Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a21
TOELATINGSARTIKELS
Afrikaans in die Verenigde State van Amerika: Gebruik, uitdagings en moontlikhede
Afrikaans in the USA: Usage, challenges and possibilities
Jacques du Plessis
Universiteit van Wisconsin-Milwaukee, VSA. E-pos: jacques@uwm.edu
OPSOMMING
Hierdie artikel vergelyk vreemdetaalverwerwing in Europa en die VSA en beskryf die Amerikaanse skool- en universiteitstelsel, met spesifieke verwysing na die uitdagings wat minder gedoseerde tale stel. Die fokus skuif dan na die onderrig van Afrikaans in die VSA die afgelope vier dekades en die redes vir die huidige onbestendige posisie van Afrikaans. Laastens word die toekoms van Afrikaans aangeroer. Die pad van ander vreemde tale dui op moontlike opsies vir Afrikaans om 'n meer beduidende rol as vreemde taal te speel.
ABSTRACT
This article compares foreign language acquisition in Europe and the USA and describes the American school and university systems, particularly regarding the challenges faced by less commonly taught languages. The focus then shifts to the teaching of Afrikaans over the past four decades and the reasons for its current precarious position. Finally, the future for Afrikaans is considered, along with the paths of other foreign languages, indicating possible options for Afrikaans to play a more significant role as a foreign language.
Inleiding
Die doel van hierdie bydrae is om inligting te verskaf oor die stand van Afrikaans in die Verenigde State van Amerika (VSA), tesame met persoonlike insigte verkry en ervaring opgedoen deur die skrywer in sy jare as dosent in die Amerikaanse tersiêreonderwysstelsel die afgelope 40 jaar.
Eerstens word die konteks van vreemdetaalonderrig in Amerika geskets, beginnende op skoolvlak (of K-12, soos dit in Amerika bekendstaan) en daarna op universiteitsvlak. Vervolgens word die rol van die owerheid en ander instansies in vreemdetaalonderrig beskou. Ten slotte word 'n samevattende besinning gebied oor die potensiaal van Afrikaans as 'n volwaardig erkende keuse vir aanleerders van vreemde tale in die toekoms.
Ten einde die toekomsmoontlikhede vir die onderrig van Afrikaans as vreemde taal beter te verstaan, is dit nuttig om vertroud te wees met die organisatoriese infrastruktuur van nie net skole en universiteite nie, maar ook van die owerheid in die VSA. In hierdie konteks moet die roete gevind word waarlangs Afrikaans se toekoms as taal in die VSA strategies beplan kan word.
Vreemdetaalonderrig op skoolvlak
Die Pew-navorsingsentrum (Devlin, 2018) het bevind dat Europeërs goed gemotiveerd is om vreemde tale aan te leer. Gemiddeld 92% van skoolgaande kinders in Europa leer vreemde tale aan. Europa se multikulturele konteks en oop grense en die voltydse vloei en wisselwerking tussen kulture maak die strategiese waarde van veeltaligheid voor die hand liggend omdat dit mededingendheid en volwaardige deelname op ekonomiese, politieke en maatskaplike vlak meebring. Soos aangedui in Figuur 1 hier onder, is dit glad nie die geval in Amerika nie -gemiddeld slegs 20% van skoolleerders leer 'n vreemde taal aan.

Die geopolitieke konteks van sowel Europa as Amerika oefen 'n sterk invloed op die aanleer, al dan nie, van vreemde tale uit. Amerika se dominante rol verklaar waarom ander tale nie so geredelik aangeleer word nie. Die data in Tabel 1 hier onder ("The National K-12 Foreign

Language Enrollment Survey Report", 2017) word aan dié aanlyn verslag ontleen en toon dat Spaans die algemeenste vreemde taal is, met meer as 70% van vreemdetaalleerders wat dié taal neem. Die geweldige toename van immigrante uit Suid-Amerika wysig die Amerikaanse geopolitieke realiteit, wat ook die gewildheid van Spaans verklaar. Wanneer Spaans geneem word, behels dit soms nie 'n keuse nie, omdat dit die enigste opsie is. Daar moet ook in ag geneem word dat die VSA se leidende en dominante posisie op ekonomiese en militêre gebied, asook sy wydstrekkende betrokkenheid by politieke knelpunte oor die wêreld heen, beteken dat hy nie sommer die strategiese waarde van vreemde tale kan ignoreer nie.
Vervolgens word die verskil tussen vreemdetaalonderrig op skool en dié op universiteit oorweeg.
In Suid-Afrika kan leerders van graad 8 af begin om 'n derde taal te neem. Die VSA begin 'n jaar of wat vroeër. Tabel 1 toon dat buiten die tradisionele programme waarin onderrig in 'n vreemde taal in graad ses of sewe begin, daar ook 'n nuwe inisiatief is om van graad een af studente daagliks in twee tale in te dompel.
Die tweedetaalintegrasie staan bekend as tweedetaalonderdompeling (TTO: Engels: "dual language immersion; DLI"), wat behels dat Engels saam met 'n groeiende aantal teikentale gebruik word (soos beskryf in Wikipedia se inskrywing by "Language immersion"). Volgens die webwerf www.americancouncils.org ("2021 Canvass of Dual Language and Immersion", 2021) is daar meer as 3 600 sodanige programme in 44 Amerikaanse deelstate. Omtrent 60% van hierdie TTO-programme kom uit net vier van die VSA se 51 state: Kalifornië, Utah, Noord-Karolina en New York. Tabel 2 dui aan hoe uiteenlopend die tale is wat aangebied word. Die huidige situasie toon dat die stelsel oop is vir die instelling van nuwe taalprogramme indien die belangstelling en ondersteuning dit regverdig.

