Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google -
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a11
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
Afrikaans as onderrigtaal ná 100 jaar: Prestasies, tekortkominge, uitdagings en toekoms
Afrikaans as language in education after 100 years: Achievements, shortcomings, challenges and future
Charl Wolhuter
Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (AROS), Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: charlcwolhuter@gmail.com
OPSOMMING
Afrikaans is tans op die vooraand van die 100-jarige viering van die erkenning daarvan as amptelike taal (1925-2025). Hierdie artikel bied 'n ondersoek van die ontwikkeling van Afrikaans in die onderwyssektor en die aanwending daarvan vir 'n bepaling van 'n strategie met die oog op die toekoms. Die geskiedenis van Afrikaans voor die erkenning daarvan as landstaal sowel as die ontwikkelingsgang van die taal sedert amptelike erkenning word gerekonstrueer. Die geskiedenis van die bemagtiging van Afrikaans as volwaardige onder-wystaal is 'n verhaal met prestasies wat min taalgemeenskappe nog kon ewenaar. Tog is drie gewigtige kontekstuele verrekeningsfoute in die poging vir die onderwysmatige bemagtiging van Afrikaans gemaak. Hierdie drie foute word as aanskouingsles aangebied. Riglyne vir die Afrikaanssprekende gemeenskap in die benutting van demografiese, ekonomiese, internasionale en ander kontekstuele kragbronne in die verskansing en voortgesette ontwikkeling van Afrikaans as onderwystaal vir die volgende 100 jaar word daaruit onttrek.
Trefwoorde: Afrikaans, demografie, historíese opvoedkunde, internasionale konteks, kontekstuele verrekening, kurrikula, onderwys, onderwysvoertaal, universiteite, vergelykende opvoedkunde
ABSTRACT
This article aims to explore the evolutionary trajectory of Afrikaans in the education sector, in anticipation of the upcoming celebration marking 100 years of Afrikaans as an official language of South Africa. The insights gained in this exercise are then used to suggest a strategy for the future and the continual entrenchment and promotion of Afrikaans as language in the education sector. This survey employs methodological tools of two related academic fields - comparative education and the history of education. Recommendations for a strategy to ensure the continued promotion of Afrikaans in the education sector are provided.
Over the past century, Afrikaans has achieved remarkable milestones, evolving from a point in 1925 when even the Bible had not yet been translated, into a language empowered and used at the highest level, also in education, where it is the language of top-rated scholarly publications and doctoral theses.
However, in their crusade to develop Afrikaans, the White Afrikaans-speaking community made three grave errors in their sizing up and factoring in of contextual realities or forces. They failed to include Afrikaans first-language speakers from other population groups, they did not gain the support of speakers of other indigenous South African languages, and they misinterpreted the international context. These errors cost those promoting the language project dearly with reference to the uncongenial situation in which Afrikaans finds itself in the present South African context.
Bases of power for the project of promoting the language in the coming years include the demographic weight of the numbers of (first- as well as second-language) speakers and their economic muscle. The number of Afrikaans first-language speakers has increased from 6 855 930 in 2011, to 6 989 786 in 2016, to 7 080 042 in 2021 and is expected to rise further to 7 122 806 in 2031. Concerning the numbers of first-language speakers, Afrikaans is the third-largest language in South Africa (after isiZulu and isiXhosa). Likewise, Afrikaans is, measured by its number of second-language speakers, following on isiZulu and isiXhosa, the third-largest language in South Africa, with 10,3 million second-language speakers. With reference to the number of first- and second-language speakers combined, again, Afrikaans currently is, with 17,2 million first- and second-language speakers, the third-largest language in South Africa.
For a dynamic, visionary promotion of Afrikaans in the next 100 years, it is imperative that opportunities that do arise are seized and it is necessary to observe and analyse the context closely and thoroughly and to act accordingly. Second, and related to this, is the task to take up once again ownership of the writing of the history of South Africa, after the Afrikaans voice in South African education historiography has gone much quieter in recent years. It is, unfortunately, the case that, despite the sociopolitical reconstruction that commenced in 1994, neither education historiography nor the general social-scientific literature on education in South Africa succeeded in breaking loose from the ideological-paradigmatic straitjacket they had been forced into, and so, they remain fossilised. In this regard, the 1994 Constitution and the Creed of Human Rights, as the moral code for a globalised world, can be suggested as central reference points for the writing of the history and the social-scientific study of education in South Africa.
Keywords: Afrikaans, comparative education, contextual factoring in, curriculum, demography, education, history of education, international context, language of learning and teaching, universities
Inleiding
Die Afrikaanssprekende gemeenskap is tans op die vooraand van die 100-jarige viering van die amptelike erkenning van die taal as landstaal. Terselfdertyd staar die taal uitdagings in die gesig wat betref funksieverlies en doelbewuste pogings om die openbare gebruik van die taal af te skaal en selfs uit te faseer. Die posisie van die taal in die onderwyssektor is kritiek vir die toekomstige funksies van die taal in die Suid-Afrikaanse samelewing. Daarom is 'n onder-soek na die wordingsgang van Afrikaans in die onderwyssektor en die aanwending van insigte daaruit verkry vir 'n bepaling van 'n strategie om die toekoms tegemoet te gaan, sinvol. Die ondersoek sluit Afrikaans as taal van onderrig en leer sowel as Afrikaans as vak (in hierdie geval ook as huistaal sowel as addisionele taal) in. Dít is die doel van hierdie artikel.
Die artikel begin met 'n metodologiese verantwoording en uiteensetting van die teoretiese raamwerk waarbinne die studie geskied het. Daarna word die wordingsgang van Afrikaans as onderwystaal in elk van die tydperke - die situasie van 1925, die tydperk 1925 tot 1948, die tydperk 1948 tot 1994 en laastens die tydperk 1994 tot 2024 - verken. Die huidige situasie, in 2025, word dan krities in oënskou geneem. Op grond van die historíese rekonstruksie en die bestekopname via die huidige situasie van Afrikaans as onderwystaal word uitsprake oor die toekomsvooruitsigte van die taal ten slotte gemaak.
Metodologiese verantwoording
Die metodologie wat in die navorsing waaroor in hierdie artikel verslag gedoen word, gebruik is, is dié van die twee susterswetenskapsvelde vergelykende en historiese opvoedkunde. Vergelykende opvoedkunde behels 'n drie-in-een-blik op onderwys (vergelyk Wolhuter, 2024). In die eerste plek fokus vergelykende opvoedkunde op onderwys-ste/se/s. Van hierdie onderwysstelsels is nasionale onderwysstelsels die opsigtelikste. In die tweede plek is vergelykende opvoedkunde op die samehang tussen onderwysstelsels en nasionale, maatskaplike kontekste toegespits. Nasionale, maatskaplike kontekste word ontleed as bestaande uit die volgende substelsels: geografie, demografie, vlak van wetenskaplike en tegnologiese ontwik-keling, sosiale stelsel (waaronder taal val) en dinamika, ekonomie, politiek en godsdiens en lewens- en wêreldbeskouing. Hierdie samehang tussen onderwysstelsel en maatskaplike konteks is 'n tweerigtingsamehang. Enersyds is die maatskaplike, kontekstuele faktore vormgewende faktore van onderwysstelsels. Andersyds het onderwysstelsels 'n bepaalde uitkoms ten opsigte van die maatskaplike konteks. Derdens vergelyk navorsers in die veld van vergelykende opvoedkunde verskillende onderwysstelsels in hul kontekstuele samehange. Op hierdie wyse word algemener en meer genuanseerde uitsprake oor onderwysstelsels en onderwysstelsel-kontekstuele samehange bereik.
Naas die aanwending van 'n kontekstuele perspektief ter begryping en evaluering van 'n onderwysstelsel is die benutting van internasionaal vergelykende perspektiewe 'n tydbeproefde en aanvaarde metode om tot 'n vollediger begrip van openbare maatskaplike vraagstukke te kom (Pawson, 2006), onderwyskwessies inkluis (Crossley, 2014). Die sistematiese rekonstruksie van buitelandse (internasionale) ondervinding en die aanwending daarvan ter beligting van binnelandse onderwysvraagstukke, asook vir die identifisering van die gepaardgaande oorsake en moontlike gevolge van die stand van sake en die wegaanwysing van moontlike oplossings vir 'n bepaalde probleem, strek tot ten minste twee eeue in die verlede terug (Wolhuter, 2019:4).
