SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue2NP van Wyk Louw's Die pluimsaad waai ver, of Bitter begin revisitedThe theme of love in Tristia by NP van Wyk Louw and his "Groot ode" as a love elegy author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.60 n.2 Pretoria Jun. 2020

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n2a15 

    RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    NP van Wyk Louw: Om te loop in die skoene van die grotes ...

     

    NP van Wyk Louw: To walk in the shoes of the great ...

     

     

    Joan Hambidge

    Hofmeyr-leerstoel, Skool vir Tale, Universiteit van Kaapstad, Suid-Afrika. E-pos: Joan.Hambidge@uct.ac.za

     

     

    DRIE VERSE VIR NP VAN WYK LOUW:

    'n palinode, parodie en pastiche

     

    IGNATIUS BID VIR SY ORDE

    - 'n palinode1

    Dat pyn bestaan, wás nodig, Wyk,

    om my te puur van spotspraak:

    om so mý deurdink en inpraat

    die vloei van invloed te ontwyk.

    Wit wolwe van 'n rooflied,

    laat ons in die looggat inkyk:

    dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,

    om woorde op te vang in mý lied.

    Om my te puur van grootpraat,

    of in jou woorde gewoon net na te praat.

    Dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,

    vir dieper priem én fyner kyk.

    Dat pyn bestaan, dat pyn bestaan ...

     

    VROEGHERFS

    - 'n parodie2

    Die jaar word ryp in wrede ontnugtering,

    in woede wat verkil, en bitter idees

    wat daglank deur nuwe selfvermindering

    uitgespoel word; alle idees word reëls,

    tot selfs die sluustes; en die eerste beelde val

    so stilweg in my donker depressiewe drome uit

    sodat die troebel drome, nee nagmerries,

    teen elke ligte môre ópspruit.

    O muses, laat hierdie dae nooit verbygaan:

    laat alles val wat poësie of stilte verbreek

    of geykte beeld is, en vér was van die pyn;

    laat ryp word, muses, laat jul woede nimmer taan,

    vir ewig, tot al my palinodes afgebreek

    word in relevante, tydgebonde skyn.

     

    ARS POETICA

    - 'n pastiche3

    Uit die gevormde literatuur

    is daar wél poësie te maak:

    só konstateer ons op hierdie klein

    en silwrige planeet, waar ons

    selde ons harte van gode rein

    of skoon kan hou. Variasies, besuinigings,

    en vele palinodes bestaan oor jou werk,

    veral deur "dwase" en glo "na-praters"

    in 'n taal geminag, veral deur haar sprekers.

    Hoeveel verstaan en begryp nog

    die suiwer syfer van jou odes?

    Van ander name wat mag sluimer

    onder die skriklikheid

    van jou klein klipwerke?

    Hierom dan 'n eulogie:

    in sinsverrukking bepaald,

    het jy soveel beelde boetseer,

    eers in liriese uitstulpings

    tot later in geboende ínstulpings

    vir stiplees, terug-lees,

    vanuit 'n verre land versend

    in jou liefde én tyding

    verlaat. En hier herdig

    ek by herhaling dan.

    Joan Hambidge Julie 2018 September 2019

     

    DIE KRUIWAWIEL SE SKREEUGELUID4

    Elke stem waarop ek wag,

    telefonies, per sms of e-pos,

    keer terug na daardie eerste stem

    van afwysing of verswyging.

    Is dit alweer 'n digter wat huil?

    Jou stilgeworde boodskappe

    eens soos 'n poelpetater

    met kolle om te dekodeer

    in netjiese e-posse uitgewis.

    Is dit alweer 'n digter wat kla?

    Jou stilte verpak in 'n Sjinese boks

    saam met ander vroue met maskers,

    versinsels en wrede verdigsels

    soos jammer-ek-het-jou-gemis.

    Is dit alweer 'n digter wat kerm?

    O koelemetat, poelmetaan, poelpetaan:

    ek dans nou met die tannie-in-die-rou-bestaat

    en hou my lyf soos 'n póél-pe-táát

    soos in 'n Van Wyk Louw-dansliedjie.

    Is dit alweer 'n digter wat treur?

    Is dit alweer 'n digter wat treur?

     

    TOTIUS: DIE TARENTAAL

    Die kruiwawiel se skreeugeluid

    kerm hy droefgeestig uit

    terwyl die skeemring vinnig daal,

    die tarentaal.

    Hy soek - en dit is ook al laat -

    vir hom 'n kameraad,

    om in 'n boom die eensaamheid

    en nag te slyt.

