SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.38 número1 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Revista

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Literator (Potchefstroom. Online)

    versión On-line ISSN 2219-8237versión impresa ISSN 0258-2279

    Literator vol.38 no.1 Mafikeng  2017

    https://doi.org/10.4102/lit.v38i1.1370 

    LITERA

     

    Reisverslag in twee stemme en agt gedigte

     

     

    Carina van der Walt; Emma Crebolder

    Private Practice, the Netherlands

    Correspondence

     

     

    In die tweede helfte van 2015 vlieg twee egpare uit Nederland na Kaapstad om 'n reis van drie weke van suid na noord deur Suid-Afrika aan te pak. Pretoria sou hulle eindbestemming wees:

    Het doel was tweeledig. Enerzijds het ontmoeten van Afrikaanse dichters en kennis nemen van elkaars werk, anderzijds het weerzien van het land.

    Harry en Emma Crebolder uit Maastricht was in 1994 vir die laaste keer in Suid-Afrika. Die Crebolders het oor die algemeen 'iets' met Afrika. Harry was in sy aktiewe professionele lewe 'n tyd lank 'tropenarts' in Tanzanië. Emma is nog steeds professioneel aktief as digter. Sou die Suid-Afrikaanse landskap haar weer inspireer soos soveel kere vantevore?

    Vir my en Geno is dit spesiaal om twee sulke geïnteresseerde en geïnspireerde gaste te kan begelei. Ek herontdek my eie land deur die oë van ons gaste, maar ons verken ook altyd, sover dit moontlik is tydens ons jaarlikse besoeke, nuwe plekke. Die akkerbome in Stellenbosch sal met die nuwe somer se groen pryk. Dis ons vakansie!

    Rond middernacht rijden we Stellenbosch binnen. De laan met bomen, de Oud-Hollandse huizen, het stadje lijkt in zijn geheel geëmigreerd vanuit Nederland. De sleutel breekt af in het slot van De Oude Meul. Gelukkig onderdak in een hotel met de naam Protea, symbool-bloem van Zuid-Afrika. De volgende dag in de Dorpstraat, op het balkon van De Oude Meul. Het is alsof ik hier op de hoek van de straten terug zou kunnen schrijven naar een ver verleden.

    Stellenbosch1
    word wakker Stellenbosch
    gooi jou kussings in die asdrom
    hang jou matras uit die venster
    verbrand jou lakens
    gaap nooit weer nie
    slaap nooit meer nie
    loop kaalvoet sonder onderklere
    in vrugbare watervore
    speel tussen die akkerblare
    koppie krap koppie krap
    geel & blougroen papegaai
    aai aai daai witborskraai
    wat toe tóg om moes draai
    hoender hoephoep & koekoek
    ha-ha hadida ha-ha hadida
    tiptol rooioog tiptol swartoog
    piet-my-vrou o piet-my-vrou
    suiker jou bekkie my suikerbekkie
    bokmakierie diederikkie
    sing rroe koerre rroe koerre
    my ou sagtebors tortelduifie
    kom wees wakker by my & speel
    tussen al my lieflik baldadigste blare

     

     

    Iets wat ons móét besoek gedurende die eerste paar dae in die Kaap is die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin. Ter voorbereiding van die poësieprogram 'Geur van die hemel' loop ons veral agter ons neuse aan die kruie- en medisinale tuin binne, maar die kleure van die blomme en die vorms van die bome is ewe oorweldigend. Die verhaal van die herkoms van die broodbome by die ingang slaan ons voete onder ons lywe uit. Oor Kirstenbosch het Emma twintig jaar gelede die gedig 'Tafelbergtuin' geskryf. Dit is in 1995 in die bundel Zwerftaal gepubliseer. Die slotstrofe gee 'n leidraad waarom hierdie opvolgbesoek veral vir háár so belangrik is:

    Op de bladzijde waar 'Bezoek aan tuin'
    en datum stond
    kon ik later niets meer vinden,
    niets dan wat stippen
    als zaden op de grond.

    Ons eerste stilhouplek na Stellenbosch is Matjiesfontein. Daar snuif ons aan die koloniale sfeer. Hoekom lyk die neste van wewers wat onderstebo aan slap peperboomtakke hang soveel eksotieser uit die ou venster van 'n Victoriaanse badkamer as langs die pad? Emma kan die ommuurde swembad nie weerstaan nie. Na haar swem gooi sy 'n geel Afrika-kaftan oor die lyf. Dit steek mooi af teen die wit muur, die bloekomboom met repe traanbas, die windpomp en die blou lug. Die reuk van vetplante hang warm in die lug.