Die metode van historiese opvoedkunde - 'n rekonstruksie van die onderwysverlede en die vertolking daarvan in die konteks van die hede ten einde toekomsscenario's te identifiseer en te ontwerp - is eweneens 'n erkende benadering tot onderwysvraagstukke (vergelyk Gutek, 2006:7). 'n Historiese perspektief dra by tot 'n beter begrip van die huidige onderwysopset, wat 'n gekristalliseerde situasie is - die uitkoms van kragte wat oor 'n lang tydperk werksaam was (Le Roux & Wassermann, 2016:6). Verder belig dit die verlede van bepaalde onder-wyspraktyke (Le Roux & Wassermann, 2016:7), wat tot die uitskakeling van moontlike toekomstige, duur foute kan lei (Van der Walt & Wolhuter, 2016:1019). Soos reeds gestel, moet die huidige konteks ook duidelik in so 'n skema figureer. In die geval van Suid-Afrika sal dit byvoorbeeld beteken dat die ongelykhede in die onderwysstelsel en die huidige noodsaak van en aandrang op gelykskakeling (vergelyk Le Cordeur, 2024b) in so 'n skema moet figureer.
Teoretiese raamwerk
Die navorsing waaroor daar in hierdie artikel verslag gedoen word, steun op drie teoretiese raamwerke. Hierdie raamwerke is die teorie oor taal van onderrig en leer, Fischman se teorie oor die sterkte van 'n taal in 'n samelewing en teorie uit die wetenskapsveld kurrikulumstudies oor taal.
Daar bestaan 'n gewigtige volume literatuur oor die wenslikheid van moedertaal as die taal van onderrig en leer in onderwysinstellings (vergelyk Wolhuter & Van der Walt, 2022). Uitsprake oor die wenslikheid van moedertaal as onderwysmedium is gebaseer op die volgende oorwegings: menseregteoorwegings, die gebruik van 'n taal as onderwysmedium as 'n kritieke faktor in die oorlewingskanse van enige taal in 'n samelewing, onderwyskundige oorwegings (veral die kognitiewe ontwikkeling en prestasievlakke van leerders, maar ook oorwegings ten opsigte van die daarstel van gelyke geleenthede) en oorwegings ten opsigte van die bydrae van onderwys in die skepping van menslike kapitaal. Hierdie argumente kan gevind word in onder meer publikasies van UNESCO (1953) en die Wereldbank (2021).
Fishman (1991) onderskei tussen die volgende agt vlakke in die ontwikkeling- of welstandsvlak van 'n taal in 'n samelewing:
1. Die taal word gebruik as onderwysmedium, in die werksplek, in die massamedia en op nasionale vlak deur die regering.
2. Die taal word deur die streeks- en plaaslike media en regeringsdienste gebruik.
3. Die taal word op streeksvlak deur eerste- sowel as tweede- en vreemdetaalsprekers gebruik.
4. Geletterdheid word deur middel van die taal bewerkstellig en bevorder.
5. Die taal word in mondelinge en geskrewe kommunikasie deur alle eerstetaalsprekers van die taal gebruik.
6. Die taal word net as mondelinge kommunikasiemedium gebruik, en net deur eerstetaalsprekers oor alle generasies heen.
7. Die volwasse geslag eerstetaalsprekers ken die taal goed genoeg om met hul ouers te kommunikeer, maar dra nie die taal aan hul kinders oor nie.
8. Net eerstetaalsprekers ouer as 65 jaar verstaan en praat nog die taal.
Uit hierdie hiërargie van vlakke van welstand van 'n taal in 'n samelewing is dit duidelik dat onderwys (dit is die gebruik van taal as medium van onderrig en leer, sowel as die voorkoms van taal as vak, hetsy as eerste, tweede of derde taal) die stutpilaar van 'n taal is om sy welstandsvlak in 'n samelewing te handhaaf.
In skoolkurrikula beklee tale 'n belangrike plek en het nog strykdeur die geskiedenis van skole 'n belangrike plek daarin beklee. In die laaste, omvattende wêreldwye ondersoek na kurrikula - die ondersoek van UNESCO twee dekades gelede - is bevind dat die meeste aandag in skoolkurrikula aan tale en letterkunde bestee word: 40,9% van kurrikulumtyd in die eerste skooljaar, waarna dit geleidelik afneem, maar steeds 'n aansienlike plek in die kurrikulum opneem, tot 29,4% in die agste skooljaar (Benavot, 2004). Watter tale in skoolkurrikula onderrig word, word bepaal deur die maatskaplik-kontekstuele, vormgewende faktore van 'n bepaalde onderwysstelsel, dit wil sê die geografie, demografie, stand van tegnologiese ontwikkeling, sosiokulturele situasie, ekonomie, politiek en godsdiens en lewens- en wêreldbeskouing.
Vervolgens word die stand van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse samelewing, en spesifiek in die onderwyssektor, vir elke tydvak voor, tydens en ná 1925 ondersoek.
Die situasie teen 1925
Maatskaplike konteks
Teen 1925 was Die Unie van Suid-Afrika maar vyftien jaar oud. Stemreg was grotendeels tot die wit bevolkingsgroep en ook slegs tot mans beperk. Gedurende hierdie eerste jare van die Unie is die politieke agenda oorheers deur die verhouding of versoening tussen die twee wit bevolkingsgroepe (Afrikaans- en Engelssprekendes) - die Unie het maar agt jaar ná die einde van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) tot stand gekom - die Eerste Wêreldoorlog en (wit) arbeidskwessies.
Omdat die Uniewordingprojek 'n projek van die wit bevolkingsgroep was, het die diskoers oor die kwessie van wat die ampstale van die nuwe staat sou wees net die tale van die wit bevolking ingesluit. Daar was 'n mening, wat selfs deur Smuts gehuldig is, dat Engels die enigste amptelike taal moes wees (Brits, Spies, Grundlingh & Ngqulunga, 2022:336). Daarenteen het MT Steyn op die Nasionale Konvensie, wat die Grondwet vir die Unie opgestel het, aangedring op volle en gelyke status van die twee tale, Engels en Nederlands (ibid.). Steyn se standpunt het geseëvier en artikel 137 van die Grondwet van Die Unie van Suid-Afrika het soos volg bepaal: "Beide die Engelse en die Hollandse taal sal amptelike tale van die Unie wees en sal op 'n grondslag van gelykheid behandel word en gelyke vryheid, regte en voorregte geniet" (soos aangehaal deur Brits et al., 2022:336).
Teen hierdie tyd was Afrikaans as spreektaal, wat vanaf 1652 al 'n ander pad as Nederlands geloop het, reeds duidelik sigbaar in Suid-Afrika1 in so 'n mate dat die Genootskap van Regte Afrikaners reeds op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig is met die doel om Afrikaans tot skryftaal te verhef (Carstens & Raidt, 2019:324-333). Hierdie mikpunt was egter nog ver van bewaarheid. 'n Aanduiding hiervan is dat die volledige Afrikaanse vertaling van die Bybel eers in 1933 verskyn het.
Wat in die konteks van die jare 1910 tot 1925 in ag geneem moet word, is dat ofskoon die Afrikaanssprekende gemeenskap demografies die meerderheid onder die wit bevolkings-groep was, hulle ekonomies of finansieel ver agter die Engelssprekende komponent was. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is 30 000 plaasopstalle deur Roberts se verskroeideaardebeleid afgebrand (Dommisse, 2021:16). Een van die uitkomste van die oorlog was die armblankevraagstuk onder Afrikaners. Die Carnegie-kommissie het in 1932 beraam dat 300 000 uit die totale wit bevolking van 1,8 miljoen armblankes was. Selfs in 1936 was die per capita-inkomste van wit Afrikaners 86 Britse pond teenoor 142 Britse pond onder ander lede van die wit bevolkingsgroep (Dommisse, 2021:17). In hierdie konteks was daar 'n gevoel van meerderwaardigheid onder baie Engelssprekendes voelbaar, wat selfs onsensitief in die openbare diskoers uitgespreek is, byvoorbeeld by geleentheid deur die visekanselier van die Universiteit van Kaapstad (Dommisse, 2021:17).
Die Afrikaanssprekende gemeenskap was dus in 'n situasie waar Nederlands wel as amptelike taal erken is, maar waar Afrikaanssprekendes binne die wit sektor van die bevolking hulleself ekonomies in 'n agtergeblewe situasie bevind het. Verder het hulle hul ook in die situasie bevind dat Nederlands nie hul huistaal of eerste taal was nie, maar 'n vreemde taal wat hulle met moeite, indien enigsins, kon lees, wat nog meer te praat, maar dat hul eerste taal nog nie as skryftaal bemagtig is nie.
Onderwys
Die Moesliemskole van die Kaapse Moslemgemeenskap het Afrikaans in die 19de eeu as onderrigmedium begin gebruik. Die Moslem Theological School in Kaapstad was die eerste skool in Suid-Afrika wat Afrikaans as taal van onderrig en leer gebruik het (Van Heerden, 2021; Willemse, 2018; Davids, Willemse & Dangor, 2023). Teen 1815 het Afrikaans Maleis as die onderrigtaal in Moesliemskole (madrassas) in Kaapstad vervang en teen die 1840's was Arabiese Afrikaans goed gevestig as onderrigmedium in hierdie skole. Skryfoefeninge is in Kaapse Afrikaans gedoen, maar met die Arabiese alfabet (ibid.) as vertrekpunt.