Op laer- en hoërskool word die fondament gelê en entoesiasme gekweek vir die keuse van 'n vreemde taal op universitêre vlak. Op skoolvlak het elke staat 'n vreemdetaalvereniging (List of Foreign Language Associations, s.j.). In dié verenigings voer die dominante vreemde tale (Spaans, Frans, en Duits) gewoonlik die botoon. Mindergedoseerde tale (MGT's; in Engels LCTLs: Less Commonly Taught Languages) word nie noodwendig met entoesiasme ondersteun nie, omdat elke taal primêr omsien na sy eie taalprogram. Binne elke staat se onderwysdepartement is daar 'n superintendent vir wêreldtale. Dié amptenaar uit elke staat behoort tot 'n landswye organisasie, die National Council of State Supervisors for Languages (www.ncssfl.org), wat hom daarvoor beywer om beleid te vestig en in die praktyk die onderrig van tale te bevorder. Daar is vyf streekorganisasies waartoe die deelstate in elke streek behoort (https://www.ncssfl.org/resources/regional-association-links/). Dié organisasies is daarop toegespits om die gehalte van onderrig te bevorder en te stimuleer.
Op nasionale (federale) vlak is die ACTFL (American Council on the Teaching of Foreign Languages, s.j.) verreweg die grootste vereniging met meer as 13 000 lede. In 1967 het hy van die Modern Language Association weggebreek (https://www.mla.org/). Vandag werk die ACTFL nou saam met die Amerikaanse owerheid om taalvaardigheidstoetse op te stel. Die toets word die Oral Proficiency Interview (of OPI) genoem, en 'n punt van 0 tot 5 word toegeken; 5 is die hoogste punt en dui 'n welsprekende kandidaat aan. Deur die jare het die skrywer reeds honderde volwassenes se praatvaardighede getoets, veral mense in die Amerikaanse weermag.2
Soos duidelik uit Tabel 2 gesien kan word, is Spaans, Frans, Latyn en Duits die "groot tale" en hulle agendas en behoeftes is dominant. Gevolglik was daar 'n behoefte om 'n vereniging te stig vir MGT's soos Indonesies, Hindi, Japannees, Arabies, Deens, Afrikaans, Portugees, en andere. Hierdie vereniging bring al die MGT's saam in die National Council of Less Commonly Taught Languages (sien https://ncolctl.org/).
Vreemdetaalonderrig op universiteit
Daar is ongeveer 4 000 universiteite en kolleges in Amerika (Moody, 2021). Forbes (Nietzel, 2023) berig dat 2 455 van die tersiêre instellings wat grade toeken, vreemde tale aanbied. Sedert ongeveer 2010 het die inskrywings in vreemde tale met 29,3% gedaal.
Die General Education-stelsel in Amerika vereis dat studente ook kursusse volg wat buite hulle gekose studieveld lê. Sommige universiteite vereis dat 'n vreemde taal vir óf twee óf vier semesters geneem word. Baie studente neem dus 'n vreemde taal omdat dit van hulle vereis word en nie omdat hulle dit in elk geval wil doen nie. Die MLA se verslag oor vreemde tale aan Amerikaanse universiteite in 2021 dui die stand van elke taal aan (Lusin et al, 2023). Ter wille van die konteks word die tale van belang gelys, met vermelding van hoeveel instellings die gegewe taal aangebied het in 2016 en in 2021:
• Nederlands (17; 20)
• Deens (8; 12)
• Afrikaans (4; 1)
• Suid-Sotho (Sesotho) (0; 0)
• Tswana (1; 0)
• Xhosa (1; 2)
• Zoeloe (11; 10)
• Swahili (67; 63)
• Joroeba3 (18; 24).
Dit sou gerusstellend wees as die aantal instansies wat elk van hierdie tale aanbied, stabiel kon bly, of selfs kon toeneem. Die redes vir die wisselvalligheid word vervolgens uiteengesit. Nie alle universiteite het dieselfde befondsingsmoontlikhede nie. Harvard se skenkingsfonds (die skenkings kom vanuit die private sektor) is nagenoeg $50 miljard sterk; daarom kan hy programme aanbied ter wille van prestige, al is dit nie winsgewend nie. Die Universiteit van Wisconsin se Madison-kampus ontvang heelwat meer staatshulp per student as enige van die ander 12 kampusse van hierdie universiteit en daarom het hulle meer geld om aan programme te bestee. Die Universiteit van Wisconsin-Madison bied byvoorbeeld ongeveer 50 vreemde tale aan, maar die Universiteit van Wisconsin-Milwaukee slegs 18 tale en die Universiteit van Wisconsin-Green Bay agt. Staatsuniversiteite se staatsbefondsing het oor die afgelope 50 jaar drasties verminder, van ongeveer 80% tot nagenoeg 15% van die totale befondsing vandag. Die tekort word nou grootliks uit klasgelde gedek. Studente word aktief van buite die staat gewerf om die las te help dra. In die verlede was dit vir voltydse studente selde nodig om terselfdertyd te werk; nou is dit die norm. Daar is ook 'n ouderdomsverskuiwing: Deesdae is net 20% van die studente tussen 18 en 22 jaar oud. Die fokus het verskuif van die eertydse klassieke afronding van die student na die allesoorheersende finansiële haalbaarheid van elke program. Wat beteken dit vir vreemde tale? Dit konsolideer weer eens die fokus op die gewildste tale, soos Spaans en Frans en soms Duits. Die MGT's moet dus die wisselvalligheid van hulle bestaan aanvaar en kreatief wees om te kan oorleef (Riley & Piereson, 2020).