    Op die pad na Graaff-Reinet verplig ons twee vroue die mans om om te draai en 'n skilpad oor die pad te gaan help. So iets prehistories in die maanlandskap van die Kamdeboo verdien 'n oorlewingskans! Maar ou vader skilpad het, toe ons by hom kom, homself al gered:

    Rondom Spandaukop de bergkransen, ongelooflijk spannende rotsformaties, die na de vlaktes van de Grote Karoo oprijzen. De keurig gewitte huizen van Graaff-Reinet achter ons latend rijden we een lieflijke oase binnen. Nieu-Bethesda met een plek waar Helen Martins, De Uilvrouw genoemd, een bizarre wereld 'verbeeldt'.

    Dit is die eerste keer dat ek in Nieu-Bethesda kom en met die uilhuis en -vrou kennismaak. Ek vergaap my aan die produksiedrif van die tenger vroutjie met haar tragiese geskiedenis. Baie van my landgenote ken haar beelde, maar vir my is alles nuut: die meerminne in sementdammetjies wat my naderwink en die sonne van fyngemaalde glas in haar huis. Wat 'n verskriklike selfmoord moes dit nie gewees het nie - om arseen met gemaalde glas te drink!

    die uilvrou van Nieu-Bethesda
    hoe dood was haar lewe nie
    toe sy teruggevlug het na hiérdie bron
    hoeveel bottels glas het sy fyngemaal
    om die son vir haar huis te gaan haal
    hoeveel liefde gestort in soveel beton

    vir miss Helen was die uile haar mense:
    die wyse dut nou nog bokant die voordeur
    'n rytjie sit rooiwarm geraam by die stoof
    in die tuin waak grootoog bo-op die poort
    oe-hoe oe-hoe roep die dood in kleur

    hoe kon sy nog glo in haar eie verhaal
    toe geen glas meer amber glinster nie

    Hiervandaan ry ons Lesotho in, 'n pragtige bergland! Op die grasperk van Malealea bekoor die hooghartigheid van 'n pou my. Hy skreeu so wanhopig om die wyfies se aandag te trek dat ek hom, ondanks sy skoonheid, eintlik jammer kry. Emma het ander planne vir ons. Sy wil vir die eerste keer na rotstekeninge van die Khoisan gaan kyk. Uiteindelik word dit 'n strawwe wandeling van vyf uur lank onder begeleiding van Lucky. Ons het dit darem almal heelhuids oorleef.

    San-rotstekening
    Eerst door de vallei van rode
    aarde waar de ezels maïsstoppels
    vermalen. Daar zwenken we van
    rolsteen naar rolsteen en scharen
    als schorpioenen. Over de kloof
    schiet de echo van het San-volk
    ijle lijnen op de rotswand. Jagers
    met drie vissen en een antiloop.
    We eten samen cactusvijgen,
    nog zo bitterzoet als toen.

     

     

    By die Vrouemonument in Bloemfontein word my hart sag vir die lyding van die gewone vroue uit ons geskiedenis. Ook my jonger sussie se onlangse dood draai in my kop wanneer ek die sterwende dogtertjie op die linkerkantste paneel se neusie vryf, soos sovele voor my. Dit blink in die wit son. Dat die boerevroue as heldinne geteken word, roer ook vir Emma. Sy stap stilswyend 'n ent voor my uit. In 'n stadium sien ek sy het haar strooihoed afgehaal. Eerbied? Uit haar gedig blyk dat iets anders eintlik 'n rol gespeel het.

    Nog voor die oorlog het begin
    Bij het Vrouwenmonument buig ik
    mijn hoofd achterover en lees:
    Aan onze heldinnen. Mijn zonnehoed
    valt af, tranen lopen binnen.

    In mijn ooghoek treedt
    de doringboom uit het lied
    van Sarie Marais. Ik neurie
    en zing dan de doornige
    acacia boven alles uit.

    Bloemfontein 2015

    Na ons besoek word ons hartlik deur Gisela en Tony Ullyatt by NALN ontvang, en ook deur Annelie Diedericks en Corlietha Swart. Dis vir my 'n eerste besoek by NALN. Teen die pragtige Elisabeth Eybers-muurpaneel herken ek my nefie. Ons het mekaar vir ongeveer veertig jaar nie gesien nie, maar hy lyk nes my pa! Dis 'n blye weersiens. Emma gee besondere aandag aan Eybers se nalatenskap wat onlangs uit die Amsterdamse Suid-Afrikahuis Bloemfontein toe gestuur is - onder meer 'n kapstok en 'n rottangstoel.

    De wederkeer van Elisabeth E.
    Er is hier een kamer voor je
    ingeruimd met gelauwerd
    werk en uit de boedelkist
    je rotankapstok en regenjas.

