SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue3Afrikaans speech norms and prescriptive Afrikaans norms: is there enough scope for grammatical diversity in standard Afrikaans? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.58 n.3 Pretoria Sep. 2018

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n3a9 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2): AFRIKAANS EN FILOSOFIE

     

    Chairefoon-konferensie

     

     

    Drie artikels in hierdie uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe is 'n uitvloeisel van die eerste Chairefoon-konferensie wat op 9 Oktober 2017 by die Suid-Afrikaanse Akademie plaasgevind het, met die tema "Selfverkenning en die Geheel". Die Chairefoon-Inisiatief is 'n vereniging wat aan die einde van 2016 op die been gebring is deur nagraadse filosofiestudente met die doel om die kultivering van filosofie in die Afrikaanse taal, in reaksie op die ontneming van hierdie geleentheid by die plaaslike universiteite, te bevorder. Die naam "Chairefoon" verwys na Sokrates se vriend wat die orakel geraadpleeg het om uit te vind wie die wysste man in Griekeland was, waarop die antwoord "Sokrates" gegee is. Die sinspeling is dus op die verbintenis tussen wysheid en vriendskap, iets wat ons in ons aktiwiteite probeer beklemtoon.

    Die eerste aktiwiteite was hoofsaaklik akademies van aard, met leesgroepe en konferensies wat artikulering en kritiese gesprek op 'n genuanseerde vlak probeer behou, om sodoende ook as 'n onderlinge slyping van mekaar te dien. Maar gegewe die nuwe ruimtes wat filosofie in Afrikaans nou betree, moet dit ook blootgestel word aan ander werkswyses en gespreksgenote. Om hierdie rede word daar tans gewerk aan 'n webwerf waar filosofie in Afrikaans beoefen kan word.

    Dit is voorts verblydend dat organisasies soos die SA Akademie ook hulle ondersteuning bied aan wat die Afrikaanse taal en die sprekers van die taal aan die filosofie kan toevoeg, waarvoor ons ook dankbaar is.

    Sover dit die drie artikels voortspruitend uit die konferensie betref, is die raakpunt die toekoms van Afrikaans in Suid-Afrika, met beklemtoning van verskillende aspekte. Schalk Gerber fokus op die belangrikheid van ko-skepping binne die raamwerk van postapartheid Suid-Afrika as 'n alternatief op miskenning. Theuns du Buisson belig ekonomiese moontlikhede vir die beskerming van minderhede, terwyl ekself die belangrikheid van filosofie in die ontwikkeling van taal, selfs ook buite die universitêre konteks, beklemtoon.

    Ons hoop dat die publiek ontvanklik sal wees vir die nuwe stemme, en dat die toekoms van Afrikaans een sal wees waarin denke in filosofiese vorm steeds 'n regmatige plek sal hê.

    Hercules Boshoff