SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2The constitution, education authorities and the road ahead for single medium Afrikaans schools author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.55 n.2 Pretoria Jun. 2015

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N2A6 

    Huldigingsgedigte vir T.T. Cloete op 91

     

     

    Epifanie

    Vir die digter
    van die jukstaposisie

    Huise uit sandsteen geweef
    nes tapyte uit sywurms gegis
    soos wyn uit druif gekap,
    vir weef, kap of gisting
    tot 'n unieke klein gedig:

    immers meer poësie
    in 'n sneeuvlok,
    in die huis snags
    as die strofe bedags;

    meer te wroeg
    oor die dood
    en Marilyn Monroe
    as oor lewensbrood;

    rympatrone gevind
    in die ontoelaatbare,
    die ongesegde,
    met stilte gerinkink.

    In die huis van die digkuns
    was daar vele wonings:
    Huise uit sandsteen gegis
    nes tapyte uit sywurms gekap
    soos wyn uit druif geweef ...

    dié digter, 'n allotroop
    stap jambies
    ligvoets
    eenkant
    onversadig
    verby.

    • Joan Hambidge

    salle des pas perdus

    woorden gonzen in een kooi van faraday
    er dansen bijen in mijn hoofd
    de rust verstoord na jaren lethargie

    een enkel woord waarin de zin
    besloten ligt komt vrij
    kortgesloten in een bliksemschicht

    ontsnapt, uit het witte licht gesneden
    een treffen in voorheen het niemandsland
    het limbo wordt verlaten

    • Gerard Scharn

    tt

    Theunis,
    toe ek verneem dat Anna, jou vrou,
    sóveel jare lank jou lewensmaat,
    nou sewe jaar reeds van jou weg is,
    het meegevoel my om woorde gevra.
    Aldus hierdie vers.

    Rosalie, my lewensgesél, en ek is vanjaar
    vier-en-veertig somers en winters in die eg,
    en ek wroeg met die gedagte:
    sou dinge vir ons soos met jou gebeur,
    hóé sal ek die koste
    van die bedroewende lang ure en dae
    van 'n toekoms sonder Rosalie
    besleg?

    Dus, tt, laat my sê
    - ek doen so met piëteit -
    dat ek my íngedink het in jou pyn
    en glo dat, ter berusting, God Sy
    Lig van Liefde versagtend oor jou
    helder sal laat skyn,
    en met volledigheid rondom jou
    úit sal straal,
    en jou hartseer sal verhaal,
    en jou geheel omvou.

    • Adam Small

     

     

     

    the last sitting: marilyn monroe in litografie

    vir ttc
    "I saw what I wanted, I pressed the button, and she was mine.
    It was the last picture." (Bert Stern)

    wat bly behoue van die allerlaaste nag van roem?
    in die donkerkamer van my fotoverbeelding
    soek die perfekte moment mý vir 'n laaste sitting
    buite beur die skeurende wind woedend teen die nag
    maar hier binne hier binne is dit droomstil
    marilyn vly haar lyf op die honger bed
    - 'n middernagson kom op -
    sjampanjeborrels verstrik in die hare
    pêrels gewigloos gesuspendeer bo die litosfeer
    die tingelende geklink van suiwer wit klank
    weerlig van die stroboskoop wat terugstuit
    in 'n opslagskoot kyk sy reg deur die lens
    die sluiter sluit dig
    I am become your veil and I am all you see
    in 'n miljoenste van 'n miljardste van 'n sekonde
    verskyn en verdwyn die ware marilyn
    'n bosonblits in my towerlanternflits
    oerknal in die doodstil baarmoer van die oneindige

    soos aan die allerbegin
    net die godsverb(l)inding blý

    (4 Julie 2012)

    • Tom Gouws

    Reitzstraat, Potchefstroom

    vir TTC

    Sommige somers, as jy jou blou Valiant pak
    en see toe verkas met jou Anna en kroos,
    het ek 'n oog oor jou tuin moes hou teen
    verdroging en vir ingeval: 'n Jong tuin is broos
    as reën wegbly in Desember. Van oorkant die straat
    het ek, toe nog 'n skolier, gesien hoe jy perke laat spit,
    buitelyne beplan en beddings vul met struike: vir lower
    vir blom vir geur; gesien hoe jy rankers voorlopig stut
    met riet. Gaandeweg het ek patrone begin snap:
    dat sipresse net in pare alleenheid oorleef; dat die pom-pom
    van 'n blomperske net uit kaal takke kartetse kleur
    kan skiet; dat die lente, benewens in die kweper, ook blom
    in die dweperige pers van die yl tamarisk. In dié tuin
    het ek begryp hoe vingers groen kan vroetel,
    hoe oog en oor en neus die taal van tuin kan lees.
    Na jou voorbeeld het ek groenigheid begin troetel
    en algaande woord vir woord aan die groei gekry,
    later selfs ryme jasmyn lelie iris roos aangelê, my verloor
    in kwatryne. Sedertdien swymel ek steeds oor die boeket
    van tuine en die toorkrag van 'n rymende eindkoeplet.