Die uitdaging vir MGT's is dat byna alle universiteite die aanbod van vreemde tale wat nie genoeg studente trek nie, óf geleidelik uitfaseer óf summier staak. Indien die betrokke dosent wel wil voortgaan met 'n klas wat te klein is, word die dosent se besoldiging sterk verminder en word dit 'n geval van "liefde vir die saak". Omdat universiteite se begrotings dit nie moontlik maak om iemand permanent aan te stel om so 'n taal aan te bied nie, is dit gewoonlik 'n nagraadse student of 'n deeltydse dosent wat die klas aanbied. By byvoorbeeld die Universiteit van Pennsilvanië het die nagraadse student wat van 2011 tot 2016 Afrikaans daar aangebied het, gegradueer, en daarmee het die Afrikaans-program ongelukkig tot 'n einde gekom. Lyn Margulis, wat Afrikaans by Harvard aangebied het, het meer as 40 studente gehad en sy het uitstekend presteer, maar Harvard het ongelukkig die beleid dat alle deeltydse dosente vir slegs vier of agt jaar gekontrakteer word en daarna kan hulle nie meer daar doseer nie, ongeag hoe goed hulle ook al as dosente gevaar het (Crimson Editorial Board, 2024). Ongelukkig is dit tot nadeel van Afrikaans.
Die geval van prof. Robert Kirsner4 by die UCLA (University of California, Los Angeles) was byna ideaal. Hy het 'n voltydse betrekking as dosent van Nederlands gehad. Hy kon gevolglik binne die stabiele konteks uitbrei en Afrikaans ook by sy doseerwerk insluit. Omdat Afrikaans gekoppel was aan sy aanstelling as 'n professor van Nederlands, het sy aftrede in 2016 ongelukkig beteken dat die departement nie gepoog het om 'n dosent ook vir Afrikaans aan te stel nie. Dit het die einde aan Afrikaans as vak en as taal aan die UCLA tot gevolg gehad.5
Du Plessis (2016) stel nuwe modelle vir die onderrig van MGT's voor omjuis die probleem van wisselvalligheid en ekonomiese volhoubaarheid uit te lig. Die kerngedagte hiervan is om 'n intydse aanlyn klas aan te bied met studente van meer as een universiteit wat die kursus volg. Dit kan beteken dat daar genoeg studente is om dit vir die dosent lonend te maak, en dat nie een van die universiteite 'n langtermynverbintenis hoef aan te gaan nie. Afhangende van belangstelling kan die kursus dus langer beskikbaar wees.
Die volgende afdeling rakende die nasionale owerheid en ander rolspelers verduidelik verder hoe vreemdetaalonderrig geselekteerde MGT's bevoordeel.
Die Amerikaanse owerheid en ander rolspelers
Die owerheid in die VSA bepaal watter tale van groter belang is, hoofsaaklik op grond van regionale onstabiliteit en die moontlike bedreigings wat konflikgebiede vir Amerika inhou. Gevolglik word sekere tale dan geag van strategiese of kritieke belang te wees, en gevolglik stel die owerheid die nodige finansiële ondersteuning beskikbaar om genoegsame kapasiteit vir nagraadse studie in teikengebiedtale op te bou. Dit is grotendeels hoe die lys kritieke of strategiese tale (critical languages) opgestel word. Daarom het die owerheid die Critical Languages Scholarship (CLS)-program ingestel. Dit verseker dat daar geld vir dosente en beurse vir die sogenaamde teikentale beskikbaar is, maar nie vir ander tale nie. Na gelang die kritieke of strategiese waarde van 'n taal vir die staat daal, word die finansiële steun vir die onderrig van die taal uitgefaseer. Ander tale wat dan van groter belang geag word, kan dan bygevoeg word.
Hier onder is die lys van die tale wat as belangrik en van kritieke of strategiese waarde beskou word om aan te leer. Tussen hakies word die jaar genoem waarin die betrokke taal dié status bereik het: Arabies (2006), Turks (2006), Oerdoe (2006), Hindi (2006), Russies (2007), Chinees (2007), Koreaans (2007), Persies (2007), Japannees (2010), Indonesies (2011), Swahili (2016) en Portugees (2019). Pas uitgefaseer is Bengaals (2006-2023), Punjabi (2006-2022), en Azerbeidjans (Azeri) (2009-2024) ("Critical language scholarship program", s.j.).
Die Startalk-program (https://www.startalk.info/) bied beurse aan vir skole en voorgraadse kursusse op universiteit om strategiese tale aan te bied, veral as somerprogramme vir tale soos Chinees, Russies, Arabies, Dari, Persies, Portugees, Hindi, Oerdoe en Koreaans. Die akademiese jaar bestaan uit twee semesters en begin met die herfssemester, en in die nuwe jaar volg die lentesemester. Omdat klasse in die somer opsioneel is, staan dit studente vry om elders somerprogramme by te woon.
Buitelandse rolspelers
Die ondersteuning vir die onderrig van vreemde tale kom nie net van binne die VSA nie. Internasionale taalorganisasies speel 'n beduidende rol om teikentale te bevorder. 'n Voorbeeld is die stigting in 2004 van die Confucius-Instituut (CI) deur die Chinese regering om aan universiteite sowel as skole programme vir die onderrig van Mandaryns oor die wêreld heen op te rig en te befonds. Die gewildheid van tweedetaalonderdompelingsprogramme (TTO-programme) dual language immersion (DLI)-programme het baie vinnig gegroei. Die CI se ondersteuning het 'n groot rol gespeel om Chinees 'n sigbare vastrapplek op die terrein van vreemdetaalprogramme in Amerika te gee. In regeringskringe het die Chinese regering verdag geword as gevolg van grootskaalse Chinese kommersiële spioenasie, asook China se aanspraak op groot gedeeltes van die see tussen die Filippyne en Vietnam. 'n Nadraai hiervan was dat die Confucius Instituut daarvan verdink is dat hy 'n spreekbuis van die Chinese Kommunistiese Party was wat glo 'n selektiewe beeld moes uitdra. In 2018 het die Amerikaanse kongres federale befondsing van programme met 'n CI-skakel ingeperk en die CI se aantal takke by universiteite het van ongeveer 100 tot sowat vyf gedaal.6 Politiek speel dus ook 'n beduidende rol in die aanbod van vreemdetaalonderrig.