Elders, in staatskole (vir wit leerders) en sendingskole (vir swart leerders), was die amptelike voertale Engels en Nederlands, ofskoon hoofsaaklik Engels. Die verengelsingpogings wat die Transvaalse en Oranje-Vrystaatse ná-Anglo-Boereoorlog-regerings in die onderwys-sektor van stapel gestuur het, het tot die stigting van meer as 200 Christen-nasionale skole (CNO-skole) in 'n baie kort tyd deur die burgerlike Afrikanersamelewing gelei (Booyse, 2011:173-174).
Geleidelik is mylpale in die ontwikkeling van Afrikaans as onderwystaal (as voertaal sowel as vak in skole en aan universiteite) egter wel bereik. Die eerste doktorale proefskrif in Afrikaans is in 1910 deur Willem Steenkamp aan die Vrye Universiteit van Amsterdam ingedien (ibid.). In 1914 is Afrikaans as voertaal op laerskoolvlak in die Kaap, Transvaal en Oranje-Vrystaat erken. Aan die Universiteit van Stellenbosch (en sy voorloper Victoria Kollege), was alle onderrig tot 1920 in Engels (Kapp, 2015:170). Nederlands/Afrikaans sou stap vir stap ingevoer word soos nie-Afrikaansmagtige dosente aftree. Dit was die begin van 'n omskake-lingsproses na Afrikaans as enigste voertaal aan die Universiteit van Stellenbosch - 'n proses wat in 1946 voltooi is. In 1918 is DF Malherbe as die eerste professor in Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch aangestel. In 1919 is die gebruik van Afrikaans as voertaal tot aan die einde van die hoërskooltydperk gewettig. Ander mylpale in die ontwikkeling van Afrikaans as skryftaal, aangepas om hoërordefunksies te verrig, sluit in die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1909, die begin van die werk aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal in 1911 (formeel tot stand gebring in 1926) en die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls wat die eerste keer in 1917 verskyn het.
Dit is binne hierdie maatskaplike en onderwyskonteks dat Afrikaans, kragtens Wet 8 van 1925, Wet op de officiële talen van de Unie, naas Engels en Nederlands, op 27 Mei 1925 'n amptelike taal van Suid-Afrika geword het. Terwyl goeie aanvoorwerk vir die bemagtiging van Afrikaans reeds in die samelewing gedoen is, het Afrikaans egter nie dieselfde middele (soos uitgebreide woordeboeke en ander publikasies) as Engels gehad nie en het die sprekers van Afrikaans ook nie dieselfde finansiële of ekonomiese krag as Engelssprekendes gehad om die taal te bevorder nie. By die beoordeling van hierdie tydperk kan ook, met die voordeel van nakennis, kritiek uitgespreek word dat die wit Afrikaanssprekende gemeenskap nóg Afrikaanssprekendes uit ander bevolkingsgroepe nóg sprekers van inheemse Afrikatale saam met hulle geneem het op hul georganiseerde poging vir die bevordering van Afrikaans.
Die tydperk 1925 tot 1948
Maatskaplike konteks
Polities was die tydperk 1925 tot 1948 eers gekenmerk deur die Pakt-regering - 'n koalisie van twee partye waarvan die steun- en politieke basis van die een op die belange van wit Afrikaners en die ander op die belange van wit arbeiders berus het. Dié regering het ná die 1924-verkiesing aan bewind gekom, in die nagloed van die wit arbeidsonrus gedurende die vroeë 1920's. Gevolglik was die wit politieke diskoers baie inwaarts georiënteer en die negering van ander bevolkingsgroepe, wat die Uniewording en die eerste tydperk daarna gekenmerk het, het voortgeduur (Simpson, 2021:77-91).
Ekonomies het die 1933-depressie die land swaar getref. Dit het opnuut die wit Afrikaanssprekende komponent van die bevolking se pogings om hul ekonomiese agterstand (teenoor die Engelssprekende komponent van die wit bevolking) in te haal, gekortwiek. Teen 1939 was slegs 3% van die ingenieurs, 4% van die rekenmeesters, 11% van die prokureurs, 15% van die mediese dokters en 21% van die joernaliste in Suid-Afrika Afrikaners (Giliomee, 2019:87). Teen 1930 het een uit elke vier Afrikaners nog in die kategorie van armblankes geval (ibid.).
As gevolg van 'n sameloop van omstandighede het daar weer 'n regeringsverandering in 1939 plaasgevind. Die nuwe regerende party was toegespits op internasionale vraagstukke, soos die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) wat toe uitgebreek het. Die lugaanvalle op Engeland, veral Londen, en die ontruimingsoefening van Normandie in 1944 was vir Suid-Afrika, as deel van die Statebond en as deelnemer aan die Geallieerde oorlogspoging, aktuele sake.
Dit was in hierdie konteks, met knellende ekonomiese en internasionale vraagstukke, wat die regering van die dag homself bevind het. In hierdie skema van kontekstuele kragte het die bevordering van Afrikaans van owerheidskant nie die hoogste prioriteit geniet nie, terwyl die burgerlike samelewingsektor van die Afrikaanssprekende gemeenskap ook nie kapitaalkragtig was om die taal te bevorder nie. Tog het mylpale in die bemagtiging van die taal vir hoërordefunksies nie uitgebly nie. Die opvallendste voorbeeld is sekerlik die verskyning van die Afrikaanse vertaling van die Bybel in 1933. Reeds in 1923 het die eerste Psalmboek (wat wyd in Afrikaanse kerke gebruik is) in Afrikaans verskyn. Verder is die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging in 1930 gestig, die Afrikaanse Kinderensiklopedie het in 1943 verskyn, vele vakwoordeboeke is gepubliseer en daar is begin om hofuitsprake in Afrikaans te lewer. Die eerste voltydse Afrikaanse radiodiens het op 25 Oktober 1937 met uitsendings begin. Netsoos in die ekonomie, het die taal van die staatsdiens egter oorwegend Engels gebly (vergelyk Carstens & Raidt, 2019:432-434, 436-443). In 1939 het minder as 'n kwart van die senior amptenare in die staatsdiens Afrikaans as eerste taal gepraat (Pauw, 1946).
Onderwys
Wat wit onderwys betref, was daar gedurende hierdie tydperk volgehoue groei ten opsigte van leerdergetalle, die getal skole, onderwyserskwalifikasies en onderwysersalarisse (Booyse, 2011). 'n Noemenswaardige ontwikkeling was dat die voertaal aan die histories Afrikaans-mediumuniversiteite in hierdie tydperk verskuif het van oorwegend Engels tot tweetalig tot enkelmedium Afrikaans. Verder het die Universiteit van Suid-Afrika in 1947 as afstands-universiteit tot stand gekom. Dié universiteit, wat wêreldbaanbrekerswerk op die gebied van afstandsonderwys op universitêre vlak gedoen het, sou mettertyd tot die grootste universiteit in Suid-Afrika en Afrika groei. Van die begin af is Afrikaans as voertaal op 'n gelyke basis as Engels gebruik.
Swart onderwys was in hierdie tydperk nog in die hande van sendinggenootskappe. Alhoewel daar sekerlik geargumenteer kan word dat sommige van hierdie instellings lofwaardige werk gedoen het (vergelyk Wolhuter, Potgieter & Steyn, 2011), was die finansiële bronne van hierdie sendinggenootskappe, teenoor die demografie en potensiële aanvraag, baie beperk (Christie, 1991:71). Terwyl wit onderwys gratis en (vir die laerskoolfase en die eerste jare van hoërskoolonderwys) verpligtend was, was dit nie die geval met onderwys vir swart leerlinge nie. Baie min swart kinders van skoolgaande ouderdom het skool voltooi; dié wat wel skool bygewoon het, het dit meestal net vir enkele jare gedoen (Christie, 1991:71). Volgens Christie (1991:71) was die swart skole se fasiliteite swak in vergelyking met dié van die wit skole. Teen 1928 het slegs 'n kwart van alle swart kinders enigsins skoolopleiding ondergaan en minder as 1% verder as die eerste twee skooljare gevorder (Giliomee, Mbenga & Nasson, 2022:378).
Om saam te vat, gedurende die tydperk 1925 tot 1948 is die patroon van die eerste dekades van die twintigste eeu voortgesit. Die bemagtigingsproses van Afrikaans vir hoërordefunksies, en die gebruik daarvan as onderwystaal in die besonder, het voortgegaan. In vergelyking met die Engelssprekende sektor van die wit bevolking het die Afrikaanssprekende sektor hom steeds op 'n ongelyke speelveld bevind wat die gebruikswaarde van die taal betref. Verder het die Afrikaanssprekende wit gemeenskap nie Afrikaanssprekendes van ander bevolkingsgroepe saamgeneem in hul poging om Afrikaans te bemagtig nie en ook nie die steun of bewondering van die inheemse taalgemeenskappe gewen nie.
