100 jaar op onbevredigende wyse gekategoriseer het. Dit blyk uit die feit dat (i) bysinne wat dieselfde inleier het, en logieserwys as dieselfde soort bysin beskou behoort te word, op grond van funksie as verskillende soorte bysinne gekategoriseer is, (ii) klassifiseringskriteria nie duidelik afgebaken is tot slegs een kriterium (soos funksie) nie, maar dikwels 'n kombinasie van funksionele, sintaktiese, semantiese en/of vormlike kenmerke omvat, en (iii) die grense van verskillende subkategorieë wollerig is, omdat betekenis as kriterium gebruik word en dieselfde bysin gevolglik as een van meerdere subtipes gekategoriseer kan word.
Hoewel wollerige grense nie noodwendig in die linguistiek as problematies beskou word nie, behoort die grense van grammatikale kategorieë op skoolvlak nie vaag te wees nie. Om hierdie rede fokus die huidige artikel op 'n alternatiewe, eenduidige kategoriseringsisteem vir bysinne, gebaseer op die tipe sinsdeel of woordsoort wat dit inlei. Slegs drie soorte bysinne word vervolgens onderskei, naamlik bywoordelike bysinne, komplementbysinne en betreklike bysinne.
'n Vergelyking tussen die voorgestelde drie bysinsoorte en die vyf bysinsoorte wat in die huidige onderrigleerplan voorkom (naamlik onderwerpsinne, voorwerpsinne, gesegdesinne, bywoordelike bysinne en byvoeglike bysinne) word eksplisiet getref, sodat die voordele van ons drie kategorieë, onder andere dat dit aan ál agt gestelde beginsels van 'n pedagogiese grammatika voldoen, duidelik blyk.
Trefwoorde: Afrikaans Huistaal; betreklike bysin; byvoeglike bysin; bywoordelike bysin; bysin; gesegdesin; kategorisering; komplementbysin; morfo-sintaktiese kriteria; onderwerpsin; pedagogiesegrammatikakriteria; voorwerpsin; wollerige grense
1. Inleiding
Die kategorisering van grammatikale verskynsels vind nie altyd konsekwent plaas nie, aangesien linguiste nie noodwendig saamstem oor die grense van grammatikale kategorieë nie (Aarts et al., 2004:1). Daar word daarom dikwels in die literatuur verwys na die wollerige grense ("fuzzy boundaries") van grammatikale kategorieë (kyk Fouché-Karsten et al., 2025 vir 'n volledige bespreking). Voorbeelde van teenstrydige kategorisering, wat die resultaat is van wollerige grammatikalekategoriegrense, word in verskeie Afrikaanse bronne opgemerk. Een so 'n voorbeeld (kyk Fouché-Karsten et al., 2025 vir 'n bespreking van ander voorbeelde) behels die kategorisering van die vetgedrukte woorde in 1 hier onder: In VivA se Algemene Afrikaanse Grammatika word hierdie woorde óf as onoorganklike setsels, óf as voorsetselbywoorde geklassifiseer (vergelyk Brink et al., 2020; Fouché et al., 2021), terwyl dit in Pretorius (2017:10) as nominale lokatiewe benoem word.
1 Jan sit binne/bo/agter/buite/onder/voor. (Pretorius, 2017:9)
Survey of English Usage (1998) gebruik die term "gradiënsie" om hierdie verskil in die kategorisering van grammatikale eenhede te kontekstualiseer:
This [gradience] refers to the fact that the boundaries between the word classes are not absolutely fixed. Many word classes share characteristics with others, and there is considerable overlap between some of the classes. In other words, the boundaries are "fuzzy", so different grammars draw them in different places.
Die wollerige grense in die onderskeid van verskillende grammatikale kategorieë, word nie noodwendig as 'n tekortkoming in taal beskou nie (Cognitive Linguistics, 2021). Volgens Jackendoff (1983:117) is dit "an inescapable characteristic of the concepts that language expresses".
Op skoolvlak kan grammatikale kategorieë se grense egter nie wollerig wees nie (Aarts, 2024). Enige pedagogiese skoolgrammatika behoort, volgens Bourke (2005:85) en Thornbury (1999:32), aan baie spesifieke beginsels wat puntsgewys hier onder uiteengesit word, te voldoen (kyk Fouché-Karsten et al., 2025 vir 'n volledige bespreking van hierdie beginsels).
1. Dit moet die waarheid weerspieël.
2. Dit moet duidelik en ondubbelsinnig wees.
3. Dit moet, gegewe leerders se vermoë, verstaanbaar wees.
4. Dit moet prosesgeoriënteerd wees.
5. Dit moet nuttig en bruikbaar wees.
6. Dit moet beperkend en eenvoudig wees deur die rigiede en eenvormige beskrywing van grammatikalekategoriegrense.
7. Dit moet herkenbaar of bekend wees.
8. Dit moet relevant wees.
Daar word in Fouché-Karsten et al. (2025) aangedui dat die kategorisering van bysinne in skoolgrammatikas nie aan hierdie beginsels voldoen nie. Daar word drie redes hiervoor aangevoer, naamlik dat:
1. bysinne wat dieselfde inleier het, en logieserwys as dieselfde soort bysin beskou behoort te word, op grond van funksie as verskillende soorte bysinne gekategoriseer word;
2. klassifiseringskriteria nie duidelik afgebaken is tot slegs een kriterium (soos funksie) nie, maar dikwels 'n kombinasie van funksionele, sintaktiese, semantiese en/of vormlike kenmerke omvat; en
3. die grense tussen verskillende subkategorieë wollerig is, omdat betekenis as kriterium gebruik word en dieselfde bysin gevolglik as een van meerdere subtipes gekategoriseer kan word.
Wollerige grense tussen grammatikale kategorieë, soos tipes bysinne, is egter nie slegs in die skoolonderrigkonteks 'n probleem nie, aangesien daar ook in ander taalgebruikskontekste rigiede grense tussen grammatikale kategorieë nodig is. Voorbeelde hiervan is taalpraktisyns (soos vertalers en teksredigeerders) wat grammatikale eenhede in die bronteks reg moet kan interpreteer om te vertaal of te verwerk in 'n teikenteks, rekenaarlinguiste wat etiketteerders en outomatiese masjienleertoepassings moet ontwikkel, en algemene taalgebruikers wat om verskeie redes met die taal werksaam is (vergelyk Breed et al., 2021).