    Een halve eeuw heb je geschuild
    op een Amsterdamse boven-
    woning in taal van thuis. Nu
    terug te Bloemfontein
    leef je weer, statig met
    soetdoring in de tuin.

    Die dames van NALN is besonder hartlik. Na ons voorlesings moet ons eers ons handtekeninge op die muur in die kelder gaan verewig. Daarna kry ons 'n begeleide toer deur die ou, statige sandsteengebou met sy breë houttrappe.

     

     

    Ons besluit om Welkom om te ry omdat die betekenis van dié Vrystaatse stad se naam by die meeste Nederlanders 'n glimlag van verrassing ontlok. Hulle wys my gereeld daarop hoe gelukkig ek kan voel om op 'n plek met só 'n naam my lewe te kon begin het. Ek is ook nuuskierig oor hoe die dorp na al die jare lyk. Dinge wat in my kinderdae so groot en indrukwekkend was, is nou so klein - amper onbeduidend. Stateway. Die stadsaal se toring. Die perdeskoenpark in die sakesentrum. Dis net die uitgestrekte vaalgroen ruimte met hier en daar 'n mynskag, 'n slykdam en die swerm pienk flaminke in die myn se afvalwater wat dieselfde gebly het. My kindwees se dors na kennis het ek uiteindelik as volwasse vrou aan die ander kant van die aardbol gaan les.

    a posteriori Welkom2
    by gebrek aan beter weet is ek bogronds gebore in Welkom

    Welkom sê my geboortesertifikaat
    & die duiwe fladder op uit die park
    bo-oor die kloktoring langs Stateway

    Welkom sê my ID

    Welkom sê my nuwe paspoort
    agteraf beskou het die duiwe toe al in die bos geland
    langs die ou hogeschool wat doodloop in 'n T

    ondergronds voel ek 'n klont van 'n kopskuif

    & is ek ver anderkant my kindertyd se mynhope
    as die duiwe aanhou koer: jy't vergeet vergeet

    Welkom is 'n woord wat sê wat dit sê

    gaan ondergrond & delf na weet soos in wéét

    'n Kuiertjie in Potchefstroom kom volgende aan die beurt. Heel eerste gaan kyk en luister ons na Franci Greyling se Tuinvers-projek in die Botaniese Tuin. Briljant! Ek, Geno, Emma en Harry het ook nog nooit gedigte op so 'n manier ervaar nie. Dieselfde aand ontvang Heilna en Andries du Plooy ons tuis saam met 'n paar digtersvriende, waarvan ek sommige al uit my studentedae ken. Daar word voorgelees, vertel, gelag en gesels, en daar is genoeg eetgoed vir Afrika. Na dié aand stem ons volmondig met mekaar saam oor wie die sterkste digterstem in Potchefstroom is, maar dit bly voorlopig net binne-in die ruimte van Pegasus, die Jeep waarmee ons reis.

     

     

    Die volgende dag is ons Vredefortkoepel toe. Dit is 'n geologiese hoogtepunt waarvan ek en Geno dink die Crebolders tog kennis behoort te neem, maar amper ry ons dwarsdeur die hele gebied sonder enige kennis van sake. Die inligtingskantoor van jare gelede is ongelukkig gesluit en daar is geen teken van lewe meer nie. Maar waar 'n wil is, is 'n weg. Uiteindelik vertel 'n jong man ons baie entoesiasties van die meteoriese inslag twee miljard jaar gelede waartydens die onderste rotslae en goudriwwe met die impak na die oppervlak opgestu is.

    Vredefortkrater
    Een meteoriet drong 2 miljard jaar
    geleden in het raadselrijk van grijs
    geperst graniet en kristallijn gesteente.
    Uit de bodem werd ook goud omhoog
    gestuwd. Schachttorens staan als iele
    speeltoestellen langs de weg richting
    Vaalrivier. De verre kraterranden
    reiken naar de hemel. Ik buk en
    raap dooraderd kwarts, ruik
    het blakeren van gras.

    Vervolgens zijn we bij de gastvrije Nicky en Charl-Pierre Naudé in Johannesburg ontvangen. Zij organiseerden voor ons een literaire bijeenkomst met een tiental dichters. Een van hen was een naamgenoot Emma Bekker. Zij bleek vooral net als ik meer dan gewone belangstelling voor vossen te hebben. Ik ben geboren in Zeeuws-Vlaanderen, een streek waar in de 14de eeuw Reinaert de Vos werd geschreven.

    Uiterst boeiend was het om een beeld te krijgen van het werk van in het Afrikaans schrijvende dichters. Zeer divers. Ik was verbaasd dat de aanwezigen mijn Swahili-gedichten, Charl-Pierre las de Engelse vertaling, zo konden waarderen.