Die tydperk 1948 tot 1994
Maatskaplike konteks
Die jaar 1948 was 'n kritieke jaar in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika. In daardie jaar het die Nasionale Party die regering oorgeneem. Dié party het Afrikanerbelange sentraal gestel. Verder het die party, wat sy binnelandse rasse- en volkerebeleid betref, 'n beleid van volledige wetlik voorgeskrewe en afgedwonge territoriale, politieke en sosiale segregasie ("apartheid") voorgestaan. Tien tuislande is territoriaal afgebaken vir swart Suid-Afrikaners, sekere groepsgebiede is aan bruin Suid-Afrikaners en Indiërs toegewys en die res van die land is aan wit Suid-Afrikaners toegeken. In hierdie tydperk het die ekonomiese posisie van die Afrikanergemeenskap baie verbeter en het dié gemeenskap polities gesproke die hef in die hand gehad. Ook die gebruik van Afrikaans vir hoërordefunksies, onder meer in die ekonomie en die staatsdiens, het toegeneem, met byvoorbeeld die staatsdiens wat Afrikaans oorheersend as voertaal begin gebruik het. Die regeringsbeleid van totale segregasie het hom egter teen drie kategorieë van struikelblokke vasgeloop.
Eerstens was dit mettertyd duidelik dat die segregasiebeleid op die demografiese en ekonomiese kontekstuele werklikhede van die land gestrand het. Die wit bevolkingskomponent het 'n ál kleiner persentasie van die totale bevolking gevorm. Waar wit mense in 1910 met die Uniewording 'n kwart van die totale bevolking van Suid-Afrika gevorm het, het dié getal reeds in 1948 na 20% verminder en daarna aanhou afneem. Teen 1994 was die wit bevolking slegs 12% van die totale bevolking. Die tuislande het nie tot ekonomies selfstandige entiteite ontwikkel nie en die stroom arbeiders van die tuislande na die res van die republiek kon nóg gestuit, nóg omgekeer word. Dit was in skrille kontras met die regering se oogmerk gedurende die vroeë 1960's dat die stroom arbeiders vanaf die tuislande na die res van die republiek teen ongeveer 1977 omgekeer sou word (vergelyk Smit & Booysen, 1981).
Tweedens het swart politieke bewegings wat teen die regeringsbeleid was, die bevolking ál meer in burgerlike verset teen die regering georganiseer. Teen die laat 1980's was burgerlike onrus 'n semipermanente verskynsel in groot dele van die land (Christie, 1991).
Derdens kon die regering ook nie sy beleid in die buiteland aanvaar kry nie. Die beleid het eenvoudig teen die hele gety van die wêreldgeskiedenis ingegaan, waar desegregasie aan die orde van die dag was. Selfs in die suidelike state van die Verenigde State van Amerika (wat die destydse Suid-Afrikaanse regering in die eerste jare ná sy bewindsoorname as buitelandse verwysingsraamwerk gebruik het) het die burgerregtebeweging van segregasie in die 1960's in onguns verval en is dit permanent ongedaan gemaak. Teen die einde van die tagtigerjare het die Suid-Afrikaanse regering hom aan die ontvangkant van 'n hele reeks internasionale sanksies (wat ekonomiese sanksies, 'n olieboikot, 'n verbod op sportbande en 'n verbod op wapenhandel ingesluit het) bevind (Harricombe & Lancaster, 1995).
Sedert 1990 het die regering met swart politieke bewegings begin onderhandel vir 'n nuwe grondwet en politieke bestel. Die gevolg was dat 'n nuwe politieke bedeling in 1994 afgeskop het. Die kern van hierdie nuwe bedeling was 'n grondwet volgens die Westerse liberale model, gesteun deur die Handves van Menseregte, wat ten tyde van die opstel van die Grondwet en Handves wyd geloof is as een van die mees progressiewe handveste van menseregte in die wêreld (vergelyk Simpson, 2021). Tekenend van die internasionale agting vir hierdie oorgang en nuwe bedeling is die Nobelprys vir Vrede in 1992 aan oudpresidente Nelson Mandela en FW de Klerk toegeken.
Onderwys
In die gunstige politieke omgewing van hierdie tydvak het wit onderwys (in elk van die vier provinsiale onderwysdepartemente), en Afrikaanse onderwys spesifiek, gedy. Dit was 'n tydperk van stygende inskrywingsgetalle en die stigting van nuwe skole en selfs twee nuwe wit Afrikaansmediumuniversiteite, naamlik die Universiteit van Port-Elizabeth (weliswaar tweetalig met Engels as voertaal op 'n gelyke basis met Afrikaans) (deesdae Nelson Mandela Universiteit) en die Randse Afrikaanse Universiteit (deesdae Universiteit van Johannesburg). 'n Aanduiding van die bemagtiging van Afrikaans vir hoërordefunksies, ook in die onderwyssektor, is dat daar teen die begin van die 1990's reeds ongeveer 250 vakwoordeboeke vir onder meer die volgende vakgebiede uitgegee is: die brandweer, teater, fisika, liggaamlike opvoeding, kuns, rekenaars, spyskaarte, rugby, sterrekunde, skoenlappers, kragontwikkeling en finansies (Van Heerden, 2021).
In 1953 het die regering toegetree tot die voorsiening van swart onderwys met die promulgering van die Wet op Bantoe-onderwys, 47 van 1953. Swart onderwysinskrywings-getalle het die hoogte ingeskiet (Giliomee, 2019:135). Slegs in die eerste vyf jaar ná die promulgering van hierdie wet het die getal swart hoërskoolleerders meer as verdubbel (ibid.) en in die volgende jare en dekades het hierdie momentum geensins afgeneem nie.
Die probleem was dat swart aktiviste nie hierdie beleid en stelsel aanvaar het nie omdat hulle die stelsel van Bantoe-onderwys as 'n onderdeel van die totale segregasiebeleid gesien het - 'n beleid wat hulle verwerp het in die nastrewing van hul ideaal van 'n onverdeelde Suid-Afrika met gelyke burgerskap vir almal. Verdere besware teen die Bantoe-onderwysstelsel was dat dié stelsel gekritiseer is as te outoritêr, dat dit 'n mentaliteit van swart onderdanigheid bevorder, dat dit Eurosentries was en nie die kulturele en natuurerfenis van Afrika tot sy reg laat kom nie en dat dit minderwaardig was in vergelyking met wit onderwys (vergelyk Christie, 1991; Mphahlele & Mminele, 1997:104-119).
Vanaf 1953 was die beleid dat moedertaal in die eerste drie jare die taal van onderrig en leer in die Bantoe-onderwysskole sou wees; vanaf die vierde jaar sou dit om die helfte Engels en Afrikaans wees. Dié beleid is egter nooit streng so geïmplementeer nie en die de facto-situasie was dat Engels vanaf die vierde skooljaar die voertaal was. In die middel van 1976 het die Departement van Bantoe-onderwys egter besluit dat die beleid van tweetalige onderwys voortaan streng geïmplementeer sou word. Synde hierdie beleid op swart leerders afgedwing is, het dit die vonk verskaf vir die uitbreek van grootskaalse opstande en oproer onder swart leerders vanaf 16 Junie 1976. Gou het ook swart universiteitstudente by die opstande aangesluit. Alhoewel die regering ná 'n tyd 'n mate van kalmte kon herstel, het 'n nuwe vlaag opstande teen 1984 uitgebreek, wat wyd in swart gemeenskappe (verder as net leerders en studente) gestrek het. Dit het nou die vorm van teenstand teen die algehele apartheidstelsel aangeneem en het teen die laat 1980's 'n semipermanente verskynsel op die Suid-Afrikaanse politieke landskap geraak.
Om op te som: die tydperk 1948 tot 1994 was een van ongekende uitbreiding op onderwysgebied. Terwyl die wit Afrikaanssprekende gemeenskap sy onderwysagterstand teenoor die Engelssprekende wit gemeenskap opgehef het, en in 'n groot mate ook sy ekonomiese agterstand, was die probleem weer eens dat hierdie gemeenskap nie Afrikaans-eerstetaalsprekers uit ander bevolkingsgroepe of die eerstetaalsprekers van die swart inheemse tale met hom saamgeneem het in sy onderwysprojek (wat die bevordering en bemagtiging van Afrikaans ingesluit het) nie.