Tucker (2009) stel dit so: "...if the theoretical principles are not fleshed out by way of description of both the actual grammatical and lexical resource of a given language, it is of little use to the majority of consumers, those who adopt it for (ultimately) the socio-semantic analysis of actual texts" (ons eie klem). Dit is dus wenslik dat daar vir die Afrikaanse taalgebruikers wat dit nodig het, 'n grammatikale beskrywing met eenduidige, rigiede en veral eenvormige grense tussen verskillende grammatikale kategorieë, beskikbaar is. In aansluiting hierby is die fokus van hierdie artikel om die beskrywing van spesifiek bysinne, wat reeds volgens Den Hertog (1904:35) "tot de hoogere trappen der taalontwikkeling hoort", meer vaartbelyn te maak.
In §2 word aangedui hoe tussen grammatikale eenhede in VivA se Afrikaanse Skoolgrammatika (voortaan ASG) onderskei word, asook hoe kategorisering oor die algemeen in ASG plaasvind. In §3.1 word aangedui volgens watter kriterium spesifiek bysinne in ASG gekategoriseer word, waaruit drie bysinkategorieë voortvloei, te wete bywoordelike bysinne, komplementbysinne en betreklike bysinne. In §3.2 word dié drie voorgestelde ASG-bysinkategorieë vergelyk met die vyf bysinkategorieë wat tans in Afrikaans Huistaal (voortaan AH) onderskei word (kyk Fouché-Karsten et al., 2025 vir 'n volledige bespreking van laasgenoemde kategorieë). Daarna word in §3.3 'n vergelyking getref tussen die drie voorgestelde ASG-bysinkategorieë en die vyf AH-bysinkategorieë ten opsigte van die agt beginsels van 'n goeie pedagogiese grammatika wat hier bo gelys is.
2. 'n Alternatiewe benadering tot grammatikalekategoriegrense
In VivA se Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG) word daar, waar moontlik, streng en goed gedefinieerd onderskei tussen die vorm, funksie en betekenis van grammatikale eenhede wat gekategoriseer moet word. So vêr moontlik word kategorisering net gedoen op grond van vorm en funksie, en nooit op grond van betekenis nie. VORM het te make met die morfosintaktiese eienskappe van die konstituentstrukture in die sintaktiese eenheid. Ons kan VivA se beskrywing van die VORM1-kategorie van die naamwoordstuk as voorbeeld hier neem (vergelyk Figuur 1):
'n Naamwoordstuk (NP) bevat altyd 'n naamwoordstukkern (NP.KERN), wat prototipies 'n naamwoord (N) of 'n persoonlike voornaamwoord (PN.PERS) is. In sin 2 hier onder, is Ek, jou en voorbeeld byvoorbeeld die kerne van die drie naamwoordstukke wat tussen hakies aangedui word.
2 [Ek] kan [jou] ['n voorbeeld] gee.2
'n NP kan ook, naas die NP.KERN, 'n predetermineerder (NP.PREDET), bestaande uit 'n telwoord en 'n partikel (NUM + PTCL) of 'n partikel (PTCL), bevat. In voorbeeldsin 3 is drie van die NP.PREDET in die NP drie van die Japannese mans. In 4 is van die NP.PREDET in die NP van die werkers.
3 [Drie van die Japannese mans] word na die hotel geneem.
4 [Van die werkers] het selfs geglo dat toordery 'n rol gespeel het.
'n NP kan ook 'n determineerder (NP.DET) bevat, bestaande uit 'n lidwoord (ART), telwoord (NUM), aanwysende of vraende voornaamwoord (PN), 'n geniefvorm, of selfs 'n ander naamwoordstuk. In 2 is die lidwoord 'n die NP.DET van die NP 'n voorbeeld, en in 3 en 4 is die lidwoord die die NP.DET van onderskeidelik die NP's drie van die Japannese mans, en van die werkers.
'n NP kan verder ook voorbepalers (NP.VOORBEP) en nabepalers (NP.NABEP) bevat. 'n Voorbepaler kan die vorm van 'n adjektiefstuk (AP) neem, soos in 5 waar die adjektiefstuk majestueuse die NP.VOORBEP van die NP die majestueuse Himalajas is. 'n NP.NABEP kan 'n hele aantal vorme neem, byvoorbeeld 'n voorsetselstuk (PP), 'n bysin (C), 'n naamwoordstuk (NP), ensovoorts. In 6 is die betreklike bysin (RELC) watgeskik is vir my die NP.NABEP van die NP enige lap wat geskik is vir my.
5 En dan het julle nog nie eens [die majestueuse Himalajas] aanskou nie ...
6 Gee my [enige lap wat geskik is vir my]!
Die FUNKSIE van 'n grammatikale eenheid het te make met die sintaktiese rol wat die grammatikale eenheid vervul. So byvoorbeeld kan 'n NP as subjek, direkte objek, indirekte objek of adjunk funksioneer.
Die BETEKENIS van 'n struktuur word bepaal deur die semantiese eienskappe daarvan. So sou 'n NP onder andere die agent (byvoorbeeld die kat in 7) of pasiënt (byvoorbeeld 'n muis in 7) van 'n gebeurtenis kon wees. Die semantiese eienskappe van 'n NP kan ook insluit dat die kern daarvan byvoorbeeld abstrak of konkreet, of lewend of nielewend is, ensovoorts. In 7, byvoorbeeld, is kat en muis die kerne van die NP's die kat en 'n muis, en beide kan op semantiese vlak onder andere beskryf word as konkreet en lewend.
7 [Die kat] jaag ['n muis].
Op PRAGMATIESE VLAK kan 'n NP 'n nonklous3 wees wat 'n pragmatiese funksie verrig. Byvoorbeeld, die naamwoordstuk Mevrou Slangveld (in 8) verrig die pragmatiese funksie om respek, beleefdheid en erkenning van 'n persoon se rol in 'n formele of eerbiedig sosiale of professionele konteks aan te dui (vergelyk Breed et al., 2023a: 137, 139).
8 Mevrou Slangveld, kry jou bagasie.
Soos reeds genoem, word grammatikale eenhede, waar moontlik, in ASG slegs op grond van vorm en funksie (en nie betekenis nie) gekategoriseer, omdat hierdie eienskappe observeerbaar en toetsbaar is. Dit beteken dat kategorisering objektief en gebaseer op waarneembare eienskappe plaasvind. Sodoende word eenduidigheid verseker en kan kategorisering konsekwent gedoen word. In §3.1 word ASG se benadering tot die kategorisering van Afrikaanse bysinne geïllustreer.