Die CI is nie uniek as staatsorgaan om 'n land se taal en kultuur in die buiteland te bevorder nie. Die British Council (British Council, s.j.), gestig in 1934, ondersteun Engels as teikentaal in meer as 100 lande. Duits word bevorder deur die Goethe Instituut (Goethe-Institut, s.j.), wat in 1951 gestig is en wêreldwyd ongeveer 160 takke het. Frans word bevorder deur die Alliance Française (Alliance Française, s.j.). Dié organisasie is in 1883 gestig en het meer as 440 000 studente by 1 016 plaaslike takke in 135 lande. Die Instituto Cervantes (Instituto Cervantes, s.j.), gestig in 1991, bevorder die aanleer van Spaans as 'n tweede taal in 45 lande en het 88 takke. Verdere voorbeelde is die Instituto Camões (1924) vir Portugees, die Società Dante Alighieri (1889) vir Italiaans, die Japan-Stigting (1972) vir Japannees, en die Russkiy Mir-Stigting (2007) vir Russies.
Opsommend
Op skoolvlak vind groot veranderinge plaas. MGT's soos Portugees, Chinees en Hindi word nou op skoolvlak ingewerk, veral as deel van 'n onderdompelingsprogram (integrasie), waarin leerders van jongs af in ander vakke onderrig in sowel Engels as die teikentaal ontvang. Die haalbaarheid hiervan wentel om die beskikbaarheid van onderwysers en ook van plaaslike belangstelling en ondersteuning. Deur die StarTalk-program ontvang sekere tale voorkeur, en hoewel dit nie ander tale uitsluit nie, is dit vir hulle moeiliker sonder die nodige regeringsteun.
Aan universiteite het MGT's voortdurend 'n tekort aan geld, en die Startalk- en die Critical Languages-program maak 'n groot verskil aan die volhoubare onderrig van dié tale. Tog moet onthou word dat vooraanstaande universiteite gewoonlik eerder befondsing ontvang om dié tale aan te bied. Wat skole betref, is dit 'n kwessie van onderrigkapasiteit (dit wil sê die nodig opgeleide personeel) en die vermoë om belangstellende studente te werf. Buitelandse staatsondersteunde taalorganisasies bring wel ook ondersteuning om onderrig van die betrokke taal 'n kans op sukses te bied.
Toekomsmoontlikhede
Die agtergrond wat hier bo verskaf is oor vreemdetaalonderrig by die skole en universiteite in Amerika en die rol wat die owerheid en ander instansies daarin speel, lei tot die vraag wat die toekoms van Afrikaans as vreemde taal in die VSA is of kan wees. Om 'n goed beredeneerde antwoord daarop te verskaf, moet die volgende vraag in gedagte gehou word: Wat is die verwagting en hoop wat Afrikaanse moedertaalsprekers koester oor die rol van Afrikaans as vreemde taal, in hierdie geval in die VSA? Daar word aangevoer dat die kans dat Afrikaans as vreemde taal suksesvol groter getalle leerders sal lok, skraal is sonder die entoesiastiese belangstelling, betrokkenheid en ondersteuning van moedertaalsprekers. Ander tale se suksesvolle planne van aksie is deurgaans deur hul regerings of deur 'n stigting met dié missie ondersteun.
Die eerste kwessie is die houding van moedertaalsprekers jeens Afrikaans. Wat is die positiewe en/of negatiewe dinge wat moedertaalsprekers rig en wat die droom kan meehelp of verydel? Dan moet ook gekyk word na die motivering vir studente om Afrikaans as vreemde taal te kies, en in dié geval is die fokus op sowel die intrinsieke waarde van Afrikaans as die maatskaplike faktore wat hierdie besluit direk raak.
Moedertaalsprekerondersteuning: Is daar entoesiasme daarvoor?
By die meeste nasies is daar 'n innerlike stryd om hul voorkeuridentiteit te bepaal. Amerika hink op wat vir die land die beste is: Is 'n beleid van isolasie verkieslik, of 'n beleid van internasionale betrokkenheid? Gedagtig aan prins Alexander Nevski in die 13 de eeu, wat ondergeskik aan die Mongoolse imperiale mag was ("What was Prince Alexander Nevsky's contribution", s.j.), hink die Russe op twee benaderings, naamlik die keuse tussen 'n pro-Westerse of 'n pro-Oosterse fokus.
En wat van Suid-Afrika? Suid-Afrika se politieke identiteit is kompleks, en die vraag is of daar genoegsame ondersteuning sou wees om aan die droom te bou om Afrikaans as vreemde taal in Amerika en elders te bevorder.
Histories is daar 'n tradisie van isolasie in die Afrikaanse psige omdat ons dinge op eie houtjie kan en wil doen. Die Groot Trek is byvoorbeeld 'n voortsetting van die stelselmatige ooswaartse beweging van vryburgers en ander trekkers wat voortgebou het op die Oos-Kapenaars se strewe om weg te kom van koloniale oorheersing. Dieselfde gees is waarneembaar by die vestiging van die Rehoboth-Baster-gemeenskap in Namibië ("Basters", s.j.). Die oorloë met die Britse Ryk het die gees van isolasie verder in Suid-Afrika versterk. Buitelandse sanksies gedurende die apartheidsera het meegebring dat magsorgane gebruik is om die konteks van isolasie as 't ware te benut om oorlewing en sukses te bewerkstellig. Die suksesse behaal te midde van sanksies het 'n gees van eksklusiwiteit meegebring in organisasies soos die Broederbond en die Nasionale Party en staatgesteunde maatskappye, soos YSKOR, SASOL en KRYGKOR. In dié era was die Afrikaanse kultuurskat eksklusief onder wit beheer.