Die tydperk 1994 tot 2024
Maatskaplike konteks
Die konteks rakende die status en gebruik van Afrikaans het sedert die oorgang na die nuwe grondwetlike bedeling in April 1994 in Suid-Afrika beduidend verander, van een van twee amptelike tale (voor 1994) na een van twaalf (aanvanklik elf)2 amptelike tale (ná 1994). Voorts was die nuwe politieke magsbalans nie meer so gunstig vir Afrikaans as in die voor-1994-era nie. Dit het uiteraard 'n impak op die gebruiks- en toekomspotensiaal van die taal in Suid-Afrika gehad.
Ondanks die lofwaardige waarborge van die Grondwet en die Handves vir Menseregte (soos vroeër vermeld), bevind die Afrikaanse taal hom in 'n situasie waar sy hoërordefunksies deur sowel die regering as die burgerlike samelewing een na die ander uitgeskuif word. Selfs die howe veroorloof die afskaffingsproses, ondanks uitdruklike grondwetlike waarborge vir die teendeel (Giliomee, 2019:317-322; vergelyk ook Currie & De Waal, 2013; Scholtz, 2021). 'n Onlangse voorbeeld van die afskaling van Afrikaans in openbare ruimtes of die funksieverlies van Afrikaans is die aankondiging dat aspirantprokureurs voortaan hul toelatingseksamen slegs in Engels (en nie meer in Afrikaans, soos wat die gebruik in die verlede was nie) sal mag aflê (Kok, 2024).
Onderwys
In die onderwyssektor het die Afrikaanssprekende gemeenskap insgelyks ná 1994 te staan gekom voor volgehoue regeringsgesteunde en selfs regeringsgeïnisieerde pogings om die plek van Afrikaans in die onderwyssektor te verklein. Hier kan byvoorbeeld verwys word na die afskaling van Afrikaans aan openbare universiteite, tot die punt waar daar vandag, ten minste op nagraadse vlak, nie meer een universiteit is waar Afrikaans op gelyke vlak as Engels as voertaal gebruik word nie, laat staan nog as uitsluitlike voertaal, alhoewel die Universiteit Stellenbosch en Noordwes-Universiteit se huidige taalbeleide daarvoor voorsiening maak. Die uitfasering van Afrikaans as voertaal aan universiteite is elke keer tot in die Grondwethof gedryf - in elke universiteit se geval om 'n ander rede, maar telkens duidelik in botsing met die bepalings van die Grondwet (Giliomee, 2019:317-322). Hierdie ongerymdheid was so hewig dat die politieke kommentator Leopoldt Scholtz (2021) tot die gevolgtrekking gekom het dat die Konstitusionele Hof inderwaarheid sê dat dit "wat in die Grondwet staan eintlik nie daar staan nie" (Carstens & Raidt, 2019:768-792).
Die getal Afrikaansenkelmedium- openbare skole het sedert 1994 skerp en aanhoudend gedaal (Giliomee & Schlemmer, 2006:242). Al sedert 1994 voer die nasionale sowel as provinsiale regerings gereeld hofsake teen Afrikaansenkelmediumskole omdat hulle na bewering taaleksklusief sou wees. Daar moet egter genoem word dat daar steeds 985 skole is wat Afrikaans eksklusief as voertaal gebruik, asook 967 Afrikaans-Engelsparallelmediumskole (Fedsas, 2024).
Dit is egter geen rede tot gerustheid nie. Die jongste bedreiging vir die posisie van Afrikaans as voertaal is die omstrede Wysigingswet op Basiese Onderwys (ook bekend as die Bela-wet), wat op Vrydag 13 September 2024 formeel deur die President onderteken is. Ná 'n aanvanklike opskorting van die implementering van die klousules oor taalbeleid en toelatingsbeleid van skole, is hierdie twee klousules op 20 Desember 2024 ook deur die President bekragtig vir implementering. Alhoewel die jongste beskikbare weergawe van die Wet die mees veront-rustende dele van die Wetsontwerp (dié oor taalbeleid en toelatingsbeleid van skole) baie versag het sedert die eerste weergawe van die Wetsontwerp in 2017; en alhoewel die Minister van Basiese Onderwys (lid van 'n opposisieparty wat teen die klousules gekant is) blykbaar eers nog regulasies en norme en standaarde oor taal- en toelatingsbeleid moet ontwikkel, sal die Wet steeds 'n groot verskuiwing van die lokus van mag oor die besluitneming ten opsigte van die voertaal van skole vanaf ouers of beheerliggame na die provinsiale Ministeries van Onderwys teweegbring.
Volgens Prince (2024) is dit veral hierdie aspek wat, gesien in die lig van die geskiedenis van owerheidspogings die afgelope 30 jaar om die posisie van Afrikaans as voertaal aan onderwysinstellings af te skaal, kommer wek onder die Afrikaanssprekende gemeenskap. Die kommer is dat die patroon waarvolgens enkelmediumskole, met die verklaarde doelstelling om dié skole meer inklusief te maak en meer en gelyke geleenthede vir almal te skep, parallelmedium gemaak kan word kragtens 'n ministeriële bevel. Gegee die politieke en demografiese konteks, en om praktiese oorwegings, is die vrees dat hierdie skole spoedig sal oorgaan tot eentalige Engelse instellings, soos dit die geval met byvoorbeeld die Afrikaanse universiteite die afgelope 30 jaar asook met talle voorheen Afrikaanse enkelmediumskole was. Die argument dat die voorkoms van al meer geïntegreerde woonbuurte moeilik te rym is met die voortbestaan van enkelmediumskole, het sekerlik meriete (Koorts, 2025), maar die onlangse geskiedenis van universiteite in Suid-Afrika wys dat parallelmedium-onderwysinstellings (dit is Afrikaans en Engels as medium) baie vinnig oorgaan na eentalig Engels.
Dat hierdie kommer oor die uitfasering van Afrikaans nie ongegrond is nie, kan gestaaf word deur die uitsprake van 'n opvoedkundige en openbare meningsvormer soos Jansen (2017:69-82), wie se hele oeuvre andersins op die basis van sosiale geregtigheid gebou is. Jansen (2017:69-82) raai die Afrikaanssprekende gemeenskap aan om die stryd om die behoud van Afrikaans as onderwysvoertaal te staak en hy beskou dié stryd as 'n futiele poging omdat die taal as 'n simbool van onderdrukking en van uitsluiting beskou word. Ter wille van balans moet vermeld word dat die verwikkelinge in die politieke konteks - die vorming van 'n regering van nasionale eenheid (RNE) in 2024 spesifiek - volgens sommige kommentators wel nuwe speelruimte vir die Afrikaanssprekende gemeenskap bied om Afrikaans in die onderwyssektor te verskans (vergelyk byvoorbeeld Le Cordeur, 2024a).
Wat verder in teenstelling staan met die korpus literatuur ten gunste van moedertaal as voertaal in die onderwys (soos vroeër verduidelik), asook met die bestaan van twaalf amptelike, grondwetlik verskanste tale en die regering se eie verklaring van steun vir die bevordering van meertaligheid en die dekolonialisering en Afrikanisering van onderwys, is die feit dat daar die afgelope 30 jaar nóg op universiteitsvlak nóg op skoolvlak enige vordering gemaak is om enige van die ander tale (behalwe Engels) as onderwysvoertaal te ontwikkel. Hierdie situasie kan waarskynlik toegeskryf word aan die gebrek aan politieke wil en die wye beskouing van die waarde van Engels in die arbeidsmark (Wolhuter & Van der Walt, 2022). Selfs as 'n vak is die studie van Afrikatale aan universiteite sedert 1994 aan die taan. Departemente van Afrikatale het verminder en studente-inskrywings vir Afrikatale het ná 1994 gekrimp (Mgqwashu, 2013:2). Aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) was daar byvoorbeeld in 1997 nog 25 000 studente vir Afrikatale geregistreer, maar teen 2008 het hierdie getal tot 3 000 gedaal (Shiraya, 2008:18).
Gevolgtrekking: Afrikaans as onderwystaal ná 100 jaar - prestasies, tekortkominge, uitdagings en toekoms
Prestasies
Die ontwikkeling van Afrikaans gedurende die afgelope 100 jaar van kwalik 'n skryftaal (in 1925 was die Bybel nog nie eers in Afrikaans vertaal nie) tot 'n taal bemagtig as 'n onderwys-en wetenskapstaal vir die hoogste funksies (as taal van doktorale proefskrifte en wetenskaplike publikasies van die hoogste orde - soos weerspieël in die Web of Science-tydskrifpoel) is geen geringe prestasie nie. 'n Aanduiding van die graad van sodanige prestasie is die feit dat Afrikaans slegs een van vier tale wêreldwyd (saam met Hebreeus, Hindi en Indonesies-Maleisies) is wat dié prestasie kon behaal (Giliomee, 2004). Verder is Afrikaans ten opsigte van die getal leerders wat die vak op skool bestudeer 'n beduidende taal. Vir die 2023-Matriekeksamen het 48 385 leerders die Afrikaans Huistaaleksamen geskryf, en 97 654 Afrikaans as Eerste Addisionele Taal (Republiek van Suid-Afrika, Departement van Basiese Onderwys, 2024). Hierdie getalle het die afgelope jare konstant gestyg, en boonop is die getal Afrikaans addisionele taalkandidate na Engels meer as vir enige ander van die twaalf amptelike tale (ibid.).