3. Ter illustrasie: Afrikaanse bysinne
3.1 ASG se benadering tot die kategorisering van bysinne
In ASG word 'n bysin gedefinieer as 'n sin4 wat by 'n ander sin, tipies 'n hoofsin, ingebed word en wat ondergeskik is aan of afhanklik is van die sin waarby dit ingebed is (Breed et al., 2023b). 'n Bysin kan aangewend word om 'n spesifieke sintaktiese funksie te verrig (byvoorbeeld dié van subjek, soos om 'n familie te hê in 9), of dit kan as nabepaler in 'n sintaktiese stuk gebruik word (soos wat gewoonlik eerste op was as nabepaler in die NP die kat wat gewoonlik eerste op was in 10).
9 Om 'n familie te hê, is 'n geskenk van God.
10 Party oggende bly [die kat wat gewoonlik eerste op was], lê5.
In §1 het ons na Fouché-Karsten et al. (2025) verwys. In hierdie artikel is bevind dat bysinne in huidige Afrikaans Huistaalonderrigmateriaal meestal op grond van 'n kombinasie van funksionele, sintaktiese, semantiese en/of vormlike kenmerke kategoriseer word. Die gevolg hiervan is wollerige grense, wat dit, veral vir leerders en onderwysers, moeilik maak om tussen hierdie kategorieë bysinne te onderskei.
Ons het in §2 verduidelik dat grammatikale eenhede in ASG op grond van vorm en funksie gekategoriseer word en nie op grond van betekenis nie. Rakende bysinne is ons voorstel dat vorm as kriterium vir kategorisering gebruik moet word. Met ander woorde, bysinne behoort van mekaar onderskei te word op grond van die tipe sinsdeel of woordsoort wat dit inlei. Ons klassifiseer bysinne met ander woorde op grond van onderskeibare en waarneembare morfosintaktiese kenmerke. Daar word op hierdie manier drie tipes bysinne in ASG onderskei, te wete bywoordelike bysinne, komplementbysinne en betreklike bysinne.
Hierdie drie tipes bysinne word elkeen kortliks in §3.1.1 tot 3.1.3 beskryf. In §3.2 dui ons aan hoe hierdie ASG-kategorieë vergelyk met die huidige AH-kategorieë, en in §3.3 word aangetoon hoe ASG se drie bysinkategorieë met AH se bysinkategorieë ten opsigte van die beginsels van 'n pedagogiese grammatika vergelyk.
3.1.1 ASG se bywoordelike bysin
'n Bywoordelike bysin (kyk Breed et al., 2023b vir 'n volledige beskrywing) word vormlik onderskei deur die feit dat dit deur 'n onderskikkende voegwoord (wat nié die komplementiseerders dat, of en om is nie) ingelei word. Al die bysinne hier onder is daarom bywoordelike bysinne.
11 Ek het immers met my kop en my hande so hard op die grond beland [asof] ek uit 'n hoë boom geval het.
12 Sy staan nog so [toe] sy die geraas by haar venster hoor.
13 Ons sal dus ook hierdie arbeiders laat eet, [aangesien] hulle gewerk het.
Die funksie van 'n bywoordelike bysin is dié van bywoordelike bepaling. 'n Bywoordelike bysin dui dus op die wyse en/of tyd van, of rede vir die situasie wat deur die gesegde uitgedruk word. Die bysin in 11 word byvoorbeeld deur die onderskikkende voegwoord asof ingelei, en beskryf die wyse waarop die gesegde uitgevoer word. By 12 word die bysin met die onderskikkende voegwoord toe ingelei, en dit dui aan wanneer die gesegde uitgevoer is, en by 13, waar die bysin met die onderskikkende voegwoord aangesien ingelei word, gee die bysin 'n rede vir die gesegde.
3.1.2 ASG se komplementbysin
'n Komplementbysin (kyk Breed et al., 2023b vir 'n volledige beskrywing) word, wat die vorm daarvan betref, ingelei deur die onderskikkende voegwoorde dat (vergelyk 14), of (vergelyk 15) en om6 (vergelyk 16), wat die komplementbysin aan 'n woord of sinsdeel verbind. Al die bysinne hier onder is daarom komplementbysinne.
14 Ek het besef [dat] hy veel meer weet as ek van draaiboeke ...
15 Die vraag is [of]jy sal kan asemhaal.
16 [Om] verlief te wees is 'n fees ...
17 Ek het besef hy weet veel meer as ek van draaiboeke.
18 Die vraag is sal jy kan asemhaal.
19 Verlief wees is 'n fees.
Die komplementbysin "voltooi" of komplementiseer die betekenis van die woord of sinsdeel waaraan dit verbind is. Daarom word die drie onderskikkende voegwoorde wat hierdie tipe bysin kan inlei komplementiseerders genoem. Hierdie onderskikkende voegwoorde dui, net soos wat die geval is by die onderskikkende voegwoorde wat bywoordelike bysinne inlei, strukturele afhanklikheid tussen die komplementbysin en die hoofsin aan, en die komplementiseerder is nie geïntegreer in die hoof- of die bysin nie (vergelyk Biber et al., 1999:85). Anders as by bywoordelike bysinne, word komplementiseerders soms weggelaat sonder dat die resulterende komplekse sin "ongrammatikaal" of onkonvensioneel is (vergelyk die aangepaste 17 tot 19).
Komplementbysinne kan 'n verskeidenheid sintaktiese funksies verrig. In voorbeeldsinne 14 en 17 hier bo, funksioneer die komplementbysin as direkte objek7, aangesien dit die komplement van die oorganklike hoofwerkwoord besef is. In voorbeeldsinne 15 en 18 funksioneer die komplementbysinne as kopulakomplement, aangesien dit die komplement van die koppelwerkwoord is is. In voorbeeldsinne 16 en 19 funksioneer die komplementbysinne as subjek van die hoofsin.
Komplementbysinne kan ook as nabepalers8 van die kern (in hoofletters) van 'n sintaktiese stuk (tussen hakies) funksioneer, byvoorbeeld as 'n nabepaler van die naamwoordstukkern9(vergelyk 20), 'n nabepaler van 'n setsel van 'n voorsetselstuk (vergelyk 21) of 'n nabepaler van 'n adjektief van 'n adjektiefstuk (vergelyk 22).