Die teendeel van 'n kultuur van isolasie is nie kapitulasie en versmelting met ander kulture nie, maar inklusiwiteit in plaas van eksklusiwiteit. Wat Afrikaanssprekendes en Afrikaans betref, behels dit byvoorbeeld dat die variëteite van die taal en kultuur nie afgeskeep of geminag moet word nie, maar dat die volle en veelsydige kultuurskat van Afrikaans ondersteun word en dat dit toegelaat word om te floreer.
Een van die eerste stappe om die mentaliteit van isolasie te oorbrug, is om die samekoms van almal binne die Afrikaanse kultuur te laat gedy, want dié stelselmatige samekoms sal versoening tussen wit, bruin en swart Afrikaans-moedertaalsprekers bewerkstellig, ware respek en begrip vir mekaar sal herstel, en die inklusiewe uitlewing van egte Suid-Afrikaanse gasvryheid sal verryk. Dit kan gesien word in die ewolusie van byvoorbeeld die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees deur die jare, en Afrikaanse kunstenaars soos Refentse Morake se opgang in 'n postapartheid-Suid-Afrika. Die punt wat hier gemaak word, is dat die fokus van 'n gees van isolasie na binne is, en dat die gedagte om Afrikaans na die wêreldgemeenskap uit te dra nie 'n prioriteit is nie. In die gees van inklusiwiteit is daar 'n begeerte om aanknopingspunte raak te sien en te benut en die besef dat so 'n lewensbenadering strategies en waardevol is om die wêreld in te lig en voor te stel aan ons taal en kultuur. Gedurende die jare van isolasie was daar geen noemenswaardige Afrikaanssprekende diaspora-gemeenskap nie. In die postapartheidsera is daar 'n beduidende Afrikaanse gemeenskap in onder meer Nieu-Seeland, Australië, Nederland, die Verenigde Koninkryk, Kanada en die Verenigde State van Amerika, met Afrikaanse kerke en organisasies, en Afrikaanse uitvoerende kunstenaars wat na die buiteland reis en daar optree (sien Carstens, Bosman & Wierenga, 2024, vir meer hieroor).
In dié nuwe era van 'n groeiende diaspora van Afrikaanssprekendes is die vraag: Is ons trots op ons taal, en voel ons Afrikaans is dit werd om internasionaal vir leerders aangebied te word? Sowel die ja as die nee geniet ondersteuning. Is die ja-stem sterk genoeg om die droom te help dra?
Daar is interessante voorbeelde van kulture wat die netwerk van hul diaspora benut het tot voordeel van hulle welsyn en kulturele uitlewing. Die Indiërs het byvoorbeeld 'n indrukwekkende wêreldwye netwerk wat hulle gebruik om hulle finansiële en kulturele invloed te verbreed. Dieselfde kan gesê word van onder meer Chinese, Libanese, Grieke, Italianers en Jode. Ook in die geval van postapartheid-Suid-Afrika het die diasporadiese gemeenskap van Suid-Afrikaners geweldig gegroei en ons van 'n eksklusiewe na 'n inklusiewe kulturele konteks gelei. Dit is tyd om te besin oor hoe ons die sosiale infrastruktuur kan oprig om ons netwerk te omvorm van die destydse eksklusiewe en interne fokus tot 'n inklusiewe en internasionale trefwydte.
Kan ons die voorbeelde van ander kulture navolg wat reeds eeue lank hulle teenwoordig-heid in 'n diaspora benut? Kan ons die groeiende diasporanetwerk gebruik om ons land se belange, tale en ryk kulturele skat in die wêreldkonteks te bevorder en uit te dra? Die skrywer se persoonlike ervaringe opgedoen en insigte verwerf in meer as 40 jaar in die diaspora maak dit duidelik dat die organiese netwerk in die diaspora bestaan en die tyd ryp is om die Afrikaanse taal en kulturele skat deel te maak van die opsies wat belangstellendes oorsee en immigrante na Suid-Afrika het. Dit is tyd om Afrikaans internasionaal te laat gedy.
Die leerderperspektief: Waarom Afrikaans?
Wat bied Afrikaans? Of liewer: wat kán Afrikaans bied? Die drie kernsake wat hier ter sprake is, is die persepsie van die taal, die linguistiese en akademiese waarde van die taal, en laastens maatskaplike ondersteuning.
Wat die persepsie van die taal betref, was daar tydens die apartheidsfase en die eerste postapartheidsdekade vele luidrugtiges wat Afrikaans geëtiketteer het as die taal van die onderdrukker. Met verloop van tyd het daardie stemme gekwyn. Vandag hoor 'n mens uiters selde hierdie argument. Die konteks is nou gunstiger om die taal aan te bied, ondanks sterk negatiewe vooroordele wat wel nog hier en daar in Suid-Afrika op te merk is.
Wanneer 'n mens kyk na die algemeenste linguistiese en akademiese voordele van Afrikaans, blyk die volgende duidelik: Afrikaans word gesien as aantreklik omdat dit linguisties so na aan Engels is. Die ryk versameling kognate wat die twee tale gemeen het en die eenvoud van die Afrikaanse grammatika in vergelyking met dié van ander tale, maak dit heelwat makliker om aan te leer.7 'n Verdere logiese voordeel is dat Afrikaans 'n ideale intrede tot Nederlands en Duits is. Op geopolitieke en kulturele gebied strek die taalvermoë wat Afrikaans 'n mens bied, verder as Suid-Afrika en Namibië omdat dit ook in die Beneluxlande (België, Nederland, Luxemburg) en Suriname waardevol is.