Tekortkominge
Uit die oorsig van die ontwikkeling van Afrikaans as onderwystaal die afgelope 100 jaar, soos hier bo aangebied, staan twee tekortkominge uit. Eerstens het die wit Afrikaanssprekende taalgemeenskap nie Afrikaanssprekendes uit ander bevolkingsgroepe saam met hulle geneem in hul poging tot die bemagtiging van die taal en die erkenning van die regte van die sprekers van Afrikaans nie. (Oor die bydraes uit ander bevolkingsgroepe ten opsigte van die oorsprong en ontwikkeling van Afrikaans, vergelyk Carstens & Le Cordeur, 2016). Die leser moet besef dat die wit Afrikaans-eerstetaalsprekers 'n minderheid in die totale gemeenskap van Afrikaans-eerstetaalsprekers is. Wit sprekers (2 710 461 sprekers) vorm slegs 39,5% van die gemeenskap van Afrikaans-eerstetaalsprekers, terwyl 50,2% (3 442 164 sprekers) histories as bruin, 8,8% (692 166 sprekers) as swart en 0,9% (58 700 sprekers) as Indiërs geklassifiseer is (South African Gateway, 2024). Hier moet erkenning gegee word aan die werk wat die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans in die bruin gemeenskap gedoen het (vergelyk Carstens & Le Cordeur, 2016).
Tweedens het die wit Afrikaanssprekende gemeenskap nie daarin geslaag om ander inheemse taalgemeenskappe te inspireer om 'n soortgelyke poging ten opsigte van hul tale aan te wend nie. Voorts kon hulle ook nie daarin slaag om erkenning vir hul prestasies in die bemagtiging van Afrikaans onder ander taalgroepe of wye erkenning van die reg vir die gebruik van die taal in al die hoërordefunksies waarvoor bewese bemagtiging van die taal bestaan, te werf nie.
Uitdagings
Die twee geïdentifiseerde tekortkominge is ook die twee uitdagings waarvoor die Afrikaanssprekende gemeenskap te staan kom betreffende pogings om Afrikaans in die onderwyssektor te verskans. Eerstetaalsprekers van Afrikaans onder ander bevolkingsgroepe as slegs die wit bevolkingsgroep moet betrek word ten einde 'n kragtiger poging vir die versterking van Afrikaans in die onderwyssektor moontlik te maak. Dan moet die ongeërgdheid oor Afrikaans teengegaan word en die negatiewe energie wat vermors word op pogings om Afrikaans te marginaliseer of uit te faseer, omgekeer word om Afrikaans eerder as 'n aanskouingsles vir ander inheemse taalgemeenskappe aan te bied. In sy TB Davie-lesing aan die Universiteit van Kaapstad in 2017 het die Ugandese akademikus Mahmood Mamdani die bemagtiging van Afrikaans in die twintigste eeu voorgehou as 'n model vir dekolonialisering en vir die ontwikkeling van ander tale in Suid-Afrika (Loots, 2017). Hierdie stelling het egter baie antagonisme uit die gehoor gelok (ibid.).
Toekomsvooruitsig
Ten slotte word 'n blik op die toekoms gewerp. Dit gaan hier oor toekomsmoontlikhede of -kanse sowel as voorstelle vir 'n pad om in die toekoms in te slaan. Daar word nie net gebruik gemaak van die historiese oorsig wat in die artikel aangebied is nie, maar ook teruggegryp na die instrumentarium van die metodologie van die vergelykende en historíese opvoedkunde- en onderwysnavorsing, soos vroeër onder navorsingsmetodologie verduidelik. Dit is ook die twee wetenskapsvelde vergelykende opvoedkunde en historíese opvoedkunde, wat die wetenskaplike locus standi van die skrywer is. Die institusionele locus standi van die skrywer is 'n navorsingseenheid oor menseregte in diversiteit in die onderwys, en daar word dan ook uit die voordeel van hierdie gesigspunt geput in die uitspel van 'n moontlike toekomspad.
Die eerste bron van krag vir Afrikaans en die bevordering daarvan is die demografie van die taal. Navorsing gedoen in 2022 deur die Afrikaanse Taalraad (die Afrikaanse Taalraad bevorder Afrikaans inklusief in sy volle diversiteit in 'n meertalige konteks) en Solidariteit se Navorsingsinstituut het bevind dat die getal Afrikaans-eerstetaalsprekers toegeneem het van 6 855 930 in 2011, tot 6 989 786 in 2016, tot 7 080 042 in 2021 en na verwagting verder behoort te styg tot 7 122 806 in 2031 (Mulder & Steenkamp, 2022). Met betrekking tot die getal eerstetaalsprekers is Afrikaans die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika (naas isiZulu en isiXhosa). Insgelyks is Afrikaans wat getal tweedetaalsprekers betref, met 10,3 miljoen tweedetaalsprekers, ook na isiZulu en isiXhosa die derde grootste taal in Suid-Afrika (South African Gateway, 2024). Wat die totale getal eerste- en tweedetaalsprekers betref, is Afrikaans, met 17,2 miljoen eerste- en tweedetaalsprekers, ook die derde grootste taal in die land (ibid.). Ekonomies is die komponent Afrikaans-eerstetaalsprekers ook 'n krag om mee rekening te hou wanneer finansiële krag vir die beskerming en bevordering van die taal aangewend word. En terwyl die verswakkende staat tereg 'n groot bron van kommer is, skep dit meer ruimte vir die agentskap van die burgerlike samelewing (maar dan, om in te pas by 'n deurlopende tema in hierdie artikel, met die voorbehoud dat wie ook al in die burgerlike samelewing inisiatief neem, dit uit 'n inklusiewe benadering tot Afrikaans moet doen).
'n Verdere potensiële bron van krag kan wees om met die groter Nederlandse taalfamilie bande te smee, by name die (Nederlandse) Taalunie, wat in 1980 gestig is. In die Europese Unie en in wêreldverband is Nederlands ook 'n minderheidstaal. Daar is tekens dat 'n taalbewustheid in die onlangse verlede onder die Nederlandse taalgemeenskap ontstaan het en pogings ter bevordering van Nederlands word aangewend (Carstens & Raidt, 2019). Een voorbeeld hiervan is die opname Staat van het Nederlands3, wat elke twee jaar onderneem word en wat die Afrikaanse Taalraad ook as model geneem het vir 'n eie opname onder die Afrikaanssprekende taalgemeenskap in 2024.
Verder behoort die Afrikaanse taalgemeenskap voortdurend op die uitkyk te wees vir geleenthede om die Afrikaanse taal in die onderwyssektor te verskans, te bevorder en uit te brei. Die volgende voorbeeld kan in hierdie verband genoem word. Na beraming sal Suid-Afrika teen 2025 jaarliks ongeveer 39 500 nuwe onderwysers benodig, en soveel as 52 000 jaarliks teen 2030 (Van der Berg, Gustafsson & Burger, 2020). Hierteenoor lewer die hoëronderwysstelsel tans slegs ongeveer 25 000 nuwe onderwysers per jaar op, waarvan slegs 17 000 betrekkings as onderwysers in Suid-Afrika aanvaar (ibid.). Hier is derhalwe 'n geleentheid vir die Afrikaanse taalgemeenskap om die Suid-Afrikaanse onderwysmark van onderwysers wat die Afrikaanse taal magtig is en die saak van die bevordering van Afrikaans in die onderwyssektor goedgesind is, te voorsien. Deur gewoon goeie opvoedings- en onderwysverhoudings tussen opvoedeling en opvoeder te vestig en die regte voorbeeld en gesindheid by die opvoeder te kweek, is hier 'n geleentheid om negatiewe stereotipes oor Afrikaans en die sprekers daarvan teen te werk. Ook hier geld, uit een van die sentrale temas in hierdie artikel, die voorbehoud dat sodanige Afrikaanssprekende onderwysers inklusief gebruik word, met die gedagte dat onderwysstudente uit sprekers van al die variëteite van Afrikaans gewerf sal word, soos aangedui deur onder meer Le Cordeur (2020; 2024c).
Wêreldwyd is private onderwysinstellings 'n groeiende verskynsel, en hier lê ook vir Afrikaans moontlikhede. Wêreldwyd is 38% van alle leerders in private preprimêre skole, 19% in private primêre skole, 27% in private sekondêre skole en 33% in private hoër-onderwysinstellings (UNESCO, 2022). In die lig van die regering se plan om een jaar preprimêre skoolbywoning by die verpligte skoolbywoningsiklus in te sluit, is daar ook op die vlak van voorskoolse onderwys duidelik 'n geleentheid om veld vir Afrikaans in die onderwyssektor te wen.