20 [Die BESEF [dat] Chrissie nie ernstig seergekry het nie], laat Karl se skrik sommer omsit in woede.
21 Jy gebruik waarskynlik elke dag swamprodukte [SONDER [dat] jy dit besef].
22 Shani en Liz is [VASBERADE [om] vanjaar gekies te word as dirigente by die atletiek].
3.1.3 ASG se betreklike bysin
'n Betreklike bysin (kyk Breed et al., 2023b vir 'n volledige beskrywing) word ingelei deur 'n betreklike voornaamwoord (met ander woorde wat, wie of wie se), deur 'n betreklike bywoord (soos waar10 en wanneer) of deur 'n voornaamwoordelike bywoord (soos waarop en waarmee11). Al die bysinne hier onder is daarom betreklike bysinne.
23 ['n Hoofpyn [wat] sewentien maande duur], is nie normaal nie.
24 Ek het nie ['n clue [wat] hier aangaan nie].
25 Die eienaar van 'n vragmotor [wat in 2008 'n ongeluk in die berugte Kaaimanspas veroorsaak het [waarin] twee persone dood is], is verlede week R20 000 beboet.
'n Betreklike bysin se funksie is om 'n sinsdeel wat in die hoofsin voorkom, verder uit te brei. In 23 bepaal die betreklike bysin wat sewentien maande duur, die naamwoord hoofpyn wat die kern van 'n hoofpyn is, 'n naamwoordstuk, met die gevolg dat hierdie naamwoordstuk met die bysin uitgebrei word (tussen hakies). In 24 bepaal die bysin wat hier aangaan die naamwoord clue wat die kern van 'n clue is, ook 'n naamwoordstuk, met die gevolg dat dié naamwoordstuk ook met die bysin uitgebrei word (tussen hakies). In 25 bepaal die bysin waarin twee persone dood is die naamwoord ongeluk wat die kern van 'n ongeluk in die berugte Kaaimanspas is, 'n naamwoordstuk, met die gevolg dat dié naamwoordstuk met die bysin uitgebrei word: 'n ongeluk in die berugte Kaaimanspas waarin twee persone dood is. Dit veroorsaak dat die betreklike bysin wat in 2008 'n ongeluk in die berugte Kaaimanspas veroorsaak het dus ook met die bysin waarin twee persone dood is uitgebrei word (tussen hakies).
Uit die bespreking in hierdie afdeling behoort dit duidelik te wees hoe die benadering van ASG tot 'n objektiewe, vereenvoudigde, eenduidige beskrywing van Afrikaanse bysinne lei. In §3.2 hierna word die drie ASG-bysinkategorieë met die vyf AH-bysinkategorieë vergelyk, waarna in §3.3 aangetoon word hoe die ASG-bysinkategorieë aan ál agt beginsels van 'n pedagogiese grammatika (kyk weer §1) voldoen, terwyl die AH-bysinkategorieë nie aan al agt beginsels voldoen nie.
3.2 'n Alternatiewe benadering tot huidige skoolkurrikula se bysinindelings
Soos genoem, onderskei huidige Afrikaans Huistaal-skoolhandboeke vyf kategorieë bysinne, terwyl ASG, soos hier bo in §3.1 bespreek, slegs drie kategorieë bysinne onderskei. In hierdie afdeling dui ons aan hoe die huidige AH-benadering van dié van ASG verskil.12
3.2.1 'n Alternatiewe benadering tot byvoeglike bysinne
In die huidige AH word van leerders verwag om 'n byvoeglike bysin in 'n sin te herken op grond van die feit dat dit as die bepaler van die subjek/objek optree (vergelyk Fouché-Karsten et al., 2025). In AH sou die sinsdeel wat nie oplet nie in 26 byvoorbeeld dit wat as die subjek op skoolvlak beskou word, naamlik die kinders, bepaal. Insgelyks sou die sinsdeel wat môre geskryf word byvoorbeeld dit wat as die objek op skoolvlak beskou word, naamlik die toets, bepaal. Omdat albei hierdie bysinne dit wat as die subjek of objek op skoolvlak beskou word, bepaal, sou dit in AH as byvoeglike bysinne gekategoriseer word.
26 Die kinders [wat] nie oplet nie, sal swak vaar in die toets [wat] môre geskryf word.
Aangesien ASG egter bysinne op grond van die sinsdeel of woordsoort wat die bysinne inlei kategoriseer, sou die bysinne in 26, wat albei deur die betreklike voornaamwoord wat ingelei word, beide as betreklike bysinne gekategoriseer word. Die feit dat die bysin in ASG gekategoriseer word op grond van hierdie waarneembare kenmerk, beteken dat dit nie nodig is om te bepaal i) watter sinsdeel deur die bysin beskryf word, en 2) of hierdie sinsdeel wel 'n subjek of objek is nie.
3.2.2 'n Alternatiewe benadering tot bywoordelike bysinne
In AH word van leerders verwag om 'n bywoordelike bysin in 'n sin te herken op grond van die feit dat dit die gesegde ten opsigte van byvoorbeeld tyd, wyse of plek toelig. 'n Bywoordelike bysin word dus in AH onderskei op grond van die feit dat dit 'n bywoordelike funksie in die hoofsin verrig (vergelyk Fouché-Karsten et al., 2025). In 27 hier onder, sal die sinsdeel voordat dit te laat is in AH as 'n bywoordelike bysin gekategoriseer word, aangesien dit die hoofsin se gesegde13, naamlik sal kom, ten opsigte van tyd toelig.
27 Die brandweer sal kom [voordat] dit te laat is.14
In ASG word die bostaande sin óók as 'n bywoordelike bysin gekategoriseer, maar dit word op grond van vorm só geklassifiseer, aangesien dit deur 'n onderskikkende voegwoord (naamlik voordat) ingelei word, en onderskikkende voegwoorde in ASG as inleiers van bywoordelike bysinne gereken word (kyk §3.1.1). Leerders hoef met ander woorde nie te bepaal of die bysin 'n bywoordelike funksie het om dit as 'n bywoordelike bysin te klassifiseer nie.