    Sáám sal hul in 'n blinkblaarboom

    half slaap, half waak, half droom,

    en by die naadring van verderf,

    alléén nie sterf.

    *

    Ek het gemik, en met die knal

    het een dood neergeval;

    die ander vlieg met wilde krag

    wèg in die nag!

     

    NP VAN WYK LOUW

    06 JANUARIE 2014

    Jy't weggegaan en jy bewoon

    'n silwer herberg in die sneeu

    jou vensters kyk nog elke nag

    met drie blink oë na die plein

    die plein is boom en wind en boom

    en wind en wind

    en wintermiddag voer daar iemand

    die meeue krummels teen die wind

     

    HIERDIE IS NIE 'N LIEFDESVERS NIE5

    'n Soort palinode ...

    Hierdie is geen liefdesvers nie,

    dis 'n gedig oor 'n X

    wat geen silwer herberg bewoon

    in die sneeu nie, maar ewigdurend

    sous rature bly in die aanwesigheid,

    my deurkruising ten spyt.

    En ja, spyt kom altyd te vroeg

    met die eerste voëlgekletter,

    die Katolieke kerk se klokkespel,

    'n muezzin se roep na Mekka

    en my oggendgebed vergeef-my-

    sondes-en-almal-wat-gesterf het.

    Hierdie is nie 'n vers vir Fanie Olivier

    se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.

    Dit behoef 'n dubbel-negatief, 'n minaret

    waarop ek staan-waar-ek-staan

    roepend na jou, my gedig nommer X,

    my afskryfvers: onoorspronklik, 'n spel.

     

    CARTESIAAN

    Ek is net lyf en gees, niks tussenin:

    niks van die kerk se "siel", die leë droom.

    Net boom en grond. Die dryfsand se sin

    is iewers wel slinks en slu bedroom

    deur Freud en Lacan - die gode van drieë.

    Hulle dink aan skakels: aan oorgange

    soos ego, id, superego, nes bedrieë:

    verbeelde, simboliese, Rëele vir dié drange.

    Lyf: sy! die eerste wat ek ken!

    vol van groot hobbels, eis haar weg

    na die eis van volmaaktheid as volheid.

    Gees: die knope van die onbewuste ren

    aan my in drome vreemd, só verontreg

    'n inbeweeg tot hierdie parodie: 'n kilheid.

     

     

    Ontvang: 2019-12-15
    Goedgekeur: 2019-12-29
    Gepubliseer: Junie 2020

     

     

     

    JOAN HAMBIDGE is 'n Afrikaanse digter, romanskrywer en kritikus wat tans verbonde is aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy die Hofmeyr-leerstoel in die Skool vir Tale beklee. Vertalings van ʼn keur van haar gedigte het verskyn as The Coroner's Wife. Sy debuteer in 1985 met Hartskrif, die begin van 'n uitgebreide en steeds voortgesette digterskap; 'n nuwe digbundel, Konfessies, kaarte en konterfeitsels, verskyn later in 2020. Sy is bekroon met die Eugène Marais- en die ATKV-prys vir haar digkuns en behartig 'n blog onder die titel Woorde wat weeg.
    JOAN HAMBIDGE is an Afrikaans poet, novelist and critic who currently occupies the Hofmeyr Chair in the School of Languages at the University of Cape Town. A selection of her poems has been translated and published as The Coroner's Wife. Her first volume of poems, Hartskrif ("Heart's writing"), appeared in 1985, signalling the beginning of an extensive and still ongoing poetic output; a volume of poetry titled Konfessies, kaarte en konterfeitsels ("Confessions, cards and fabrications") is to be published in the course of 2020. She has been awarded the Eugène Marais and ATKV prizes for poetry, and runs a blog entitled Woorde wat weeg ("Weighing words").
    Joan Hambidge
    1 Die palinode is 'n gesang en terugroep van 'n vorige uiting.
    2 Die parodie is 'n skerper opstuur van 'n bekende gedig soos Anthony Hecht se "Dover Bitch: A Criticism of Life" wat die spot dryf met Mathew Arnold se "Dover Beach".
    3 Die pastiche is 'n stilistiese imitasie wat nie altyd suksesvol is nie en te swaar leun op die oorspronklike model.
    4 In Rondom eie werk, skryf Louw (1970:40) oor die dansliedjie. "Die kruiwawiel se skreeugeluid" aktiveer Totius se "Die tarentaal".
    5 My gedig is kontra-stelling teen VW Louw se beroemde gedig nommer X in Tristia (1962). Die X = 10, maar ook die eks-lover: Derrida se sous rature.