Waar Afrikaans as voertaal in skole gebruik word en as eerste taal onderrig word, is dit noodsaaklik dat hierdie leerders ook op die hoogste vlak in Engels onderrig moet word as deel van hul opvoedende onderwys aan die begin van die 21ste eeu (Van der Walt & Wolhuter, 2016). Dit is nodig ten einde hulself te handhaaf en kompeterend te bly in die huidige geglobaliseerde wêreld en in die huidige binnelandse konteks (waar, gegee wydverspreide negatiewe stereotipes oor Afrikaans en die sprekers daarvan, die speelveld in vele opsigte teen hulle gelaai is). Die internasionale status van 'n taal is 'n funksie van die produk van veral twee faktore, naamlik die demografie en ekonomiese krag van sy sprekergemeenskap. Op grond hiervan kan geargumenteer word dat die posisie van Engels as enkele wêreldtaal dalk in die toekoms uitgedaag en aangevul of selfs vervang kan word deur een of meer van die drie tale Mandaryns, Spaans en Duits. Dié argument kan eerstens gemaak word aangesien Spaans reeds etlike dekades gelede Engels as taal met die meeste sprekers in die Westelike halfrond verbygesteek het en die getal Spaanssprekendes selfs in die Verenigde State van Amerika vinniger groei as die getal Engelssprekendes. Tweedens het die getal Spaans-eerstetaalsprekers wêreldwyd reeds etlike jare gelede die getal Engels-eerstetaalsprekers verbygesteek. Met sowat 100 miljoen moedertaalsprekers is Duits die grootste moedertaalgroep in die Europese Unie (European Commission, Directorate-General for Communication, 2024) en tot onlangs is wyd voorspel dat die Europese Unie aanstons die sterkste ekonomie in die wêreld gaan word (vgl. Kissinger, 2022:140-149). Aan die ander kant kan dit nie ontken word dat Engels ten minste vir die afsienbare toekoms die enkele en onbetwiste internasionale lingua franca gaan bly nie (vgl. Vu, Winser & Walsh, 2020). Verder, gesien in die lig van die belangrikheid van taalvaardigheid en veeltaligheid, nie slegs in Suid-Afrika nie, maar ook in die hedendaagse wêreld (vergelyk Miller & Neigert, 2024), behoort, naas Engels en die vele ander vakgebiede wat om ruimte in die kurrikulum meeding, deeglik voorsiening gemaak te word vir ander Suid-Afrikaanse tale, asook wêreldtale, in die onderwysvoorsiening aan Afrikaans-eerstetaalleerders.
Aan die begin van die artikel is die metode van vergelykende opvoedkunde en historíese opvoedkunde verduidelik. Eersgenoemde het die samehang tussen onderwys(stelsel) en konteks verduidelik. Uit die oorsig oor die wordingsgang van Afrikaans in die onderwys wat in die artikel aangebied is, is een gevolgtrekking wat (natuurlik baie maklik met die voordeel van terugskou) gemaak kan word, naamlik dat die wit Afrikaanssprekende gemeenskap in sy poging vir die bevordering van Afrikaans in die onderwyssektor (en verder) die konteks in belangrike opsigte verkeerd gelees het en dat dit dié gemeenskap uiteindelik duur te staan gekom het.
Vir dinamiese, visionêre bevordering van die taal oor die volgende 100 jaar deur die benutting van geleenthede wat hulle voordoen, is dit noodsaaklik om die konteks noukeurig en waaksaam waar te neem en dienooreenkomstig op te tree. Tweedens, in samehang hiermee is die taak om weer eienaarskap van die geskiedenis van onderwys op te neem ná die Afrikaanse stem in die onderwysgeskiedskrywing die afgelope jare baie stil geraak het. Dit is ongelukkig so dat die kielsog van die sosio-rekonstruksie wat in 1994 'n aanvang geneem het, nie die onderwysgeskiedskrywing of die sosiowetenskaplike literatuur oor onderwys in Suid-Afrika kon losruk uit die ideologies-paradigmatiese keurslyf waarin dit steeds gefossileer is nie (vergelyk Wolhuter, 1999; 2018). In hierdie verband kan aanbeveel word dat die 1994-Grondwet en die Handves van Menseregte, as morele kode van 'n geglobaliseerde wêreld, as verwysingspunt vir die geskiedskrywing sowel as die sosiowetenskaplike studie van onderwys in Suid-Afrika gestel word.
ERKENNING

BIBLIOGRAFIE
Benavot, A. 2004. A global study of intended instructional time and official school curricula, 1980-2000. Paris: UNESCO. [ Links ]
Booyse, JJ. 2011. The provision of education during the first half of the 20th century. In Booyse, JJ, Le Roux, CS, Wolhuter, CC & Seroto, J (eds). A history of schooling in South Africa: Method and context. Pretoria: Van Schaik, pp. 169-214. [ Links ]
Brits, JP, Spies, SB, Grundlingh, A & Ngqulunga, B. 2022. 'n Nuwe Suid-Afrika in wording. In Giliomee, H, Mbenga, B & Nasson, B (reds.). Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg, pp. 323-357. [ Links ]
Carstens, WAM & Le Cordeur, M. (reds.). 2016. Ons kom van vêr: Bydraes van bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans. Tygervallei: Naledi. [ Links ]
Carstens, WAM & Raidt, EH. 2019. Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika: Biografie van 'n taal. Deel 2. Pretoria: Protea Boekehuis. [ Links ]
Christie, P. 1991. The right to learn: The struggle for education in South Africa (2nd ed.). Braamfontein: Ravan Press. [ Links ]
Crossley, M. 2014. Global league tables, big data and the international transfer of educational research modalities. Comparative Education, 50(1):15-26. [ Links ]
Currie, I & De Waal, J. 2013. The Bill of Rights handbook. Kaapstad: Juta. [ Links ]
Davids, A; H Willemse & A Dangor. 2023. The Arabic Afrikaans Writing Tradition, 1815-1915. Cape Town: Jacana. [ Links ]
European Commission, Directorate-General for Communication. 2024. Special Eurobarometer survey "Europeans and their languages". doi:10.2766/28257 ISBN 978-92-68-12045-3. Datum van toegang: 23 Julie 2024. [ Links ]
Dommisse, E. 2021. Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate. Johannesburg: Jonathan Ball. [ Links ]
FEDSAS. 2024. Onderwys in Syfers. Ongepubliseerde Navorsingsverslag, FEDSAS. https://www.fedsas.org.za/Documents/PublicSchools. [ Links ]
Fishman, JA. 1991. Reversing language shift: Theoretical and empirical foundations of assistance to threatened language. Clevedon: Multilanguage Matters. [ Links ]
Giliomee, H & Schlemmer, L. 2006. 'n Vaste plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus. Stellenbosch: SUN PReSS. [ Links ]
Giliomee, H, Mbenga, B & Nasson, B. 2022. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Giliomee, H. 2004. The rise and possible demise of Afrikaans as public language. Nationalism and Ethnic Politics, 10(1):25-58. [ Links ]
Giliomee, H. 2019. The rise and demise of the Afrikaners. Cape Town: Tafelberg. [ Links ]
Gutek, G. 2006. George S Counts and the origins of social reconstructionism. In Riley, KL (ed.). Social reconstruction: People, politics, perspectives. Greenwich: Information Age Publishing, pp. 1-26. [ Links ]
Harricombe, LJ & Lancaster, FW. 1995. Out in the cold: Academic boycotts and the isolation of South Africa. Arlington: Information Resources Press. [ Links ]
Jansen, JD. 2017. As by fire: The end of the South African university. Cape Town: Tafelberg. [ Links ]
Kapp, PH. 2015. Nalatenskap sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers. Stellenbosch: Het Jan Marais Nationale Fonds. [ Links ]
Kissinger, H. 2022. Leadership: Six studies in world strategy. London: Allen Lane. [ Links ]
Kok, M. 2024. Proks sal nou net Engels kan praat. Rapport, 1-3, 24, 7 Jan. 2024. [ Links ]
Koorts, L. 2025. Bela-gesprek is meer kompleks. Die Burger, 3 Januarie 2025. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/lindie-koorts-bela-gesprek-is-meer-kompleks-20250103-4. [ Links ]
Le Cordeur, MLA. 2015. Die kwessie van Kaaps: Afrikaansonderrig op skool benodig 'n meer inklusiewe benadering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(4):523-539. [ Links ]
Le Cordeur, M. 2020. 'n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum. Geplaas 19 Oktober2020. https://www.litnet.co.za/n-strategie-vir-die-insluiting-van-kaapse-afrikaans-by-die-formele-skoolkurrikulum/. [ Links ]
Le Cordeur, M. 2024a. RNE kan ongelykheid in onderwys hanteer. Netwerk24, 24, 24 Jun. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/michael-le-cordeur-rne-kan-ongelykheid-in-onderwys-hanteer-20240627 [8 Augustus 2024]. [ Links ]