3.2.3 'n Alternatiewe benadering tot die onderwerp(by)sin
Die derde bysintipe wat in AH onderskei word, naamlik die onderwerpsin, word onderskei op grond van die feit dat dié bysintipe die subjek van die hoofsin is (vergelyk Fouché-Karsten et al., 2025). In 28 funksioneer die bysin wie droogmaak as subjek van die hoofsin, en dit word derhalwe in AH as 'n onderwerpsin gekategoriseer. Daarteenoor word 'n onderwerpsin nie as 'n aparte bysintipe in ASG onderskei nie. Aangesien die bysin in 28 deur die betreklike voornaamwoord wie ingelei word, sal dit in ASG eerder as 'n betreklike bysin gekategoriseer word, net soos ander bysinne wat deur betreklike voornaamwoorde ingelei word.
28 [Wie] droogmaak, sal die gevolge moet dra.
Die bysin om 'n familie te hê in 9 (wat heelwat vroeër aan bod gekom het) verrig ook die funksie van 'n subjek, en sou derhalwe ook in AH as 'n onderwerpsin gekategoriseer word. Aangesien dié bysin deur die komplementiseerder om ingelei word, sal dit in ASG as 'n komplementbysin gekategoriseer word. Bysinne wat vormlik onverwant is, maar wat dieselfde funksie vervul (soos die bysin in 9 en 28 wat albei as die subjek gebruik word), word dus in AH as dieselfde bysintipe gekategoriseer, omdat dit dieselfde funksie vervul. In ASG word alle bysinne wat dieselfde vorm het (met ander woorde wat met dieselfde tipe woorde ingelei word), op dieselfde manier gekategoriseer. Aangesien hierdie vormlike eienskap makliker is om waar te neem, kan kategorisering op grond van ASG se indeling heelwat makliker en meer konsekwent gedoen word.
3.2.4 'n Alternatiewe benadering tot die voorwerpsin
'n Bysin wat as objek in 'n hoofsin gebruik word, byvoorbeeld dat hy vanaand kom kuier in 29, word in AH as voorwerpsin gekategoriseer (kyk Fouché-Karsten et al., 2025). Net soos wat daar nie 'n onderwerpsin in ASG onderskei word nie, word daar ook nie in ASG 'n voorwerpsin onderskei nie. Die bysin in 29 word ingelei deur die komplementiseerder dat, en dit sal daarom in ASG as 'n komplementbysin gereken word. Soos wat die geval is by onderwerpsinne, beteken dit dat dit nie nodig is om te bepaal wat presies die funksie van 'n bysin is om dit te kategoriseer nie - bysinne wat vormlik dieselfde is, word op dieselfde manier gekategoriseer.
29 Hy sê [dat] hy vanaand kom kuier.
30 [Dat] hy vanaand kom kuier, is 'n gegewe.
Die problematiek rondom AH se kategorisering van bysinne word verder geïllustreer deur 29 met 30 te vergelyk. In 30 funksioneer die bysin dat hy vanaand kom kuier as subjek van die sin en dit moet derhalwe, ingevolge AH, as onderwerpsin gekategoriseer word. In 29 funksioneer presies dieselfde bysin as objek van die sin, wat beteken dat dit in AH as voorwerpsin gekategoriseer sal word. Dit kan moontlik tot verwarring lei. Aangesien hierdie bysinne vormlik dieselfde eienskappe het, naamlik dat dit deur die komplementiseerder dat ingelei word, sal die bysin in beide 29 en 30 in ASG as komplementbysinne gekategoriseer word.
3.2.5 'n Alternatiewe benadering tot die gesegdesin
In AH is 'n gesegdesin 'n bysin wat volg ná 'n koppelwerkwoord en wat dus die funksie het om die betekenis van 'n koppelwerkwoord te voltooi, oftewel as aanvulling daarvan op te tree. In 31 sal dat hy niks daarvan geweet het nie as 'n gesegdesin gekategoriseer word, omdat dit aan hierdie eienskap voldoen. Ook 'n gesegdesin word nie as 'n bysintipe in ASG onderskei nie. Aangesien die bysin in 31 deur die komplementiseerder dat ingelei word, word dit as 'n komplementbysin gekategoriseer. Daar word dus nie kennis van koppelwerkwoorde verwag wanneer die bysin gekategoriseer moet word nie.
31 Johan laat blyk [dat] hy niks daarvan geweet het nie.
3.3 Die niewollerige grense van bysinkategorieë in ASG
In §3.2 is aangetoon dat ASG se benadering tot die kategorisering bysinne ánders is as die huidige AH-benadering. Waar AH vyf bysintipes op grond van 'n kombinasie van funksionele, sintaktiese, semantiese en/of vormlike kenmerke onderskei (kyk Fouché-Karsten et al., 2025), onderskei ASG slegs drie bysinkategorieë op grond van die tipe sinsdeel of woordsoort wat die bysin inlei. Daarby verskil die ASG-bysinkategorieë van die AH-bysinkategorieë in die opsig dat dit volledig aan die agt gestelde beginsels van 'n pedagogiese grammatika, waarna in §1 verwys is, voldoen (kyk TABEL 1).
4. Tot slot
Ons voorstel is om die soorte bysinne vanaf vyf na drie te verminder, te wete 'n bywoordelike bysin, 'n komplementbysin en 'n betreklike bysin, en om bysinne vormlik van mekaar te onderskei op grond van die tipe sinsdeel of woordsoort wat dit inlei (kyk §3.1). Die voordele van so 'n beskrywing tot bysinne is dat kategorisering objektief en gebaseer op waarneembare eienskappe plaasvind, wat meebring dat kategorisering eenduidig en konsekwent plaasvind. Sodoende benader elke onderwyser onderrig en assessering op 'n konsekwente wyse, terwyl kontinuïteit ook oor skoolfases heen boonop verseker word. Daarby voldoen ons klassifikasie aan ál agt vereistes van 'n pedagogiese grammatika (kyk §3.3).
Op hierdie wyse word skoolinhoud deur insigte in taalkundenavorsing verryk, wat gehoor gee aan Menkveld (1992:426) se pleidooi dat groter ingryping vanaf taaldepartemente benodig word om te verseker dat die sillabus van skool en universiteit mekaar aanvul, eerder as teenstrydig te wees. Hierdie pleidooi sluit ook by internasionale tendense aan, onder andere in Nederland, om insigte uit die moderne taalkunde met grammatikaonderwys te integreer (Van den Branden, 2022). Die KABV is egter voorskriftelik (vergelyk Umalusi, 2014:58; Van Oort, 2018:272), met die gevolg dat indien die KABV nie voorsiening vir 'n alternatiewe klassifisering van bysinne maak nie, dit ook nie in die klaskamer weerspieël sal word nie. Ons pleidooi is dus aan relevante rolspelers by die Departement van Basiese Onderwys wat verantwoordelik vir die hersiening van die KABV is om hierdie alternatiewe klassifikasie vir moontlike insluiting te oorweeg.