Die finale kernsaak wentel om die mate waarin nuwe leerders sosiaal betrek word by die kultuur van Afrikaanssprekendes. Hierdie aangeleentheid hang af van die betrokkenheid van moedertaalsprekers en hulle belangstelling in die leerder se wêreld en hulle bereidwilligheid om deel daarvan te wees. Die vraag is wat die leerder se daadwerklike ervaring met die sprekers is en hoe die Afrikaanse gemeenskap deel kan wees van die leerder se ervaring. Tragies genoeg doen vele leerders wat Frans, Spaans of Duits bestudeer, nooit enigiets daarmee nie. Indien ons 'n Afrikaanse sosiale infrastruktuur vir leerders kan skep, bring dit motivering en fokus vir die studente. Die leerders se oorvertelling van die interaksie en ervaring met Afrikaanse mense sal ander inspireer en aanlok, waardeur die versteklogika van die rede vir iemand se keuse om 'n gegewe taal aan te leer, vervang word.
Die versteklogika is soos volg: Die waarde van 'n taal word bepaal deur die taal se aantal sprekers. 'n Leerder sal dus eerder in 'n groter as in 'n kleiner taal belangstel. By leerders wat dié versteklogika gevolg het, is die volgende vraag seker tersaaklik: "As 'n mens (byvoorbeeld) Frans geleer het en jy gaan Frankryk toe, hoe opgewonde is die Franse dat jy Frans praat?" Almal ken reeds die antwoord: Jy staan nie uit nie, en as jou uitspraak tekortskiet, sal die Franse eerder geïrriteer as beïndruk wees. Die alternatiewe narratief is dan dat as 'n mens Afrikaans leer, jy op 'n unieke pad is wat min leerders kies. Sprekers word aangenaam verras, want daar is groot waardering vir jou belangstelling in Afrikaans en die taal se veelsoortige kultuur. Jy word maklik in die kulturele binnekring verwelkom en hegte vriendskapsbande word gemaklik binne dié nuwe kulturele ervaringe aangeknoop. Suid-Afrikaners en Namibiers se besondere vermoë tot gasvryheid is as't ware hul geheime wapen.
Wat kan moedertaalsprekers doen om die sosiale ondersteuning van leerders van Afrikaans te laat realiseer? In hierdie opsig is kreatiewe bydraes nodig om die ervaring met Afrikaans 'n kosbare ondervinding te maak - uniek en onvergeetlik. Die volgende idees spruit uit die skrywer se interaksie met leerders. Om die leerders toegang te bied tot die ware lewenservaringe binne die kultuur is ideaal. Dit kan geskied deur middel van 'n podsendingsplatform of sosiale media. Sosiale media is ook ideaal om leerders te help om op persoonlike en informele maniere hulle luistervaardighede te verbeter. Persoonlike kontak bemoedig die leerder en dit is natuurlik en organies om die leerder deel te maak van die netwerk van ander vriende en kennisse in die taalgemeenskap.
Dan is daar die moontlikheid dat die presterende leerder Suid-Afrika en/of Namibië wil besoek en grootliks baat daarby kan vind as hy of sy reeds 'n bestaande virtuele netwerk het. Deur opregte gasvryheid kan moedertaalsprekers die uitbouing van die leerder se netwerk fasiliteer sodat hulle akademies en professioneel kan inskakel, wat hulle byvoorbeeld kan help om netwerke uit te bou en internskappe te verwesenlik. Die inskakeling van leerders in Afrika kan lei tot uitnodigings om saam met vakansie te gaan of om te kom kuier. Dit kan vir hulle vergemaklik word, as hulle daarin belangstel om in Suid-Afrika of Namibië welwillendheidswerk te kom doen. Daar kan gerus ook 'n jaarlikse prys ingestel word vir die mees indrukwekkende buitelandse presteerders op Afrikaanse gebied.
Afrikaansdosente in die buiteland kan ook ondersteun word sodat hulle die studente se ervaring kan verryk. In die 1980's het Trust Bank T-hemde vir elke Afrikaanse student by die Brigham Young Universiteit gestuur. Daar was 'n boekprys aan die einde van die semester vir die beste presteerder. Sulke idees vir die ondersteuning van buitelandse leerders en dosente van Afrikaans is net 'n vertrekpunt; hopelik sal daar in die toekoms nog talle skeppende idees ontstaan om die droom te verwesenlik om Afrikaans 'n onvergeetlike taalkeuse te maak.
Verdere voorstelle kan wees om die gesprek en debat in Suid-Afrika en Namibië in die pers, oor die radio of op televisie aan te wakker. Dit sal 'n baie groter netwerk van mense bewus maak van hierdie oogmerk en hulle daarby betrek om groter belangstelling te wek.
Samewerking met ander tale is ook van waarde. Die kurrikulering van 'n byvak of hoofvak op universiteit moet die behoeftes van die student en die potensiaal van die taal, of die kombinasie van tale, in ag neem om die program wat aan die student gebied word, optimaal verrykend en sinvol te maak. Dit is dus wenslik om die programaanbod by vandag se akademiese behoeftes aan te pas sodat Afrikaans aanloklik en waardevol vir die voornemende studente is en aan hulle ideale en verwagtinge voldoen.