Le Cordeur, M. 2024b. Stem vir beter onderwys. Beeld, 24, 28 Mei. https://www.netwerk24.com/web-etikette/mense/michael%20le%20cordeur [7 Augustus 2024]. [ Links ]
Le Cordeur, M. 2024c. Maak plek vir Kaaps in skole. Die Burger, 24 Augustus. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/michael-le-cordeur-tyd-om-plek-te-maak-vir-kaaps-in-skole-20240824. [ Links ]
Le Roux, CS & Wassermann, J. 2016. The history of South African education up to 1994. In Horsthemke, K, Siyakwazi, P, Walton, E & Wolhuter, C (eds). Education studies: History, sociology, philosophy. Cape Town: Oxford University Press, pp. 2-44. [ Links ]
Loots, S. 2017. (Geen titel, meningskolom). Rapport, 17, 18 Sep. [ Links ]
Mgqwashu, EM. 2013. On developing academic literacy in the mother tongue for epistemological access. Critical Issues in Language Planning, 2013:1-13. [ Links ]
Miller, G & Neigert, M. 2024. Foreign language competence more than a "nice to have". University WorldNews, 24, 19 Mar. https://www.universityworldnews.com/post.php?story=20240319100146800 [3 April 2024]. [ Links ]
Mphahlele, MCJ & Mminele, SPP. 1997. Education through the ages, part 3. Pretoria: Kagiso. [ Links ]
Mulder, C & Steenkamp, C. 2022. Die algemene demografie van Afrikaans 2022. s.l.: Afrikaanse Taalraad. [ Links ]
Pauw, S. 1946. Die beroepslewe van die Afrikaner in die stad. Stellenbosch: Pro-Ecclesia. [ Links ]
Pawson, R. 2006. Evidence-based policy: A realist perspective. Thousand Oaks: Sage. [ Links ]
Prince, L. 2024. SA'ners "sal BELA-wet eenvoudig nie kan bekostig". Beeld, 24, 21 Maart. https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/politiek/saners-sal-bela-wet-eenvoudig-nie-kan-bekostig-20240321 [30 Maart 2024]. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika, Departement van Basiese Onderwys. 2024. 2023 Diagnostic Report. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys. [ Links ]
Scholtz, L. 2021. Word Maties nou ge-Milner? Netwerk24, 21, 9 Maart. https://www.netwerk24.com/netwerk24/Stemme/Aktueel/is-maties-nou-ge-milner-20210308 [24 Maart 2022]. [ Links ]
Shiraya, J. 2008. Knowledge of English is essential for kids' success. Cape Argus, 18, 16 Oct. [ Links ]
Simpson, T. 2021. History of South Africa: From 1902 to the present. Cape Town: Penguin Random. [ Links ]
Smit, P & Booysen, J. 1981. Swart verstedeliking: Proses, patroon en strategie. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. [ Links ]
South African Gateway. 2024. The 11 languages of South Africa. https://southafrica-info.com/arts-culture/11-languages-south-africa/#:~:text=IsiZulu%20is%20South%20Africa's%20biggest,%2C%20and%20isiNdebele%20(2%25) [31 March 2024]. [ Links ]
UNESCO. 1953. The use of vernacular languages in education. http://unesdoc.unesco.org/images/0000/000028/002897EB.pdf [31 March 2018]. [ Links ]
UNESCO. 2022. Private education has grown faster in South Asia than any other region in the world. https://world-education-blog.org/2022/11/02/private-education-has-grown-faster-in-south-asia-than-any-other-region-in-the-world/ [22 November 2022]. [ Links ]
Van der Berg, S, Gustafsson, M & Burger, C. 2020. School teacher supply and demand in South Africa in 2019 and beyond. https://resep.sun.ac.za/wp-content/uploads/2022/03/DHET-Supply-and-Demand-Report-Phase-1.pdf [28 March 2022]. [ Links ]
Van der Walt, JL & Wolhuter, CC. 2016. Eerste taal as onderrigmedium in hoër onderwys: 'n Internasionale perspektief. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 56(4-1):1016-1033. [ Links ]
Van Heerden, M. 2021. Afrikaans: 'n Tydlyn vir skole. https://www.litnet.co.za/afrikaans-n-tydlyn-vir-skole/ [23 Maart 2024]. [ Links ]
Vu, T, Winser, W & Walsh, J. 2020. Teacher Attitudes Towards the English Language Curriculum Change: The case of Viet Nam. TESOL International Journal, 15(6):84-111. [ Links ]
Willemse, H. (red.). 2018. Achmat Davids: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems. Kaapstad: SBA. [ Links ]
Wolhuter, C. 2018. Parameters for a cultural history of education in South Africa. Education Research and Perspectives, 45:64-68. [ Links ]
Wolhuter, CC & Van der Walt, JL. 2022. Strominge en teenstrominge in die vraag na die onderwystaalmedium: 'n Internasionale en 'n Suid-Afrikaanse perspektief. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 62(4):715-742. [ Links ]
Wolhuter, CC, Potgieter, FJ & Steyn, HJ. 2011. 'n Gevallestudie van die bydrae van sendingonderwys tot die ontwikkeling van Afrika-omgekeerde spieëlbeeld van die stereotipiese uitbeelding in die literatuur. Tydskrifvir Christelike Wetenskap, 47(1):23-41. [ Links ]
Wolhuter, CC. 1999. Sociaal-wetenschappelijke literatuur over onderwijs in Zuid-Afrika: Van verzuilen tot eensgezindheid vanuit verscheidenheid. Pedagogische Studiën, 76:361-370. [ Links ]
Wolhuter, CC. 2019. The philanthropic mission of comparative and international education bequeathed by Jullien: Continuing capstone of the field. In Wolhuter, CC (ed.). The legacy of Jullien's work for comparative education. London: Routledge, pp. 1-14. [ Links ]
Wolhuter, CC. 2024. The global south in comparative and international education: A leitmotif. Durbanville: AOSIS. [ Links ]
World Bank. 2021. Loud and clear: Effective language of instruction policies for learning. A world bank policy paper. Washington: World Bank. [ Links ]
Ontvang: 2024-04-03
Goedgekeur: 2024-09-30
Gepubliseer: Maart 2025

Charl Wolhuter het aan die Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van Pretoria, Unisa en die Universiteit Stellenbosch studeer. Hy het sy doktorsgraad in Vergelykende Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy is 'n voormalige junior lektor in Historíese Opvoedkunde en Vergelykende Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria en 'n voormalige senior lektor in Historiese Opvoedkunde en Ver-gelykende Opvoedkunde aan die Universiteit van Zoeloeland. Tans is hy professor in Vergelykende en Internasionale Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Wolhuter is die outeur van verskeie artikels en boeke oor die geskiedenis van die opvoedkunde, asook vergelykende en internasionale opvoedkunde. Hy was 'n besoekende professor aan onder meer Brock Universiteit (Kanada), Mount Union Universiteit (Ohio, Verenigde State van Amerika), die Universiteit van Kreta (Griekeland), die Universiteit van Queensland (Australië), die Universiteit van Modena en Reggio Emilia (Italië), die Opvoedkunde Universiteit van Hong Kong, Eberhardt Karls Universiteit (Duitsland), die Universiteit van Lljubljana (Slowenië), Tarapaca Universiteit (Chili) en San Martin Universiteit (Argentinië).
Charl Wolhuter studied at the University of Johannesburg, the University of Pretoria, Unisa and Stellenbosch University. His doctorate was awarded in Comparative Education at Stellenbosch University. He is a former junior lecturer of History of Education and Comparative Education at the University of Pretoria and a former senior lecturer of History of Education and Comparative Education at the University of Zululand. Currently, he is professor in Comparative and International Education at the North-West University, Potchefstroom Campus. Wolhuter is the author of several articles and books on the history of education, and comparative and international education. He held visiting professorships at, i.a., Brock University (Canada), Mount Union University (Ohio, United States of America), the University of Crete (Greece), the University of Queensland (Australia), the University of Modena and Reggio Emilia (Italy), the Education University of Hong Kong, Eberhardt Karls University (Germany), the University of Lljubljana (Slowenia), Tarapaca University (Chile) and San Martin University (Argentina).
1 Die skrywer is bewus daarvan dat meer as een variëteit, soos onder meer Kaapse Afrikaans, reeds vroeg as spreektaal gebruik is.
2 Gebaretaal is in Julie 2023 as Suid-Afrika se amptelike 12de taal erken.
3 Vergelyk: https://taalunie.org/dossiers/8/staat-van-het-nederlands#.