References
Aarts, B. 2024. Kan skoolgrammatikas wollerig wees? [Persoonlike korrespondensie]. 16 Aug., E-pos. [ Links ]
Aarts, B., Denison, D, Keizer, E & Popova, G. 2004. Fuzzy Grammar. New York: Oxford University Press. [ Links ]
Anker, J, Badenhorst, R, Gouws, R, Hugo, J, Jansen van Nieuwenhuizen, I, Janse van Rensburg, C, Julies, G, Le Cordeur, M, Nel, M, Steenkamp, D, Stubbe, E, Van den Heever, A & Viljoen, K. 2013. Platinum Afrikaans Huistaal Graad 8 Leerderboek. Kaapstad: Maskew Miller Longman. [ Links ]
Biber, D, Leech, G & Conrad, S. 2018. Longman Student Grammar of Spoken and Written English. Harlow: Longman. [ Links ]
Biber, D, Johansson, S, Leech, G, Conrad, S & Finegan, E. 1999. Longman Grammar of Spoken and Written English. Essex, England: Pearson Education Limited. [ Links ]
Bourke, JM. 2005. The grammar we teach. Reflections on English Language Teaching, 4:85-97. [ Links ]
Breed, ., Pilon, S & Van Huyssteen, GB. 2021. The boundaries of fuzzy boundaries. Afrikaans Grammar Workshop III. Amsterdam, Meertens Instituut, 30 Sept - 1 Oct 2021. [ Links ]
Breed, A, Fouché-Karsten, N, Pilon, S & Wierenga, R. 2023a. A Categorisation of non-clauses in Afrikaans. In: Breed, A., ed. Conference proceedings. 4th International Afrikaans Grammar Workshop, 27-28 November 2023. pp. 113-144. DOI: 10.25388/nwu.25052750. [ Links ]
Breed, A, Fouché-Karsten, N & Pilon, S. 2023b. "Sinne en klouse (en nonklouse)". Taalonderrigportaal. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Sintaksis%2Fsinne_klouse_nonklouse.html [7 Aug. 2024]. [ Links ]
Brink, N, Kapp, S & Breed, A. 2020. "Woordsoorte: Setsels". Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FSetsel%2FAAG_Woordsoort_PREP_Inleiding.html [5 Augustus 2024]. [ Links ]
Cognitive Linguistics. 2021. Categorization. https://cogling.fandom.com/wiki/Categorization [4 August 2024]. [ Links ]
Den Hertog, CH. 1904. Nederlandsche Spraakkunst. Handleiding ten dienste van aanstaande (taal) onderwijzers. De leer van den samengestelden zin. 2de druk. Amsterdam: W Versluys. [ Links ]
Fouché, N, Kapp, S, Pilon, S & Luther J. 2021. "Woordsoorte: Bywoorde". Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FBywoord%2FAAG_Woordsoort_ADV_Inleiding.html [5 Augustus 2024]. [ Links ]
Fouché-Karsten, N, Wierenga, R, Breed, A, & Pilon, S. 2025. Afrikaans Huistaal die afgelope 100 jaar: Die bysin as gevallestudie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 65(1): 213-237. [ Links ]
Haeseryn, W, Romijn, K, Geerts, G, de Rooij, J & van den Toorn, M. 1997. 8.7.1.1 Inleidende opmerkingen (versie 2.1). Algemene Nederlandse Spraakkunst. https://e-ans.ivdnt.org/topics/pid/ans08070101lingtopic [23 September 2024]. [ Links ]
Jackendoff, R. 1983. Semantics and Cognition. London: MIT Press. [ Links ]
Menkveld, H. 1992. Die problematiek rondom die onderrig van Afrikaans. Spilplus, 21: 411-437. [ Links ]
Ponelis, FA. 1968. Grondtrekke van die Afrikaanse Sintaksis. Pretoria: JL Van Schaik. [ Links ]
Ponelis, FA. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: JL Van Schaik. [ Links ]
Pretorius, E. 2017. The secret nominal life of Afrikaans intransitive adpositions. Stellenbosch Papers in Linguistics, 48: 9-16. [ Links ]
Survey of English Usage. 1998. An introduction to word classes. Internet Grammar of English. https://www.ucl.ac.uk/internet-grammar/wordclas/gradienc.htm [10 August 2024]. [ Links ]
Thornbury, S. 1999. How to teach grammar. Harlow, Essex: Pearson Education Limited. [ Links ]
Tucker, G. 2009. In search of the grammarian's dream: Locating lexis in a systemic functional grammar. In Stefaan Slembrouck, Miriam Taverniers, & Mieke van Herreweghe (eds.). From will to well: Studies in linguistics offered to Anne-Marie Simon-Vandenbergen. Gent: Academia Press, pp. 415-26. [ Links ]
Umalusi. 2014. What's in the Caps package? Languages. Overview. Pretoria: Persequor Technopark. [ Links ]
Van den Branden, K. 2022. Zinsontleding ontmanteld. https://neerlandistiek.nl/2022/01/zinsontleding-ontmanteld/ [24 September 2024]. [ Links ]
Van Oort, R. 2018. Kurrikulumontwerpbenaderings van Suid-Afrikaanse skoolkurrikula: 'n kritiese perspektief op die kurrikula vir Afrikaans (Huistaal). LitNet Akademies, 15(1):256-284. [ Links ]
Van Schoor, JL. 1983. Die Grammatika van Standaard-Afrikaans. Kaapstad: Lex Patria Uitgewers. [ Links ]
Vermaak, A, Du Plessis, S, Du Toit, E, Gouws, R, Hugo, J, Janse van Rensburg, C, Julies, G, Nel, M & Jansen van Nieuwenhuizen, I. 2013. Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek. Kaapstad: Maskew Miller Learning. [ Links ]
Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). 2023. Sintaksisterminologie vir die Algemene Afrikaanse Grammatika. Weergawe 1.3. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Sintaksis%2FSintaksisterminologie_vir_AAG.html [7 Augustus 2024]. [ Links ]
Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). 2024. Korpusportaal: Omvattend 2.3. http://viva-afrikaans.org. [7 Augustus 2024]. [ Links ]
Wierenga, R Fouché-Karsten, N, Breed, A & Pilon, S. 2023. "Sintaktiese funksies" Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans, https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Sintaksis%2FSintaktiese_funksies.html [5 Augustus 2024]. [ Links ]
Ontvang: 2025-01-10
Goedgekeur: 2025-05-01
Gepubliseer: Junie 2025
Suléne Pilon is 'n beskrywende taalkundige van die Universiteit van Pretoria wat navorsing doen oor veral Afrikaanse sintaktiese konstruk-sies, wat sy vanuit 'n konstruksiegrammatika-perspektief beskryf. Sy is die moderator van die morfologieafdeling van die Afrikaanse Taal-portaal, en van die sintaksisafdeling van die Virtuele Instituut vir Afrikaans se Taalonder-rigportaal. Sy het ook al dikwels in die verlede saamgewerk aan navorsing oor en die ontwikkeling van Afrikaanse taaltegnologiehulpbronne en -toepassings, soos 'n Afrikaanse woordsoort-etiketteerder, die SADiLaR-befondsde Skryjhulp Afrikaans en CTexT se Afrikaanse Skryfgoed. Sy is sedert 2009 'n lid, en sedert 2022 ook die voorsitter, van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie.