    • Johan Myburg

    ttc

    I used to think about meaning a lot - Brian Cox

    hy is lewenslank
    in huisarres in sy dorpshuis
    tog reis verder as al die spoetniks
    trap op wyer geleë planete as armstrong

    hy het klaar die godpartikel gesplyt
    sweef materieloos sonder swaartekrag
    ingedagte

    hy ken die paringsdans van die kolibrie
    koko se gebaretaal
    die pronk van die springbok
    die oerknal en die dinosourusse

    blaai saam met revius en calvyn
    deur milton greene
    was immers gheselscap goet ende fijn

    alleen op brood en stroop
    kan ook hy slu skuiwer
    die Syn in skaakmat sit

    • Marius Crous

    Woordensvol

    Vol glas, vol emmer, vol skottel, vol dam:
    daar is iets welbehaagliks in vol wees,
    in die vermoë om gevul te word -
    'n houer, bereidwillig en gedeë.
    Vol mond, vol oë, vol ore, vol hart:
    randvol aangevly deur soepelhede
    wat kontoere vul maar ook bly uitdy
    tot iets ongrypbaar gans en alles is.

    Die mens se stem gebruik 'n melodie
    wat enkelvoudig, enkellynig bly:
    mens praat nie in akkoorde nie, nooit nie,
    jy ryg jou stem se note een vir een.
    Jy knoop jou pen se enkel lyn ook so,
    steeds enkelvoudig tot daar letters vorm,
    een vir een, tot uit die dun lyn reekse
    tekens groei: woorde, sinne, boeke vol.

    Die stuifmeel en die vrugbeginsel is
    met 'n haardun draad verbind, die spinweb
    en die spinnekop se pens vol sy deur
    enkeldrade ingewikkeld saamgeknoop.
    Daar is ylheid, enkelhede; daar is
    die eindelose moontlikheid van vol:
    van breed en lank, van reik na hoog en diep,
    van weet, van voel, van dink en kan onthou.

    Ek hoor die sneeuvlok val en smelt, bergaf
    sypel, in die rivier oor vlaktes vloei,
    deur al die ou en nuwe stede reis
    tot in die see, om hier, hier reg voor my,
    met die deining hoog te styg, te hang,
    dan met die golf geweldig oor te stort:
    die woord wat bruisend in die branding staan,
    reik uit en vul my weids en bodemloos.

    • Heilna du Plooy

    Plaasmiddag, Vredefort-distrik

    vir T. T. Cloete

    Die namiddag loop voller, &,
    afgemeet in jambes
    van die staanhorlosie, vol.
    Die ver vaal heuwelriwwe drywe
    bo die uitgewaste bekken.

    Rooitong in die skadu
    van 'n lukwart lê die hond stertstil.
    'n Pietswind swiep verby & strooi
    die sterredons van sade
    & laat die plaasdam ligweg frons.

    • Johann de Lange

    raar maak waar

    aan ttc op 91

    waarneem maak kwarke waar
    en leptone
    wat niks en nêrens was iets hier of daar

    donkerver sterre sterspirale sterrestelseltrosse ontketen glans en al

    'n lig-

    palimpses

    wanneer 'n ruimteteleskoop se prakseerpupil
    skoon staar
    van nou tot toet
    op toet

    doofpotstil
    is beethoven sonder sy gehoor
    in konsertsale sy polifone
    geluid elektrochemies onbewoë tot vol gemoed
    die lied van riete gebroke ruiswind faal
    sonder luister
    sonder gerugmaak in 'n gedig

    tree liefde nie uit ons in die bres
    nie word gemis nie geheel nie tot paar gesin gemeenskap nie getransendeer nie die uitsoekroos
    word oën-skynlik eers iets wonderskoons
    moet hom sy welriekendheid aan 'n neus getroos

    bly godpartikels wiskundig onvermoed
    dan word die knal van krag tot dinge nie gekloon
    nie in 'n megaversnellertonnel gesimuleer nie
    sonder ons modelle raak ons dalk 'n multiversum byster

    aldagwonders word gewaar
    in rare lewens van somtyds neëntig jaar

    • Bernard Odendaal