    Ek maak onder andere kennis met Corné Coetzee, wie se digstyl vir beide my én Emma baie aan ons gesamentlike Nederlandse digtersvriendin Kreek Daey Ouwens herinner. Wanneer verskyn haar debuutbundel? Christo Coetzee se styl het dieselfde 'broeierigheid' en soms seksuele blatantheid wat van die Brasiliaanse oubasie Drummond de Andrade tussen sy tagtigste en sy vyf-en-tagtigste lewensjaar 'n besondere vitale digterlike ster gemaak het. Ook René Bohnen, Hans Pienaar en Jo Prins se gedigte het ons in Melville verras. Inderdaad, 'zeer divers'.

    Saam met Harry en Emma kom ek vir die eerste keer in my lewe uit by 'n besoek aan die Apartheidsmuseum.

    Tydens ons verblyf in Johannesburg ondervind ons onverwags vir langer as vier-en-twintig uur die ongerief van geen beskikbare water nie. Die Johannesburgse stadsbestuur word verwyt weens 'n gebrek aan beplannning. Hulle het nie konkreet genoeg ingeskat wat die effek van El Niño op die stad se watervoorsiening sou wees nie. Ons het genoeg tekens van 'n ontsettende droë tyd tydens 'n groot deel van ons reis ervaar - vanaf Lesotho tot op die Hoëveld. Alle watervalle rondom Malealea was droog. Emma moes aanvaar dat swem in 'n bergpoel in Lesotho nie deel van ons toer kon word nie. Die skielik geklop in leë pype (waarskynlik vanweë inkrimping en uitsetting) laat my dink aan die nimfe wat die water in een van Italo Cavino se onsigbare stede gesteel het. Armilla se mense het nie meer water gehad nie, maar die verborge skoonheid van die pypleidings maak van dié stad iets spesiaal.

    Jozi in krisis
    teen rykmansmure langs Jozi se strome teer
    staan XXX-plante & bougainvillea's in bloei
    binneshuis staan baddens wasbakke toilette
    plotseling opgedroog soos brose wit lelies
    op lang pypstele grillig leeg
    reageer vakuums angstig & klop-klop
    soos 'n waterwyser op soek na 'n nattigheidjie
    stortkoppe & krane verlep sonder 'n druppel
    ondergronds eis die droë pypleidings aandag
    bogronds verdwyn bottels water van winkelrakke af
    Jozi & haar eksie perfeksie sexy sussies
    bad of stort nie was nie hande of hare nie
    borsel nie hulle tande in krisistyd nie
    toe selfs die teer weier om te stroom
    duik hulle plakkate skielik teen lamppale op

    (na Italo Calvino se 3de 'thin city' in Invisible Cities)

    De laatste van onze vier optredens zal in het huis van Andries Bezuidenhout en zijn vrouw Irma du Plessis plaatsvinden. Zeer gastvrij en speels echtpaar. Niet alleen Johann Lodewyk Marais leest meeslepende gedichten. Ik zoek de volgende dag in het museum tevergeefs naar werk van Pippa Skotnes, in 1994 hing er van haar grafiek met San/huifkar motieven.

    Op die vooraand van Emma, Harry en Geno se vlug terug na Nederland slaap ons twee egpare geskei. Die kamer waar ek en Geno oornag het, laat my dink aan 'n eenvoudige Griekse huishouding. Op die bedkassie ontdek ek die Japanse skrywer Kazuo Ishinguro se verhaalbundel Nocturnes. Dit is 'n boek wat ek dadelik moet hê. Nou staan dit in ons boekrak in Tilburg - al 'n paar keer herlees. So het die reis deur Suid-Afrika vir my, Geno, Emma en Harry geëindig: innerlik verryk. Ons het pragtige dinge gesien; nuwe mense leer ken; goeie Afrikaanse digters gehoor en bowenal mekaar en mekaar se woordgevoeligheid goed leer ken. Wat meer kan enige mens van die lewe vra?

     

     

    Correspondence:
    Carina van der Walt
    carina.vanderwalt@gmail.com

     

     

    1 . Die gedig 'Stellenbosch' verskyn in Januarie 2017 in Hollands Maandblad. Emma Crebolder se gedigte is gepubliseer in die literêre tydskrifte Hollands Maandblad (Junie/Julie 2016) en Terras (temanommer 'Metalen', 10 Junie 2016).
    2 . Carina van der Walt se gedig 'a posteriori Welkom' is gepubliseer in die bundel Amalgaam (Uitgewery IJzer, 2015). Haar ander gedigte is opgeneem in verskillende poësieprogramme in Suid-Afrika en in Nederland (2016-2017).