Suléne Pilon is a descriptive linguist at the University of Pretoria, specialising in research on particularly Afrikaans syntactic constructions, which she describes from a construction grammar perspective. She is the moderator of the morphology section of the Afrikaans Language Portal and of the syntax section of the Virtual Institute for Afrikaans' Language Teaching Portal. She has also frequently collaborated on research and the development of Afrikaans language technology resources and applications, such as an Afrikaans part-of-speech tagger, the SADiLaR-funded Skryfhulp Afrikaans, and CTexT's Afrikaans Writing Assistant. She has been a member of the Language Commission of the South African Academy of Science and Art since 2009 and its chairperson since 2022.
Adri Breed, 'n NNS-gegradeerde navorser, is 'n medeprofessor in beskrywende Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Sy spesialiseer in sintaksis en semantiek, met 'n besondere fokus op die konstruksionalisme van Afrikaans en ander Wes-Germaanse konstruksies. Sy voltooi vyf grade aan die NWU, insluitende 'n graad in Bedryfskommunikasie (BBk - 2005), 'n graad in Teologie met Antieke Tale (BTh Tale - 2005), 'n Honneursgraad in Afrikaanse Taalkunde (BA Hons - 2007), 'n Magistergraad in Afrikaans Letterkunde (MA - 2007), en 'n PhD in Afrikaans Taalkunde (2012). Gedurende haar doktorale studie spandeer sy ongeveer tien maande aan die Universiteit van Antwerpen, België. Sy is tans die Adjunkdirekteur van die Skool vir Tale (Pot-chefstroomkampus) aan die NWU. Adri is een van die outeurs en moderators van Taalportaal (www.taalportaal.org) en het as eindredakteur vir die Afrikaansgrammatika van die Virtuele Instituut vir Afrikaans gedien (2020-2024).
Adri Breed, an NRF-rated scholar, is an Associate Professor of Afrikaans Descriptive Linguistics at North-West University's Potchefstroom Campus. She specialises in syntax and semantics, with a particular focus on the constructionalisation of Afrikaans and other West Germanic constructions. She holds five degrees from NWU, including a degree in Business Communication (BBk - 2005), a degree in Theology with Languages (BTh Languages - 2005), an Honours degree in Afrikaans Linguistics (BA Hons - 2007), a Master's degree in Afrikaans Literature (MA - 2007), and a PhD in Afrikaans Linguistics (2012). During her doctoral studies, she spent approximately ten months at the University of Antwerp, Belgium. She is currently the Deputy Director of the School of Languages (Potchefstroom Campus) at NWU. Adri is one of the authors and moderators of Taalportaal (www.taalportaal.org) and served as the editor-in-chief for the Virtual Institute for Afrikaans' Grammar (2020-2024).
Nadine Fouché-Karsten het in 2012 'n BEd-graad met Afrikaans as hoofvak aan die NWU behaal, in 2013 'n BEd-honneurs in Afrikaanse Taalonderwys en in 2016 'n MEd in Kurrikulumstudies, albei ook met lof. Sy was vanaf 2016 tot 2019 'n lektor in die NWU se Fakulteit Opvoedkunde waar sy aspekte van Afrikaanse taalkunde en taalonderrig aan voorgraadse en nagraadse studente onderrig het. Sedert2020 is sy 'n taalkundeskrywer en -navorser vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), die leier van die projek Afrikaansgrammatika vir die onderwys en hoofadministrateur van Taalonderwysersforum, VivA se Facebookblad spesifiek gerig op die Afrikaanstaalonderwysgemeenskap. Haar navorsingsbelangstellings sluit in kohesie, kritiese taalbewustheid en grammatika. Rakende grammatika, fokus sy veral op die wyse waarop dit vernuwend onderrig kan word, asook die vernou-ing van die gaping tussen skoolgrammatika en die moderne taalkunde. Om in hierdie behoefte te voorsien, was sy in 2024 by 'n Afrikaansonderwysersreeks in samewerking met Ina Strydom op RSG Taaldinge betrokke, hoewel sy ook al op verskeie ander geleenthede werkwinkels oor grammatikaonderrig aangebied het.
Nadine Fouché-Karsten obtained a BEd degree with Afrikaans as a major at NWU in 2012, followed by a BEd Honours in Afrikaans Language Teaching in 2013, and an MEd in Curriculum Studies in 2016, both with distinction. From 2016 to 2019, she was a lecturer in the Faculty of Education at NWU, where she taught aspects of Afrikaans linguistics and language teaching to both undergraduate and postgraduate students. Since 2020, she has been a linguist, writer, and researcher for the Virtual Institute for Afrikaans (VivA), the leader of the Afrikaans Grammar for Education project, and the chief administrator of Taalonderwysersforum, VivA's Facebook page aimed at the Afrikaans language education community. Her research interests include cohesion, critical language awareness, and grammar. Regarding grammar, she particularly focuses on innovative ways to teach it, as well as on narrowing the gap between school grammar and modern linguistics. To address this need, she was involved in a series for Afrikaans teachers, in collaboration with Ina Strydom, on RSG Taaldinge in 2024. Additionally, she has presented workshops on grammar teaching on various other occasions.