Die ooreenkoms tussen die (Nederlandse) Taalunie en die Afrikaanse Taalraad ("Samewerkingsooreenkoms met Afrikaanse Taalraad", 2020) is 'n positiewe stap om voortaan gesamentlik te besin oor 'n strategie waarvolgens dié twee tale in die toekoms as vreemde tale bestudeer kan word en aan die student die potensiaal van beide tale kan bied. Dit skep ook die moontlikheid van opleiding vir leerders in beide tale waardeur hulle hul geografiese reikwydte kan verbreed na die Beneluxlande, suidelike Afrika en Suriname.
Dan is daar ook die opwindende potensiaal om verder binne 'n Suid-Afrikaanse konteks die ryke en diverse kulturele erfenis van Suid-Afrika bekend te stel deur saam te werk met die vernaamste ander amptelike tale soos Zoeloe, Xhosa, Sotho en Tswana, om weer eens die studente te betrek by die rykdom van Suid-Afrikaanse kulturele en sosiale ervaringe. Al dié voorstelle vereis egter leierskap en 'n sosiale infrastruktuur om dit van stapel te stuur.
Die fokus val gevolglik op die behoefte aan leierskap. Daar moet nou besin word oor 'n organisasie wat Afrikaans internasionaal kan bevorder. Die suksesse van organisasies soos die Alliance Française, die Goethe-Institut, die Confucius-Instituut en ander kan maklik ondersoek en benut word. Met vandag se tegnologie en met nuutskeppende denke kan 'n organisasie vir Afrikaans opgerig word om op knelpunte in die aanbod en beskikbaarheid van Afrikaans te fokus en oplossings te help vind.8 Afrikaanssprekendes kan hulself bemagtig deur hul kultuurskat aan die wêreldgemeenskap bekend te stel. Hulle kan hul taalgenote en belangstellendes in die diaspora saamsnoer om nuwe bondgenootskappe te vestig, brûe te bou en onkunde te bestry. Deur uit te reik na ander kulture en wedersydse kontak te bewerkstellig kan Afrikaanssprekendes ook hulself verryk. Wedersydse kontak versterk wedersydse respek en waardering vir mekaar se kulture en help om begrip en waardering vir Afrikaans te vestig, ook internasionaal.
Samevatting
Afrikaans is in die verlede by verskeie universiteite in die VSA as vak aangebied, maar dit het oor die jare gekwyn. Die skrywer doen voorstelle aan die hand oor hoe dit moontlik omge-swaai kan word.
BIBLIOGRAFIE
Alliance Française. S.a. https://en.wikipedia.org/wiki/Alliance_fran%C3%A7aise. [11 January 2025]. [ Links ]
Basters. S.a. https://en.wikipedia.org/wiki/Basters. [11 January 2025]. [ Links ]
British Council. S.a. https://en.wikipedia.org/wiki/British_Council. [11 January 2025]. [ Links ]
Critical language scholarship program. S.a. https://en.wikipedia.org/wiki/Critical_Language_Scholarship_Program. [11 January 2025]. [ Links ]
Goethe-Institut. S.a. https://en.wikipedia.org/wiki/Goethe-Institut. [11 January 2025]. [ Links ]
Instituto Cervantes. S.a. https://en.wikipedia.org/wiki/Instituto_Cervantes. [11 January 2025]. [ Links ]
Language immersion. S.a. https://en.wikipedia.org/wiki/Language_immersion. [11 January 2025]. [ Links ]
List of foreign language associations in the USA. S.a.. http://www.lflta.net/list-of-foreign-language-associations-in-the-us.html. 11 Januarie 2025] [ Links ]
American Council on the Teaching of Foreign Languages. S.a. https://en.wikipedia.org/wiki/American_Council_on_the_Teaching_of_Foreign_Languages. [11 January 2025]. [ Links ]
What was prince Alexander Nevsky's contribution to Russian history. 2021. https://www.dailyhistory.org/What_was_Prince_Alexander_Nevsky's_contribution_to_Russian_History. [11 January 2025]. [ Links ]
With nearly all U.S. Confucius Institutes closed, some schools sought alternative language support. 2023. https://www.gao.gov/assets/d24105981high.pdf. [11 January 2025] [ Links ]
American Councils for International Education & American Councils Research Center. S.a. 2021 Canvass of dual language and immersion (DLI) programs in us public schools. https://www.americancouncils.org/sites/default/files/documents/pages/2021-10/Canvass%20DLI%20-%20October%202021-2_ac.pdf. [11 January 2025]. [ Links ]
American Councils for International Education, in partnership with the American Council on the Teaching of Foreign Languages (ACTFL), the Center for Applied Linguistics (CAL), and the Modern Language Association (MLA), and in collaboration with the National Council of State Supervisors for Languages. 2017. The national K-12 foreign language enrollment survey report. https://www.americancouncils.org/sites/default/files/FLE-report-June17.pdf. [11 January 2025]. [ Links ]
Carstens, WAM, Bosman, N & Wierenga, R. 2024. Afrikaans in an international context. In Carstens, WAM & Bosman, N (eds). 2024. Afrikaans linguistics: Contemporary perspectives. Stellenbosch: SUN Media, pp. 669-712. [ Links ]
Crimson Editorial Board. 2024. Harvard has to stop pushing out its best teachers. https://www.thecrimson.com/article/2024/10/15/editorial-harvard-non-tenure-faculty/ [11 January 2025]. [ Links ]
Devlin, K. 2018. Most European students are learning a foreign language in school while Americans lag" https://www.pewresearch.org/short-reads/2018/08/06/most-european-students-are-learning-a-foreign-language-in-school-while-americans-lag/ [11 January 2025]. [ Links ]
Du Plessis, Jacques C. 2016. Reflection: How now shapes the future - emerging trends from the LCTL trenches. In Wang, C & Winstead L (eds). Handbook of research on foreign language education in the digital age, pp. 1-8. Hershey, PA: Information Science Reference. doi:10.4018/978-1-5225-0177-0.ch001 https://www.igi-global.com/chapter/reflection/159333. [ Links ]