Rone Wierenga is 'n doktorale student in beskrywende taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en die Universiteit Gent in België. Haar PhD-projek behels 'n vergelykende studie oor sintaktiese en semantiese variasie in variëteite van Afrikaans. Haar navorsing fokus op taalverandering, taalvariasie en kontrastiewe taalkunde. Sy is aktief betrokke by verskeie navor-singsprojekte, insluitende die Projek vir Variasie in Afrikaans (ProVARIA) en die Stand van Afrikaans. Verder dra sy by tot die uitbreiding en instandhouding van die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT). Sy is ook werksaam aan Afrikaanse grammatikas, soos VivA se Algemene Afrikaanse Grammatika en die Taal-portaal-grammatika oor Afrikaans, naas taaltegnologieprojekte vir ander Suid-Afrikaanse tale en instansies.
Roné Wierenga is a doctoral student of descriptive linguistics at the North-West University and Ghent University in Belgium. Her PhD project involves a comparative study on syntactic and semantic variation in dialectal varieties of Afrikaans. Her research focuses on language change, language variation and contrastive linguistics. She is actively involved in several research projects, including the Project for Variation in Afrikaans (ProVARIA) and the Stand van Afrikaans. Furthermore, she contributes to the continued development and maintenance of the Digital Bibliography of Afrikaans Linguistics (DBAT). Her research includes work on Afrikaans grammars, such as VivA's Algemene Afrikaanse Grammatika and Taalportaal, and language technology projects for other South African languages.
1 Die verskillende kategorieë en die subkategorieë word omvattend en volledig in VivA (2023) se Sintaksisterminologie vir die Algemene Afrikaanse Grammatika uiteengesit.
2 Tensy anders vermeld, word alle voorbeelde uit VivA-KPO 2.3 (VivA, 2024) geneem.
3 Nonklouse word deur Breed et al. (2023b) gedefinieer as 'n taaleenheid wat in 'n sin aangetref word, maar wat nie geïntegreer is in die subjek óf die gesegde van die klous(e) waaruit die sin saamgestel is nie.
4 In VivA se Algemene Afrikaanse Grammatika (AAG) word 'n onderskeid tussen sinne en Mouse getref. 'n Sin word in hierdie bron gedefinieer as "'n taaleenheid wat sintakties onafhanklik is en uit minstens een klous bestaan [...] 'n Sin kan ook uit meerdere klouse bestaan". 'n Klous, daarteenoor, word in AAG gedefinieer as "'n taaleenheid wat uit twee dele bestaan, naamlik 'n (implisiete of eksplisiete) subjek en 'n (implisiete of eksplisiete) gesegde". In AAG word bysinne met ander woorde as tipe klouse gekategoriseer. Op skoolvlak word die term "klous" egter nie gebruik nie, en derhalwe maak VivA se Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG) nié hierdie onderskeid nie. Waar ons dus in hierdie artikel die term "sin" of "bysin" gebruik, gebruik ons dit op die wyse waarop ASG dit gebruik, hoewel ons in meeste gevalle eintlik na 'n taaleenheid verwys wat bestaan uit 'n (implisiete of eksplisiete) subjek en 'n (implisiete of eksplisiete) gesegde" en binne 'n sin voorkom - d.i. 'n klous.
5 Voorbeeld is aangepas.
6 Die woord om word, insgelyks Ponelis (1979:429), as 'n voegwoord beskou. Dit verskil van huidige skoolhandboeke wat om saam met te en die basiese vorm van die werkwoord as die infinitief klassifiseer en dit beperk tot die enkelvoudige (oftewel simplekse) sin: "'n Enkelvoudige sin het net een gesegde (werkwoorddeel), [byvoorbeeld] 'Hy het op die kompas gekyk om sy rigting te bepaal' ('om te bepaal' is nie 'n gesegde nie, maar die infinitief van die werkwoord 'bepaal')" (Anker et al., 2013:76).
7 Komplementbysinne is merendeels die direkte objek van oorganklike of dubbeloorganklike hoofwerkwoorde wat betekenisgewys as mentale werkwoorde (byvoorbeeld dink, bewonder, twyfel of oordeel) of verbale werkwoorde (byvoorbeeld sê, verduidelik, argumenteer of baklei) geklassifiseer kan word.
8 Sommige grammatikas of taalkundebronne verwys na hierdie taaleenhede as komplemente (dus as naamwoordkomplemente, setselkomplemente of adjektiefkomplemente).
9 Komplementbysinne is dikwels nabepalers van naamwoorde wat op betekenisvlak as mentale naamwoorde (byvoorbeeld besef, wete, gedagte of wens) of verbale naamwoorde geklassifiseer kan word.
10 Die betrekkingswoorde waar en wanneer word deur die bank in skoolhandboeke as voegwoorde aangedui. Tog verskil dit van voegwoorde in die opsig dat dit deel van die sinstruktuur vorm, terwyl voegwoorde buite die sinstruktuur staan (vergelyk Van Schoor 1983:50). Juis hierom word waar en wanneer nie as voegwoorde gereken nie. Dit is eerder bywoorde, en meer spesifiek betreklike bywoorde (vergelyk Biber et al., 1999:87; Biber et al., 2018:33; Ponelis, 1968:175).
11 Hoewel skoolhandboeke waarop en waarmee as betreklike voornaamwoorde klassifiseer (kyk Vermaak et al., 2013), word dit byvoorbeeld in VivA se Afrikaansgrammatika (kyk Fouché et al., 2021) en in die Algemene Nederlandse Spraakkunst (Haeseryn et al., 1997) as voornaamwoordelike bywoorde gereken. Hulle word daaraan uitgeken dat hulle byvoorbeeld die bywoord waar as eerste lid het.
12 Vergelyk Breed et al., (2023b) vir 'n volledige bespreking van die verskil in benaderings tot bysintipes. Die voorbeelde in hierdie afdeling is ook geneem uit hierdie bron, tensy anders vermeld.
13 Op skoolvlak in AH word die gesegde alleenlik beskou as "die groep werkwoorde wat saam optree om een handeling uit te druk" (Vermaak et al., 2013), terwyl die gesegde in VivA se Afrikaans-grammatika beskou word as 'n groter konstruksie saamgestel uit i) die predikaat ('n verpligte woordgroep wat die kern van die situasie beskryf), en ii) die bywoordelike bepaling ('n opsionele woordgroep wat die situasie presieser aandui) (Wierenga et al., 2023).
14 Hierdie voorbeeld is geneem uit Vermaak et al., (2013).