Lusin, N, Peterson, T, Sulewski, C & Zafer, R. 2023. Enrollments in languages other than English in US institutions of higher education, Fall 2021. https://www.mla.org/content/download/191324/file/Enrollments-in-Languages-Other-Than-English-in-US-Institutions-of-Higher-Education-Fall-2021.pdf [11 January 2025]. [ Links ]
Moody, J. 2021. A guide to the changing number of U.S. Universities. https://www.usnews.com/education/best-colleges/articles/how-many-universities-are-in-the-us-and-why-that-number-is-changing [11 January 2025]. [ Links ]
Nietzel, MT. 2023. College student enrollment in foreign language courses plummets", https://www.forbes.com/sites/michaeltnietzel/2023/11/16/college-student-enrollment-in-foreign-language-courses-plummets/ [11 January 2025]. [ Links ]
Riley, NS & Piereson, J. 2020. "Reimagining the public university". https://www.nationalaffairs.com/publications/detail/reimagining-the-public-university. [11 January 2025]. [ Links ]
Van Heerden, M & Van der Poel, K. 2020. Samewerkingsooreenkoms met die Afrikaanse Taalraad: 'n Onderhoud met Kris van de Poel. https://voertaal.nu/samewerkingsooreenkoms-met-die-afrikaanse-taalraad-n-onderhoud-met-kris-van-der-poel-nederlandse-taalunie/. [11 Januarie 2025]. [ Links ]
Ontvang: 2024-12-16
Goedgekeur: 2025-01-15
Gepubliseer: Maart 2025

Jacques du Plessis is 'n Pretorianer wat aan UNISA en die Universiteit van Pretoria studeer het, voordat hy in 1984 die kans op 'n buitelandse avontuur aangegryp het deur sy studie aan die Brigham Young-universiteit (BYU) in Utah, Amerika, voort te sit. Sedert 1985 doseer hy Afrikaans op universitäre vlak in die VSA. Hy skryf twee handleidings vir die aanleer van Afrikaans as vreemde taal en ontwikkel sagteware vir die aanleer van woordeskat en grammatika. Hy bied Afrikaans aan vir studente van die Universiteit van Wisconsin-Milwaukee, die Yale-universiteit, die Brigham Young-universiteit en die Universiteit van Chicago, asook vir individue van die owerheidshulpverleningsinstansie USAID. Hy ontwikkel voorts 'n toets aan die hand waarvan Afrikaanssprekende skoolgaande leerders in Florida en Texas krediet kan verwerf vir hulle Afrikaanse taalvaardigheid. Sedert 2003 hou hy die webwerf www.afrikaans.us in stand as 'n oop leerruimte vir Afrikaans as vreemde taal. Jacques is opgelei as assessor van spraakvaardighede van Afrikaans vir die ACTFL (American Council on the Teaching of Foreign Languages). Hy was president van die NCOLCTL (National Council of Less Commonly Taught Languages). Hy is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waarvan hy in die termyn 2021-2024 in die Raad gedien het. Soms doen hy ook vertaalwerk en by geleentheid tree hy as 'n tolk in howe en hospitale op.
Jacques du Plessis hails from Pretoria and studied at UNISA and the University of Pretoria before embracing the adventurous opportunity in 1984 to continue his studies at the Brigham Young University (BYU) in Utah, USA. Since 1985, he has been teaching Afrikaans at university level in the USA. He has written two manuals for learning Afrikaans as a foreign language, and has developed software for learning vocabulary and grammar in several languages. He has taught Afrikaans to students at the University of Wisconsin-Milwaukee, the Yale University, the Brigham Young University and the University of Chicago, as well as to individuals from the government aid agency USAID. He developed a test on the basis of which Afrikaans-speaking schoolchildren in Florida and Texas can earn credits for their Afrikaans language skills. Since 2003, he has been maintaining the website www.afrikaans.us as an open-learning resource for Afrikaans as a foreign language. Jacques is trained as an assessor of Afrikaans oral skills for the ACTFL (American Council on the Teaching of Foreign Languages) and is a former president of the NCOLCTL (National Council of Less Commonly Taught Languages). He is a member of the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (South African Academy for Science and the Arts) and served on its Council for the 2021-2024 term. From time to time he undertakes some translation work and occasionally acts as an interpreter in courts and hospitals.
1 ASL: American Sign Language
2 Die skrywer is lid van die ACTFL en beskik oor 'n ACTFL-kwalifikasie om praatvaardigheid in Afrikaans in die VSA te evalueer.
3 https://af.wikipedia.org/wiki/Joroeba_(volk)
4 https://elts.ucla.edu/person/robert-kirsner/
5 Oor die onderrig van Afrikaans aan universiteite in die VSA, raadpleeg ook Carstens, Bosman Wierenga, 2024:676-677.
6 "With nearly all U.S. Confucius Institutes Closed", 2023.
7 Die FSI (Foreign Service Institute) het die moeilikheidsgraad van tale ingedeel, en as dit daarvolgens 'n mens 24 weke neem om die taal te bemeester, val die taal in kategorie 1 en as dit 88 weke neem, val die taal in kategorie 5. Afrikaans val in kategorie 1. (https://www.fsi-language-courses.org/blog/fsi-language-difficulty/)
8 Pogings om 'n Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) (soortgelyk aan die Internationale Vereniging voor Nederlandistiek - https://www.ivn.nu/) tot stand te bring om ook hierdie kwessies aan te pak, het ongelukkig nog nie die gewenste resultaat behaal nie.











